Rillers uit Rigter: Rigters 19, Die Leviet en sy byvrou.

(hersien verlede week se Rigters 11: benoeming, bewusmaking, beswering)

Vanaand vraag waarmee ons vanaand gaan worstel, met die hulp van Rigters 19 is: Hoe praat ons as ons kwaad is en hoe kan ons praat wanneer ons kwaad is?

(lees die hele Rigters hoofstuk 19 regdeur)

Rigters 19 eindig met die sin “Ons moet praat!”. Woede kom baie vinnig in ons op en jy wil die Leviet en sy gasheer sommer ‘’n vuishou gee, om nie te praat van die pa van die vrou daar in Bethlehem nie.

Rigters 19 vertel ons van uiterstes en veral uiterstes in mag.

Die man was meer as die normale man, hy was ‘’n Leviet. Verder woon hy in Efraim in die Noorde.
Die vrou was minder as die normale vrou, sy was ‘’n byvrou en sy kom van Bethlehem in die Suide.
Die tafel is gedek vir misbruik.

Die is soos om te sê: Die man was ‘’n bekende prokureur van ‘’n gegoede woonbuurt en sy vrou ‘’n kassier by ‘’n algemene handelaar in ‘’n woonbuurt waar die water en plastiek sakkies ewe veel in die strate is.

Sy loop toe van haar gegoede man af weg en gaan terug na haar ouerhuis in Bethlehem. Haar man is toe agter haar aan, maar let wel: eers ‘’n jaar en vier maande later… By sy aankoms in Bethlehem ontvang sy vrou se pa hom ook besonders gasvry. Dit is opmerklik hoe lekker die twee manne saam kuier.

Dan kom die vreeslike wrede deel van die verhaal. ‘’n Bende omsingel die huis waarin hulle tuisgaan op pad terug na Efraim en wil die Leviet vir ‘’n homoseksuele bendeverkragting hê. Sy gasheer bied egter sy eie dogter en die Leviet se byvrou aan, maar terwyl hulle nog stry oor die saak, stamp die Leviet sy byvrou by die deur uit.

Dieselfde vrou wat hy nou net in Bethlehem gaan haal het, stamp hy uit tussen die bende. En so word sy aangebied as objek vir misbruik in die bendeverkragting.

In vers 27 staan daar: “Toe haar man die môre opstaan en die huis se deur oopmaak om verder te reis, lê die vrou, sy byvrou, in die deur met haar hande op die drumpel.”

Ten spyte van alles wat gebeur het die vorige nag het hy wat die Leviet is kans gesien om te gaan slaap! Hy val amper oor haar op die drumpel van die huis toe hy verder wil reis. En boonop sê hy toe vir haar: “Staan op dat ons kan vertrek.”

Een van die bekendste en mooiste uitdrukkings in die Bybel kom voor in Johannes 1:14: “En die Woord het vlees geword…”. In Rigters 19 word die woord nie vlees nie, maar die vlees word woord. Suid-Afrika lê besaai met hierdie soort woorde – met die liggame van meisies en vroue wat bedoel is as woorde. Al die geweld en misdaad wat aan ons mense gedoen word, is ‘’n oproep, ‘’n woord.

Maar jy mag dalk nou vanaand gemaklik sit met jou koppie koffie en vra: “Wat het hierdie storie met my te doen? Ek het nie aan enige bende verkragtings, moorde of verminkings van lyke deelgeneem nie.”.

Op so ‘’n reaksie vra ek: “Wat is erger?”
• ‘’n Bende wat die vrou verkrag?
• Of haar man wat veilig binne-in die huis bly tot die volgende oggend en nie waag om voor sonop die deur oop te maak nie?
• ‘’n Bende wat die vrou verkrag?
• Of die gasheer wat sy eie dogter ook aanbied, maar self veilig binne bly?

Wat is erger? Die oortreder of die een wat daaroor stilbly?

Die boodskap vanaand is die eenvoudigste, maar ook die moeilikste van alle boodskappe. Die storie sê reguit dat ons nie oor sulke dinge mag stilbly nie, nee, soos vers 30 sê: “Ons moet daaroor praat!”.

Godsdiens het ook te doen met die dinge waaroor ons nie wil praat nie. Godsdiens het te doen met dinge soos geweld, molestering van kinders, aborsies, verkragtings, ongelukkige huwelike en kinders wat ander kinders spot en terg. En daarmee saam het godsdiens te doen met praat – praat oor wat gebeur het en oor wat ons kan doen om dinge beter te maak.

Rigters 19 sê: “Praat!”.

En nou, weer die vraag, hoe praat ek as ek kwaad is?

Die drie B’s van Rigters 11 (benoeming, bewusmaking, beswering) word nou opgevolg deur drie L’e (luister, leierskap, liefde).

Luister.

Die dogter van die gasheer is stil. Die Leviet se byvrou is stil. Die broosste mense in die teks kry nie ‘’n spreekbeurt nie. Selfs die kneg van die Leviet kry ‘’n spreekbeurt, maar geen vrou kom ooit aan die woord in hierdie lang hoofstuk nie.

Net soos ons na die teks luister, moet ons ook na ons samelewing luister. Wie praat en wie praat nie? Ons kan net begin praat as die stil stemme ook ingenooi is. Die magteloses se stemme moet saam met die sterker stemme gehoor word. Slegs dan kan “om te praat” enigsins sinvol wees.

Leierskap.

Hoofstuk 19 begin: “Toe die volgende gebeurtenisse plaasgevind het, was daar nog nie ‘’n koning in Israel nie.” Hoofstuk 21 sluit af met: “In daardie tyd was daar nog nie ‘’n koning in Israel nie en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” Hoofstuk 19 tot 21 kan as ‘’n eenheid gesien word en dit word begin en afgesluit met ‘’n opmerking oor leierskap.

In die lig van Rigters 19 sien ons goeie leierskap is nodig voordat mense wat kwaad is, kan begin praat. Dit is ook ‘’n baie spesifieke soort leierskap wat nodig is, want dit moet leiers wees wat sal help om die gesprek oop te hou. Leiers wat kan help dat al die stemme ‘’n beurt kry om te gesels. Leiers wat nie bang is nie, maar die moeilike onderwerpe aanvat en die gesprek stimuleer.

Liefde.

Die waarheid mag slegs in liefde gepraat word. Dit beteken nie jy gaan nie benoem, bewusmaak en besweer nie, inteendeel. Jy gaan, maar jy mag dit net in liefde doen, hoe moeilik dit ook al is. Rigters 19 sê ons mag nie stilbly wanneer die hulpeloses onder ons seerkry nie. Nee, ons moet praat.

Wanneer daar gepraat word, moet dit luisterend na die stil stemme wees, in die nabyheid van goeie leierskap en altyd in liefde. Wanneer daar dinge gebeur wat ons kwaad maak, mag ons kwaad word en moet ons nie stilbly nie, maar ons moet luisterend, met leierskap en in liefde praat.

(geleentheid vir dankoffer)
Gaan die wêreld tegemoet en luister na die stil stemme wat die minste gehoor word.
Gaan die wêreld tegemoet en wees ‘’n leier daar waar God jou in sy koninkryk geplaas het.
Gaan die wêreld tegemoet en praat die waarheid in liefde.
Gaan nou en onthou dat jy geroep is om ‘’n verskil te maak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *