Ek is getroud met Elizabeth en ons is geseënd met ‘n seuntjie, met die naam Johannes. Saam woon ons in Pietermaritzburg waar ek by NGK Hayfields predikant is en sy by Epworth Highschool ‘n Engelse onderwyseres is.
Ons is vanaf Julie 2018 woonagtig in Pietermaritzburg waar ons vanaf Ceres verhuis het om hier die roeping van die Here te kom uitleef.
Volgens die Meyer-Briggs indikator het ek ‘n INTP persoonlikheidprofiel wat beteken ek is logies, analities en objektief krities. Ek is verstandelik vinnig, vol insig, kreatief en oorspronklik. Ek is baie nuuskierig oor idees en dinge wat sake laat werk.
Volgens die Gallup Strengths Finder is my sterkpunte:
- Learner: Die proses, eerder as die uitkoms van leer, maak my opgewonde.
- Connectedness: Alles bestaan interafhanklik. Daar is min toevallighede, en alles het ‘n rede waarom dit gebeur.
- Intellection: Ek is introspektief en waardeer (en floreer) rondom intellektuele uitdagings.
- Input: Ek het ‘n behoefte om meer te weet. Dit is vir my lekker om inligting van alle soort te versamel.
- Relator: Diep, betekenisvolle verhoudings is vir my uiters belangrik. Ek vind genot daarin om saam hard na ‘n gemeenskaplike doel te werk.
Ek is ‘n leier met ‘n gemaklike leierskapstyl wat vars en visioner wil dink. Ek glo in uitstekende kommunikasie vaardighede. Ek wil ‘n groep mense sensitief fasiliteer. Ek wil goeie mense verhoudinge koester. Ek het ‘n fyn bewussyn vir verskillende spiritualiteite en hoe om dit sensitief te bestuur. Ek sien myself as iemand met unieke gawes om mense van verskillende agtergronde by mekaar te bring. ‘n Ware brugbouer. Ek is rekenaarvaardig, veral in die nuuste audio en video redigering tegnieke. In dit alles strewe ek altyd na uitnemendheid.
Ek het in 2011 my B.Th graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Daarna in 2013 my B.A.Hons in Filosofie met die tema: ‘n Krities-Teoretiese ondersoek na identiteitsvorming van ‘n sisteem met verwysing na die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Daarna in 2014 verwerf ek my M.Div met die tema: Prakties teologiese perspektiewe vir die ontwikkeling van digitale kommunikasie in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat. En in 2017 het ek my M.Th in Spiritualiteit graad verwerf met die tema: Spirituele Perspektiewe oor Selfopoffering en Oorgawe in die Navolging van Christus van Tomas A. Kempis.
Al hierdie studies het vorm aan my bediening gegee in die sin dat ek steeds kyk na nuwe maniere van kerkwees vandag, wat hande vashou met my Gereformeerde Identiteit in ‘n digitale samelewing, sonder om vervreem te raak van die kontemplatiewe.
Ek het al verskeie poste beklee waar ek as Jeugwerker begin het in 2012 vir 3 jaar lank by NGK Berg en Dal in Bloemfontein. Daarna in 2015 as Proponent was ek vir ‘n jaar lank ook as Jeugwerker werksaam in Port Elizabeth by NGK Kraggakamma. Hier was my take meer as slegs normale Jeugwerk wat Kategese, Kampe, Uitreike, #IMAGINE, Jeugweke, VCSV ens insluit. Ek was ook verantwoordelik vir die organisering en funksionering van die gemeente se Kleingroepe/Selgroepe. Daarmee saam het ek weekliks ‘n Sondag oggend erediens gelei asook verantwoordelik vir die aandbyeenkomste. In 2016 het ek in Ceres by NGK Ceres Moedergemeente begin as Jeugleraar waar ek verantwoordelik was vir die Jeugwerk van die gemeente asook Kleingroepe/Selgroepe en ‘n Skole bediening wat primer by die Hoërskool Charlie Hofmeyr gefunksioneer het. By die skool het ek ‘n kantoor gehad waar ek deur die dag vir die leerders beskikbaar was vir berading. Ook het ek Lewensoriëntering aan die Hoërskoolkinders gegee vir grade 8-10. VCSV, Kampe, Uitreike, #IMAGINE en weeklikse Koffiekroeg het hierdie bediening aan en saam met die Jeug van Ceres en die omliggende area ‘n groot vreugde gemaak.
Tans (vanaf 2018) is ek werksaam in Pietermaritzburg as mede-leraar by NGK Hayfields. Hier kan ek myself uitleef waar ek en my kollega elkeen volgens ons gawes dien. Ek neem verantwoordelikheid vir die Jeug en jong gesinne van die gemeente, asook die Kleingroepe/Selgroepe en die digitale bediening van die gemeente. Die Covid-19 pandemie het ons baie geleer van kerkwees en tans is ons besig om ons digitale voetspoor al meer te verfyn en ook oordenkings in Engels aan te bied. Die digitale ruimte is tans vir ons ‘n sendingveld waar ons mense kan bereik wat nie noodwendig die vrymoedigheid het om na ‘n fisiese erediens te kom nie. Kerkwees is nie gelyk aan die kerkgebou nie.
Meer as my formele poste het ek ook al ‘n paar webinare aangebied saam met die DinkJeug.co.za span:
- Huisgeloof webinaar
- Sosiale Media Strategie webinaar
- UP Lente Konferensie oor Die Kerk van die Toekoms
- In gesprek met Andrew Root oor sy boek “The End of Youth Ministry” webinaar
Ek is tans deel van die Kerk van die Toekoms navorsingsgroep getaak deur die WesKaapland Sinode om te dink rondom die kerk van die toekoms aan buite kerklikes. Ek is die stigter van die HelpKZN fonds wat gemeentes en gemeenskappe in KwaZulu-Natal help wat deur die onluste van 2021 en die vloede van 2022 geraak is. Op Algemene Sinodale vlak is ek lid van die Algemene Sinodale Jeug Taakspan asook die Algemene Sinodale Taakspan vir Anti-Rassisme, Geregtigheid en Versoening. Op plaaslike Sinodale vlak is ek deel van die Sinodale Visionering Span.