1 Petrus 4: Die evangelie begin by jou!

Die hoofdoel van die eerste Petrusbrief is om gelowiges wat verspreid in die noordelike streke van Klein-Asië gewoon het en wat ter wille van hulle geloof vervolg en onderdruk was, te bemoedig. John Elliot sê: “At stake was not only the future growth but also the very existence of the Christian movement.” Hierdie maak dit vir ons duidelik dat dit vandag gaan om die groter Christen beweging. Gaan jy as Christen alles in jou mag doen om te verseker dat die volgende generasies, Gen X, Millenials, Gen-Z, almal steeds weet waaroor die Goeie nuus gaan? Gaan jy alles in jou mag doen om te verseker dat jou gesin weet wie Jesus eintlik was en is? Is jy bereid om soos Jesus te lewe vir die wat saam met jou lewe?

 

Om ‘n Christen te wees beteken dat ons bereid moet wees om anders as die wêreld te leef. As Christene is ons inderdaad vreemdelinge in die wêreld. Slegs deur gehoorsaamheid aan die Here sal ons waarlik oorleef.

 

Die opdragte in 1 Petrus 4:7-11 dui die weg aan waarlangs die gemeente, waarlangs ek en jy, waarlangs ons, tot sy eer saamgebind word. As gelowiges moet ons nie in die blootstelling aan stryd en lyding, plaasmoorde en verkragtings, kop verloor nie, ons moet verstandelik wakker en nugter wees. Daarom moet ons selfbeheersd wees, dit wil sê ons moet nie gou verward raak nie, nie losbandig en ongedissiplineerd lewe nie, maar met innerlike dissipline asook met ‘n koelkop verstandelik wakker wees met skerp onderskeidingsvermoë.

 

Wanneer ons vinnige vanuit klomp emosies optree is ons geneig om dinge te doen en te sê wat ons later oor spyt is, en wat ook die naam van die Here in die skande steek. Daarom maan Petrus dat ons selfbeheersd en nugter moet wees sodat ons altyd beredeneerd kan optree tot eer van God.

 

In dit alles is die liefde van hoë prioriteit. Die liefde waarvan hier in 1 Petrus gepraat word moet hartlik wees, dit kan nie afhanklik wees van wisselende emosies nie; dit moet duursaam en betroubaar wees, nie wisselvallig. Die liefde bedek baie sondes. Dit lê in die aard van die liefde om op die ander gerig te wees. Daarom kan daar met sekerheid gesê word dat ons mekaar moet lief hê deur dik en dun, nie op grond van wisselvallige emosies nie, om so ook mekaar se foute te bedek met die liefde.

 

Wat meer is, Petrus sê ons moet mekaar hartlik liefhê. Nou die Griekse woord wat in hierdie sin gebruik word kan vertaal word met iets soos om ‘n perd te maak gallop teen volspoed. Hierdie woordjie hartlik wil vir ons sê dat ons met intensiteit al ons kragte moet inspan om lief te hê, soos ‘n perd wat teen volspoed gallop.

 

Om mekaar lief te hê behels onder meer om gasvry teenoor mekaar te wees. In die Nuwe Testament word gasvryheid dikwels beklemtoon. En hier het iets my nogal getref. Ons moet gasvry wees sonder om daaroor te kla.

 

In die Nuwe Testamentiese tye was gasvryheid ‘n vanselfsprekendheid en ook iets wat hierdie gemeenskap van vreemdelinge en uitgeworpenes saamgebind het. Christene wat vervolg was kon enige tyd op ‘n ander Christen staatmaak vir ‘n maaltyd en ‘n warm bed. Dit is in groot waarom die Christenskap so vinnig so baie gegroei het omdat dit as ‘n gemeenskap bekendgestaan het wat na mekaar omsien, maak nie saak wat nie.

 

Hoe bereid is ons nog om na mekaar om te sien, maak nie saak wat nie. Die aanspraak op gasvryheid is groter op party as op ander, gereeld en gewigtig word daar gevra vir ‘n broodjie of ‘n randjie, en hoe gereeld word ons nie in versoeking gelei om nee te sê en te kla oor hoe baie daar van ons gevra word nie? Sulke geleenthede om gasvry te wees moet omarm en as voorreg gesien word om diensbaar aan Christus te wees.

 

As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. Die Here rus ons elkeen toe vir diens, en maak ons ook verantwoordelik om ons gawes te gebruik in diens van ons broers en susters.

 

En as daar op ons elkeen die verantwoordelikheid rus om ons bydrae volgens ons gawes te lewer, dan rus daar ook op ons as gemeente die taak om vir elkeen ruimte te maak om te dien. Daarom moet ons ruimte maak vir elkeen van hierdie Belydenisklas katkisante wat vandag graag volwasse lidmate van die gemeente wil raak om hul diens te lewer, en hul ook aanmoedig om diensbaar in die gemeente te wees en te bly.

 

Suzaan het gesê sy sal graag by die kinders wil diens lewer. Sy is mal oor kinders. So sy sal graag by die kinderkerk wil diensbaar wees. Storm het gesê hy sal graag ‘n Laerskool rugby spannetjie wil afrig. Lucanne het gesê sy sal graag haar vriende meer wil leer van hoe God in die natuur is. Carla Mostert het gesê sy is bereid om by enige plek waar daar hulp nodig is diensbaar te wees. Karla Odendaal het gesê sy sal graag help met spesiale geleenthede van die gemeente soos die Kerssangdiens, Pinkster en 40dae. Michael het gesê hy sal graag wil help met iets fisies soos bou of ontwerp. Dricus het gesê dat hy baie graag ‘n kategese klas sal wil aanbied. Hanneke het gesê dat sy graag haar gawe van sang wil gebruik om by die voorsang aan te sluit. En Jannike het gesê dat sy ook graag by die kategese wil betrokke raak en ook by die voorsang groep aansluit.

 

Daar het julle dit. Nege jongmense wat bereid is om hulle Godgegewe gawes uit te leef in diens van mekaar en die groter gemeenskap. Waar gaan jy betrokke raak? Om lidmaat van die gemeente te wees beteken om aktief deel te neem in die werksaamhede van die gemeente, nie net om die banke warm te sit nie. Waar gaan jy betrokke raak?

 

As lede van ‘n Christen gemeenskap is ons afhanklik van mekaar se gawes. Ons het mekaar nodig om te kan saamstaan as Christene teen dinge soos geweld, teen dinge soos korrupsie, teen dinge soos om neer te kyk op ander, ons het mekaar nodig om vir die wêreld die alternatief te bied. As ons dit nie gaan uitleef nie, hoe gaan ander mense van die alternatief weet?

 

As ons hierdie dinge nie doen nie, gaan die gemeente nie oorleef nie. As ons hierdie dinge nie doen nie, gaan ons geloofsgetuienis al stiller en dowwer raak totdat die kole in as doodgaan.

 

Die Evangelie begin by jou! Waar gaan jy diens doen?

 

Só moet ons God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid!

 

Amen.

Filippense 2: Stephan-Wessel en Lynn-Marie

Filippense 2:1-4, vir Stephan-Wessel en Lynn-Marie.

 

Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk sal ons sien dat sommer hier aan die begin word die fondasie vir eenheid gelê. In hierdie geval eenheid in die gemeente, maar vandag ook net so van toepassing op eenheid tussen julle twee. Die eenheid tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons mekaar troos deur die krag van Jesus Christus. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons mekaar aanspoor deur die liefde van God. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons saam kuier, lag en gesels, deur die krag van die Heilige Gees. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons innige meegevoel en meelewing met mekaar het. Hierdie tiepe eenheid behoort die fondasie te wees tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Paulus se blydskap en ook ons blydskap sal gesien word wanneer ons eensgesind is in liefde, van harte of gedagte en in strewe.

 

Om eensgesind in liefde te wees beteken om saam lief vir die Here te wees. Hoe nader julle aan Hom beweeg, hoe nader sal julle aan mekaar beweeg. Hy behoort die hoeksteen in julle verhouding te wees. Sonder Sy insig en wysheid gaan julle verhouding nie wees wat dit kan wees nie. Om saam gereeld tyd te spandeer om in te check by mekaar of julle nog op die pad is wat die Here vir julle uitgesit het is belangrik.

 

Om eensgesind in liefde te wees beteken ook om vir mekaar lief te wees. Nou vandag mag dit dalk absurd klink om te sê julle moet vir mekaar lief wees, maar wag maar tot daai verhoudingsiklus se wiel begin te draai. Wanneer die wittebroodfase omskakel in die magstryd en in die oorlewingsfase gaan dit moeilik raak, dan gaan julle moet kan terug dink na vandag en onthou hoekom julle saam is en Wie julle saamgebring het. Onvoorwaardelik moet julle lief wees vir mekaar as julle julle eenheid tussen mekaar wil beskerm en behou. Sonder voorwaardes moet julle vir mekaar lief wees en bly.

 

Julle albei hou van goeie ontwerp so ek’t dit goedgedink om ook hierdie vir julle in ontwerp taal te verduidelik. Om een in liefde te wees kan vergelyk word deur te besluit, gaan julle Windows of Mac gebruik om julle lewe op te ontwerp? Elkeen met sy voor en nadele, maar julle moet besluit watter Operating System julle gaan gebruik, anders gaan die taal wat julle praat incompatible met mekaar wees en uiteindelik gaan julle afsonderlike lewens ontwerp.

 

Om een van hart te wees beteken dat julle saam dieselfde dinge sal oordink. In julle gees moet julle saam dieselfde dinge oordink om so saam tot ‘n besluit te kan kom eerder as wat een vir die ander sê hoe dinge nou gaan wees.

 

Hier kan ons sê julle moet nou besluit tussen InDesign, Photoshop of Illustrator. Julle gaan vanuit dieselfde program moet dink of ontwerp sodat julle saam tot ‘n nuwe of beter ontwerp kan kom. Eerder as wat een van julle sommer gou in Paint ‘n prentjie wil teken terwyl die ander groot ontwerp skuiwe in Photoshop wil maak.

 

Om een in strewe te wees beteken dat julle gedrewe sal wees deur dieselfde begeertes en daardeur julle gedagtes, woorde en dade op dieselfde mikpunte sal rig. Daarom is dit belangrik om op ‘n gereelde basis saam te droom oor julle toekoms. Om gereeld saam te dink oor waar wil julle volgende jaar wees, waar wil julle oor drie of vyf jaar wees? Hierdie is die tiepe dinge wat vorm gee aan julle lewe en daarom ook aan julle verhouding en as julle nie drome deel nie, gaan julle drome op die einde van die dag die eenheid tussen julle bedreig.

 

Dit waarna julle as couple of egpaar strewe gaan die belangrikste wees van julle lewe! Hierdie is waarskynlik die eerste vraag wat julle saam met mekaar sal moet deurpraat en beantwoord. Waarna strewe julle? Wil julle ‘n vir ‘n groot maatskappy vinyl billboards ontwerp of julle eerder websites design of wil julle dalk iets heeltemal anders doen waaraan niemand nog gedink het nie? Waar en hoe julle julle ontwerp vir julle lewe gaan uitlê of uitlewe bepaal watter programme en bedryfstelsels julle sal moet gebruik.

 

Een in strewe vra baie van ‘n mens, van elkeen van julle! Dit vra opoffering, dit vra nederigheid, dit vra deursettingsvermoë, dit vra liefde, dit vra geduld, dit vra eerlikheid oor julle drome.

Daar is ook ‘n duidelike waarskuwing: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as hom of haarself. Niks moet gesê, gedink, of gedroom word uit selfsugtigheid nie.

 

Selfsugtigheid is nie die manier van doen van ‘n Christen nie. ‘n Selfsugtige ego soek self eer en aansien ten koste van die eenheid van die verhouding. Selfsugtigheid sal die eenheid van die verhouding altyd afbreek.

 

In nederigheid moet die een die ander hoër as hom of haarself ag. Nederigheid en ‘n gematigde opinie van jouself is die teenoorgestelde van iemand wat leef vir eie eer en aansien, en dit neem die ander in ag. Só ‘n nederige houding sal die eenheid van die verhouding bevorder, want dit bind gelowiges saam in respek en waardering.

 

Die vierde vers herhaal hoe gevaarlik selfsugtigheid in ‘n verhouding kan wees. Daarom, dink aan mekaar se behoeftes, help mekaar, kyk na mekaar deur dik en dun. Selfsugtigheid kyk net na die self, en waardeer nie mekaar nie, en is ook blind vir mekaar se behoeftes.

 

Nederigheid en liefde rig juis ons gedagtes op die behoeftes van mekaar. Om een in liefde, een van hart, en een in strewe te wees vra dat julle in julle huwelik:

 

  • Met mekaar sal praat oor die goeie sowel as die slegte. Dat julle julle vreugdes en bekommernisse met mekaar sal deel.
  • Saam sal dink oor dinge wat aan die gang is sodat julle nie verby mekaar lewe nie en maar net aanneem die een weet wat in die ander se kop aangaan nie.
  • En ook saam sal droom oor hoe julle toekoms gaan lyk, sodat julle julle kragte saam kan span om ‘n gedeelde toekoms ‘n werklikheid te skep.

 

Deur julle lewe te ontwerp met gedeelde liefde, gedeelde hart en gedagtes, en gedeelde strewe sal julle ontwerp dalk ietsie van die Bauhaus weerspieël, en verseker getuig van die Here se krag tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Formulier volg.

Jakobus 4: Die eie ek, of ons?

In die film “The Devils Advocate” waarin Charlize Theron en Keanu Reeves die hoofrolle speel saam met Al Pacino speel die werklikheid van ons alledaagse lewe af. Kevin Lomax is ‘n jong opkomende prokureur wat nog nie een hofsaak verloor het nie. Hy word ‘n pos by ‘n groot en belangrike firma in die stad aangebied. Voordat hy die pos aanvaar vlieg die firma vir hom en sy vrou na die stad om te kom kyk na al die byvoordele wat hulle sal geniet mits Kevin die aanbod aanvaar.

 

‘n Luukse dubbelverdieping huis met ‘n Noord aansig in ‘n gegoede woonbuurt. Die helder sonlig stroom by die groot oopskuif vensters in terwyl hulle van die een na die ander kamer stap en verwonderd is. Van die beste skole is stapafstand van die huis. Behalwe die huis, die skole en ‘n reuse tjek elke maand gaan hulle in gegoede kringe beweeg, wat luukse partytjies verseker.

 

Hy het nog een saak om af te handel in die kleindorpie voordat hy die nuwe pos kan aanvaar in die stad. Terwyl hy homself verfris in die hof se badkamer terwyl die sitting pouse hou speel hierdie prentjies van die aanbod deur sy kop…

 

Jakobus vra waar kom stryd vandaan, waar kom die rusies onder mense vandaan?

 

En dan lig hy ‘n interessante punt uit, hy wonder of rusie, baklei en stry nie dalk uit selfsugtige begeertes vanuit onsself ontstaan nie?

 

Waar dink julle kom rusie, baklei en stry vandaan? Wanneer jy dit begin, is dit nie meestal omdat jy nie bereid is om die mindere te wees nie? Om nie geduldig te wag nie? Om nie ‘n kans te gee nie? Of wanneer jy aan die ontvang kant van rusie, stry en baklei is, het daardie persoon regtig opgetree soos wat Jesus sou optree?

 

Dinge soos die spoedgrens, soos oneerlike staatsamptenare, soos boemelaars, en nog meer is dinge wat ons gedurig in ons binneste ontstel. Want hierdie dinge keer soms dat ons nie ons eie begeertes, ons eie selfsugtige begeertes kan bevredig nie. Watter selfsugtige begeertes het jy? Dalk met ander woorde, wat begeer jy wat nie met ander mense wil deel nie? Of nog sagter gestel, wat het jy wat jy nie wil deel nie? Dít staan tussen jou en God.

Wat my ontstel is dat ons vandag al meer en meer in ‘n samelewing van “name-it-and-claim-it” leef. Bid en vra vir wat jy nodig het en die Here sal dit vir jou gee.

 

Jakobus en ek sê NEE!

 

As jy dink dat die Here ‘n feetjie of ‘n Genie is wat jou elke wens sal bewaarheid maak jy ‘n groot fout! Die Here God almagtig is dit nie!

 

Ja, bid, maar bid vir Sy wil, nie joune nie. Jou wil is gemaklik, Sy wil mag jou dalk juis ongemaklik maak. Jou wil vra na daardie nuwe bakkie, Sy wil vra dat jy jou bure moet help met hulle kinders se skoolfonds. Watter een van die twee sê “myne” en watter een sê “saam is ons beter”.

 

Julle kry nie wat julle begeer nie, want wat julle begeer is nie wat God wil nie. Daarom al vra julle hoe hard, al soek julle hoe ver, en al klop julle duike in die deur sal daar nie oopgemaak word nie. Want julle vra die verkeerde dinge, soek op die verkeerde plekke en klop aan die verkeerde deure. Daar waar die Here is sal daar wel geantwoord, gevind, en oopgemaak word.

 

Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God, so waar staan jy? Wie is jou vriende? Is jou DSTV aftrekking groter as jou maandelikse bydrae tot jou gemeente of gemeenskap?

 

Vriendskap is ‘n resultaat van ‘n doelbewuste keuse! Met wie kies jy om vriende te wees? Hy wat ‘n vriend van die wêreld is raak ‘n vyand van God, nie omdat God hom haat nie, maar omdat hy met wil, doelbewus, teen God, die wêreld as vriend kies.

 

Ons sal uitgeken word aan ons vriende…

 

Die genade van God is egter steeds groter en sterker as ‘n wêreldse gees. God gee sy genade aan die nederiges, terwyl hy die weerstaan wat in trots of hoogmoed teen Hom opstaan. Vir Jakobus is dit duidelik dat die lewe gaan om die stryd tussen die goeie en die slegte, waar ons wat kies is egter in ons hande.

Hier word aan ons die goeie en die slegte blootgelê. Die slegte is ‘n lewe in opstand teen God, waar ons graag ons eie selfsugtige begeertes najaag en sukkel om dit te verwesenlik omdat ons alleen daardie rotresies hardloop. Die goeie is ‘n lewe van onderwerping aan God se wil, waar ons die wil van die Here nastreef in alles wat ons doen en bid. Hierdie tweede lewe, die goeie lewe, kom ook gemakliker na vore die oomblik wanneer ons besef en besluit dat ons nie meer in beheer van alles hoef te wees nie, maar dat God ‘n beter bestuurder van ons lewe is as onsself.

 

Die Jode het ‘n spreekwoord wat sê dat God nie in dieselfde wêreld as die trotse en arrogante kan leef nie. Hierdie spreekwoord, in die lig van vandag se teks hou ‘n belofte en ‘n waarskuwing in.

 

In vers 7 word daar van “onderwerping” gepraat. Onderwerping word gewoonlik gebruik ivm menslike gesag, jy sal jou onderwerp aan die landswette. Maar hier word dit gebruik itv God. Dat totale nederige onderwerping aan God, gemodelleer op die voorbeeld van Jesus Christus, belangrik is.

 

Trots staan in die pad van onderwerping. Beheer staan in die pad van onderwerping. Die eie ek staan in die pad van onderwerping. ‘n Trotse Christen is vir die duiwel baie meer bruikbaar as ‘n ateïs. Die trotse Christen het ‘n innerlike geveg aan die gang tussen homself, die wêreld en God. Die innerlike geveg is die moeilike geveg. Die geveg tussen wie is in beheer in jou binneste: weet jy die beste of weet God beter as jy? Om jou eie begeertes te oorkom en jouself te onderwerp aan God is die sleutel tot die goeie en gelukkige lewe.

 

Vers 8 is ‘n pragtige vers wat ek dink almal in hulle Bybels moet onderstreep. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Pragtige woorde wat soveel belofte en seën inhou. Die was van hande en reinig van harte het te make met die dinge wat ons doen (hande) en dink (harte), dit moet skoongemaak word in die nader tot God. Verootmoediging, of, jammer sê vir ons eie opstandigheid en trots, is die eerste stap tot God. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

 

Vers 10 herhaal hierdie gedagte: Onderwerp jule in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

Rusie, stry en baklei se oorsprong is in onsself. Wanneer ons agterkom dat ons onrustig is oor iets of iemand moet ons onsself afvra of ons na ons eie wil soek, of na die Here sin.

 

Liefde vir die wêreld staan in opposisie teenoor liefde vir God. Jy kan nie vir al twee gelyktydig lief wees nie. Ons sal moet kante kies, gouer eerder as later.

 

Om die duiwel te kan teenstaan, om ons eie selfsugtige begeertes te kan oorkom, moet ons onsself onderwerp aan God. Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader.

 

Kevin Lomax het ‘n moeilike besluit gehad om te neem: Gaan hy sy eie begeertes van roem en rykdom in die stad, met die groot huis en luukse partytjies, najaag. Of, gaan hy eerder voortgaan om in die klein dorpie die te verdedig wat nie hulself kan verdedig nie?

 

Wie is die belangrikste? Die eie ek, of die ons?

 

Amen.