Rillers uit Rigters: Rigters 11, Jefta se dogter.

Rillers uit Rigters: Rigters 11, Jefta se dogter.

“Jefta het ‘n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: ‘As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, sal die een wat my uit my huis tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.” – Rigters 11:30-31.

“Jefta het in Mispa by sy huis gekom, en toe kom sy dogter hom tegemoet met tamboeryne en koorsanse…” – Rigters 11:34.

(wys trailer van The Generals Daughter)

Het jy dalk ‘n emosie wat jy met die general (Jefta) sou wou deel?

Jefta onderhandel met die leiers en doen di took met die Here self.

Let egter daarop dat God self tjoepstil is dwarsdeur hierdie verhaal. God neem nie deel aan Jefta se gekonkel nie.

Jefta konkel met allerlei ede wat hy aangaan, maar blameer oombliklik sy dogter wanneer dinge nie uitwerk soos wat hy voorsien het nie. Sy – nie hyself nie – sy het hom in ellende gedompel.

Die generaal se dogter, Jefta se dogter… en hierby kan enkele voorbeelde uit ons eie land gevoeg word. Andries Tatane van Ficksburg, Anene Booysen van Bredasdorp en ‘n grad eentjie van Limpopo wat in 2014 op sy heel eerste skooldag in ‘n toilet val en sterf. Ons kan ook na die koue statistiek in Suid-Afrika kyk wat vir ons wys hoe lyk geweld teen vroue en kinders. Teen dogters in die besonder!

Punt is, Jefta se verhaal is nie ‘n vreemde verhaal uit ‘n ander tyd nie.

Ek wil weer die vraag vra wat ek voorheen gevra het: Hoe voel jy elke keer as jy van hierdie verhale hoor? Hoeveel mense, hoeveel lesers van hierdie Rigters boek, het nie al eerstehands iets hiervan beleef nie? Hoe laat dit jou voel en watter emosies roep dit by jou op?

In Rigters is die behandeling van dogters en vroue ‘n goeie aanduiding dat, soos dit telkens gestel word, dit ‘n tyd was toe elkeen gedoen het “wat reg is in sy eie oë” (Rigters 21:25).

Ek vra weer, hoe laat dit jou voel?

Ek sien rooi… maar wat hoor ons dan dikwels uit ons eie godsdienstige tradisie? Ook in al die boekies van hoop wat ons lees? Dat die antwoord by uitstek, altans die default-antwoord op die probleem, die volgende is: Vergifnis. Liefde. Genade.

Wanneer ons daardie gruverhale in die koerant lees of wanneer mense iets daarvan aan hulle eie lyf voel, word daar te vinnig vir hulle gesê om te laat los. Ons is Christene, ons vergeef.

Dit is waar, ek stem saam, maar om te vinnig te beweeg van ‘n misdaad na vergifnis, is teologiese bedrog en ‘n ontkenning van mense se leed en die aanwesigheid van kwaad in hierdie wêreld.

Jefta se storie onstel my en ek wil dit waag om te sê… dit is goed so! Indien dit my nie kwaad gemaak het nie, was daar dalk juis fout.

Jefta se dogter was ‘n hulpelose slagoffer, nes daar vandag steeds baie van hulle is. Ek is vies, nee eintlik woedend vir Jefta wanneer ek die verhaal weer lees…

Hoekom is ek woedend?
1. Jefta praat teveel. Jefta is ‘n prater, ‘n vinnigprater en ‘n grootprater. Hy is ‘n prater wie se mond hom duur te staan kom.
2. Jefta was nie net ‘n onderhandelaar, soos meeste leiers van tyd tot tyd moet wees, nie. Jefta was boonop ‘n manipuleerder ook. Hy manipuleer die mense, die konings e nook vir God. Toe die leiers van Israel vir Jefta hulle leier wil maak, is Jefta nie tevrede nie en onderhandel hy om die hoof te word, nie net die leier nie. Ons kan hom ‘n kansvatter noem. Dan kom Jefta met sy onderhandelinge met die koning van die Ammoniete. Daarna neem Jefta dit selfs nog verder: Hy begin met God self ook onderhandel en maak ‘n gelofte aan Hom met ‘n waarborg dat hy sal wen.
3. Nie alleen maak Jefta sy mond te gou oop nie. Nie alleen is hy ‘n bobaasmanipuleerder nie, nee, Jefta ken ook nie sy eie tradisie nie. In Rigters 11:24 erken hy selfs die bestaan van die god Kemos. Jefta het sit en slaap in die kategeseklas en dit het hom duur te staan gekom.

Die vraag bly steeds hoe ons voel wanneer ons met hierdie verhale gekonfronteer word?

Enkele riglyne vir kwaadword:
1. Benoeming: Benoeming is doodgewoon om nie te ontken wat gebeur het nie. Benoeming behels om die teenoorgestelde te doen as die generaal wat gesê het “it never happened” en te sê: “dit het gebeur”.
2. Bewusmaking: Iewers het iemand die saak ‘n naam gegee deur dit te benoem en nou word dit verder geneem. Bewusmaking as integrale tweede stap moet egter ook verder gaan sodat daar nie net benoeming en bewusmaking plaasvind nie, maar sodat dinge ook kan verander.
3. Beswering: Jesus het ‘n demon ‘n naam gegee, die mense het so ook bewus geword van die probleem, end an het Hy die demon besweer en uitgedryf. Franciskus van Assisi se beswering neem die vorm van ‘n seënbede aan:
a. Mag die Here jou seen met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Dit is dan die hartseer verhaal van die Dogter van Jefta. ‘n Meisie wie se hartseer geskiedenis ons dalk vandag kan help met ons tema van Christenskap en woede, en vir ons wys op die belang van benoeming, bewusmaking en beswering.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *