Genesis 28:10-22

Inleidend:

Wie van julle was al bang? Waarvoor is mense bang? Party is bang vir die donker. Ander is bang vir die weer. Sommige kinders is bang as hulle te laat by die huis kom. Hulle is bang dat Pa hulle ‘n pakslae gaan gee.

Jakob was ook bang:

Die Bybel vertel ons van iemand anders wat ook baie bang was. Hy was bang vir sy broer. Sy broer was baie kwaad vir hom. Sy naam was Jakob. Esau, sy broer, was woedend kwaad vir hom. Ek wonder wie van julle kan vir my sê hoekom Esau so kwaad vir Jakob was? (Prent 3.2)

Toe Jakob en Esau se pa al baie oud was, het hy op ‘n dag vir Esau geroep en gesê: “Gaan jag en bring asseblief vir my ‘n stukkie wildsvleis. Dan kry jy jou deel van my goed.” Esau was natuurlik die oudste. Die oudste het in daardie tyd die grootste deel van sy pa se goed gekry. Die oudste seun het dubbel so veel gekry as die ander kinders. Toe Esau by die huis weg is, het Jakob se ma, Rebekka, hom geroep. Sy was vir Jakob baie liewer as vir Esau. Hy was haar witbroodjie. “Jakob,” het sy gesê, “gaan slag gou twee bokkies. Ek sal die vleis lekker gaarmaak. Jy kan dan Esau se klere aantrek en bind ook die velle van die bokkies om jou hande en nek vas. Jy moet maak of jy Esau is en die kos vir jou pa neem.” (Prent 3.3)

Arme Isak kon nie meer goed sien nie. Toe Jakob by hom kom, sê Jakob: “Pa, ek is Esau. Hier is Pa se wildsvleis.” “Jou stem klink vandag nes Jakob s’n” sê Isak. “Staan ‘n bietjie nader dat ek jou kan voel.” Toe Isak die velle om Jakob se hande voel, glo hy dis Esau. En hy sê: “Jy kan nou maar jou deel van die goed kry. Dit is dubbel soveel as Jakob s’n.” Toe Esau terugkom en uitvind dat Jakob vir sy pa gejok het en alles wat bedoel was om syne te wees, gevat het, was Esau baie kwaad.

Jakob vlug

Jakob was so bang vir Esau dat hy sy tasse gepak en gevlug het. Jakob het nie net vir Esau gevlug nie, maar hy het ook vir God gevlug.

Kan ‘n mens vir God vlug? ‘n Mens kan nie vir God vlug nie, want Hy is orals (Prent 3.6). Orals waar ‘n mens gaan, daar is God ook. As jy hokkie speel dan is God daar by jou op die hokkieveld. As jy in die klas sit en besig is om toets te skryf of mondeling te praat, dan is God ook daar by jou. As jy jou toon teen ‘n klip stamp dan is God ook daar met jou. (Prent 3.4)

Jakob stap en hy stap. Hy sal ver moet weggaan. Uiteindelik kom hy by ‘n plek aan met die naam van Lus. Dit was al donker. Hy besluit om daar te slaap. Nêrens is daar ‘n huis om in te slaap nie. Hy het nie komberse nie en ook nie lekker kussings nie. Pleks van Ma Rebekka se lekker verekussings druk hy ‘n klip onder sy kop in en probeer aan die slaap raak. Hy het seker gedink: “Ek is heeltemal alleen hier in die veld.”

Maar was hy alleen? Nee, hy was nie. (Gebruik Prent 3.6 om die tema te beklemtoon.) God het saam met Hom gegaan. God is mos oral.

Jakob droom

Jakob het aan die slaap geraak. Wat het gebeur toe Jakob slaap? Ja, Hy het gedroom. Hy droom van ‘n lang, lang kliptrap. So lank dat dit aan die hemel raak. En op die trap is daar engele. Hulle klim op en af. Jakob kyk en wat sien hy? Bo aan die trap staan God self. God het van sy troon opgestaan. Ek dink Jakob se hart het baie vinnig begin klop. Jakob het seker op sy klipkussing gesweet. Hy het seker gedink aan al die dinge wat hy al aangevang het: hoe hy vir sy pa gejok het en Esau se goed voor sy oë weggesteel het.

“Hoe verskriklik is hierdie plek”, het Jakob by homself gesê toe hy God aan die bopunt van die trap sien staan.

Die wonderlike is dat die Here nie vir Jakob wou straf nie, al het hy ‘n klomp verkeerde dinge gedoen. Hy het vir Jakob gesê: “Ek ken jou pa en oupa. Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan” (Genesis 28:15).

Dit is asof die Here vir hom wil sê: “Jakob, al het jy verkeerde dinge gedoen, is Ek lief vir jou. Ek gaan saam met jou.”

Is dit nie wonderlik nie? Jakob se God is ook jou en my God. Hy is baie lief vir jou. Hy gee vir jou om, al maak jy Hom hartseer. Al baklei jy met jou boetie of jou sussie sien Hy jou nog altyd raak. Hy sê ook vandag vir jou: “Ek wil met jou saamgaan.”

Toe jy gedoop is het Hy al vir jou gesê: “Jy is Myne, Ek sal vir jou sorg.” Jy hoef nie bang te wees nie! Al moet jy deur die donker gang stap, dan sal God by jou wees. Jy is nie alleen nie. God is by jou soos Hy by Jakob was.

Jakob plant

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie…Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

Jakob het opgestaan, sy klip kopkussing gevat en dit geplant en olie oor die bopunt daarvan uitgegooi en die plek Bel-El genoem, wat beteken “huis van God”. Soos wat hy verder gegaan het met sy reis, en God met hom, het hy terug gekyk en daardie klip het reguit na bo gewys, diep geplant terwyl dit reguit op wys.

Wie het ons oorreed dat God vier mure en ‘n dak verkies bo die oop vlaktes? In die ooptes, daar waar die wind deur jou hare waai, daar waar jou hande tussen die grond woel, of styf om daai hokkiestok grip, ook daar is God met jou.

Die ding is; die Here wil meer en meer van ons weghardloop kinders hê en ek vermoed dat ons ook na Hom verlang en soms te skaam is oor dit wat ons gedoen het om jammer te sê, vir mekaar en vir Hom om terug te keer na Hom. En dan hardloop ons weg, of ons dink ons kan weghardloop, tog is die Here orals met ons.

Hy laat sak sy trap met engele in die ooptes, in die parkering, in jou tuin, in die klas, selfs in jou garage, as jy mooi kyk sal jy sy trap sien blink. Hy is daar. Hy is met jou. Hy verlang na jou. En sodra jy dit besef, sodra jy sy trap raaksien en sy teenwoordigheid beleef gaan ‘n hele nuwe wêreld vir jou oopgaan, net soos vir Jakob oopgegaan het.

Die Here is met ons, ons kinders van Abraham, Isak en Jakob, die weghardloop oneerlike broer, hy is deel van ons DNA en ons is deel van syne, en steeds is God met ons. Sodra jy die trap sien en die Here se teenwoordigheid beleef, plant jou klip, sodat wanneer dit weer moeilik gaan, jy kan onthou dat Hy met jou is, met jou en jou huisgesin.

Amen.

Rigters 2:10-23

Verby is die dae dat ons na jongmense verwys as die kerk van môre. Nee, almal in die kerk, jonk en oud, is die kerk van vandag! Tog moet ons begrip hê vir die feit dat daar verskillende generasies in die kerk is. Navorsers praat deesdae van ‘n nuwe Generasie Z in ons midde. Dit is die wat sedert dié vroeë negentigs gebore is en wat anders aanmekaar geweef is as hulle voorgangers, die “Millennials”.

Generasie Z word as “screen-agers” beskryf. TV-skerms, selfoonskerms en rekenaarskerms is hulle kos. Hulle is meer gekonnekteerd as ooit, maar hulle is alleen. Familie is nie noodwendig meer hulle sentrale ruimte vir identiteitsvorming nie. Sosiale media neem hierdie rol al hoe meer uit die familie se hande.

Ons leef in ‘n wêreld waar sosiale media die septer swaai. Hoërskoolgenerasies is die eerstes vir wie se ouers en familie daar nie ou, beproefde opvoedkundige handboeke bestaan oor hoe om hulle groot te maak nie. Alle generasies voor ons het breedweg in dieselfde tipe wêrelde grootgeword. Daar was nog nooit tevore ‘n realiteit wat so volledig deur sosiale media geïnfiltreer en oorgeneem is as ons s’n nie.

Jonger generasies se identiteitsvorming gebeur anders as ooit. Hulle verkies al meer om te sosialiseer met hul vriende op sosialemedie-platvorms eerder as met hulle direkte familie. Hulle glo sosiale media se beloftes blindelings dat hulle nooit alleen sal wees op hierdie digitale platvorms nie. Met die druk van ‘n knoppie kan hulle inskakel by hulle “vriende” op Youtube, Instagram, Snapchat ens. Om blitsvinnige “likes” om kitsaanvaarding te kry. Quickfixes vir ‘n fastfood samelewing.

Indien ons as Christene nie gaan kennis neem van die wêreld waarin ons leef nie, is die verlore generasie dalk weer ons voorland. Ek sê weer, want ‘n verlore jonger generasie het ontstaan in die tyd tussen Josua 24 en Rigters 2. Terwyl die ouer leiers van Israel in Josua 24 belowe het dat hulle die Here sal dien, vertel Rigters 2:10 dat die volgende generasie totaal en al sonder God grootgeword het. Hulle het niks geweet van Sy groot dade om Israel te red nie. Om te dink, in een geslag het Israel vanaf godsdienstig tot Goddeloosheid verval. Dit het onder andere gebeur omdat die oues kontak verloor het met die jonges en nie meer in hulle taal met hulle oor God gepraat het nie.

Wanneer laas het jy met iemand oor hoe die Here in jou lewe werk gepraat? Wanneer laas het jy saam met iemand, behalwe in die kerk, Bybel gelees? Wanneer laas het jy vanuit ‘n Christelike perspektief armoede aangespreek? Wanneer laas het julle saam gedink oor die Here se wil in verhouding met die rigting van jou lewe?

Kom ons lees saam Rigters 2:10-23

Hierdie gedeelte uit Rigters 2 vertel vir ons van ‘n gemeenskap wat nie meer die Here geken het nie, en Hom ook nie geëer het in hulle optrede nie. Hulle het so ver gegaan om ander gode te aanbid. Die patroon word duidelik uitgelig in Rigters, dit herhaal oor en oor en spiraal al meer na onder.

Die volk is ontrou aan die Here.
Die Here stuur ‘n vyand om hulle te verdruk.
Die volk het berou en smeek die Here om hulp.
Die Here rig iemand as leier op om hulle te verlos.
Die volk beleef ‘n tyd van rus en vrede solank as wat die rigter/leier leef en hulle lei.

Wat duidelik na vore kom is dat God onverdeelde trou van sy volk vereis en hulle sal straf as hulle aan Hom ontrou is. Daar sal gevolge wees vir verkeerde dade. Daarteenoor gee God voorspoed en vrede as die volk gehoorsaam is en Hom alleen dien.

‘n Verdere tema wat hier na vore kom is die van gehoorsame leiers en uiteindelik ‘n koning wat God dien. God gee mense wat as leiers kan optree en sy volk kan bevry. In sommige verhale breek morele chaos uit as gevolg van die gebrek aan getroue leiers. Ook opvallend is die diversiteit van leiers: Die Here gebruik nie net mense met hoë sosiale status nie, maar ook vroue, ‘n bangjan, ‘n huursoldaat en die seun van ‘n prostituut. Die Here wil almal gebruik om vir Hom op te staan, om leiding in Sy naam te neem.

In Rigters is daar ‘n negatiewe beeld van die mens. Die boek beklemtoon die inherente neiging van die mens om ontrou aan die Here te wees. Die afgode van die land het eenvoudig net ‘n te sterk trekkrag gehad om te weerstaan.

Watter afgode se trekkrag kan jy nie weerstaan nie? Watter dinge neem tyd uit jou dag wat jy graag aan die Here sou wou spandeer? Youtube? Instagram? Supersport? Sepies? En bring hierdie dinge jou nader aan God of vertel dit eerder van die wêreldse ideale wat nagevolg moet word bo Goddelike waardes?

Om die onsigbare God van Israel te aanbid, was vir die volk net te moeilik in die nuwe land. In die oorgang van die woestynbestaan as nomades na ‘n landboubestaan kon Israel dit nie regkry om aan God alleen getrou te wees nie.

Ons is vandag ook in so ‘n oorgangstydperk. Nooit tevore was ons blootgestel aan soveel kennis so vinnig nie. Elkeen van ons loop met die wêreld se kennis in ons broek en handsakke. Maar, met al die kennis beteken dit nie dat ons die wysheid het om daardie kennis reg te gebruik nie. Wysheid kom van God af, en sonder wysheid doen elkeen van ons net soos die Israeliete in Rigters: “Ons doen elkeen wat reg is in ons eie oë.”

Wanneer ons elkeen doen wat reg is in ons eie oë gebeur dit dat ons nie meer verantwoordbaar/accountable voor God is nie. God wat die wysheid bied oor hoe om dit te gebruik wat aan ons gegee is vir die beter van die hele gemeenskap.

Wanneer ons doen wat reg is in ons eie oë sê ons: “You do you, let me do me.”

Om dit te sê is totaal en al onbybels! Die Bybel praat van ons as die liggaam of ‘n familie, ons kan nie sonder God en sonder mekaar nie, of eerder sonder God en sonder mekaar gaan ons lewe alleen wees vol leë beloftes van pragtige filters.

Daarom in ‘n oorgangstydperk met ongekende uitdagings is verantwoordelike leierskap nodig. Leiers wat hulle meet aan God se standaarde, nie hul eie nie. Leiers wat hulle gesinne en vriende kan vertel van die wonderlike werke van God sodat dit nie verlore en vergete raak nie!

As ons nie in hierdie siklus van ontrou, straf, berou en redding wil vassit nie het ons geestelike leierskap nodig wat ons daaruit sal ruk, sodat ons kan wakker skrik en agterkom waarmee ons besig is.

Hoe keer ons ‘n herhaling van Rigters 2 hier in ons jonger-wordende wêreld? Sensus 2011 het bevind dat 29,2% van Suid-Afrika se bevolking jonger is as 14 jaar. Slegs 5,3% is ouer as 65, terwyl 49,2% Suid-Afrikaners jonger is as 24. Hoe leef ons hierdie jonger generasies reg raak?

Wel, die Bybelse roete van die liefde is steeds die heel belangrikste roete. God se liefde is tydloos. Dit is nooit generasie gebonde nie. Geen generasie is liefdebestand nie. 1 Petrus 2:15-18 verduidelik met name vir ons dat so ‘n roete gaan oor respek vir alle mense en oor diep eerbied vir God. Geestelike leierskap wys liefde vir almal, en daar is wysheid in liefde.

Die liefde is geduldig, vriendelik, nie grootpraterig nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie eie belang nie, is nie liggeraak nie, en hou nie boek van die kwaad nie.

Die sosiale media is haastig, vyandig, grootpraterig, onwelvoeglik, soek eie belang, liggeraak, en hou boek van die kwaad.

So wie sal jy eerder met jou lewe vertrou? Die liefde of sosiale media?

In dieselfde asem moet ons weet dat nuwe generasies nie na nog kennis soek nie. Hulle het oorgenoeg daarvan. Wat hulle kortkom, is Bybelse wysheid. Hulle weet nie hoe om hierdie nuwe wêreld met al die information-overload en derduisende impulse wat daagliks op hulle afstorm te verstaan en te hanteer nie. Hulle kort ouers en mentors wat Bybelse wysheid met hulle kan deel.

Ons moet saam met die jonger generasie leef en vir hulle wys dat eerbied vir die Here en respek vir ander mense steeds die roete tot ware lewe is. Ons moet vir jonger mense helder en duidelike redes gee om in Christus te glo. Ons moet gesonde verhoudings modelleer en saam met hulle groei. Ook moet ons gesonde geloofsritmes aankweek wat ons gedurig saam met hulle in ons huise en in ons geloofsfamilies beoefen.

Die Bybel dink nie in terme van ouderdom wanneer die uitleef van ons geloof ter sprake is nie. Daar bestaan nie Bybelse kategorieë soos “afgetrede Christene” of “tiener Christene” in die Bybel nie. Ons is nooit te jonk of te oud om vir die Here te leef nie. Ouderdom is nooit ‘n voorwaarde vir diens aan God nie. Abraham is byvoorbeeld eers op 75-jarige ouderdom geroep om ‘n nuwe roete vir God in te slaan. Jeremia kon nie wegkruip agter sy jeugdigheid toe hy as profeet geroep is nie.

Ons almal, jonk en oud, het een gesamentlike roeping, om elke dag vir Jesus te volg in alles wat ons doen. Die Heilige Gees is ewe veel aanwesig in ons almal. Ouer en jonger gelowiges dien dieselfde lewende God.

Daarom, laat ons nie die wysheid van die liefde in God en in mekaar vergeet nie. Laat ons, jonk en oud Bybelse leierskap openbaar deur ons vertroue in God wat liefde is te plaas eerder as in die beloftes van die sosiale media.

Mag ons nie doen wat ons dink reg is in ons eie oë nie, maar altyd mekaar en ons eie optrede meet aan Goddelike standaarde, want daarin is die lewe in oorvloed. Mag ons mekaar en ons kinders vertel van die Here se wysheid, sodat ons as gemeenskap, nader al nader aan God wat liefde is, kan groei.

1 Samuel 3:1-18

Ons skakel vanoggend in na kanaal 1792, en dit is tyd vir die nuus uit Israel. Ons verslaggewer staan gereed vir die nuutste gebeure vanuit die tempel.

V:         Eli, ons hoor dat jy vanoggend ‘n ontstellende profesie van jou mindere, Samuel die 13jarige seuntjie ontvang het. Hoe het jy gevoel toe jy die nuus ontvang het?
E:         Dit was maar ‘n ongemaklike situasie, want ek is gewoonlik die een wat die profesie vanaf die Here ontvang en nou het Samuel dit ontvang…
V:         Samuel, hoe het dit gevoel om vir Eli, wat heelwat ouer as jy is, hierdie slegte nuus te gaan vertel?
S:         Dit was ‘n ongemaklike situasie, Eli is gewoonlik die een wat vir my sê wat om te doen…
V:         Eli, hoe het dit vir jou gevoel om so ‘n profesie te kry van iemand wat jou mindere is?
E:         Ek was aanvanklik geskok gewees dat die jong seuntjie vir my sulke swaar en moeilike nuus kom vertel.
V:         Samuel, soos wat ek dit van die ooggetuies verstaan, kon jy aanvanklik nie die stem van die Here hoor nie. Hoe het Eli jou gehelp om te verstaan dat dit die Here is wat met jou praat?
S:         Eli het my deur die proses gementor en vir my uitgewys waarop ek attent moet wees wanneer die Here met my probeer praat. As dit nie vir Eli was nie, sou ek nie die stem van die Here herken het nie.

Iewers in ons lewens was ons almal al in Eli of Samuel se skoene. Eli het gereeld raad aan Samuel gegee oor hoe om ‘n goeie leier in die tempel te wees, oor hoe om sy werk tot die beste van sy vermoë te doen. Eli het vir Samuel gementor in die weë van die Here. Samuel het weer op sy beurt mooi geluister na die raad wat Eli hom gegee het en dit getrou gevolg om sy werk na die beste van sy vermoë te doen.

Toe op ‘n dag besluit die Here om die rolle van mentor en mentee om te keer. Eli het al blinder en blinder geraak met die jare en Samuel moes hom meer en meer help met die daaglikse tempel take. Ons lees dat dit Samuel se werk was om die tempel se deure elke oggend oop te maak. Geleidelik het die twee mekaar al meer en meer begin vertrou in diens van die Here.

Dalk staan jy vandag in die skoene van Eli. Dalk is jy aan die stuur van ‘n groot besigheid, of het baie invloed onder mense of jy geniet ‘n senior posvlak as gevolg van al die jare se getroue diens… wat is die goed wat dit vir jou sal moeilik maak om die Here se stem te hoor by iemand wie jy as jou mindere beskou? Hoekom is jy versigtig om te luister na iemand met minder mag, ervaring, senioriteit of status as jy?

Hoekom luister ons so graag na die mans en vroue met die groot naam? Hoekom is ons geneig om die wat ons as ‘n mindere sien se opinie as ongeldig te ag?

Wanneer jy jouself vang die volgende woorde dink moet jy weet jy is op dun ys, woorde soos:
·      Jy is net ‘n laaitie, wat weet jy?
·      Jy het nog nie ervaar wat ek ervaar het nie…

Met hierdie tiepe gedagtes plaas ons onsself gewoonlik bo die ander, en net daar en dan besluit ons om nie verder te luister nie, want hy of sy weet tog nie regtig wat hy of sy sê nie.

Kom ons skuif die kollig vir ‘n oomblik na Samuel.

Samuel was waarskynlik 12/13 jaar oud toe hy die profesie van die Here ontvang. Hy het nie gevra vir die bonatuurlike insig nie. Die Here het dit aan hom geopenbaar en skielik weet hy iets wat Eli nie weet nie, skielik het hy in sy jeugdige ouderdom insig tot iets baie groter as hyself.

Hy besef die posisie waarin hy nou is. Hy wonder, hoekom het die Here nie direk aan Eli verskyn nie, hoekom aan Hom? Wat gaan hy nou hierdie nuwe insig maak? In effek het hy oor kennis beskik wat ‘n oorgang in mag aandui, hoe gaan hy nou hierdie oorgang maak?

Bly hy stil en laat Eli en sy familie doodgaan soos wat inelkgeval sou gebeur? Of gaan vertel hy aan Eli dat die Here besig is om met hom die pad as nuwe profeet van die tempel te stap en dat Eli se tyd besig is uit te loop?

Ongemak sit ‘n mens gewoonlik in ‘n veg of vlug situasie, gaan jy jou ongemak tegemoet of vlug jy van dit wat jou ongemaklik maak?

As Eli en Samuel van hulle ongemak gevlug het, sou Saul nooit deur Samuel as koning gesalf gewees het nie, sou Salomo nie koning gewees het nie, sou Dawid nie koning gewees het nie. Dit kon alles moontlik gebeur het as Eli besluit het om nie na Samuel te luister nie, en hom laat doodmaak het omdat hy gedink het dat Samuel sy mag probeer oorneem met ‘n slim truuk.

Jou ego bepaal gewoonlik of jy gaan veg of vlug teen jou ongemak wanneer jou mindere betrokke is. Gaan jy toelaat dat jou ego jou beroof van wysheid of gaan jy jou ego opsy skuif en bereid wees om na jou mindere te luister?

Kom ons doen ‘n oefening:

1.     Dink aan iemand wat jou mindere is, waarmee jy in die laaste jaar kontak gehad het, wat dit regkry om voluit te lewe.
2.     Dink aan iets wat hy/sy doen wat jy bewonder, respekteer of ook sou wou doen. Wat kry hy/sy reg?
3.     Nou, vra jouself af, wat sou jy kon doen sodat hy/sy dit vir jou kan leer?

Om by mekaar te leer is daar brûe tussen ons nodig. Watter brûe bestaan reeds tussen jou en jou mindere? Watter brûe sal jy tussen julle moet versterk? Watter brûe sal jy tussen julle nog aan moet bou?

Eli en Samuel se brug was vertroue en respek vir mekaar, terwyl hulle hulle ego uit die tempel gehou het en dit het dit moontlik gemaak dat hulle saam voor die aangesig van God in Sy diens kon staan. Die oomblik wanneer ons besef dat ons lewe voor die aangesig van God verander ons houding en perspektief gewoonlik.

Om dit op ‘n eenvoudige manier uit te beeld, die oomblik wanneer die dominee in ‘n vertrek instap verander die woordeskat van die grappe dadelik. In die kerk probeer ons mekaar help, in die kerk maak ons vir mekaar plek, in die kerk… Wanneer besef ons dat God nie net in die kerk is nie, maar ook by die werk, ook by die braaivleis, ook by die huis? Wanneer besef ons dat ons lewe voor die aangesig van God?

Wat keer jou dat jy saam met die Samuel of Sarika in jou, voor die aangesig van God, kan diens doen?

Samuel het, al was hy bang, oop kaarte met Eli gespeel, hy het hom alles vertel en niks weggesteek nie. En Eli, met die besef dat hy onderdanig aan God is, vir Samuel gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.” Hy het Samuel nie verdink van een of ander slinkse planne nie, maar in vertroue en respek steeds eer aan die Here gegee. Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.

Is jy bereid om soos Eli na Samuel of Sarika, jou mindere, te luister?

Is jy bereid om soos Eli, met al jou mag, gesag, aansien en geld, jouself ondergeskik te stel aan die Woord van die Here?