Matteus 2:1-12

In hierdie verhaal oor die besoek uit die Ooste lees ons van sterrekykers, ons lees van koning Herodus, ons lees van Jerusalem en van Bethlehem, ons lees van Maria en haar Kindjie, ons Kindjie, ons Here en Redder. Ons lees van ons Verlosser, en het jy vandag, soos die sterrekykers jare gelede, die begeerte om aan Hom hulde te bewys?

Die sterrekykers verteenwoordig ‘n lewe van soek. ‘n Lewe opsoek na iets meer. Is jy dalk tussen al hierdie Kersfees klokkies en liggies opsoek na iets meer, iets meer as ‘n pakkie toegedraai in blink papier?

Die sterrekykers let toe op in hulle soeke dat daar eweskielik ‘n buitengewone ster begin skyn het en volg die ster na Jerusalem waar hulle vir koning Herodus en sy priesterhoofde en skrifgeleerdes ontmoet.

Wat hier in die eerste plek opgelet moet word is dat dit God is wat hierdie sterrekykers aan gelei het tot Herodus en sy priesterhoofde en skrifgeleerdes. Die ster, of die natuur, staan bekend as God se algemene openbaring. God openbaar Homself aan ons deur die natuur, net soos Hy Homself aan die sterrekykers openbaar het in die vorm van ‘n ster. Sien jy die Here raak as jy by jou venster uitkyk? Voel jy Hom in die wind?

Die skrifgeleerdes stuur toe die sterrekykers in die rigting van Bethlehem omdat hulle die profesie van Miga geken het:

“En jy, Bethlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”

Wat ons hier in die tweede plek kan oplet is dat die Here Homself aan die sterrekykers ook openbaar deur Sy spesifieke openbaring. Die Skrif. Deur die Woord van God weet die sterrekykers om na Bethlehem toe te gaan. Dit is die volgende stappie in hulle soeke na iets meer. Soek jy ook na die Here se leiding in die Skrif? Lees jy jou Bybel?

Wat duidelik is, is dat die Here met die sterrekykers gepraat het deur die natuur en deur Sy Skrif, en altwee openbarings (die algemene en die spesifieke) het mekaar bevestig. So as jy in jou soeke wonder of dit jou emosies is wat jou in ‘n sekere rigting stuur, toets dit teen die algemene en die spesifieke openbaring. Bevestig die twee mekaar. Hoor jy dieselfde in die natuur as wat jy in jou Bybel lees? Indien nie, gaan terug, luister weer, lees weer. Wees geduldig.

God gee vandag nog vir ons “sterre” om ons te help met Goddelike rigting vir ons lewens.
• Hy gee ons heilige onrustigheid oor dit wat verkeerd is.
• Hy gee ons ‘n soeke na dit wat langdurig is. Hy het ‘n verlange na die volhoudbare in ons ingebou, eerder as ‘n lus vir kitsoplossings.
• Hy gee ons ‘n soeke na betekenis.

Ons sal nooit werklik tuis wees totdat ons nie ons tuiste in God gevind het nie. Die sterrekykers daag on suit om erns te maak met ons soeke. God daag ons uit om eerlik te wees oor ons verlange.

Die sterrekykers het alles agtergelaat om die ster te volg. Hulle het vreemdelinge vrae gevra en leiding op hulle pad gekry. Hulle het tyd, moeite en energie belê in hulle soeke. En hulle het selfs hulle eie veiligheid gewaag deur teen die wens van Herodus in te gaan en ‘n ander pad huistoe te neem.

Is jy bereid om jou ou lewe agter te laat om die aanwysings van God te volg? Is jy bereid om te erken dat jy nie alles weet nie, en vra te vrae oor jou soeke, al mag dit dalk jou onkunde, jou weerloosheid ontbloot? Is jy bereid om tyd, moeite en energie te belê in jou soeke? Is jy bereid om jou ou lewe te waag vir die nuwe lewe?

Die sterrekykers se soeke, en hulle volg, het hulle na Christus gelei.

Waarna lei jou lewe?

Ons laat toe dat ons soeke na geld, die perfekte vakansie, of geskenke in die pad kom staan.

Die sterrekykers het nie net vir Jesus gevind nie, maar ook hulself aan Hom oorgegee. Toe hulle by Maria en Josef aan kom het hulle voor Jesus gekniel en geskenke aan Hom gegee.

Goud, wierook en mirre.

Goud wat dui op sy koninskap. Jesus is as Koning van die Jode gebore. Mirre wat dui op sy menslikheid. Mirre is gebruik as olie om die lewe van ‘n mens beter te maak, dit is veral gebruik om die reuk van ‘n bed aangenaam te maak, en spesiaal rondom die huwelik. Daarom dui die mirre op sy menslike behoeftes. Wierook wat dui op sy Goddelikheid. Wierook is aangesteek in die tempel in ‘n goue bakkie wanneer offers gebring is.

En so dui die drie geskenke elkeen op ‘n aspek van wie Jesus Christus, Immanuel, God met ons, is. Koning. Mens. En ook God.

Die geskenke stel hulle oorgawe aan Hom voor. Oorgawe aan God lei tot ‘n dieper belewenis van God self. Om te skuif van ‘n selfgesentreerde lewe na ‘n lewe van oorgawe aan God vra konstante oorgawe.

God wil hê dat ons na Hom soek. Hy wys die heeltyd vir ons merkers, bordjies, uit op ons pad. Merkers wat die rigting na Hom toe wys. Gaan jy Hom soek? Is jy bereid om jou ou lewe agter te laat om Hom te gaan soek? Om Hom te volg?

God ontmoet ons in ons soeke na Hom. Hy omarm ons met groot liefde. Wanneer ons daarna streef om Hom te soek en onsself aan Hom oor te gee, dan kan die wonderwerk van Kersfees elke dag in ons en deur ons plaasvind.

Ons kan Hom vind. En ons kan by Sy voete kniel en onsself oorgee aan Hom.

Wanneer laas het jy gesoek na die padtekens wat die rigting na Christus aandui? Wanneer laas het jy jouself aan Hom oorgegee?

Amen.

Matteus 24: Om meer en meer soos Jesus te lewe

Om aandag te gee aan die hier en nou is een van die hoof temas van die Advent tyd. Met die volgende paar vrae wil ek graag ons gedagtes prikkel om bewus te raak van waar ons met wat besig was, is en sal wees. Kies een van die volgende vyf vrae om oor te dink:

 

–           Hoe sal jy liefde gee en neem in verhouding met die mense naaste aan jou?

–           Hoe sal jou interaksies met mense aanleiding gee tot heilige oomblikke?

–           Hoe sal jy leer van die mense wat die minste soos jy is?

–           Hoe sal jy jou sintuie aanwakker om die goeie en die vrede raak te sien waarmee die Here besig is?

–           Hoe kan jy wakker word in jouself, jou liggaam, siel en gees?

 

Hoe sal so ‘n bewussyn van die mense die naaste aan jou, die interaksies met vreemdelinge, die mense die minste soos jy, God, en jouself, bepaal hoe jy jou tyd spandeer?

 

Luister, kyk, dink oor hoe jy jou tyd spandeer.

 

Daar word vir ons vertel dat met Noag se sondvloed het die mense geëet, gedrink en getrou en soos normaal aangegaan met hul lewens. Dat daar spesifiek vertel word van dat hulle getrou is om te wys dat die mense verwag het dat die toekoms vanselfsprekend daar sal wees.

 

Terwyl ons besig sal wees met ons alledaagse dinge, eet, drink, trou sal die Here se koms (parousia) skielik gebeur. Van die 24 keer wat die Griekse term parousia in die Nuwe Testament voorkom, kom dit viermaal in die Matteusevangelie voor (24:3, 27, 37, 39) al vier keer in Matteus 24. Dit kom nie in enige van die ander evangelies voor nie. Parousia is ‘n antieke Griekse woord wat as “teenwoordigheid”, “aankoms” of “amptelike besoek” vertaal kan word.

 

Die teenwoordigheid van die Here vind op alle terreine van ons lewens plaas. In al die voorbeelde wat Matteus gebruik is mense besig met alledaagse dinge.

Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om in die ry by Spar te staan. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om voor die TV te lê. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om om te wonder hoeveel en van wat jy moet plant vir volgende jaar. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy op jou selfoon scroll, double tap en like.

 

Dink jy die Here sal van dit hou waarmee jy besig is? Dink jy, jy sal graag met dit wil besig wees terwyl die Here aan jou verskyn?

 

Om waaksaam te wees beteken om met afwagting te lewe. Hier is Matteus word van waaksaamheid te midde van die alledaagse lewe gepraat. Die gelykenis van die dief in die nag wil vir ons sê dat ons wat onsself Christus se volgelinge noem in ‘n konstante status van afwagting moet leef. As ‘n huiseienaar gereed is en wag, sal hy nie onkant gevang word deur die dief wat inbreek nie.

 

Wat my laat wonder oor hierdie gedeelte is twee dinge:

–           Hoe wag ‘n mens?

–           Hoekom moet ons in afwagting lewe?

 

En soos ek wonder, dink ek dat hierdie twee vrae se antwoorde naby aan mekaar is.

 

Matteus help ons om verder in die toekoms in te kyk as waaraan ons gewoond is. Hy help ons om die teenwoordige Here in ons midde – waar ons leef en werk, waar ons eet, drink en trou – raak te sien. Hy help ons om in die hier en nou met hoop vir die toekoms te lewe. Matteus help ons droom, maar hy help ons nie om in ons slaap te droom nie, Matteus maak van ons dagdromers.

 

Matteus help met fokus, op die hier en nou. Ons lewe in ‘n tyd van slim horlosies en ons tel tyd in nanosekondes. Wanneer kinders gebore word, dink ons al aan hulle naskoolse opleiding, beroepe en troues. Wanneer ons begin werk, begin ons spaar en voorbereidings tref vir ons aftrede. Ons tyd het vloeibaar geword. Ons kan baie maklik die huidige, die onmiddellike, die teenswoordige, die hier en nou, mis. Ons moet leer om in die hede en oop vir die oomblik te leef. Híér waar Jesus nóú teenwoordig ís.

 

Die geleerde Karl Barth sê ons moet leer om tussen die tye te leef, wat dalk ‘n antwoord in die rigting is van ‘hoe wag ‘n mens’. Terwyl ons wag moet ons terug kyk en onthou van hoe die Here ons in die verlede gered en gehelp het, oor geslagte heen, van Noag en Job, na die aardbewing, deur die leë damme, tot vandag toe.

 

Terwyl ons wag moet ons vorentoe kyk met die verwagting van die Here wat teenwoordig is. Dit is ‘n massiewe gedagte om in gedagte te hou. Dit verander alles wat ‘n mens doen. Om te dink dat die Here, nou, hier, teenwoordig is. Hy is hier! Immanuel, God met ons! Sal ons doen wat ons doen as ons leef met so ‘n bewussyn? Sal ons vroeg oggend al in Checkers Hyper of Game se rye gaan staan om daardie uitgesoekte televisie op uitverkoping te koop? Of sal ons eerder vroeg oggend help om die haweloses kos te gee?

 

Dit is presies waartoe Adventstyd ons uitnooi: om terug te kyk oor die jaar wat verby is, en ook verder in die verlede in. Om te kyk na wat ons gedoen het. Het ons werklik ‘n verskil in die gemeenskap gemaak, of het ons net aan ons eie koninkryk gebou? Advent tyd roep ons ook om vorentoe te kyk en God vandag, more en in die nuwe jaar te sien. Om met hoop te kyk na die wat naby aan ons is, om met hoop te kyk na die wat nie soos ons is nie, en om met hoop na onsself te kyk. God was nog al die jare by ons, Hy is by ons, en Hy belowe dat Hy by ons sal wees.

 

Elke dag en geleentheid moet aangegryp word. Daarom moet ons onsself voortdurend afvra of ons leef soos wat Christus dit wil hê? Vertrou ons Hóm alleen? Fokus ons op God en sy koninkryk, of het ons weereens met ons eie koninkryk behep geraak?

 

Sien, die hoekom gaan die hoe vraag voor. Ons moet in afwagting van God se teenwoordigheid leef want dit bring hoop. Dit maak dat ons ‘n swart en wit foto kan inkleur. Dit maak dat ons die gordyne kan ooptrek en die son sien opkom. Dit maak dat ons die sin van die lewe in mekaar eerder as in dinge vind.

 

En hoe vind ons die inkleurpotlode, die son en mekaar? Deur in die alledaagse in afwagting te leef om die Here raak te sien in die klein dingetjies. Hy het sy Gees gestuur om ons te begelei deur die lewe, dit vra egter van ons om in ‘n Goddelike bewussyn van die oomblik te leef.

 

Hoekom moet ons wag?

Hoe moet ons wag?

 

Terwyl ons tussen die tye leef, vertrou en hoop ons dat dit wat God reeds in ons begin het en sal voortsit, ons sal transformeer om meer en meer soos Jesus te lewe.

Matteus 5: Hervorming Sondag

Sommer aan die begin van hierdie “Grondwet van die Koninkryk”, die Bergrede – Matteus 5-7 – hoor ons alreeds die vreemdheid in Jesus se woorde, wanneer Hy sê: “Geseënd is die armes van gees…  Geseënd is dié wat treur…

“Modern society lives by the rules of survival of the fittest. “The one who dies with the most toys wins,” reads one bumper sticker. So does the nation with the best weapons and the largest gross national product. The American Dream is to reach a point in your life where you don’t have to do anything you don’t want to do and can do everything that you do want to do.”

That may be the American Dream, but it decidedly is not Jesus’ dream as revealed in the Beatitudes. The Beatitudes express quite plainly that God views this world through a different set of lenses. God seems to prefer the poor and those who mourn to the Fortune 500 and supermodels who frolic on the beach. Oddly, God may prefer South Central L.A. to Malibu Beach, and Rwanda to Monte Carlo. In fact, one could almost subtitle the Sermon on the Mount not “survival of the fittest” but “triumph of the victims.”

Various scenes in the Gospels give a good picture of the kind of people who impressed Jesus. A widow who placed het last two cents in the offering. A dishonest tax collector so riddled with anxiety that he climbed a tree to get a better view of Jesus. A nameless, nondescript child. A woman with a string of five unhappy marriages. A blind beggar. Strenght, good looks, connections, and the competitive instinct may bring a person success in a society like ours, but those very qualities may block entrance tot he kingdom of heaven. Dependence, sorrow, repentance, a longing to change –these are the gates to God’s kingdom. – Philip Yancy, The Jesus I knew.

 

Só, sê Jesus: “Geseënd is hulle wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Wat doen jy met jou seer?

Watter pleister probeer jy oor jou pyn plak?

Die onvermydelike pyn van;

  • Die mislukte huwelik, wat van die kinders…
  • Die lelike aanranding van ’n vrou op ’n plaas terwyl die man die heining nagegaan het…
  • ’n Kind wat oorsee werk en al hoe minder kontak maak…
  • Studente met goeie punte wat nie die finansies het om bo hul omstandighede uit te styg nie…

 

 

 

 

Mense hanteer hul hartseer, hul pyn, hul verlies, hul teleurstelling, hul mislukking op verskillende maniere:

  • Party mense word kwaad, woedend – hulle soek die oorsaak, die skuldige: wie het dít aan my gedoen? Wie het gemaak dat dít of dát met my gebeur het?  Wie het my onregverdig behandel?  Hulle is altyd daarop uit om ’n beskuldigende vinger te wys – hetsy in hul wraakgedagtes of in hul skellende woorde.  Die “blaming game” – dis “apartheid”, dis die “ANC-regering”, dis my man, dis my vrou; dis die onderwyser, dis die “coach”, dis altyd iemand anders se skuld dat dit met my gaan soos dit met my gaan.  En daarom is sulke mense ook altyd daarop uit om vergelding te soek: iemand gaan hiervoor boet; iemand gaan betaal; iemand sal my vergoed vir wat ek deur hul toedoen, deur sy of haar optrede gely het…
  • Die volgende stasie op hierdie woedende lewensreis, is verbittering: wanneer jy soort van besef dat die vind van ’n skuldige en selfs die vergelding, die wraak, NIE jou pyn wegvat nie, dan kom die verbittering; dan word jy sinies; dan verloor lewe sin; die kleure verdof en word vaal, grys, donker, swart. Dan onttrek jy jou.  En die diepste bitterheid, die “ultimate” is wanneer jy die verwytende vinger hemelwaarts draai en dink: “God, dit is Jy wat my in hierdie lewe ingedompel het…”  “God, as JY almagtig is én liefdevol, sou dít nie gebeur het nie…”
  • Daar is nóg ’n manier om jou pyn te verdoof, en dit is om ietsie daarteen te drink. Baie mense hanteer hul hartseer só: ’n pil wat vir ’n tydjie lank kan help; ’n glasie alkohol wat later baie glasies moet word om die verlies en verwyte en tevergeefsheid te verdink, ja.  Maar dit kan ook ander verslawings wees: ek gaan nimmereindigend aan’t werk; ek eet of ek oefen of ek “shop” my dae om; ek gee my nagte oor aan al wat soort vermaak en plesier is – nét solank ek die pyngedagte in my kop en die seer in my hartklop verdoof kan hou, stil kan hou, op ’n afstand kan hou – ja, ek kan die pyn óók verdoof deur my skouers op te trek en te sê “sorry”, dis nie my probleem nie – gaan net weg van my voordeurklokkie af; gaan net weg van my TV-skerm af (ek skakel liewer oor na die sportkanaal); gaan net weg van my gewete af…
  • Daar is ’n vierde manier hoe ons hartseer verwerk – veral ánder mense se hartseer: ons troos met ’n goedkoop pleistertjie: “Elke wolk het ’n silwer randjie”, sê ons. “Tyd heel alle wonde…”  “Elke huis het sy kruis…”  “God pluk die mooiste blommetjie…”  Hol woorde, weet ons eintlik hier in ons binneste – veral as iemand dit ’n keer vir jóu sê.  Niksseggend.  Troosteloos.  En boonop: dis nie waar nie.

Want só praat die Bybel NIE oor verlies nie; oor die dood nie; oor teleurstelling nie.

Jesus praat anders.

Daar teen die berghang af, dalk ’n heuwel langs die See van Galilea, dáár het Jesus dwarsdeur die skare mense – die “menigte” – wat daar gesit, of gelê of teen ’n boom geleun het, gekyk en hul pyn raakgesien; trouens: volgens die Evangelies was dít veral hoe Jesus na mense gekyk het en hul harte, hul diepste binnekant gesien het: die armoede van ’n weduwee se twee sente; die angs van ’n korrupte belastinggaarder wat hom ’n boom laat inklim om Jesus te sien; die verleentheid van ’n vrou wat vyf mislukte huwelike gehad het; ’n blinde bedelaar; ’n egbreekster, ’n man met die VIGS van destyds – melaats – troosteloos…

Jesus sê: “Julle is geseënd – julle wat treur…”

Die woord “treur” laat ons dadelik dink aan “hartseer”, en dié emosie sit daarin, ja.  Maar dit gaan eintlik dieper: die Griekse woord “penthoo” hoor ons in die Engelse vertaling: “penitent” – “rou”; dit beteken “om te klaag” soos in ’n klaaglied; dit beteken “om te rou” soos wanneer ek my gordyne sou toetrek en die purper of swart klere sou aantrek… Ja, die woord “treur” wat Jesus hier gebruik, gaan ook – en ten diepste miskien veral – oor “berou”.

Ja, Jesus sluit hierby in ons “treur” oor teleurstellings…

Ja, Jesus sluit hierby in ons trane oor ’n gebroke hart, ’n gebroke huis, ’n gebroke liggaam, ’n gebroke lewe…

Ja, Jesus sluit hierby in ons rou oor die dood van ’n geliefde…

Maar Jesus bedoel met “treur” ten diepste ons rou, ons berou oor dít wat onder alle verlies lê – selfs die dood.  Jesus bedoel ‘n “treur” oor ons verlies van die lewegewende verhouding met ons Skepper; ’n verlies aan die Tuin van Eden, by wyse van spreke.  Jesus bedoel ‘n “treur” oor sonde en alles wat sedert Genesis 3 deur hierdie Skepping gekraak het en stukkend geval het en tevergeefs geraak het en die son laat verduister het en ons maansiek laat word het – soos die mense van die outyd depressie genoem het.

Wanneer Jesus die “treurendes” aanspreek, dan bedoel Hy hulle wat eerlik genoeg was, lankgenoeg stilgebly het, diep genoeg gaan dink het en besef het: die hart van die probleem is die probleem van my hart – my gebrokenheid, my sonde.  Mense wat die beskuldigende vinger laat sak; wat die verbitterde geskel los; wat al die pynstillers eenkant skuif; wat die leë trooswoorde los en besef: daar is nét Een wat my kan troos, en dit is Hy wat my van my diepste pyn en stukkendheid kan verlos: God, my Vader; Jesus, my Verlosser.

Om te treur – soos wat Jesus dit hier bedoel – is om te bely: Here, hieraan kan ek níks doen nie.  Niks wat ek sê gaan dit beter maak nie; niks waarna ek gryp gaan my hieruit trek nie – nét U kan troos.

Uit my sonde kan ek myself en niemand my en ek niemand anders, red nie.

Die Here is my Redder, Hy alleen.

Só praat die Bybel;

  • Psalm 30:6 – “Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.”
  • Psalm 30:12 – “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.”
  • Psalm 34:6 – “Die wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.”
  • Psalm 34:19 – “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”
  • Psalm 131 – “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”
  • Spreuke 14:3 – “Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf; die woorde van wyse mense beskerm hulle.”

En u moet mooi hoor: die Griekse woord wat Jesus vir “troos” gebruik, het Hy later ook ’n naamwoord gemaak, toe Hy in Johannes 14 belowe het:

  • Johannes 14:16 – “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die Waarheid.”

God self, is my Trooster.

  • Openbaring 21:3-4 – “Hy sal die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wes nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Só word iemand wat treur, eintlik iemand met hoop!  Só kom daar lig in my donkerte, – dáárdie moment wanneer ek my omdraai na God, my oë op Hom rig, my hart op Hóm laat hoop.

Die moment dat ek – soos wat die eerste saligspreking verlede Sondag gesê het – besef hoe afhanklik ek van Hom is; hoe arm van gees ek regtig is. Troosteloos, tótdat ek na Hóm draai, Sy uitnodiging aanvaar, huistoe kom.

Dít is waar jy die geseëndes vind, sê Jesus.

Hulle wat treur.

Amen.