Johannes 17: Geloof lei tot kennis, en kennis vermeerder geloof

Hoofstuk 16 van Johannes se brief het vier opskrifte; Julle moet nie van My afvallig word nie, Die werk van die Heilige Gees, Julle droefheid sal in blydskap verander en Ek het die wêreld oorwin. Jesus sê onder andere dat Hy nog baie dinge het om vir sy dissipels te sê en dat hulle ook nie alles sal begryp wat Hy sê nie. Hy sê dan vir hulle in Johannes 16:13 “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.”

Met hierdie uitspraak oor die dinge wat nog gaan kom sê Jesus ook verder dat hulle droefheid in blydskap sal verander, want Hy het reeds die wêreld oorwin.” Met dit raak hulle stil, Jesus kyk op na die hemel, praat met Sy Vader en bid dan ook vir Sy dissipels.

[Lees Johannes 17:20-23]

Wat dadelik hier opval is dat Jesus duidelik sê dat Hy nie net vir Sy dissipels bid nie, maar ook vir hulle wat deur hulle (die dissipels se) woorde tot geloof in Hom sal kom. Met ander woorde, God almagtig, Jesus Christus, die een wat 2000 jaar gelede aan die kruis gesterf het, het vir my en vir jou, gebid. Laat dit vir ‘’n oomblik insink. Jesus Christus, Verlosser, Oorwinnaar van die dood, het vir ons gebid.

Dit is ‘’n gedagte so groot dat vandag se preek eintlik sommer reeds net hier kan eindig. Jesus het vir my, Francois, gebid. Jesus het vir, Ava Cardoso, gebid. Jesus het vir ons, hier in Ceres, gebid.

God se woorde word hulle woorde, en hulle woorde behoort ons woorde te wees.

Wat verder hier opval is dat Jesus se woorde die dissipels se woorde geraak het. Jesus het Homself met sy dissipels gedeel en hulle het weer op hul beurt wat hulle by Jesus geleer het met die mense om hulle gedeel om meer en meer mense in die geloof te oortuig van wie Jesus is.

Die Here wat hulle aanbid en agtervolg het se woorde het hulle woorde geraak. Net so moet ons woorde ook die woorde wees van Wie ons aanbid en agtervolg. Dit is eintlik heel logies. As jy heeldag te doen het met finansies gaan jou woorde vol finansiële terme wees. Jy gaan praat van ‘’n wins en ‘’n verlies na mate jou verhoudings met mense groei of kwyn.

As sy ‘’n boer is, is water vir jou ‘’n belangrike bron, dan gaan die hoeveelheid water in jou damme bepaal hoe goed dit met jou gaan. As boer is die dam halfvol of is die dam halfleeg. As boer moet jy ook besef dat Jesus ook reeds vir jou en jou omstandighede gebid het. Hy het reeds vir jou gebid wat jou met jou hande vol grond kyk hoe die stof waai sonder dat die klammigheid dit bymekaarhou.

As gelowige behoort ons geloofstaal ook ons daaglikse lewe te weerspieël. Ons lewe nie maar net nie, ons is deur genade gered uit die dood. Die mooi natuur rondom ons is nie maar net ‘’n speling van ewolusie nie, dit is die hand van God wat alles beeldskoon geskape het, elke dingetjie op sy plek. Ons werke behoort nie net ‘’n beroep te wees nie, die plek waarheen jy gaan om geld te maak sodat jy ‘’n naweek kan geniet nie. Ons werke behoort ‘’n roeping te wees, die daaglikse aktiwiteit wat jy doen om jou Godgegewe talente uit te leef wat die Here jou gegee het sodat jy daardeur ‘’n verskil in die wêreld kan maak.

As ons woorde, wat natuurlik dade impliseer, Jesus se woorde en dade word, kan jy jouself indink hoe hierdie gemeenskap sal lyk? Kan jy jouself indink hoe Ceres sal verander as ons klein groepie van Ceres Moedergemeente werklik Jesus se woorde begin leef!

Die ek in die ons.

Ek sê spesifiek “groepie” want Jesus het nie bedoel dat ons alleen leef nie. Jesus het nie sy lewe op aarde alleen geleef nie, hy het dit konstant in gemeenskap met ander geleef. Daarom in vers 21 bid Jesus dat ons een mag wees. Ons is God se fontein van liefde. Saam moet ons leef.

As elkeen op sy eie lewe, gaan ons vinnig in opposisie teenoor mekaar staan. Ons gaan beter as mekaar wil wees. Die een gaan meer wil bymekaarmaak as die volgende een. En kort voor lank word hierdie een-een-lewe, ‘’n alleen-lewe, waar jy alleen, al een is wat omgee oor jou eie koninkryk.

Ons kompetisie kultuur is ‘n kultuur gedrewe deur vrees. ‘n Kultuur waar ons bang is dat iemand dalk beter, mooier, ryker, en selfs meer vrygewig as ons kan wees.

Oor ‘n kultuur van kompetisie het Daniel Louw gesê as jou buurman ‘n hoender het moet jy nie na maniere soek om meer geraas te maak as jou buurman se hoender nie, maar eerder vir jou buurman se hoender kos gee.

As ons ‘n kontrakulturele beweging, ‘n revolusie in die kleine, wil begin, moet ons anders as die normale begin optree. In plaas daarvan om vanuit vrees in kompetisie met mekaar te wees, moet ons vanuit liefde vir mekaar omgee, vir mekaar bid, selfs al verskil ons oortuigings.

As ons werklik besorg is oor die koninkryk van God sal ons besef dat iemand wat ongelowig is nie ‘n verskillende denomisasies raaksien nie, maar Christene. Daarom as Christene van verskillende denominasies baklei is dit sleg vir die koninkryk. Wanneer Christene saamstaan, wanneer Christene nie teen mekaar kompeteer nie, dan is dit ‘n goeie en baie mooi getuienis van Jesus se woorde en dade.

Jesus bid vir ons. Dat ons deur alles altyd moet saamstaan. Dat ons belangriker as ek is. Dat ons ‘’n gesamentlike doel sal najaag. Een van hart sal wees, een in strewe sal wees en een in liefde sal wees soos Filippense 2 getuig. Om enige iemand van enige agtergrond te omarm en welkom te laat voel. Om die mense wat alleen lewens lei, welkom te laat voel. Sodat hulle woorde ook die woorde van Jesus kan word. Sodat hulle ook die heerlikheid van God in gemeenskap kan ervaar.

Geloof lei tot kennis en kennis vermeerder geloof.

Ons eenheid sal getuig van Jesus Christus se woorde. In vers 21 sal ons eenheid getuig sodat die mense kan glo in Jesus Christus, in vers 23 sal ons eenheid getuig sodat die mense kan weet van Jesus Christus. Ons geloof sal tot kennis van God lei en daardie kennis sal weereens ons geloof vermeerder. As ons as gemeenskap saamstaan en leef vanuit Jesus se woorde en dade sal ons eenheid vir die mense buite die deure van die gemeente laat glo dat Jesus in ons lewens aan die werk is. So ‘’n geloof in ons eenheid wat Christus bewerk sal maak dat die ekke van die buurt by ons wil aansluit. Hulle sal dan weet dat ons een is omdat Jesus ons saambind in geloof en daardie kennis sal weer maak dat die ekke meer en meer deel word van ons. Ons moet hulle uitnooi.

Jesus se WOORDE moet ONS GELOOFSWOORDE word. Verdeeldheid bedreig ‘’n gemeenskap, maar EENHEID getuig van ‘’n gemeenskap wat gewortel is in die GELOOFSWOORDE van Jesus Christus.

Gaan jy op jou eie aangaan? Gaan jy aanhou met die kompetisie? Gaan jy aanhou toelaat dat vrees jou lewe beheer?

Of gaan jy jouself toelaat om al meer en meer om te gee oor wat met die een wat anders as jy is gebeur?

Gaan jy jouself toelaat om lief te raak vir jou buurman se lastige hoenders? Onthou, al is ‘n hoender wit, swart, rooi of goud, hoenders lê eiers. En eiers beteken ontbyt, en ontbyt beteken kuier tyd.

Soos Jesus alreeds vir jou gebid het, het Hy ook alreeds vir jou kompetisie gebid.

Ons vrese sal ons vashou, liefde sal ons laat groei, al nader aan mekaar en al nader aan Hom.

Amen.

Hebreërs 11: Om te glo is…

Hebreërs 11:1 vertel vir ons dat, om te glo, is om seker te wees van die dinge waarop ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

 

Maar wat beteken dit om te glo? Is dit ‘n sekere manier van leef? ‘n Sekere soort gevoel? Is dit iets wat ek moet doen? En wanneer kan ek seker wees dat ek glo?

 

In Hebreërs 11 gee die skrywer vir ons ‘n reeks goeie voorbeelde uit die tyd van die Ou Testamente van wat dit beteken om te glo, of gelowig te wees.

 

  • Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain.
  • Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het.
  • Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kan word nie.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat die beloof het, getrou geag het.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan.
  • Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
  • Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.
  • Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.
  • Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter.
  • Omdat Moses geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was.
  • Omdat Moses geglo het, het hy die Pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.
  • Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.
  • Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.
  • Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met die wat aan God ongehoorsaam was nie.

 

Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

 

By elkeen van hierdie voorbeelde van geloofsgetuies laat die skrywer ons iets sien wat die geloofsgetuie gedoen het. Ons sien vir Noag en sy ark, ons sien vir Abraham en Sara wat sukkel om kinders te kry, ons sien vir Moses wat sy kierie oor die Rooisee uitsteek, ons sien die vir Ragab die prostituut met haar rooi tou, ons sien die Israeliete wat om Jerigo se mure stap.

 

Waarom is sien en dalk meer spesifiek nie-sien-nie op die voorgrond wanneer ons oor geloof praat? En hoe dit verband met mekaar?

 

Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Om te weet dat dit wat belowe is sal gebeur. Die reën sal kom. Die kind sal kom. Die see sal oopgaan. Die mure sal val. Geloof is om oortuig te wees dat die dinge wat belowe is sal gebeur.

 

Die ander vraag is natuurlik, wil jy hê die dinge moet gebeur of wil God hê dat die dinge moet gebeur? En wat sê dit van jou geloof?

 

Geloof en vertroue gaan baie naby saam met mekaar. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here die beste vir hom of haar wil hê nie sukkel. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here se beloftes die beste vir hom of haar is nie gaan sukkel. Daarom vra geloof om verby jouself te kyk en om raak te sien wat die Here sien, om raak te sien wat eintlik die beste is.

 

Romeine 10:8-10 sê die volgende: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

 

Geloof is iets wat nie net in ons koppe aangaan nie, maar ook iets wat in ons monde gaan lê om te vertel van dit wat gebeur het, van dit wat jy gesien het. Geloof is ook iets wat verder afsak na ons harte toe, iets wat ons aanvoel. Wanneer jy, sonder dat jy kan verduidelik, weet jy is op die regte plek in jou lewe, is jy besig om te glo vanuit jou hart.

 

Jakobus 2:14 en 21-22 sê: “’n Mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep…Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want die woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”

 

Nou gaan Jakobus ‘n stappie verder en sê dat die geloof wat in ons gedagtes, monde en harte is verder moet gaan na ons hande en voete toe. Dat die wat gelowig is dit moet doen wat hulle glo. Ons kan nie net Sondag na Sondag luister na mooi boodskappies en nie toelaat dat dit ons leefwyse verander nie.

 

As ons nie anders begin leef as gevolg van dit wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons voel nie, glo ons nie regtig wat ons lees nie. As ons nie doen wat die woord sê nie, bedrieg ons onsself. Dan kyk ons oor en oor na onsself in die spieël en elke keer wat ons wegdraai van die spieël vergeet ons dadelik wat ons gesien het.

 

Dan is daar ook die omskrywing wat die Heidelbergse Kategismus (een van ons belydenisskrifte vanuit die Reformasietyd, 1563) van geloof gee:

 

Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

 

As ons nou terugkyk sal ons sien dat geloof vertroue (in my hart), kennis (in my verstand/hoof), woorde (in my mond) en dade (my hande/voete/lewe) is. Wanneer een van hierdie elemente ontbreek, raak ons geloofslewe eensydig en arm.

 

  • wanneer my geloof kennis kortkom – dit wil sê los raak van die Skrif – loop dit gevaar om te begin verdwaal in allerlei onbybelse sieninge.
  • wanneer my geloof vertroue kortkom – dit wil sê los raak van ‘n persoonlike verhouding met God – loop dit gevaar om koud, rigied en liefdeloos te raak.
  • wanneer my geloof woorde kortkom – dit wil sê nooit van gesê of getuig word nie – loop dit gevaar om in myself toegesluit te raak en te sterf.
  • wanneer my geloof dade kortkom – dit wil sê nooit sigbaar en konkreet gedoen word – loop dit gevaar om maklik skynheilig en selfsugtig te raak.

 

Wat sou ek kon doen om in my geloof – in al vier aspekte – te groei?

 

Om jou Bybel gereeld te lees sal jou help om nie te verdwaal nie. Om gereeld tyd saam met die Here te spandeer, deur stiltetyd sal jy nie koud en liefdeloos raak nie. Om te getuig van hoe Hy met en in jou lewe werk sal keer dat jy in jouself toegesluit raak. Deur gereeld te doen wat jy glo sal keer dat jy skynheilig en selfsugtig raak.

 

Sola Fide: Deur geloof alleen kan ons dink oor, vertrou op, praat met en doen saam met God, die Vader, Seun en Heilige Gees.

Johannes 6: Wie hierdie brood eet sal lewe!

Genesis 9:4 beveel: “Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie.”

 

Teen hierdie agtergrond praat Jesus met die Joodse gemeenskap in die sinagoge in Kapernaum oor hulle “eetgewoontes”.

 

Eetgewoontes is ‘n baie persoonlike ding, en tog ook so alledaags. Ons moet tog elke dag eet om ons dinge te kan doen. Eet jy Weetbix of ‘n Smoothie in die oggend? Het jy ‘n kosblik vir pouse of is die snoepie jou kosblik? Is julle as gesin saam vir middagete of maak julle vir mekaar tyd in die aand? Het julle ‘n ronde, vierkantige of reghoekige etenstafel? Of sit julle voor die televisie en eet? Eetgewoontes, iets waaroor ons nie baie dink nie, maar wat tog so belangrik is.

 

Wanneer jy wel bewus raak van jou eetgewoontes is die oomblik as jy oorslaap by ‘n maatjie of by iemand anders aan tafel sit. Hoe werk al hierdie messe en vurke wat nou voor my lê? Watter kant is my kleinbordjie? Skaapkop? Afval? Beet?

 

Hier in Johannes 6 is die Jode die mense aan tafel wat nie lekker verstaan wat jou aangaan nie.

 

Wat eerste belangrik is, is dat ons verstaan dat verhoudings vir Jesus baie belangrik is. Hy fokus hier op sy verhouding met die Joodse gemeenskap en vertel ook vir hulle dat Hy met hulle, maar ook met almal anders in verhouding wil wees. Die vraag waaroor Jesus met hulle praat is of hulle Hom wil aanvaar of verwerp. Gaan hulle dit eet wat vir hulle opgeskep word, of hulle bord kos net so los?

 

In hierdie gedeelte openbaar Jesus wie Hy is. Hy stel homself gelyk aan die brood wat lewe gee. Wie van Hom eet sal nooit sterf nie.

 

Weereens, die mense wat Jesus ken en Hom verstaan, verstaan die taal wat Hy gebruik, dit is nie vreemd vir hulle om te hoor van vleis wat geëet moet word en bloed wat gedrink moet word nie. Vir die wat nie vir Jesus ken nie, is dit uiteraard baie vreemd. Dit is so vreemd dat dit eintlik aanstoot gee vir die Jode. Onthou, hulle hou streng by die wette, en Genesis 9:4 beveel dat hulle nie vleis met sy bloed in mag eet nie, wat nog te sê van drink.

 

In Johannes is die klem op Jesus. Jesus self is die brood wat lewe gee. Ons moet ook onthou dat brood ‘n basiese voedsel in daardie tyd was, soos vandag nog. Daarom is die brood metafoor so kragtig. Jesus was en is feitlik, broodnodig! Jesus is noodsaaklik vir elkeen se lewe, sonder die basiese voedsel kan daar nie gelewe word nie.

 

As jy aan tafel sit is jou sintuie lewendig. Jy sien die kerse brand, die glase wat blink, die crispy velletjie van die hoender of die vetjie van die tjoppie. Jy hoor hoe almal gesels en lag, dalk vertel iemand ‘n goeie storie… En natuurlik eet jy ook as jy aan tafel is, lekker warm huiskos. Jou sintuie is wakker.

 

Net so as ons mooi kyk sal ons oplet dat ‘sien’, ‘hoor, en ‘eet’ belangrike woorde is in Johannes 6.

 

Verse 36-40 gaan oor sien en glo.

Verse 45 gaan oor hoor en leer.

Verse 51 gaan oor eet en lewe.

 

Psalm 34:9 sê “Smaak en sien dat die Here goed is!”

 

As mens na die Griekse vertaling van hierdie gedeelte in Johannes gaan kyk sien mens iets merkwaardig raak. In vers 54 word die woordjie “eet” weer ‘n keer gebruik, maar hierdie keer op ‘n anderste manier. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir eet is iets wat gelyk staan aan raserige eet. Wat ons kan vertaal met “munch” of “crunch”. Dit sê vir ons dat wanneer die brood van die ewige lewe geëet word of die brood van die lewe “gemunch” word, dit iets lekkers is wat aan die gebeur is.

 

 

 

Jesus verseker hierdie Jode dat die maaltyd wat Hy hulle aanbied uiters goed vir hulle sal wees, maar soos iemand wat nie iets nuuts wil proe nie, wil hierdie Jode net nie verstaan nie.

 

Hy herhaal vier keer aan die Jode, in vers 26, 32, 47 en 53: “Dit verseker Ek julle…” Wat vir ons wys dat dit baie belangrik is waaroor Jesus praat!

 

Hy verseker ons: Ons soek Hom, nie omdat ons die wondertekens gesien het nie, maar omdat ons van die brood geëet het en versadig geword het.

 

Hy verseker ons: Dit is nie Moses wat vir ons die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is sy Vader wat vir ons die ware brood uit die hemel gee.

 

Hy verseker ons: Wie in Hom glo, het die ewige lewe.

 

Hy verseker ons: As ons nie Sy liggaam eet en Sy bloed drink nie, het ons nie lewe in ons nie.

 

Hierdie gasheer, verseker ons van baie dinge, maar luister ons na wat Hy sê? Of trek ons ons neus op vir die gevolge van wat dit aan ons gaan doen? Want as ons van hierdie brood gaan eet en bloed gaan drink gaan ons nie meer dieselfde kan wees nie. Dit gaan ons verander. Dit gaan deel raak van ons liggaam. Christus in ons. Is ons gereed om te leef met Christus in ons? Is ons gereed om met Christus in ons om die braaivleisvuur te staan? Is ons gereed om met Christus in ons in Spar se ry te staan? Is ons gereed om met Christus in ons te bestuur?

 

Christus in ons, verander ons!

 

Ek verseker julle: Wie in Hom glo, het die ewige lewe. Hy is die brood wat lewe gee!

 

Wie hierdie brood eet, sal verander word, en sal ewig lewe!

 

Amen.