Inleidend:
Wie van julle was al bang? Waarvoor is mense bang? Party is bang vir die donker. Ander is bang vir die weer. Sommige kinders is bang as hulle te laat by die huis kom. Hulle is bang dat Pa hulle ‘n pakslae gaan gee.
Jakob was ook bang:
Die Bybel vertel ons van iemand anders wat ook baie bang was. Hy was bang vir sy broer. Sy broer was baie kwaad vir hom. Sy naam was Jakob. Esau, sy broer, was woedend kwaad vir hom. Ek wonder wie van julle kan vir my sê hoekom Esau so kwaad vir Jakob was? (Prent 3.2)
Toe Jakob en Esau se pa al baie oud was, het hy op ‘n dag vir Esau geroep en gesê: “Gaan jag en bring asseblief vir my ‘n stukkie wildsvleis. Dan kry jy jou deel van my goed.” Esau was natuurlik die oudste. Die oudste het in daardie tyd die grootste deel van sy pa se goed gekry. Die oudste seun het dubbel so veel gekry as die ander kinders. Toe Esau by die huis weg is, het Jakob se ma, Rebekka, hom geroep. Sy was vir Jakob baie liewer as vir Esau. Hy was haar witbroodjie. “Jakob,” het sy gesê, “gaan slag gou twee bokkies. Ek sal die vleis lekker gaarmaak. Jy kan dan Esau se klere aantrek en bind ook die velle van die bokkies om jou hande en nek vas. Jy moet maak of jy Esau is en die kos vir jou pa neem.” (Prent 3.3)
Arme Isak kon nie meer goed sien nie. Toe Jakob by hom kom, sê Jakob: “Pa, ek is Esau. Hier is Pa se wildsvleis.” “Jou stem klink vandag nes Jakob s’n” sê Isak. “Staan ‘n bietjie nader dat ek jou kan voel.” Toe Isak die velle om Jakob se hande voel, glo hy dis Esau. En hy sê: “Jy kan nou maar jou deel van die goed kry. Dit is dubbel soveel as Jakob s’n.” Toe Esau terugkom en uitvind dat Jakob vir sy pa gejok het en alles wat bedoel was om syne te wees, gevat het, was Esau baie kwaad.
Jakob vlug
Jakob was so bang vir Esau dat hy sy tasse gepak en gevlug het. Jakob het nie net vir Esau gevlug nie, maar hy het ook vir God gevlug.
Kan ‘n mens vir God vlug? ‘n Mens kan nie vir God vlug nie, want Hy is orals (Prent 3.6). Orals waar ‘n mens gaan, daar is God ook. As jy hokkie speel dan is God daar by jou op die hokkieveld. As jy in die klas sit en besig is om toets te skryf of mondeling te praat, dan is God ook daar by jou. As jy jou toon teen ‘n klip stamp dan is God ook daar met jou. (Prent 3.4)
Jakob stap en hy stap. Hy sal ver moet weggaan. Uiteindelik kom hy by ‘n plek aan met die naam van Lus. Dit was al donker. Hy besluit om daar te slaap. Nêrens is daar ‘n huis om in te slaap nie. Hy het nie komberse nie en ook nie lekker kussings nie. Pleks van Ma Rebekka se lekker verekussings druk hy ‘n klip onder sy kop in en probeer aan die slaap raak. Hy het seker gedink: “Ek is heeltemal alleen hier in die veld.”
Maar was hy alleen? Nee, hy was nie. (Gebruik Prent 3.6 om die tema te beklemtoon.) God het saam met Hom gegaan. God is mos oral.
Jakob droom
Jakob het aan die slaap geraak. Wat het gebeur toe Jakob slaap? Ja, Hy het gedroom. Hy droom van ‘n lang, lang kliptrap. So lank dat dit aan die hemel raak. En op die trap is daar engele. Hulle klim op en af. Jakob kyk en wat sien hy? Bo aan die trap staan God self. God het van sy troon opgestaan. Ek dink Jakob se hart het baie vinnig begin klop. Jakob het seker op sy klipkussing gesweet. Hy het seker gedink aan al die dinge wat hy al aangevang het: hoe hy vir sy pa gejok het en Esau se goed voor sy oë weggesteel het.
“Hoe verskriklik is hierdie plek”, het Jakob by homself gesê toe hy God aan die bopunt van die trap sien staan.
Die wonderlike is dat die Here nie vir Jakob wou straf nie, al het hy ‘n klomp verkeerde dinge gedoen. Hy het vir Jakob gesê: “Ek ken jou pa en oupa. Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan” (Genesis 28:15).
Dit is asof die Here vir hom wil sê: “Jakob, al het jy verkeerde dinge gedoen, is Ek lief vir jou. Ek gaan saam met jou.”
Is dit nie wonderlik nie? Jakob se God is ook jou en my God. Hy is baie lief vir jou. Hy gee vir jou om, al maak jy Hom hartseer. Al baklei jy met jou boetie of jou sussie sien Hy jou nog altyd raak. Hy sê ook vandag vir jou: “Ek wil met jou saamgaan.”
Toe jy gedoop is het Hy al vir jou gesê: “Jy is Myne, Ek sal vir jou sorg.” Jy hoef nie bang te wees nie! Al moet jy deur die donker gang stap, dan sal God by jou wees. Jy is nie alleen nie. God is by jou soos Hy by Jakob was.
Jakob plant
Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie…Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”
Jakob het opgestaan, sy klip kopkussing gevat en dit geplant en olie oor die bopunt daarvan uitgegooi en die plek Bel-El genoem, wat beteken “huis van God”. Soos wat hy verder gegaan het met sy reis, en God met hom, het hy terug gekyk en daardie klip het reguit na bo gewys, diep geplant terwyl dit reguit op wys.
Wie het ons oorreed dat God vier mure en ‘n dak verkies bo die oop vlaktes? In die ooptes, daar waar die wind deur jou hare waai, daar waar jou hande tussen die grond woel, of styf om daai hokkiestok grip, ook daar is God met jou.
Die ding is; die Here wil meer en meer van ons weghardloop kinders hê en ek vermoed dat ons ook na Hom verlang en soms te skaam is oor dit wat ons gedoen het om jammer te sê, vir mekaar en vir Hom om terug te keer na Hom. En dan hardloop ons weg, of ons dink ons kan weghardloop, tog is die Here orals met ons.
Hy laat sak sy trap met engele in die ooptes, in die parkering, in jou tuin, in die klas, selfs in jou garage, as jy mooi kyk sal jy sy trap sien blink. Hy is daar. Hy is met jou. Hy verlang na jou. En sodra jy dit besef, sodra jy sy trap raaksien en sy teenwoordigheid beleef gaan ‘n hele nuwe wêreld vir jou oopgaan, net soos vir Jakob oopgegaan het.
Die Here is met ons, ons kinders van Abraham, Isak en Jakob, die weghardloop oneerlike broer, hy is deel van ons DNA en ons is deel van syne, en steeds is God met ons. Sodra jy die trap sien en die Here se teenwoordigheid beleef, plant jou klip, sodat wanneer dit weer moeilik gaan, jy kan onthou dat Hy met jou is, met jou en jou huisgesin.
Amen.