Hebreërs 11:1 vertel vir ons dat, om te glo, is om seker te wees van die dinge waarop ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Maar wat beteken dit om te glo? Is dit ‘n sekere manier van leef? ‘n Sekere soort gevoel? Is dit iets wat ek moet doen? En wanneer kan ek seker wees dat ek glo?
In Hebreërs 11 gee die skrywer vir ons ‘n reeks goeie voorbeelde uit die tyd van die Ou Testamente van wat dit beteken om te glo, of gelowig te wees.
- Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain.
- Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het.
- Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kan word nie.
- Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang.
- Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat die beloof het, getrou geag het.
- Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan.
- Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
- Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.
- Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.
- Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter.
- Omdat Moses geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was.
- Omdat Moses geglo het, het hy die Pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.
- Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.
- Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.
- Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met die wat aan God ongehoorsaam was nie.
Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
By elkeen van hierdie voorbeelde van geloofsgetuies laat die skrywer ons iets sien wat die geloofsgetuie gedoen het. Ons sien vir Noag en sy ark, ons sien vir Abraham en Sara wat sukkel om kinders te kry, ons sien vir Moses wat sy kierie oor die Rooisee uitsteek, ons sien die vir Ragab die prostituut met haar rooi tou, ons sien die Israeliete wat om Jerigo se mure stap.
Waarom is sien en dalk meer spesifiek nie-sien-nie op die voorgrond wanneer ons oor geloof praat? En hoe dit verband met mekaar?
Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Om te weet dat dit wat belowe is sal gebeur. Die reën sal kom. Die kind sal kom. Die see sal oopgaan. Die mure sal val. Geloof is om oortuig te wees dat die dinge wat belowe is sal gebeur.
Die ander vraag is natuurlik, wil jy hê die dinge moet gebeur of wil God hê dat die dinge moet gebeur? En wat sê dit van jou geloof?
Geloof en vertroue gaan baie naby saam met mekaar. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here die beste vir hom of haar wil hê nie sukkel. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here se beloftes die beste vir hom of haar is nie gaan sukkel. Daarom vra geloof om verby jouself te kyk en om raak te sien wat die Here sien, om raak te sien wat eintlik die beste is.
Romeine 10:8-10 sê die volgende: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”
Geloof is iets wat nie net in ons koppe aangaan nie, maar ook iets wat in ons monde gaan lê om te vertel van dit wat gebeur het, van dit wat jy gesien het. Geloof is ook iets wat verder afsak na ons harte toe, iets wat ons aanvoel. Wanneer jy, sonder dat jy kan verduidelik, weet jy is op die regte plek in jou lewe, is jy besig om te glo vanuit jou hart.
Jakobus 2:14 en 21-22 sê: “’n Mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep…Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want die woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”
Nou gaan Jakobus ‘n stappie verder en sê dat die geloof wat in ons gedagtes, monde en harte is verder moet gaan na ons hande en voete toe. Dat die wat gelowig is dit moet doen wat hulle glo. Ons kan nie net Sondag na Sondag luister na mooi boodskappies en nie toelaat dat dit ons leefwyse verander nie.
As ons nie anders begin leef as gevolg van dit wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons voel nie, glo ons nie regtig wat ons lees nie. As ons nie doen wat die woord sê nie, bedrieg ons onsself. Dan kyk ons oor en oor na onsself in die spieël en elke keer wat ons wegdraai van die spieël vergeet ons dadelik wat ons gesien het.
Dan is daar ook die omskrywing wat die Heidelbergse Kategismus (een van ons belydenisskrifte vanuit die Reformasietyd, 1563) van geloof gee:
Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.
As ons nou terugkyk sal ons sien dat geloof vertroue (in my hart), kennis (in my verstand/hoof), woorde (in my mond) en dade (my hande/voete/lewe) is. Wanneer een van hierdie elemente ontbreek, raak ons geloofslewe eensydig en arm.
- wanneer my geloof kennis kortkom – dit wil sê los raak van die Skrif – loop dit gevaar om te begin verdwaal in allerlei onbybelse sieninge.
- wanneer my geloof vertroue kortkom – dit wil sê los raak van ‘n persoonlike verhouding met God – loop dit gevaar om koud, rigied en liefdeloos te raak.
- wanneer my geloof woorde kortkom – dit wil sê nooit van gesê of getuig word nie – loop dit gevaar om in myself toegesluit te raak en te sterf.
- wanneer my geloof dade kortkom – dit wil sê nooit sigbaar en konkreet gedoen word – loop dit gevaar om maklik skynheilig en selfsugtig te raak.
Wat sou ek kon doen om in my geloof – in al vier aspekte – te groei?
Om jou Bybel gereeld te lees sal jou help om nie te verdwaal nie. Om gereeld tyd saam met die Here te spandeer, deur stiltetyd sal jy nie koud en liefdeloos raak nie. Om te getuig van hoe Hy met en in jou lewe werk sal keer dat jy in jouself toegesluit raak. Deur gereeld te doen wat jy glo sal keer dat jy skynheilig en selfsugtig raak.
Sola Fide: Deur geloof alleen kan ons dink oor, vertrou op, praat met en doen saam met God, die Vader, Seun en Heilige Gees.