Johannes 6: Wie hierdie brood eet sal lewe!

Genesis 9:4 beveel: “Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie.”

 

Teen hierdie agtergrond praat Jesus met die Joodse gemeenskap in die sinagoge in Kapernaum oor hulle “eetgewoontes”.

 

Eetgewoontes is ‘n baie persoonlike ding, en tog ook so alledaags. Ons moet tog elke dag eet om ons dinge te kan doen. Eet jy Weetbix of ‘n Smoothie in die oggend? Het jy ‘n kosblik vir pouse of is die snoepie jou kosblik? Is julle as gesin saam vir middagete of maak julle vir mekaar tyd in die aand? Het julle ‘n ronde, vierkantige of reghoekige etenstafel? Of sit julle voor die televisie en eet? Eetgewoontes, iets waaroor ons nie baie dink nie, maar wat tog so belangrik is.

 

Wanneer jy wel bewus raak van jou eetgewoontes is die oomblik as jy oorslaap by ‘n maatjie of by iemand anders aan tafel sit. Hoe werk al hierdie messe en vurke wat nou voor my lê? Watter kant is my kleinbordjie? Skaapkop? Afval? Beet?

 

Hier in Johannes 6 is die Jode die mense aan tafel wat nie lekker verstaan wat jou aangaan nie.

 

Wat eerste belangrik is, is dat ons verstaan dat verhoudings vir Jesus baie belangrik is. Hy fokus hier op sy verhouding met die Joodse gemeenskap en vertel ook vir hulle dat Hy met hulle, maar ook met almal anders in verhouding wil wees. Die vraag waaroor Jesus met hulle praat is of hulle Hom wil aanvaar of verwerp. Gaan hulle dit eet wat vir hulle opgeskep word, of hulle bord kos net so los?

 

In hierdie gedeelte openbaar Jesus wie Hy is. Hy stel homself gelyk aan die brood wat lewe gee. Wie van Hom eet sal nooit sterf nie.

 

Weereens, die mense wat Jesus ken en Hom verstaan, verstaan die taal wat Hy gebruik, dit is nie vreemd vir hulle om te hoor van vleis wat geëet moet word en bloed wat gedrink moet word nie. Vir die wat nie vir Jesus ken nie, is dit uiteraard baie vreemd. Dit is so vreemd dat dit eintlik aanstoot gee vir die Jode. Onthou, hulle hou streng by die wette, en Genesis 9:4 beveel dat hulle nie vleis met sy bloed in mag eet nie, wat nog te sê van drink.

 

In Johannes is die klem op Jesus. Jesus self is die brood wat lewe gee. Ons moet ook onthou dat brood ‘n basiese voedsel in daardie tyd was, soos vandag nog. Daarom is die brood metafoor so kragtig. Jesus was en is feitlik, broodnodig! Jesus is noodsaaklik vir elkeen se lewe, sonder die basiese voedsel kan daar nie gelewe word nie.

 

As jy aan tafel sit is jou sintuie lewendig. Jy sien die kerse brand, die glase wat blink, die crispy velletjie van die hoender of die vetjie van die tjoppie. Jy hoor hoe almal gesels en lag, dalk vertel iemand ‘n goeie storie… En natuurlik eet jy ook as jy aan tafel is, lekker warm huiskos. Jou sintuie is wakker.

 

Net so as ons mooi kyk sal ons oplet dat ‘sien’, ‘hoor, en ‘eet’ belangrike woorde is in Johannes 6.

 

Verse 36-40 gaan oor sien en glo.

Verse 45 gaan oor hoor en leer.

Verse 51 gaan oor eet en lewe.

 

Psalm 34:9 sê “Smaak en sien dat die Here goed is!”

 

As mens na die Griekse vertaling van hierdie gedeelte in Johannes gaan kyk sien mens iets merkwaardig raak. In vers 54 word die woordjie “eet” weer ‘n keer gebruik, maar hierdie keer op ‘n anderste manier. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir eet is iets wat gelyk staan aan raserige eet. Wat ons kan vertaal met “munch” of “crunch”. Dit sê vir ons dat wanneer die brood van die ewige lewe geëet word of die brood van die lewe “gemunch” word, dit iets lekkers is wat aan die gebeur is.

 

 

 

Jesus verseker hierdie Jode dat die maaltyd wat Hy hulle aanbied uiters goed vir hulle sal wees, maar soos iemand wat nie iets nuuts wil proe nie, wil hierdie Jode net nie verstaan nie.

 

Hy herhaal vier keer aan die Jode, in vers 26, 32, 47 en 53: “Dit verseker Ek julle…” Wat vir ons wys dat dit baie belangrik is waaroor Jesus praat!

 

Hy verseker ons: Ons soek Hom, nie omdat ons die wondertekens gesien het nie, maar omdat ons van die brood geëet het en versadig geword het.

 

Hy verseker ons: Dit is nie Moses wat vir ons die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is sy Vader wat vir ons die ware brood uit die hemel gee.

 

Hy verseker ons: Wie in Hom glo, het die ewige lewe.

 

Hy verseker ons: As ons nie Sy liggaam eet en Sy bloed drink nie, het ons nie lewe in ons nie.

 

Hierdie gasheer, verseker ons van baie dinge, maar luister ons na wat Hy sê? Of trek ons ons neus op vir die gevolge van wat dit aan ons gaan doen? Want as ons van hierdie brood gaan eet en bloed gaan drink gaan ons nie meer dieselfde kan wees nie. Dit gaan ons verander. Dit gaan deel raak van ons liggaam. Christus in ons. Is ons gereed om te leef met Christus in ons? Is ons gereed om met Christus in ons om die braaivleisvuur te staan? Is ons gereed om met Christus in ons in Spar se ry te staan? Is ons gereed om met Christus in ons te bestuur?

 

Christus in ons, verander ons!

 

Ek verseker julle: Wie in Hom glo, het die ewige lewe. Hy is die brood wat lewe gee!

 

Wie hierdie brood eet, sal verander word, en sal ewig lewe!

 

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *