Die Nihilisme: Die Verlies van die Wêreld

Die Verlies van die Wêreld

Inleidend kan Modernisme gesien word as ‘n manier van beheer uitoefen, om beheer toe te pas sodat daar versluier of verdoesel kan word. Sodat die algehele verlies van die wêreld nie so hard gevoel word nie, omdat juis die staat met sy talle ‘private’ arms hierdie realiteit verdoesel. Postmodernisme word gesien as die era waarin daar bekend gemaak word of eerder ontmasker word dat die Modernisme self lei aan hierdie siekte van verlies. Dat dit self leeg is.

Die oproep van die postmodernisme is nie ‘n oproep tot die dramatiese deelname nie, maar eerder die verskansing daarvan.

“Human beings are only human to the extent that they are in the midst of others and clothed in symbols that give purpose to their existence.” _ Andre Leroi-Gourhan

Die wêreld

Wat is die wêreld? Die wêreld verwys na die verhoog, die dramatiese ruimte tussen die syn en die syndes waarin hul in ‘n bemiddelde verhouding tree en ‘n deelnemende gemeenskap tot stand bring. In die werklikheid mede-verskyn die syn en die syndes. Die wêreld is miskien niks anders as die mede-verskynende gebeure nie.

In hierdie deelname ervaar die synmakende een nie ‘n afstand soos in die postmodernisme nie. Die syn en die synmakende staan in verhouding, waar die synde deel in die oorvloedigheid van die syn. So anders as die postmodernisme is die synde nie ‘n vreemdeling nie, maar ‘n deelgenoot. Hierdie deelnemende proses wys ‘n dualistiese aard uit asook ‘n monistiese eenheid tussen syn en synde, wat eerder genoem kan word ‘n twee-eenheid.

Goosen noem dat die postmoderne wêreld nie tot die orde van die natuur behoort nie, maar tot die orde van die kultuur. Dus skep die samelewing die werklikheid eerder as andersom.

‘n Interessante wending wat Goosen neem is wanneer hy praat van die lewensvorme in die natuur. Hy noem dat hoe hoër vlak die lewensvorm beklee hoe belangriker plek neem vryheid daarin. In hierdie hoogste vlakke van vryheid speel ook die grootste vorme van verwesenliking af tussen syn en synde, op hierdie vlak geskied daardie deelnemende verhouding wat bo genoem is. In hulle deelname aan mekaar tree die volwaardige wêreld na vore.

“Vryheid gaan egter nie sonder risiko gepaard nie, inteendeel, op die hoogste vlakke van die lewe is die risiko en gevaar ook op die hoogste.” (Goosen D, 36:2002)

Wêreldstigting vir Goosen geskied vanuit die bogenoemde as ‘n Chiastiese struktuur.

“Die wêreld gebeur as drama in en deur die kruising tussen die spontaneiteit en die ontvanklikheid van sowel die syn en die syndes.” (Goosen D, 40:2002)

“Anders verwoord, in en deur die erotiese aantrekkingkrag wat vanuit die transendente syn uitgaan, word die immanente denke met goddelike waansin of entoesiasme gevul en so buite homself gekantel.” (Goosen D, 40:2002)

Anders as in die Modernisme is die denke se aanleg tot verwesenliking nie volledig nie, en daarom word die klem hierbo op die ontvanklike spontane aard van die denke geplaas.

Waar die Postmodernisme poog om die twee-eenheid in ‘n monistiese eenheid op te hef, poog die Modernisme om die twee-eenheid in ‘n dualistiese tweeheid uitmekaar te haal. Die gevolg is dieselfde, verlies van die wêreld.

Die Postmodernisme

In die postmodernisme maak dinge soos stabiliteit plek vir ‘n algemene gevoel van beweegbaarheid. Die gevolge van hierdie abselute verwatering van die werklikheid is dat die onderskeid tussen die syn en die syndes al hoe meer vervaag, en raak verlore sonder begrensing. Dit het weer die gevolg dat die verlies aan die afgebakende werklikheid maak dat daar anderkant die wêreld as sodanig getree word. Binne die wereld, maar daarbuite in ‘n vloeibare eendimensionele postmodernisme sonder onderskeid tussen syn en synde.

‘n Ander vraag is; Is ons anderkant die wêreld, of slegs anderkant ‘n ou wêreld?

Omdat die wêreld homself openbaar deur ekonomiese simbole is sprake van ‘n transendentele verhouding min tot geen, maar dit is egter ook nie nodig vir die postmodernisme nie, want deur die ekonomiese simbole verbind die wêreld haarself volledig aan die selfgenoegsame immanente.

As die wêreld as ‘n ekonomiese wêreld omskryf word, kan ons maar praat van die individu as die ewige toeris, wat sy woning opsoek in die nerens, dus die ekonomiese wêreld kan gesien word as ‘n plek sonder plek, ‘n nie-wêreld.

Wêreldverlies is tegelyk ook dramaverlies, ‘n verlies aan die verhouding aspek, die verlies van die twee-eenheid. Saam met die wêreldverlies verloor dinge ook hulle simboliese gewig. Die epog van die wêreldverlies is met ander woorde die tyd waarin die (woorde van die) syn onmeetlik lig geword het.

Goosen noem prontuit in bladsy 51 “Die twee-eenheid tussen die transendente en die immanente word in die epog van die “post” op die spel geplaas.”

In die postmodernisme word die dinge oneindig lig en betekenisloos.

Hoe gewigloser die dinge word, des te meer word daarna gevra.

Die transendente gee juis aan die immanente betekenis omdat daar ‘n verskil tussen die twee is, en sonder daardie verskil en deelname aan en van mekaar gee die immanente dinge hul diepte prys.

Die ironie van die saak is, in plaas daarvan dat die onbeperkte vraag na dinge in die postmodernisme gewigtigheid verleen, vind net die teenoorgestelde plaas en word daar op ‘n ironiese wyse nog minder gewig aan die synde gegee wat later in totale afskeid van gewig eindig. Goosen stel dit, “Hoe swaarlywiger die ekonomie van die onbeperkte verbruik word, hoe minder gewig het die dinge.”

Die Modernisme

Die postmodernisme moet ideehistories as ‘n verlengstuk van die modernisme verstaan word. As die postmodernis deur die nihilisme gekenmerk word is dit in beginsel reeds waar van die modernisme.

Vir die premoderne mens was die dood ‘n raaisel, want hoe kan daar iets soos die dood wees as alles lewendig is? Vir die modernisme is dit net mooi omgekeer. Omdat alles vanuit ‘n puristiese wetenskaplike perspektief gesien word as dooie dinge wat meganisties in mekaar in pas en bloot aan die spreekwoordlike loop bly, word die wêreld as dood gesien en word daar gevra hoe daar enigsins iets soos die lewe kan wees?

Die ironie van die saak is dat die een nie sonder die ander kan nie. Die lewe het die dood nodig en die dood het die lewe nodig om enigsins betekenis te heg aan beide die terme.

Ek veg teen die dood, daarom is ek, lui die eintlike slagspreuk van die modernisme.

So word die dood die nuwe transendente van die moderniteit, waaromheen alles draai en waarna alles uiteindelik verdoem is. Dit is hoekom tema’s soos angs, trauma, en katastrofe so baie aandag geniet in vandag se wêreld. Met die dood as die eintlike lotsbestemming word angs dit waardeur die werklikheid ontsluit word.

Die denke, rasio, is nie meer iets van die mooi en die goeie ontsluit deur die deelnemende twee-eenheid nie, nee, die denke het eerder iets geword waardeur daar gepoog word om die afgrond van die dood te vermy. Die denke het ‘n instrument tot mag oor die dood geword.

Hierdie hoofstuk saamgevat wil eintlik net uitlig dat sonder die verhoudingselement in die werklikheid tussen die syn en die syndes verval alle betekenis in die niks. Die syn dien as verwysingspunt vir die synde deur op ‘n erotiese manier die oorvloed wat uit die syn vloei uit te stort op die synde en so ‘n wederkerige verhouding te vestig tussen die syn en die synde waar hulle in verhouding tot mekaar staan en die synde totaal en al afhanklik is van die syn vir betekenis, want sonder die oorvloed wat aan die synde geskenk word is daar geen sin vir die synde. Daarom word die gedagte van die twee-eenheid voorgestel waar die syn en die synde as ‘n eenheid binne en ook tog buite die wêreld funksioneer in ‘n verhouding.

A Secular Age, by Charles Taylor

Introduction

Taylor begin sy inleiding deur te noem dat ‘n sekulere samelewing ‘n samelewing is waarin jy voluit kan deelneem sonder om deel te neem aan enige religieuse praktyke. Christendom bv, is heeltemal verwyder van die publieke sphere na die private sphere. Religie en/of die afwesigheid daarvan is ‘n totale private saak.

Daar word ook genoem dat die maniere wat ons gebruik om te funksioneer binne enige publieke spheer, hetsy, ekonomies, politiek, kultureel, pedagogies, professioneel, of self rekreasioneel gestroop is van Goddelike argumentasie.

Die bg staan in skrille kontras met die vroeere opvattinge rondom die samelewing waar die kerk juis al hierdie publieke sphere voorgeskryf het hoe om te handel en God sentraal was tot die gemeenskap waar dit vandag heeltemal van enige transendente verwyder is.

Hierdie is die eerste definisie en ook die mees algemene deffinisie van sekularisasie, dat dit dit is wat gestroop is van God. Dat dit ‘n wêreld is wat sonder ‘n transendente krag/mag funksioneer.

Die tweede deffinisie is meer gemik op die persoon as die samelewing en wil noem dat sekularisasie dit is as die mens homself wegdraai van God. Mense wat nie meer kerk toe gaan nie is ‘n goeie uitbeelding van hierdie deffinisie.

Die derde moontlike deffinisie is die een wat Taylor wil ondersoek en hy defineer dit as volg; As die wêreld/werklikheid waar religie bloot nog ‘n opsie is tot sleutel tot die verstaan van die werklikheid. Waar geloof bloot nog ‘n opsie is om by te voeg tot die vele dimensies waaruit ‘n persoon bestaan, soos wat nog ‘n app op ‘n selfoon die selfoon beter of slegter maak, so word religie gesien, verskoon die oorvereenvoudigde voorbeeld.

Die ervaringe wat ons as mense beleef bepaal hoe ons ons lewens asseseer op vlakke van aktualisasie en dit help ons ook om ‘n raamwerk saam te stel om te bepaal wat tel en wat nie. Hierdie ervaringe dien dan ‘n stuurkrag op ons paaie na die spirituele en morele leefstyl. Hierdie ervaringe orienteer ons deur op ‘n manier iets te gee van hul essense, iets te gee van hulself, hetsy dit God is, die stem van die natuur, of die krag wat deur alles vloei. Hierdie ervaringe het dit ook in hulle om partymal ontwrigtend te wees.

Hierdie transendente kan ons help om lewe te definieer, maar kan ook ‘n negatiewe kant uitlig aan ons lewens, dat daardie verwesenliking altyd iewers sal wees en ons nooit daarby sal kan uitkom nie, en dit altyd in spanning sal staan teenoor die self. Dit kan beskryf word as ‘n afwesigheid van mag, ‘n deurmekaar gevoel, of selfs as melankolie. Hierdie onvermoe om die self te verwesenlik skep ‘n middelgrond waar meeste stilstaan en die lot aanvaar, waar die huidige omstandighede tot ‘n mate ontsnap word maar ook nie ten volle nie. Daar word vrede gemaak met hierdie middelgrond, gewoonlik deur roetiene wat betekenis gee aan die self se lewe, en waar ‘n gevoel van verwesenliking ervaar word deur bevrediging deur middel van die roetiene wat gevolg word. ‘n Tipiese voorbeeld sal wees, om gelukkig getroud te wees met kinders, terwyl ‘n beroep beoefen word wat betekenis gee aan die self, en wat ook ‘n bedrae maak tot die groter samelewing.

Die crux van die saak is dat hierdie middelgrond vir party mense juis dit is. Dat dit hulle als is en hulle hoogste vorm van verwesenliking, dat dit al is wat die menslike kondisie bied. Vanuit hierdie perspektief sal besef word dat hierdie middelgrond gladnie ‘n klein ding is vir hierdie mense nie, en om te glo dat daar iets groters as hierdie middelgrond is is om weg te hardloop van die juiste soeke na betekenis in die mens, in die immanente.

Die onderskeid wat hier getref word tussen die gelowige en die ongelowige is dat die gelowige sy plek van verwesenliking koppel aan God en sonder God kan ware volle verwesenliking nie plaasvind nie, waar die ongelowige weer sy verwesenliking in die hier en nou plaas en aanvoer dat hy homself ten volle kan verwesenlik en geluk ten volle kan ervaar vanuit die self.

Hierdie fokus op die self het die gevolg dat die self later sy eie morele kompas raak wat oorspoel na morele relativisme.

Die rede is vir die moderne ongelowige mens die naaste ding aan ‘n ervaring van volheid, dit is ook heeltemal intern, en word ook vanuit die self gegenereer, wat gesien word as ‘n helde dade.

Redelike mense moet hulle denke open vir iets diepers, iets voller. Hierdie iets is (wel gedeeltelik) intern. Diepe gevoelens in instinkte speel ook ‘n rol in die mens se verwesenliking, nie net die rede nie. Daar moet weer ‘n brug gebou word tussen die rede en emosies, tussen instink en intuisie.

In Buddisme sowel as in die Christendom is daar ‘n ooreenkoms ten spyte van verskille in dogma. Die ooreenkoms is dat beide op die persoon ‘n aanspraak maak om homself te breek met die dinge van die wêreld en die eise wat deur die wêreld aan die persoon gestel word. Die self word tot ‘n mate van uitwissing geneem waar alle verwesenliking plaasvind in die diens van God.

Dus kom daar ‘n paradoksale spanning na vore, wat weer in gesprek tree met die middelgrond, tussen die verwesenliking van die mens terwyl hy/sy alle wêreldse verwesenliking afbreek. Om te strewe is goed, doelgerigte lewe. En selfs as die mens sy wêreldse doelgerigte lewe afwys wys hy dit ook aan omdat hy/sy God se wil gehoorsaam om ‘n kanaal na Hom te wees vir ander, en uiteindelik vir almal. Paradoksaal. Erg.

Met moderne sekularisasie is die mens vir die eerste keer outonomie gegee oor sy lewe, en dat hy/sy die self kan verwesenlik. Die mens word vir die eerste keer aanvaar as heeltemal self onderhoudend en het geen eksterne kragte of magte nodig om hom of die aarde te onderhou nie. Die mens is die begin en die einde, die toppunt van alles. Die moderne era het geboorte gegee aan die Humanisme!