Rillers uit Rigters: Rigters 4, Jael en Sisera (en Jesus)
(lees Rigters 4 en Johannes 12:12-16)
Daar is verbysterende hoeveelheid ooreenkomste tussen die twee tekste wat ons so pas gelees het, want beide het met betrekking tot die genre dieselfde bedoeling. Kom ons kyk net eers weer na die twee verhale, eer die verhaal van Jael in Rigters 4 en dan die van Jesus in Johannes 12.
Indien ‘’n mens die boek Rigters van hoofstuk 1 tot en met 21 deur lees, klink dit vir jou soos ‘’n gekrapte CD. Dit is oor en oor dieselfde ou storie. Die Israeliete maak droog. Die Here gee hulle oor. ‘’n Rigter kom en help met die uitkoms. En kort daarna word alles weer van vooraf herhaal.
Wat is Rigters 4 gebeur, is dat koning Jabin se generaal, Sisera, die Israeliete vir twintig jaar lank verdruk. Hoe kry hy dit reg? Deur middel van tegnologie. Perde en strydwaens op die vlaktes was baie beter as Israeliete op donkies.
Met hierdie situasie in gedagte word die volgende rigter met die naam Debora aan ons voorgestel. Onthou Rigters 11 en Rigters 19? Is julle nie ook verras om nou ‘’n vrou in so ‘’n leiersposisie te sien nie? As rigter gee Debora dan ook raad. Sy sê vir Barak hy moet optrek teen Sisera en hy sal wen. Barak sê hy sal dit net doen as Debora saamgaan en sy stem toe in.
Onthou, hierdie is ‘’n parodie. Hier is waar die mense om die kampvuur reeds begin lag. Die Israeliete gaan oorlog toe en ‘’n vrou gaan die eer kry. En daar hardloop die generaal met nege honderd ysterstrydwaens wat deur almal gevrees word die berge in. Kan jy jou indink hoe ‘’n Israelitiese pa hierdie storie aan sy kinders sit en oorvertel om die kampvuur. Nege honderd ysterstrydwaens word net so gelos en al die manskappe hardloop die berge in, hoekom, omdat daar ‘’n vrou met die naam Debore aankom. Snaaks.
Jael, ‘’n ander vrou, sien vir Sisera hardloop en nooi hom om in haar tent te kom skuil. En nog ironie kom na vore. Net soos Barak te min vertroue in ‘’n vrou gehad het, het Sisera teveel vertroue in ‘’n vrou geplaas en aanvaar daarom Jael se uitnodiging.
Wanneer Sisera vas slaap in Jael se tent, slaan sy met ‘’n hamer ‘’n tentpen teg deur sy slaap sodat sy hom in die grond vasslaan. Die vrou met die hamer en die tentpen in haar hand, die vrou wie se klere vol rooi bloed spatsels is, sy kry die eer vir die oorlog.
Gegewe die kultuur van die tyd, die plek, die rol van vroue en die krag van generaal Sisera, word koning Jabin en Sisera en sommer ook generaal Barak bietjie belaglik gemaak.
In hierdie hoofstuk word rolle van mag en geslag omgekeer.
o ‘’n Vrou, nie ‘’n man nie, kry die eer.
o ‘’n Onbekende boervrou wat nie eens regtig deel van Israel was nie, kry die eer.
o Die mense wat op bruin donkies ry, dit wil sê die swakker, onwaarskynliker groep, wen die oorlog; nie die mense met die negehonderd ysterstrydwaens nie.
Hierdie verhaal is grotendeels ‘’n soort parodie op die swak leierskap van die dag. En die kinders rondom die kampvuur lê op die grond soos hulle lag teen die tyd.
Jesus reis van Betanië af waar Hy by Marta, Maria en Lasarus gekuier het en Maria Hom met olie gesalf het, na Jerusalem vir die Paasfees. Jesus reis op ‘’n donkie. Die donkie is die teken van nederigheid en vrede.
Daar is verwag dat die Verlosser-Messias van Israel iemand sou wees wat op ‘’n perd sal ry en die Romeinse onderdrukkende juk kom afgooi. Maar nee, Jesus ry op ‘’n donkie en stel dit duidelik dat Hy nie kom om ‘’n gewelddadige opstand te lei nie. Nee, Hy is hier om die teenoorgestelde te doen.
Die eerste hoorders en lesers van die storie het geweet en besef dat Jesus wat op ‘’n donkie uit die Ooste kom ‘’n blatante parodie is op Pilatus wat op sy perd uit die Weste kom. Jesus is hier besig om ‘’n grap van die onderdrukkende heersers van die te maak. Jesus is die hofnar.
As ons Johannes 12 met Rigters 4 vergelyk, sien ons hoe die onwaarskynlike heldin wat die spyker inslaan, die eer kry. In Johannes is dit die onwaarskynlike held in wie se hande die spykers geslaan word, wat die eer kry. In Johannes skyn Jesus se glorie nie, nee, dit bloei. In beide hierdie verhale is dit die onwaarskynlike persoon wat die glorie of eer kry en is daardie eer terselfdertyd ‘’n ontbloting van die bestel waarin hulle hulself bevind.
Wat vir die wêreld na onsin lyk, is God se wysheid (1 Kor. 1).
Vir elke riller uit Rigters het ons drie letters gehad, eers B, (benoem, bewusmaking, besweer), toe L (luister, leierskap, liefde) en nou is dit J vir Jael, Jesus en Jy.
Ons onthou vir Jefta en sy dogter wat geoffer is en ons sê weer dat sulke vreeslike dinge benoem moet word, as dit gebeur. Ons sê dus dit het gebeur en werk dan met bewusmaking. En ons druk deur wanneer ons dit ook besweer. Nooit weer mag so iets gebeur nie.
Ons onthou ook die vlees wat in Rigters 19 woord geword het. Die opgesnyde lyf van die Leviet se byvrou. Ons sê dat ons weet ons moet praat, maar dat ons dit luisterend moet doen en seker moet maak dat ook die stil stemme saamgesels. Ons weet ook ons het goeie leierskap daarvoor nodig, wat die gesprek kan fasiliteer. En ons kan net praat indien ons dit in liefde doen.
Hier aan die einde van die Rillers uit Rigter reeks ontdek ons ‘’n hofnar, of eerder drie hofnarre: Daar was Jael, daar was Jesus en nou is dit die voortsetting van daardie verhale in vandag se tyd.
Soos Jael die mense met die ysterstrydwaens en perde verslaan en so die eer gekry het, so ry Jesus teenoor Pilatus in Jerusalem in op ‘’n donkie. Die onwaarskynlikes kry die eer.
• Jesus ontbloot die wêreld van geweld, mag en onderdrukkende strukture.
• Jael se optrede ontbloot ‘’n leierskap lose chaotiese situasie.
• En vandag in Suid-Afrika word Christene opgeroep om ook op donkies te klim, om teen die mag en geweld van vandag op ‘’n donkie agter Jesus aan te ry. Die kan is dat jy sodoende vir Pilatus op sy perd tegemoet kan tegemoet ry.
Wat beteken dit prakties om op donkies te klim ten opsigte van die tema “Christenskap en woede”?
Wanneer geweld deel van die kultuur van ‘’n nasie word, wanneer korrupsie endemies word en mense begin moedeloos word oor sake soos leierskap, is dit moeilik om in sulke tye nie deel van die kultuur van geweld en korrupsie te word nie. Dit is moeilik om nie oor sulke dinge stil te bly nie en jy mag dalk soms soos ‘’n nar voel. Maar wanneer jy gewoon nie saamgaan met die stroom nie, sit jy alreeds op ‘’n donkie wat reguit tussen ‘’n trop perde en strydwaens inry. Wanneer mense benoem en bewus maak en besweer en op ‘’n spesifieke wyse praat, dan gaan ons vir die wêreld soos narre lyk.
Jael se verhaal wys ons iets daarvan. Jesus stel dit voor. Deur die eeue heen was daar volgelinge van die Man op die donkie. Aan die einde van hierdie reeks oor die Rillers uit Rigters neem die parodie van Rigters 4 ons na ‘’n Man op ‘’n donkie wat binne ‘’n wrede wêreld vir ons kom sê: “Volg My!”.