Pelgrimstog van Hoop 2019

Pelgrimstog van Hoop 2019

Wat is ‘n Pelgrimstog en hoekom loop ons dit?

Wat is ‘n Pelgrimtog is dalk die eerste vraag wat na vore kom wanneer jy lees Pelgrimstog van Hoop… Wel ‘n pelgrimstog is ‘n unieke geestelike dissipline wat uit die antieke tye kom. Hierdie togte is ‘n eeue oue gwoonte van Christene uit verskillende tradisies. Vandag is daar weer ‘n toename in die gewildheid van pelgrimstogte oor die hele wêreld heen.

‘n Pelgrimstog het gewoonlik ‘n geestelike of historiese betekenis en pelgrims stap die tog om tot ‘n herontdekking van een of ander geestelike ervaring te kom. Die tog is ‘n geestelike avontuur waar daar gereis word in tyd en ruimte tussen mite en legende, geskiedenis en tradisie, en natuur en kultuur.

Ons noem hierdie Pelgrimstog ‘n Tog van Hoop as ‘n bede vir ons kontinent aangesien die suidpunt van Afrika by Agulhas ons bestemming  is. Pelgrims word gevra om by die aankoms by die suidpunt Nkosi Sikelel’ iAfrika (God Seën Afrika) te bid en hulle te verbind tot die bring van Hoop vir Afrika.

Die Pelgrimstog van Hoop is ook ‘n huldeblyk aan prof Russel Botman wat op 27 Junie 2014, die jaar waarin die Pelgrimstog vir die eerste keer gestap is, oorlede is. Die week waarin die eerste staptog onderneem is, het met sy verjaarsdag op 18 Oktober saamgeval. Prof Botman het tydens sy termyn as rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch die HOOP Projek bekendgestel. Die oorkoepelende doel van die HOOP Projek is om volhoubare oplossing te vind vir sommige van Suid-Afrika en Afrika se grootste uitdagings.

Die Boland en Overberg se geestelike geskiedenis is ryk en kom van ver

Die oudste geskiedenis van die Christelike geloof in ons land kan in die Boland en Overberg gevind word. Hierdie geskiedenis vertel op ‘n manier ons land se interessante geskiedenis in ‘n neutedop. Dit is in hierdie geskiedenis waar daar die meeste konflik maar ook die nouste kontak tussen Westerlinge en Afrikane was.

Op dié tog loop jy die verhale raak van die baanbrekerboere en hul slawe, die krygsgevangenes wat moes pad bou en die eerste bewoners van die streek se grotte langs die see. Mense het hulself lank voor die gereif van die moderne tegnologie hier op grond van ‘n diep geloof gevestig en vir hulle ‘n toekoms gebou. Geloofstaal is daarom sterk teenwoordig in die name van die streek – soos Genadendal, die Hemel-en-Aarde-vallei, Babilonstoringberge en Elim.

Op die tog is daar ook aangrypende menslike geloofsverhale – verhalwe wat die pelgrims in hul eie refleksie vergesel. Die verhale vertel van tragedies of mislukkings maar ook van wonderbaarlike uithouvermoë – soos die verhaal van Bernard en Joan se stille stryd teen apartheid by die retreatsentrum met die betekenisvolle naam Volmoed in die Hemel-en-Aarde-vallei net buite Hermanus.

By Robertson, een van die twee beginpunte (die ander beginpunt is in Stellenbosch) van die Pelgrimstog van Hoop, is daar die verhaal van die eerste dominee van Robertson, ds. CH de Smit, wat saam met gemeentelede aan die koors dood is kort ná die stigting van die gemeente. Stellenbosch is weer die tweede oudste dorp in Suid-Afrika. By Genadendal, Elim en Pniel word die aangrypende verhale van slawerny en die bevryding van die slawe in Suid-Afrika vertel. By Die Galg tussen McGregor en Greyton is die verhaal van die pad wat nooit klaar gemaak is nie en van die Italiaanse krygsgevangene wat uit desperaatheid homself opgehang het, heel moontlik toe die oorlog al verby was. By Boontjieskraal is die tragiese verhaal van die De Wet familie en die sogenaamde vloek wat daar op hulle gerus het. Die begraafplaas op die plaas is ‘n stille getuienis daarvan. Gansbaai is ryk aan verhale van die vissersgemeenskap en die Baardskeerdersbossers kan jou lank besig hou met die verskillende verhale oor waar die naam van hul dorp vandaan kom. By Brandfontein (die plaas langs Springfield) is daar die verhale van die lanternswaaiers wat skepe met hul lanterns na die kus gelok het in die hoop dat die skepe op die rotse sal loop.

Die Pelgrimstog van Hoop is só ontwikkel dat dit doelbewus verby kerke en ander plekke van geestelike en kulturele belang loop sodat ons deur die verhale van die geloofsgemeenskappe geïnspireer kan word, uit hul foute kan leer en hoop kan vind vir die toekoms.

Praktiese vrae oor die pelgrimstog van hoop

Toeganklikheid van die roete

Die roete is so ontwikkel dat dit hoofsaaklik van openbare paaie gebruik maak. Daar is twee plekke waar daar deur reservate gestap word. Die eerste is Boesmanskloof in die Vrolijkheid natuurreservaat. Die ander keer is op die tweede laaste dag tussen Elim en Springfield deur die Agulhas natuurreservaat.

Die roete maak hoofsaaklik van agterpaaie (grondpaaie) gebruik wat min verkeer dra. ‘n Klein persentasie van die roete is op hoofpaaie en hier moet pelgrims seker maak dat hulle liefs nie op die teer nie, maar in die grondskouer bly.

Hoe vind ek die pad?

Die roete is op party plekke met kentekens gemerk. Die kenteken is ‘n bordjie met ‘n vuurtoring en ‘n pyl, of rooi pyle op klippe of lamppale. Daar is meegaande kaarte in boekvorm beskikbaar by Pelgrimstog van Hoop kantoor teen R70 per boekie. Kontak gerus die Pelgrimstog van Hoop se kantoor by pelgrim@sun.ac.za of +27218083382 tydens besigheidsure. Pelgrims behoort dus die pad redelik maklik te vind. Ons het ook gevind dat plaaslike mense baie gewillig is om te help wanneer ons onseker oor die roete was.

Veiligheid op die roete

Daar word aanbeveel dat pelgrims verkieslik nie alleen stap nie, maar in ‘n groep.

Die Pelgrimstog van Hoop is so ontwerp dat dit deur ‘n betreklike  veilige omgewing loop. Daar word desnieteenstaande aanbeveel dat pelgrims die roete in groepe van twee tot sewe aanpak. Groter groepe kan plek-plek sukkel om slaapplek te kry.

Daar word aanbeveel dat pelgrims die noodnommers van die areas waarin hulle stap byderhand hou.

Ek wil egter benadruk dat ek en my vrou op die hele roete vanaf Robertson tot in Agulhas nie een keer onveilig gevoel het nie. Ons het wel pepersproei as voorsorgmaatreël saamgedra, maar die botteltjie het ongebruik terug huis toe gekom…

Afstand per dag

Elke groep pelgrims bepaal self die afstand wat hulle elke dag wil aflê. Sommige dae is dit maklik om die roete korter te maak; ander dae het ons nog nie alternatiewe verblyf langs die roete gevind nie.

Bepaal die afstand wat jy elke dag wil stap en bespreek jou verblyf vooraf volgens jou stapplan. Pelgrims oornag gewoonlik by “geakkrediteerde” herberge. Die Pelgrimstog van Hoop kantoor is tans besig om gastehuise en ander oornag plekke vir pelgrims te akkrediteer. Die plekke se aanduidings en kontak besonderhede word in die kaart boekie aangedui. Aangesien die roete nog jonk is, moet daar liefs vooraf vir slaapplek gereël word. Die pelgrims betaal die eienaars van die gastehuise of kothuise wat verblyf en maaltye aan hulle verskaf self soos vooraf gereël.

Die roete vra dat pelgrims oor basiese fiksheid en ook basiese gesondheid sal beskik. Mense wat twyfel moet liefs eers hul geneesheer raadpleeg voordat hul die roete stap. Mense wat chroniese medikasie gebruik moet dit saam dra omdat nie alle dorpe op die roete ‘n apteek het nie.

Hou jou stapinligting byderhand en gee terugvoer

Maak seker dat jy die handleiding uitgedruk of op ‘n e-leser saamneem. Die Pelgrimstog van Hoop kantoor werk gereeld terug by die gids in. Gee gerus terugvoer by pelgrim@sun.ac.za indien daar nuwe herberge of eetplekke langs die pad is wat jy wil aanbeveel of wenke en voorstelle wat jy met ons wil dee.

Daarom, belangrik, kry die boekie met al die kaarte en alle inligting van die roete by die Pelgrimstog van Hoop se kantoor by pelgrim@sun.ac.za of deur +27218083382 te skakel.

Oorsig oor die roete

Robertson tot Agulhas

Dag 1: Robertson – McGregor (21.6km)

Dag 2: McGregor – Die Galg (17,2km)

Dag 3: Die Galg – Greyton (17,4km)

Dag 4: Greyton – (Caledon/Villiersdorp t-aansluiting) JJ Viljoen Primêre Skool (18,4km)

Dag 5: JJ Viljoen Primêre Skool (Caledon/Villiersdorp t-aansluiting) – Wolfkraal (19,2km)

Dag 6: Wolfkraal – Tussenbeide (20,8km)

Dag 7: Tussenbeide – Volmoed (24,5km)

Rusdag op Volmoed

Dag 8: Volmoed – Wortelgat (25,3km)

Dag 9: Wortelgat – Gansbaai (21,7km)

Dag 10: Gansbaai – Baardskeerdersbos (26,1km)

Dag 11: Baardskeerdersbos – Black Oystercatcher (27km)

Dag 12: Black Oystercatcher – Springfield (18,7km)

Dag 13: Springfield – Agulhas (26,6km)

Totale afstand van roete: 274,5km

Gemiddelde afstand per dag: 21,1km

Die roete

Dag 1: Robertson na McGregor (21.6km)

Die Pelgrimstog van Hoop begin by die NG Moedergemeente van Robertson. Ons het gesorg dat ons die aand voor die tyd reeds in Robertson slaap (by Arnheim Gastehuis) sodat ons lekker vroeg kan begin. Wel dit was die plan. Ons het toe so lekker die vorige aand saam met vriende gekuier by Bourbon Street dat ons bietjie later begin het as wat ons gedink het. Ons kon toe wel so net na 7h die oggend begin…

Die eerste deel is ‘n redelike stil teerpad en daarna ‘n grondplaaspad en later ‘n kleiner berg kontoerpadjie tot in McGregor. Daar was geen groot op- of afdraendes nie. Die roete na McGregor is ‘n gemaklike pad deur wingerde en vrugteboorde. Daar is nie eetplekke langs die pad nie, so bring jou eie kospakkie vir die dag saam.

Die fout wat ons die dag gemaak het was om met soveel adrenalien in ons van al die opgewondenheid nie genoeg te stop nie. Ons het doodmoeg by die Rietdakkie aangekom en toe besef ons het nie eintlik enige iets langs die pad geëet nie, en toe kom die aha oomblik dat dit die rede is waarom ons so moeg was. Toe onmiddelik middagete geëet, slapie gemaak, en die dorpie gaan verken om ‘n lekker restaurant te soek asook ontbyt vir die volgende oggend.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Oorskiet Pizza, saam met koffie

Middagete: Provita met Tuna, saam met Game

Aandete: Teriyakie Hoender, saam met McGregor Sauvignon Blanc

Oja! Die locals (fietsryers en plaaswerkers) het gedink ons is toeriste, hulle het ons uitlanders genoem. En ja, loadshedding was real.

Dag 2: McGregor na Die Galg (17,2km)

Dag 2 na Die Galg is een van die lekkerste dae wat ons gehad het op die pelgrimstog. Dit is ‘n gemaklik gelyk pad tot bo op die berg waar ons oornag het by Onverwacht Cottages. Oppad daarheen stap jy verby Lords Wynlandgoed waar jy rustig kan sit en ‘n koppie koffie kan geniet of selfs ‘n wyntjie proe sou jy dit in jou hê om na die wyn nog die berg uit te klim.

Ons het by Lords gestop en ‘n heerlike cappuccino geniet, ‘n bottel Chardonnay in die sak gepak, toegedraai met klere, om die aand saam met ons Pasta te drink.

Die stap die berg op was asemrowend en selfs in middel Maart was die fynbos vollop. Wasblomme, vygies, sewejaartjies, suikerkanne, en klomp verskillende kleure erikas. Dit was ‘n fees vir die sintuie. Daarmee saam het die mis al rollend oor die berge ingekom wat die stap koel en gemaklik gemaak het.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Nutrific met melk, saam met koffie

Middagete: Provita met Tuna, saam met Game

Aandete: Fasta Pasta, saam met Lords Chardonnay

Dag 3: Die Galg na Greyton (17,4km)

So ons derde dag het begin in die klowe van die Boesmanskloof waar daar geen boesman tekeninge of enige boesmans ooit was nie. Fun fact: Die Khoi-Khoi of die San het grotte of oorhange verkies wat Noord front met ‘n uitsig sodat hulle heeldag die son kon geniet asook die hoogte voordeel bo gevaarlike diere gehad het. Dus: Boesmanskloof, afgelei van Bosmanskloof (soos ons later sou hoor by een van die plaaslike mense vanaf Genadendal).

Dit is ‘n tegniese, maar pragtige stap teen die hange van die berg af met Proteas in oorvloed. Nader aan Greyton se kant as Die Galg is daar ‘n heerlike groot swemgat wat geniet kan word sou die weer dit toelaat. Moet egter nie te lank hier vertoef nie siende dat die afdraende vanaf die bo-punt van die kloof steil met baie los klippe is tot onder in Greyton. Los genoeg tyd om hierdie afdraende rustig aan te pak met genoeg daglig.

In Greyton aangekom het ons oornag by Three Willows, een van die min plekke in Greyton wat verblyf vir slegs een aan verskaf. Ons het aandete gaan eet by Pampoen en Kaneel dit is ‘n klein restaurantjie wat elke dag ‘n anderse spyskaart het afhangende van die vars produkte wat daardie dag beskikbaar is. Die sjef is van ‘n bekende restaurant in die Bo-Kaap wie se naam ek nie kan onthou nie, wat die kos regtig keurig en smaaklik voorsit. Ook, alles op die spyskaart was onder R100.

Daar is ook ‘n apteek in Greyton sou jy soos ons onthou ons het die DeepHeat by die huis vergeet. Die apteek maak 17:00 die middag deur die week toe.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Nutrific met melk, saam met koffie

Middagete: Artisinal tuisgebakte broodjie met Tuna, saam met Coke

Aandete: Roast Chicken en Tofu, saam met Coke

Onthou om reeds die middag van dag drie relings te tref met ‘n taxi diens vir dag vier sou jy daarvan gebruik sou wou maak. Ons het gebruik gemaak van Dupps Vervoer wat ‘n groot vervoer maatskappy in die Overberg is. Hulle vervoer plaaswerkers daagliks op kontrak vir die boere asook toergroepe reg oor die Overbergstreek heen. Hulle sal jou dalk selfs kan lughawe toe neem sou jy by Agulhas klaar maak en wonder oor hoe jy weer op die lughawe gaan kom. Iets om in gedagte te hou.

Dag 4: Greyton na (Caledon/Villiersdorp t-aansluiting) JJ Viljoen Primêre Skool (18,4km)

Dag vier is ‘n rustige stappie na JJ Viljoen Primêre Skooltjie by die Caledon/Villiersdorp t-aansluiting. Wat vreemd is van hierdie dag is dat jy die hele dag stap tot by die skooltjie en dan ‘n taxi bel om jou by die skooltjie te kom optel om weer al die pad terug te ry na Ganedendal waar jy die aand oornag. Hierdie is die reling omdat daar ongelukkig nog geen ander verblyf beskikbaar is op hierdie deel van die roete nie.

Die roete self is ‘n gemaklike stap verby Genadendal tot by die skooltjie. Maak seker om by Genadendal in te draai en na die Morawiese kerk toe te gaan indien jy nie van die taxi diens gebruik gaan maak nie, anders behoort jy meer as genoeg tyd te hê om die sending dorpie die middag te verken siende dat die verblyf by Weder Gastehuis reg langs die ou Morawiese Sendingkerk is. Gaan koop gerus ‘n lekker pasty by die Museum vir aandete.

Op hierdie dag stap jy deur ‘n klomp kleiner dorpies. Na Genadendal kry jy vir Voorstekraal en daarna Beraville. Na Beraville is dit nog ‘n stywe stappie tot by Meulrivier en daarna ‘n kort entjie tot by die skooltjie waar jy die Pelgrimstog van Hoop bordjie by die Caledon/Villiersdorp t-aansluiting sal sien. Bel hier vir die taxi indien jy van hulle gebruik maak.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Nutrific met melk, saam met koffie

Middagete: Steak&Kidney pasty, saam met Coke

Aandete: Fasta Pasta met salamie, saam met Coke

Dag 5: JJ Viljoen Primêre Skool (Caledon/Villiersdorp t-aansluiting) – Wolfkraal (19,2km)

Reg, dag 5 is een van die mooiste dae van stap gewees. Dit is ‘n baie lekker stil stap deur Overberg plase. Ons het klomp skape gesien wat ons aanmekaar gevolg het. Kyk gerus na die video hier onder om te sien hoe hulle ons volg.

Ja, dit was besonders. Ek vermoed dit was dip of tag dag. Al die skape is toe later in ‘n klein kraaltjie ingejaag waar ons hulle dopgehou het terwyl ons ons eerste koffietjie vir die oggend saam met ‘n Genadendal pastei geniet het.

Van daar af is die op en af deur die heuwels tot by Wolfkraal wat langs die Swartrivier lê, net voor Caledon. As jy mooi kyk sal jy Caledon se indraai asook Dassiesfontein padstal kan sien voor jy afgaan in die dippie om Wolfkraal se draai te kry.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Nutrific met melk, Rib Pasty, saam met koffie

Middagete: Tuisgebakte plaasbrood met Tuna, Tuisgebakte plaasbrood met appelkoos konfyt, saam met koffie

Aandete: Waterblommetjie bredie, saam met Durbanville Hills Chardonnay

Dag 6: Wolfkraal – Tussenbeide (20,8km)

Dag ses was nog ‘n heerlike stap wat begin het met ‘n plaasontbyt in die plaaskombuis saam met Lizel Groenewald van Wolfkraal. As gevolg van die lekker ontbyt het ons bietjie later weggekom as gewoonlik wat die hele dag se stap ‘n bietjie warmer gemaak het later die middag.

Jy is net weg by Wolfkraal dan loop jy oor die treinspoor in Boontjieskraal in. Hier is familiegrafte wat getuig van die DeWet familie se geskiedenis te siene. Van daar net om die draai sluit jy by die N2 aan waar jy vir ‘n kort stukkie op die N2 stap tot by Dassiesfontein Padstal.

Vanaf Dassies is dit weer stil grondpad deur die heuwels tot by Tussenbeide. Maak by Dassiesfontein seker dat jy genoeg water het vir die stap tot by Tussenbeide, daar is geen waterpunte tot by die plaas nie.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Bacon en Eier Broodjies, saam met koffie

Middagete: Peppersteak Pasty, saam met Game

Aandete: Hoender en Broccoli, saam met Wiehan Rooiwyn

Dag 7: Tussenbeide – Volmoed (24,5km)

Hierdie kaart is baie belangrik! Dit is die regte roete na die Karwyderskraal pad. Moet nie die boekie se aanwysings volg nie. Francois Wiehan van Tussenbeide het hierdie kaart vir ons geteken.

Moet nie hierdie dag onderskat nie. Dit is 24,5km van moeilike los klipperige terrein oor die Babilonstoringberge. Die boekie sê nie verniet dat dié dag vroeg begin moet word nie. Wat lekker is van vandag is dat jy die see gaan sien. Die roete loop soos gebruiklik deur plase, en jy gaan ook ‘n gedeelte van die Cape Epic Fietswedren se roete stap op hierdie dag.

Die belangrikste is om Francois Wiehan se kaart na Karwyderskraal te volg en die boekie redelik te ignoreer tot dan. Daar is geen wildheining waaroor jy hoef te klim nie.

Die Karwyderskraalpad neem jou na die Hemel-en-Aardevallei. Op die pad gaan jy verby perdeplase stap asook Bosman wyne se nuwe proelokaal. Hierdie proelokaal sal jy net voor die De Bot damwal kry. Wanneer jy die damwal gekry het is jy baie naby aan Volmoed retreatsentrum.

Stap oor die damwal en draai direk regs af na die fietsrypaadjie wat onder die damwal verby en al langs die rivier tot by Volmoed loop. Jy sal ‘n pelgrimsbordjie (dalk) onder in die dippie teen die damwal vind. Dit het onlangs (Januarie 2019) gebrand in die streek en die bordjie is beskadig. Die pad kronkel nou af tot aan die onderpunt waar Volmoed op jou linkerhand sal lê.

Welgedaan, nou rus.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Aarbei jogurt, saam met koffie en beskuit

Middagete: Steak&Kidney Pasty, saam met Coke

Aandete: Plaaskombuis Bobotie, saam met Wandsbeck Shiraz en sjokolade brownie vir nagereg

Rusdag op Volmoed

Kos vir die dag:

Ontbyt: Bacon, Eiers, Sampioene, alles op ‘n pannekoek, saam met koffie

Middagete: Checkers Pasta slaai

Aandete: Rumpsteak, Broccoli slaai, Chickpea slaai, saam met ‘n Topdeck sjokolade vir nagereg

Dag 8: Volmoed – Wortelgat (25,3km)

Omdat ons ‘n rusdag geneem het by Volmoed het ons dit goed gedink om Volmoed na Hermanus te kombineer met Hermanus na Wortelgat siende dat die boekie die afstande as 8.4km en 5km onderskeidelik aandui. Nee. Dit was nie so nie. Dalk die 8.4km af oor die berg na Hermanus, maar van daar was dit nog ‘n hele ent tot by Wortelgat. Ek is nie heeltemal seker van die afstande nie, maar die totaal van die dag volgens ons horlosies was 25,3km tot by Kleinspoortjies in Wortelgat. Maak dus seker hier van afstande en verblyf en kos en water en alles nog meer sodat die stap nie te woes raak nie.

Ons het weer lekker vroeg begin en deur Hammilton Russel landgoed (skuins oorkant Die Plaaskombuis) gestap tot aan die bo-punt van die berg. Wat die stap hier moeilik gemaak het is dat daar hordes plaaspaadjies is met nog meer vertakkings. So ons het basies tot bo gestap met die kortste pad en gelukkig by die Uitkykpunt uitgekom waarvan die boekie praat. Dit het ook hier onlangs (Januarie 2019) gebrand wat alle fynbos verwoes het, saam met ‘n hele plaashuis. Ons het baie aan die mense gedink wat daar gebly het en hoe die brand hulle lewens onherroeplik verander het.

Om van die berg af ondertoe te stap tot in Hermanus is dit belangrik om die Elephant Trail bordjie te vind en met die paadjie af te gaan tot teenaan die sportgronde. Die klippe is baie los hier agv gronderosie siende dat daar nie meer plantegroei is wat die grond bymekaar hou nie. Toe ons onder kom was dit ‘n kort entije tot by die Eastcliff Spar waar ons weer koeldrank en lekker roomys kon koop vir die pad vorentoe.

Vanaf Eastcliff Spar is ons strandlangs met die Kuspaadjie tot by Grotto-strand waar ons ‘n lekker pannekoek en cuppucino geniet. Die boekie sê immers dit is nog net 1km tot by Wortelgat siende dat dit 4km vanaf Spar tot by die strand is. Gelukkig was daar selfoon ontvangs en ek kon gou na die kaarte kyk wat prof. Hendriks aan my ge-epos het om strandlangs tot by Wortelgat te kom. En toe die groot verrassing. Nie 1km, 9km.

So, Nee. Dit is nie 1km tot by Wortelgat nie. Meer soos ongeveer nog 9km strandlangs tot by Wortelgat.

Kyk gerus na hierdie kaart wat Prof. Jurgens Hendriks vir ons aangestuur het.

Wat hier belangrik is, is om net aan te hou met stap. Moet nie moedeloos raak nie. Kyk mooi na die gety kaart die vorige aand en kry jou beplanning goed reg om met laagwater die stuk strandlangs te stap. En hou aan met stap. Dit voel langer as wat dit in werklikheid is. Hou net aan. Na wat baie lank voel sal jy ‘n kruis kry wat in die duin geplant is met die Pelgrim bordjie daarop. Daardie kruis het vir ons baie beteken. Vanaf daardie kruis begin onmiddelik na die binneland stap totdat jy teen ‘n lyndraad vas stap waar jy rooi kolle sal kry of groen akkedissie merke. Volg beide, albei tekens lei na Wortelgat waar jy die Kleinspoortjies huis sal vind. Oor die afstand van die kruis tot by Wortelgat is ons onseker, maar dit was omtrent nog ‘n uur se stap as ek reg onthou.

Dit was ‘n moeilike dag, grotendeels oor die onbekende faktore, maar daarby ‘n baie lekker dag. ‘n Mooi dag. Daarom stel jou van die begin af in dat dit ‘n moeilike dag gaan wees, maar ‘n mooi dag. Hou net aan.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Rumpsteak, saam met koffie

Middagete: Tuna op Provitas, saam met Game

Aandete: Braaibroodjies en Boerewors, saam met Pinotage

Dag 9: Wortelgat – Gansbaai (21,7km)

Ons was gelukkig dat Prof. Hendriks ons op ‘n kortpad deur Wortelgat begelei het tot by die strand wat gemaak het dat ons (ons vermoed) so 3km uitgesny het. Tog was die dag se afstand steeds 21,7km strandlangs.

Ons het reënweer heel oggend gehad, maar teen so 11h se kant het dit begin opklaar. Ons het gemaklik langs die strand gestap tot by De Kelders. Weereens is dit belangrik om na die gety kaart te kyk om jou tydsberekening reg te kry.

Vanaf De Kelders na Gansbaai is dit teerpad. Heel eenvoudig. Dit was wonderlik om so lank langs die strand te stap. Ek dink wel sou jy oorweeg om hierdie in die somer te doen is dit belangrik om genoeg water saam te dra siende dat daar geen waterpunte is tussen Wortelgat en De Kelders nie.

Ons het oornag by Gansbaai Tourist Lodge wat ons deur Lekkeslaap bespreek het.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Oats O Easy saam met koffie

Middagete: 2minute Noodles en tuna, saam met koffie

Aandete: The Fishlady Vis en Skyfies, saam met Coke

Dag 10: Gansbaai – Baardskeerdersbos (26,1km)

Gansbaai na BBos was ‘n baie maklike stap al langs die grootpad wat aan die einde van die roete bietjie lank geraak het. Dit was heelpad op die grootpad. ‘n Audi het ons amper omgery soos wat die persoon onwettig ‘n Taxi verby gesteek het terwyl die Taxi onwettig ‘n ander motor verby gesteek het. Wees maar op die uitkyk vir sulke spoedvrate.

Belangrik! Voordat jy uit Gansbaai vertrek na Bbos, maak seker dat jy genoeg kontant trek vir alles wat jy in Gansbaai en Elim wil doen. Gansbaai is die laaste plek waar jy kontant kan trek totdat jy weer in Agulhas aankom. En Agulhas is ook weer die eerste plek wat kaarte aanvaar as betaling. So maak seker jy het genoeg kontant vir Bbos en Elim.

Op hierdie dag gaan jy verby Uilenkraalmond plaas stap waar die Swart familie se geskiedenis diep lê. Ook gaan jy verby Lomond Wyne stap waar jy, sou jy indraai, ‘n heerlike wyntjie saam met ‘n kaasbord kon geniet. Ons het verby gehou vir middagete by Marietjie se Pub.

Verblyf in Bbos self is moeilik. Ek het die kunsgallery gebel en hulle het my verwys na tannie Sheryll Willemse (Toetie) wat haar tuinwoonstel uitverhuur teen ‘n baie billike prys. Kontak haar gerus.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Oats O Easy, saam met koffie

Middagete: Marietjies Pub Kaas Burger en Skyfies, saam met koffie

Aandete: Marietjies Pub Kaas en Tamatie Toastie, saam met Coke

R43 bordjie net buite Franskraal, nog 17km tot in Baardskeerdersbos.

Dag 11: Baardskeerdersbos – Black Oystercatcher (27km)

So die stand van sake was so. Ons kontant was op. Ons het die somtotaal van twee pakkies Simba tjippies, ‘n pakkie Lemon Creams, en twee pakkies John West Tuna in ons besit gehad. Dit was die somtotaal kos in ons besit tot by Black Oystercatcher. Ons moes by die restaurant middagete eet anders sou ons kos nie hou tot by Springfield nie.

Dus, ons was haastig om die restaurant oop te kry wat teen 15:00 sluit vir die dag. Ons het ook die aand by Black Oystercatcher oornag om die volgende dag se afstand na Springfield bietjie korter te maak.

Gelukkig kry ons toe ‘n lekker koffiewinkel oop op Elim, dit is net soos jy die dorpie binne kom op linkerkant. Ek dink die naam is Maakit Mooi. Inelkgeval, daar kon ons met ‘n kaart betaal vir heerlike koffie en toe het ons ook sommer ‘n pakkie koekies speserye koekies gekoop vir saam met koffie langs die pad. Oja, ons het ook nog koffie by ons gehad. Koffie is belangrik.

Van daar is dit ‘n maklike en vinnige stappie tot by Black Oystercatcher.

By Black Oystercatcher het ons heerlik ontspan. Die huisies is ten volle toegerus met alles wat oop en toe maak. Ons het selfs ‘n bottel wyn in die yskas gekry. Lekker gestort en toe na die restaurant vir ‘n heerlike middagete vol ontspan en uitkyk oor die stoep met ‘n glas wyn in die hand.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Nutrific met melk, saam met koffie

Middagete: Black Oystercatcher Chorizo Pasta, saam met Black Oystercatcher Sauvignon Blanc

Aandete: Tuna op Provitas, saam met koffie

Dag 12: Black Oystercatcher – Springfield (18,7km)

Vandag se pad is ‘n maklike en gemaklike rustige pad tot op Springfield. Vandag is weer grondpaaie wat soveel beter is teerpaaie waar die motors verby zoem. Vanaf BO is dit 3,5km tot by die grondpad, van daar nog 14,5km tot by Springfield se afdraai en dan 2km in na die plaas.

Baie rustig, easy vibes. Genoeg tyd

Springfield is ‘n geskiedkundige plaas met ‘n ryk verlede. Oom Piet van As saam met sy vrou Marie het al vele mense daar onthaal waarvan heelwat bekendes is. Die fliek Krotoa is ook die plaas verfilm. Vra gerus vir oom Piet om vir jou ‘n storie of twee te vertel, hy doen dit graag. Hy het ook ‘n boek geskryf met al die Strandveld stories in wat jy by tannie Marie kan koop.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Nutrific met melk, saam met koffie

Middagete: Koffie en beskuit

Aandete: Hoender, Butternut, Ertjies, Aartappels, Reis, Griekse slaai, saam met Pinot Noir en ook roomys met sjokolade sous vir nagereg

Dag 13: Springfield – Agulhas (26,6km)

Begin lekker vroeg die oggend by Springfield om die gety reg te vang vir die strandstap wat wag. Dit is ‘n pragtige stap so op die laaste dag van die Pelgrimstog. Vanaf Springfield tot by Brandfontein is 8km en van daar is dit nog 18,6km strandlangs tot by die Ligtoring van Agulhas, die eindpunt van die roete.

Dit is eenvoudig deurdat jy net strandlangs hou al die pad tot by die ligtoring. Hou die gety in gedagte die vorige aand. Daar is heelwat groot los wit klippe op die strand wat dit moeilik kan maak op tye, maar gaan dan net bietjie hoër om weer vaste grond te vind.

Jy stap hier strandlangs ook verby die beroemde huisie waar die bekende Winds of Change toespraak geskryf is deur Britse Eerste Minister Harold Macmillan wat later (3 Februarie 1960) in die parlement gelewer sou word.

Kos vir die dag:

Ontbyt: Koffie met beskuit

Middagete: Piesang, Appel, Ceres Sappie, Kaas en Konfyt toebroodjies

Aandete: Tuisgemaakte lasagne saam met Black Oystercatcher Sauvignon Black (wat ons nog al die pad saam dra)

Totale afstand van roete: 274,5km

Oorsigtelik het ‘n paar dinge tog uitgestaan wat ek verder die lewe in sal saam dra:

Op McGregor het ek Johannes 8:12 by die Lighuis raakgeloop. Die tema van Lig het die hele pelgrimstog deur uitgestaan. Hoe die lig deur die vensters en blare skyn, hoe ons kerse moes aansteek wanneer daar loadshedding was, hoe geselsies lig in mense se binnestes laat skyn. Ja, lig verdryf werklik die duisternis in alle vorme.

Bo in die berge van Die Galg het ek skoonheid raakgeloop. Hoe skoonheid ook rustigheid en hoop vir ‘n beter toekoms kan bring is merkwaardig. Om bietjie hoogte te kry en met perspektief na dinge te kyk. Dit help om bo dinge uit te styg vir ‘n wyle, rustig te raak, en weer voort te gaan met nuwe moed en perspektief.

Op Greyton het ek gebed raakgeloop. Die oggend toe ons vertrek na Genadendal het die bediende wat die gastehuis skoonmaak vir ons gebid vir ‘n veilige reis verder. Sy het ook vir ons warm water gebring vir koffie. Die gebed se warm gevoel is nou nog steeds by my, lank nadat die water al afgekoel het.

Op Genadendal het ek eenvoud ontmoet. Niks weelderig nie, en in die eenvoud was dit genoeg vir herstel vir die volgende dag. Weelde of luuksheid is nie nodig om aan te gaan nie.

By Wolfkraal het ek Romeine 8 in die kosbuis raakgeloop.

Op Tussenbeide het ek gasvryheid raakgeloop in die vorm van Elize en Francois Wiehan. Hulle het ons so hartlik ontvang en verder gehelp met ons pelgrimstog dat ons sonder hulle waarskynlik sou verdwaal het. Ons het mekaar nodig. Individualisering van die samelewing is nie ‘n goeie ding nie. Ons moet mekaar op die lewenslange reis bystaan en mekaar die pad aanwys na die goeie weg.

Op Volmoed het ek rus en herstel raakgeloop.

Deur al die ervarings van die pelgrimstog en dit wat in my kop gedwaal het, het ek op die einde op drie dinge besluit wat die volgende fase van my lewe moet kenmerk. Drie dinge wat ek belangrik ag vir ‘n goeie lewe.

  • Dapperheid/Waagmoed: In die film Green Book vertel een van die akteurs dat dit nie help jy het al die kennis en doen niks daarmee nie. Hierdie het met my geresoneer omdat ek redelik akademies ingestel is. Dit help nie ek studeer net al hoe verder en lees meer boeke, en ek doen niks daarmee nie. Dit help nie alles bly net in my kop nie. Dit wat ek leer en lees moet hande en voete kry, en dit vra dapperheid/waagmoed om dit te laat gebeur. Want dit wat ek dink moet gebeur kan dalk net ‘n reuse mislukking wees, en daarom moet ek dapper wees om dit te probeer al kan dit dalk misluk. Die nodige waagmoed aan die dag lê om nuwe dinge te probeer en as dit nie werk nie, weer te probeer.
  • Gasvryheid: Ons was orals heerlik gasvry ontvang, ek het agter gekom dat ek soveel makliker my mure laat val wanneer gasvryheid openbaar word. En ek wil dit grag ook vir ander mense moontlik maak om minder op hul hoede te wees in enige omgewing. En dit lyk vir my asof dit moontlik is om mense rustig te laat voel deur gasvryheid te openbaar.
  • Beheer oorgee: Op Wortelgat het ons ‘n wonderlike gesprek gehad oor beheer en hoe toksies beheer kan raak wanneer dit ten alle koste gehou wil word. Hoe beheer of in beheer wees, nuwe lewe, nuwe idees, anderse planne, kreatiewe oplossings, kan stuit wanneer dit nie inpas by die een wat beheer toepas se idee van hoe dinge behoort te wees nie. Daarom het ek myself voorgeneem om al meer beheer oor te gee in my lewe sodat mense kan floreer en selfstandig nuwe dinge kan probeer sonder dat ek heeltyd moet sê hoe dinge behoort gedoen te word nie. Dit is eintlik ‘n diep geestelike motief vir my. Om die Heilige Gees te vertrou en ook mense te vertrou dat die Gees deur hulle kan werk, al lyk dit nie soos wat ek dinge sou doen nie. My manier is nie die enigste manier van dinge doen nie. En daarin hoop ek ook om ‘n voorbeeld te wees vir ander om nie alles altyd te wil beheer nie, maar ook beheer aan die Here oor te gee. Dinge mag dalk anders wees, maar omdat dit anders is maak dit nie dinge sleg nie.

Fluit fluit, my storie is uit.

Teken gerus in via epos by: https://feedburner.google.com/fb/a/mailverify?uri=francoismaritz/bVPS&loc=en_US

One Reply to “Pelgrimstog van Hoop 2019”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *