YOLO so uit die Bybel.

Ek het lanklaas iets van waarde getik, hierdie behoort waarskynlik ook snert te wees. Ekt nie rooiwyn in my hand, geen nuwe ervaring onlangs gehad, slegs ek. En dalk juis daarom is dit tyd om weer aan die skryf te raak, bloot vir die genot van skyf. Ek hou steeds van skryf, om my gedagtes op ‘n manier te karteer deur tyd en ruimte.

Eks tans eintlik onder heavy akademiese druk wat hopelik in die volgende drie weke ligter op my skouers sal druk indien ek die mas suksesvol sal opkom, wat ek sal. Dis nou daai oomblik wanneer die kar so vinnig ry dat die lewe ‘n tonneltjie voor jou raak en alles om jou blur net in strepies… Ek hou nie hiervan nie. Ek kan nie kwaliteit werk produseer in min tyd nie. Wel, as ek baie tyd het, doen ek net die heeltyd navorsing en gaan kyk in elke hasegat wat daar aangaan voordat ek verder beweeg. Dis my probleem met akademie, en wil heeltyd breer gaan, terwyl dit beter is om dieper te gaan.

Ek het nie iets filosofies om vanaand te se nie. Ek lees nog heel week Prediker, die afgelope twee weke eintlik. Eks nou ietwat van ‘n kenner op die gebied van Prediker vir die volgende week totdat ek dit weer vergeet. Die prediker se boodskap is eintlik heel postmodern, so uit die Bybel. Hy voer aan dat die lewe geniet moet word vir wat dit nou is, want niemand kan weet wat more inhou nie, daarom geniet nou vir wat dit is. Dit is ook al sin wat hy in die lewe insien, vreugde is die toppunt en die enigste punt van die lewe vir hom. ‘n Weergawe van YOLO so uit die Bybel! Wie sou dit nou kon raai?

 

In ander nuus. Ekt myself gevang ‘n voicemail save. Dit was van ‘n ou vriendin met wie ek al ‘n lang pad saam kom. Dit was so lekker om haar stem weer te hoor. Daar is steeds iets omtrent haar wat my laat dink aan die Athena van Coelho se Witch of Portabello. Sy is so freespirit op haar eie mission en put altyd die meeste en beste uit die lewe en maak dit ook ‘n beter plek vir almal rondom haar. Sy is aansteeklik, eenvoudig gestel. Dit is maklik om die wereld deur haar oe te aanskou, te bewonder, te geniet. Sy is soos ‘n rooi rok wat om ‘n kampvuur dans… Haar stem dra ook hierdie eerlike gemaklike toon wat mens innooi in haar wereld in. Sy is betowerend.

 

Voordat ek in ‘n normale dagboek inskrywing verval en my binneste aan die wereld vertel in die narratief wat my lewe probeer wees sal ek dit hier kortknip met die glimlag wat nou oor my lippe gly.

Totsiens vreemdeling!

Aanpas of Sterf

Teen die middel van die negentiende eeu het die Franse filosoof Auguste Comte geskryf: “Demografie is lotsbestemming.” Die besef hiervan het skielik teen die einde van die 1960’s by die Afrikaners posgevat. (Giliomee 2004:539)

 

Sakelui se beskouing van apartheid het in die vroee 1970’s redelik skielik verander. Die val van die Portugese koloniale ryk aan Suid-Afrika se noordwes- en noordoos grens, die guerrillastryd in Rhodesie, die groot stakings in 1973 in Durban en die Soweto-opstand van 1975-1976 het sterk bedenkinge oor die langtermynstabiliteit van apartheid laat ontstaan. (Giliomee 2004:542)

 

Om aan die behoefte aan ‘n stabiele, geskoolde swart arbeidsmag te voldoen, het die regering sekere fundamentele skuiwe gemaak. In 1973 het dit swart werkers toegelaat om met die verlof van die wit vakbonde geskoolde werk te doen. Kort daarna is hierdie vereiste afgeskaf en saam daarmee ook verskeie vorme van werkreservering en arbeidsbeheer. In 1979 het die regering beperkinge op swart arbeid verwyder en die beginsel aanvaar dat vakbonde met swart lede aan die formele bedingingsrade kan deelneem. Ten einde vir beter geskoolde arbeid voorsiening te maak, het die regering in 1972 ‘n nuwe formule vir die finansiering van swart onderwys aanvaar. Dit het gelei tot ‘n sterk uitbreiding van swart onderwys, ook in die sekondere standerds. Baie hoerskole is nou in die “blanke” gebied gebou. (Giliomee 2004:543)

 

In die 1970’s het die verhouding van wit tot swart lone in die mynbedryf van 21:1 tot 6:1 en in die vervaardigingsektor van 6:1 tot 4:1 gedaal. (Giliomee 2004:543)

 

Tussen 1948 en 1994 was Suid-Afrika egter nooit ‘n Afrikaner- of ‘n wit staat nie. Selfs in die 1950’s is meer swartes as blankes in die staatsdiens aangestel. Teen die vroee 1980’s het ongeveer twee miljoen mense, van wie net ‘n derde wit was, in die openbare sektor, insluitende die administrasie van die tuislande, gewerk. (Giliomee 2004:545)

 

Opnames van wit studente het ‘n sterk bereidwilligheid getoon om die stelsel te verdedig. Afrikanerstudente het gepraat van hul regering en hul leer. Gevra hoe hulle sou reageer teenoor ‘n ANC-regering, het 44% van die Afrikanerstudente (vergeleke met 10% van die Engelssprekende studente) gese dat hulle dit aktief sou teenstaan, terwyl nog 32% gese het dat hulle sal emigreer. (Giliomee 2004:553)

 

In 1977 het die regering ‘n plan aanvaar om kleurlinge en Asiers saam met blankes in die Parlement in te bring.

Vroeg in 1982 het die spanning in die party tussen die faksies onder Botha en Treurnicht tot uitbarsting gekom. Die Treurnicht-groep kon nog aparte kleurling- en Indier- parlemente duld (hulle sou klaarblyklik minderwaardig wees), maar nie drie kamers in een Parlement nie.

Op 24 Februarie 1982 het Treurnicht en nog 21 NP-lede van die Parlement die NP-koukus verlaat en die Konserwatiewe Party (KP) gestig.

Daar was nou ‘n Parlement met ‘n wit, ‘n bruin en ‘n Indierkamer, gekies op afsonderlike kieserslyste in ‘n 4:2:1-verhouding ooreenstemmend met die onderskeie bevolkings.

‘n Kieskollege wat saamgestel is uit al drie kamers het ‘n staatspresident gekies, wat uitvoerende funksies gehad het.

Maar wit beheer is behou. Die NP, as die grootste party in die wit kamer, was daarvan verseker dat dit die staatspresident kon verkies.

Hierdie grondwet was, soos ‘n gesegde van die tyd gelui het, “magsdeling sonder magsverlies”.

Swart mense het die verteenwoordiging van kleurlinge en Asiers in die Parlement as ‘n verwerping van hul eis om ‘n gemeenskaplike burgerskap bekou. (Giliomee 2004:557-559)

 

In 1979 het Buthelezi met die ANC-leierskap gebreek omdat hy die ANC se sanksies en gewapende stryd teengestaan het. Die verhouding tussen die ANC en Buthelezi se Inkatha het nou vinnig versleg tot ‘n bittere vyandskap. (Giliomee 2004:560)

 

Die NP-skeuring in 1982 na die breuk tussen Botha en Treurnicht en die stigting van die Konserwatiewe Party (KP) was in ‘n belangrike mate die produk van verreikende sosio-ekonomiese veranderinge.

Vroeg in die jare sewentig is die tydperk van vinnige ekonomiese groei egter afgesluit. Daarmee het die NP se moeilikhede begin. Die ekonomiese opbloei tussen 1933 en 1973 het die samestelling van die Afrikaner-arbeidsmag ingrypend verander en konflikte geskep wat die NP nie meer kon oplos nie.

Een faktor het die Afrikanernasionaliste bymekaar gehou. Dit was die geloof dat die Afrikaners se politieke mag ‘n voorvereiste is vir hul oorlewing as volk en Afrikaans as openbare taal. Sommige politici en kultuurleiers het geglo dat die Afrikaners ‘n Godgegewe plig het om hul identiteit as volk te beskerm, en miskien ook die van ander volkere. Maar onder die Afrikaners op die grondvlak het die oorlewing van die Afrikaanse kultuur en taal nie voorrang geniet nie. In meningsopnames het taal en kultuur by hulle slegs agste of negende uit tien indikatore gekom, ver onderkant die verdediging of bevordering van materiele belange. (Giliomee 2004:561-562)

 

Andre du Toit, die Stellenbosse filosoof, wys daarop dat die regering se aandrang dat politieke mag noodsaaklik is om die Afrikaner se kultuur en taal te bewaar ‘n fatale flater is. Die voortbestaan van Afrikanerkultuur moet losgemaak word van Afrikanermag. Du Toit se betoog was nie bedoel om kiesers op die grondvlak te beinvloed nie, maar wel die klein aantal mense wat in Louw se woorde “intelligent genoeg is om te dink, en die gawe het om te skryf…Een man wat kan dink en skryf, is maklik ‘n duisend se leier.”

Genadelose kritiek op die Afrikaners kan ‘n jonger generasie aanspoor om die Afrikaners as volk en hul kultuur heeltemal te verwerp. Van Wyk Louw se stelling was juis dat die kritikus uit solidariteit met sy mense moet kritiseer. (Giliomee 2004:564-565)

 

Die opstandiges moet slegs genoeg moeilikheid maak om ‘n regime baie onseker van hom self te laat voel. (Giliomee 2004:574)

Hier praat Giliomee van ‘n regime in persoonlike terme. ‘n Regime as persoon, met gevoelens. Dit het my laat dink aan die kerk as liggaam. Die kerk word ook gepersonifiseer, en word ook verstaan as ‘n persoon. ‘n Vrou. Wat is die impak hiervan op die kerk se algemene standpunte en uitgangpunte as dit sake hanteer? En hoe hou identiteit met selfbeeld verband? Is selfbeeld meer ‘n gevoelsding wat later oorspoel en manifesteer in identiteit wat meer iets konkreet en sintuiglik waarneembaar is? Onsekerheid! Onsekerheid le baie moontlik baie naby aan die kerk van die saak. Want as die hipotese korrek is dat die innerlike manifesteer in die uiterlike dan is dit belangrik om ‘n greep op die self te he, en nie onseker te wees nie, want onsekerheid kweek onstandvastigheid, en maak die gronde waarop gestaan word sag soos seesand.

 

Die apartheidsideologie sou egter sy houvas op die meeste Afrikaners behou het as die kerk aangehou het om die leer te verkondig dat God die bestaan van die Afrikanervolk en alle ander volke gewil het. Tot in 1974 het die NG sinode nog die storie van Babel aangehaal as ‘n gelykenis van God se skepping van verskillende volke. Op die grondslag het die kerk apartheid geregverdig en ‘n nierassige lidmaatskap vir die NG Kerk verwerp omdat dit die kerk se etniese identiteit sou verwater. Toe die regering self van sekere aspekte van apartheid ontslae wou raak, was die kerk nie in staat om daarmee te help nie. In die vroee 1980’s het die NG Kerk geweier om Botha te ondersteun toe hy die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike wou afskaf. Maar die kerk het al hoe meer geisoleer geraak. Die ander “volke” het nog nie die gelukkige ontdekking gedoen dat dit God se wil is dat hulle as afsonderlike volke moet bestaan nie.

Die kerk se steun vir apartheid en vir die NP-bewind het begin verkrummel nadat dit tussen 1978 en 1982 drie pynlike terugslae ondervind het. Die eerste slag was die onthulling in 1978 dat die NG Kerk aandadig was aan die departement van inligting se pogings om die buitelandse mening te manipuleer. Ten tweede is die NG Kerk in 1982 in Ottawa geskors deur die Wereldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK), ‘n liggaam op wie se lidmaatskap dit prys getel het. Die WBGK het ‘n “status confessionis”, ‘n staat van belydenis, geformuleer. In die status confessionis word verklaar dat apartheid ‘n sonde is en die teologiese regverdiging daarvan ‘n kettery. Maar die slag wat die seerste gemaak het, was die NG Sendingkerk se besluit in 1982 om die staat van belydenis te onderskryf. In die lig van hul verwerping van die teologiese motivering van apartheid het hulle self ‘n belydenis opgestel wat die implikasies van die evangelie vir geregtigheid in Suid-Afrika uitgespel het.

By sy sinodes van 1986 en 1990 het die NG Kerk finaal van apartheid afstand gedoen. In 1986 het die verklaar dat die kerk oop is vir almal ongeag hul kleur. Dit het formeel besluit om sy rassebeleid op die Nuwe Testament te baseer, waarin die idee van ras geen rol gespeel het nie. Die kerk het inderdaad verander, maar vir sommige kritici was dit onvoldoende.

In November 1990 is ‘n ekumeniese konferensie gehou om nasionale versoening te bespreek. Dit is bygewoon deur afgevaardigdes van ‘n hele aantal Christelike kerke. Willie Jonker, meer as dertig jaar een van die kritiese stemme in die NG Kerk, het namens hom self en die NG Kerk verantwoordelikheid aanvaar vir die onreg en lyding onder apartheid. Die NG-leierskap op die vergadering het hierdie belydenis onderskryf op grond van die Algemene Sinode se besluite in Oktober 1990.

Een van die belangrikste ideologiese stutte van apartheid het dus verdwyn. Die NG Kerk se belydenis van sy foute tussen 1986 en 1990 was egter nie sonder dubbelsinnigheid nie. Sommige het dit beskryf as “bekering sonder berou”. Peter Berger, ‘n Amerikaanse sosioloog, het daarop gewys dat in die groter geskiedenis van kerke dit seldsaam is dat ‘n belangrike kerk so gou soos die NG Kerk vir sy foute verskoning vra. Die konserwatiewe was baie ontsteld. Sestig predikante en 30 000 gewone lidmate het in 1987 weggebreek en die Afrikaanse Protestantse Kerk gestig. In die eerste helfte van die 1990’s het nog 70 000 lidmate weggebreek. (Giliomee 2004:575-576)

 

Op grondvlak was die Afrikaners nie besonder ontsteld oor die langdurige noodtoestand nie, maar teenstand het onder die mense in die akademiese lewe, die kerk en die beroepe opgebou teen ‘n semipermanente noodtoestand. Christine Anthonissen se ontleding van Die Kerkbode het bevind: “Daar was ‘n geleidelike verskuiwing. Eers het die blad die staat se besluit om ‘n noodtoestand uit te roep, onderskryf, maar in 1988 en 1989 is daar versigtige kommentaar op die abnormaliteit van regering deur noodwette en word daar ook gewys op die moontlikheid dat sulke magte misbruik kan word.”

In die kabinet het F.W. De Klerk die jaarlikse hernuwing van die noodtoestand teengestaan: “Met alle respek, die argumente beindruk my nie. Hoe lank gaan ons nog ‘n noodtoestand he? So lank soos ons lewe?”

Dit meeste generaals was teleurgestel toe die mag in 1989 oorgedra is van Botha na De Klerk, wat nie die leer se steun gehad het nie, maar niemand het daaraan gedink om militer in te meng nie.

In die verkiesing van 1987 het die NP ‘n mandaat gekry om ‘n nuwe beleid te ontwikkel wat op gelyke regte vir almal gegrond is. F.W. De Klerk, toe die NP-leier in Transvaal, het ‘n groot rol gespeel in die sege van die NP oor die KP in daardie provinsie.

In 1988 het Botha die opsie van onderhandelings met die ANC begin ondersoek. Hy het Niel Barnard en Mike Louw, die twee mees senior amptenare in die nasionale inligtingsdiens, saam met ander amptenare toegelaat om in die geheim gesprekke met Nelson Mandela in de tronk te voer. Hierdie amptenare het onmiddelik sy statuur as leier en sy integriteit en skynbare gebrek aan bitterheid opgelet, ten spyte daarvan dat hy nou reeds 25 jaar in die tronk was.

In 1988 het nasionale intelligensie-amptenare ook oorsee met ANC-leiers gepraat.

In Januarie 1989 het P.W. Botha ‘n aanval van beroerte gekry. In Februarie het hy bedank as NP-leier, maar aangebly as staatspresident. F.W. De Klerk is naelskraap tot NP-leier verkies. Soos voorspel kon word, het wrywing gou ontstaan tussen Botha en De Klerk, elkeen met sy eie magsbasis, ontstaan. Botha het op 14 Augustus 1989 as president bedank. Na ‘n algemene verkiesing is F.W. De Klerk op 14 September 1989 tot staatspresident verkies. (Giliomee 2004:581-584)

 

Nelson Mandela is, soos De Klerk, gevorm deur sy verbintenis met sy politieke beweging en sy mense, maar hul onderskeie loopbane was heeltemal verskillend. Mandela het as jong man van die Transkei na Johannesburg gegaan en as prokureer gekwalifiseer. Hy was een van die ANC-leiers in die woelige jare van protespolitiek in die 1950’s. Die polisie en hofsake het sy lewe erg ontwrig, maar danksy sy sterk wil en oortuigings het hy die stryd voortgesit in ‘n tyd toe die kans op sukses skraal gelyk het.

Na 27 jaar in die tronk (1963 in hegtenis geneem) het Mandela die politieke lewe weer op 11 Februarie 1990 betree nadat hy vrygelaat is.

Sy weiering in die tronk om enige kompromiee aan te gaan sodat hy vrygelaat kan word, het sy statuur versterk.

Om die fort te hou

Op September 1953 vertel “Dawie” in Die Burger ‘n storie wat aan hom gestuur is deur “’n gryse kollega vol ou wysheid waaruit die idealisme nog nie verdwyn het nie”. Die Duiwel – so lui die storie – was besig om die probleem te oorweeg wat die Afrikanervolk aan hom gestel het. Hy het min of meer so geredeneer: “My Teenstander het ‘n klein volkie in Suid-Afrika geplant. Hulle is min mense, maar hulle erken hulle is uitverkore. Ek het my bes gedoen om hulle tot niet te maak…Nou het nog net een raad: ek wil hulle welvarend maak en kyk of hulle dit kan oorleef!” (Giliomee 2004:495)

 

Die Duiwel in Dawie se gelykenis wat hier bo aangehaal is, het rede gehad om hoopvol te wees. Terwyl die Afrikaners besig was om die kapitalisme te verower, het die kapitalisme ook al hoe meer Afrikaners verower. In September 1965 het Verwoerd gewaarsku dat die groei van Afrikaner-kapitalisme later teen die Afrikaners self gebruik kan word.

Wit voorspoed het wit mag ondermyn. (Giliomee 2004:497)

 

Van die middel van die sestigerjare af het al hoe meer van die voorste Afrikaanse skrywers en digters van die volksbeweging vervreemd geraak. Rebelse Afrikaners is uitgeskuif. Beyers Naude is gedwing om as ‘n NG perdikant te bedank nadat hy direkteur van die veelrassige Christelike Instituut geword het.

Die Afrikaanse koerante in die algemeen het selde oor spanning binne die regering en die NP verslag gedoen. Tussen 1962 en 1964 het die sirkulasie van die Engelse koerante met altesaam 90 000 eksemplare gestyg en die van die Afrikaanse koerante het met 10 000 gedaal.

As amptelike taal was Afrikaans besig om veld te verloor teen Engels.

Dit het onder swart mense bekend geraak as die taal van die onderdrukking – die taal wat gebruik is wanneer wit polisieman ‘n pasoortreder arresteer of wanneer wit staatsamptenare ‘n apartheidspermit uitreik of wanneer swart mense of bruin mense ‘n uitsettingsbevel ingevolge die wet op groepsgebiede ontvang. (Giliomee 2004:498)

 

Die Afrikaanse Studentebond het op sy kongresse in die 1950’s en 1960’s dikwels debatte gevoer oor al die gevare van liberalisme, kommunisme, jingoisme en Rooms-Katolisisme met hulle neiging om “verbroedering van blankes en nie-blankes” aan te moedig.

Studente is gewaarsku teen die ondermyning van die Christelik-nasionale beginsels van die Afrikaner en hulle moes hulle verset teen ‘vreemde invloede’ in die kultuurgoedere van die Afrikaner.

Die vernaamste voorstanders van antikommunisme was mense in die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie met Piet Meyer, as voorsitter van die beheerraad, aan die spits; ook Andries Treurnicht, redakteur van Die Kerkbode, die NG Kerk se blad; S.E.D. Brown, skrywer en uitgewer van die South African Observer, ‘n gereelde politieke pamflet, en die kabinetslid Albert Hertzog, seun van genl. Hertzog.

Regse politici en kultuurleiers het voortdurend gewaarsku teen skrywers en akademici wie se liberale gevoelens die weg vir die kommunisme sou berei. (Giliomee 2004:499)

 

In Oktober 1967 het die Potchefstroomse akademikus Willem de Klerk drie tendense in die volksbeweging onderskei;

 

Verligtes: liberale in ‘n nuwe Afrikaanse voorkoms, wat baie tradisies laat vaar het en openheid, inklusiwiteit en vryheid voorstaan, ook ten opsigte van rasseverhoudinge;

Verkramptes: eng en na binne gekeer, wat aan die verlede kleef en heksejagte uitvoer teen enigiets wat nie tradisioneel is nie;

Positiewe Afrikaners: mense wat die ewewig handhaaf tussen eksklusiwiteit en openheid, tradisie en progressiewe denke.

 

De Klerk het altyd ‘n nasionalistiese konsensus eerder as ‘n duidelike hervormingsbeginsel gesoek. Hy het sowel die verligte as die verkrampte posisie afgewys en hom ten gunste verklaar van ‘n positiewe nasionalisme. Die derde posisie was gou vergete, maar sy broer F.W., wat in 1989 president sou word, was die beliggaming daarvan in die jare voordat hy tot die hoogste posisie uitgestyg het.

Daar was ‘n korrelasie met klasseverskille. Die verligtes het meesal ‘n hoer opvoedingspeil en groter inkomste gehad en was in hul werk minder van staatsbeskerming afhanklik as die verkramptes. (Giliomee 2004:500-501)

 

Na die sluipmoord op Verwoerd op 6 September 1966, (…op die kruin van sy mag, het hy in die Volksraad gewag vir ‘n sitting om te begin. Daar is gegis dat hy ‘n belangrike beleidsaankondiging sou doen. Net voordat hy sy toespraak sou begin, het Demetrio Tsafendas, ‘n parlementere bode, hom in sy bank met ‘n mes doodgesteek…(Giliomee 2004:489)) het die NP-koukus B.J. (John) Vorster as sy opvolger gekies.

Vorster was die kandidaat van die verkramptes, veral in Transvaal, maar dit het gou geblyk dat hulle hulle met hom misgis het. Hoewel hy ‘n Transvaalse kiesafdeling verteenwoordig het, was hy in werklikheid ‘n man van die Kaap. Hy het op Stellenbosch gestudeer, sy skoonvader was ‘n direkteur van die die Nasionale Pers en sy politieke leermeester was Paul Sauer, ‘n tipiese Kaapse Nasionalis wat na Sharpville ‘n nuwe benadering bepleit het.

Vorster het ‘n proses van desegregasie van sport begin wat meer as vyftien jaar gekos het om af te handel. Toe groot stakings teen uiterse lae lone in 1973 in Durban uitbreek, het hy aan werkgewers gese dat hulle die werkers nie as arbeidseenhede moet beskou nie, maar as “menslike wesens met siele”. Westerse diplomate wat met hom onderhandel het, het hom beskou as reguit, eerlik en betroubaar. (Giliomee 2004:501)

 

Vorster se instelling was, soos hy soms gese het, “om die fort te hou”. (Giliomee 2004:502)

 

Van Wyk Louw het reeds in die 1930’s besef dat kultuurorganisasies nodig is, maar ook gevaarlik. Hy het geskryf ‘n volk is nie ‘n sekte of ‘n kliek of ‘n vereniging met ‘n vaste program nie.

Toe Louw in 1970 sterf, het geen kabinetslid sy begrafnis bygewoon nie. Hy en Verwoerd was twee teenpole in die volksbeweging. (Giliomee 2004:505)

 

John Vorster en Breyten Breytenbach het nou die nuwe teenpole in die Afrikanergemeenskap gevorm. Breytenbach het grootgeword op die dorpe Bonnievale en Wellington; in die woorde van sy broer Cloete het hy die deursnee-Afrikaner se huislewe en opvoeding gehad: “plaas- en dorpslewe, toegewyde ouers, baie vriende, lid van die NG Kerk en die Voortrekkerbeweging”.

Breytenbach het egter ‘n perspektief gehad wat nader aan die kol was. Dit is die strandpunt dat dit verkeers is om te glo dat apartheid die werk is van ‘n paar burokrate en ideoloe. Die Afrikaners is verantwoordelik vir apartheid, kollektief en individueel. Sonder hulle sal dit nie bestaan het nie; dit is hul lewenswyse. Apartheid spruit uit ‘n gebrek aan veiligheid en ‘n obsessie met die Afrikanerstam.

Vir Vorster was Breytenbach bo en behalwe sy politieke bedrywighede ook ‘n vyand van die volk wie se poesie moreel verderflik en polities aanstootlik is.

In ‘n simposium oor die Sestigers in 1973 by die Universiteit van Kaapstad se Somerskool het verskeie skrywers en akademici opgetree, onder andere Breytenbach wat uiteinelik van die regering verlof ontvang het om Suid-Afrika te besoek.

Die hoogtepunt van die simposium was Breytenbach, met ‘n lesing getitel “’n Blik van buite”. Hy het gese: “Ons is ‘n bastervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig, en om dit te kon doen, moes ons ons gewaande stamidentiteit stol. Ons moes afkamp, bekamp, verkramp. Vir Breytenbach het die redding feitlik uitsluitlik in die hande van swart mense gele. (Giliomee 2004:506-507)

 

Hoewel die verset teen die apartheidstelsel op baie vlakke begin oplaai het, het die Afrikaanse kerke geen waarskuwings oor wit bevoorregting en die kontras tussen wit rykdom en swart armoede laat hoor nie. Die algemene sinode van die NG Kerk van 1974 het ‘n verslag oor rasseverhoudinge aanvaar wat ‘n uitvoerige Bybelse regverdiging van apartheid was. Daar is steeds geargumenteer dat die gelykenis van die toring van Babel ‘n paradigma is vir ‘n beleid van “volkeverskeidenheid”. Die verslag het sonder veel oortuiging probeer voorgee dat die kerk net so bekommerd as die ander kerke is oor sosiale geregtigheid, menseregte en selfbeskikking vir individue en vir groepe, maar verskil oor die beste middele om hierdie ideale te verwesenlik.

Die verslag is skerp gekritiseer. Jaap Durand, ‘n Afrikaanse teoloog, het daarop gewys dat daar geen hermeneutiese gronde aangewys kan word om die verskeidenheid van volkere as ‘n Godgegewe beginsel te aanvaar nie. John de Gruchy, ‘n Engelssprekende akademikus, het daarop gewys dat die onuitgesproke uitgangspunt van die verslag is dat Afrikaner-oorlewing van apartheid afhang. Allan Boesak het van die afwaartse spiraal van NG denke oor die rassekwessie gepraat.

Na die NG sinode van 1974 het Schalk Pienaar geskryf dat hy nie kan glo dat die kerk nie kennis geneem het van die swart bevolking nie en steeds glo Suid-Afrika is God se reservaat vir die Afrikaner.

Pienaar se kritiek op die NG Kerk was ‘n teken dat die Afrikaner-volksbeweging aan die verbrokkel was. Meer as veertig jaar lank het die verskillende dele – die party, die pers, die kerk en die organisasies – trou aan mekaar gesweer. (Giliomee 2004:510)

 

…terwyl die ANC as organisasie verbode was, was sy opvatting van algehele swart bevryding sterk. Die idee is lewendig gehou deur duisende mense, veral onderwysers, studente en predikante. (Giliomee 2004:515)

 

‘n Nuwe stem het in die vroee 1970’s opgeklink. Dit was die van biskop Desmond Tutu van die Anglikaanse Kerk, ‘n verteenwoordiger van ‘n nuwe geslag swart geestelikes wat verbind was tot swart bevryding. Hulle was besig om vinnig in die vernaamste Engelse kerke opgang te maak. (Giliomee 2004:517)

 

Op Woensdag 16 Junie 1976 het 20 000 kinders in Soweto deelgeneem aan ‘n protesoptog teen die bevel dat Afrikaans as een van die voertale in sekondere skole gebruik word. Koerantberigte en ooggetuies meld dat die kinders opgewonde en ontspanne was.

Genl. Magnus Malan, een van die voorste generaals in die leer, het later gese dat die polisiemag nooit werklik verstaan het hoe om teen swart proteste op te tree nie. Daar was blykbaar geen bevel van die polisie aan die mense in die optog om uiteen te gaan nie, en ‘n senior polisie-offisier het later erken dat daar geen waarskuwingskote gevuur is nie. Toe die polisie skielik begin skiet, was Hector Peterson die eerste kind wat gesterf het. Hy was ‘n dertienjarige skoolseun wat deur ‘n koeel van agter getref is. Verskeie ander kinders is ook doodgeskiet. Daarna, het ‘n koerant geskryf, “all hell broke loose”. (Giliomee 2004:531)

 

In Oktober 1977 het die regering alle Swart Bewussynorganisasies, die Christelike Insituut met Beyers Naude aan die hoof en ook The World, die vernaamste swart koerant, verbied. Op 12 September 1977 het Steve Biko op gruwelike wyse gesterf van kopbeserings wat hom toegedien is deur veiligheidspolisiemanne terwyl hy in Port Elizabeth in aanhouding was. (Giliomee 2004:532)

 

Teen die middel-1970’s het tussen 80% en 90% van die Afrikaners nog die rigting wat die party en die kerk aangedui het, ondersteun. Meer as vier vyfdes van die Afrikaners wat vir die NP gestem het, het hulle self as “baie godsdienstig” beskryf. Die Afrikaanse kerke het nog geen fundamentele kritiek op apartheid uitgespreek nie. Die Afrikaner-Broederbond het akademici, predikante, professionele lui, sakemanne en welgestelde boere saamgebind in sy taak om Afrikanerbelange en -strewes te bevorder.

Tussen 1974 en 1978 is talle geheime projekte van stapel gestuur.

Hiervoor het die departement van inligting geheime staatsfondse gebruik.

Die departement het selfs geld verskaf vir ‘n buitelandse kantoor van die NG Kerk as ‘n teenvoeter vir die Wereldraad van Kerke, wat nou ‘n prominente rol in die anti-apartheidstryd gespeel het. Deur hierdie geld te aanvaar, het die kerk self deel van die regering se geheime propagandamasjien geword. ‘n Glanspublikasie oor die NG Kerk se bydrae tot sendingwerk is oorsee versprei.

Vroeg in 1978 het gerugte oor die projekte van die departement van inligting die wereld vol gele en die Engelse pers het afkeurende berigte begin publiseer.

In ‘n wanhopige poging om hom self uit die gemors te kry, het John Vorster as eerste minister bedank en staatspresident geword.

Op 28 September 1978 het P.W. Botha, leier van die Kaapse NP, Mulder (wat betrokke was by die intelligensie skandaal) met ‘n klein meerderheid verslaan en die volgende NP-leier en eerste minister geword. (Giliomee 2004:532-536)