Johannes 9: Sien jy My? Hoor jy My? Dit is Ek wat met jou praat.

In hierdie verhaal van Johannes 9, die genesing van die blinde man, kan die beelde van lig en donker, sien en nie-sien, nie gemis word nie. In hierdie verhaal stry die Jode oor die identiteit van Jesus. Volgens die Ou Testament is dit slegs God en die Messias wat blindes kan laat sien. Hierdie wonderteken van Jesus is dus ‘n bewys dat Hy die Messias is: self ook God, ‘n konsep wat die Jode moeilik geglo het.

 

Die genesing van die blinde man is die sesde van sewe tekens wat Jesus uitvoer. Die ander tekens is:

  1. Die troue in Kana (2:1-11).
  2. Die genesing van die offisier se seun (4:46-53).
  3. Die genesing van die verlamde (5:2-9).
  4. Die vermeerdering van die brood (6:1-13).
  5. Jesus wat op die see loop (6:16-21).
  6. Die genesing van die blinde man (9:1-41).
  7. Die opwekking van Lasarus uit die dood (11:17-44), hieroor gesels ons volgende week.

 

Ons het hier te doen met ‘n belangrike verhaal in die Boek van Tekens wat aan lesers ‘n duidelike boodskap oor die identiteit van Jesus wil oordra, dat Hy wel die Seun van die mens is.

 

Jesus is aan die stap en “sien” dan ‘n man wat van sy geboorte af “blind” was (9:1). Hierdie volwasse man ken geen ander werklikheid as die wêreld van ‘n blinde persoon nie. In die antieke wêreld het fisieke siekte en gestremdheid groot implikasies gehad. As ‘n babatjie met ‘n gestremdheid se lewe gespaar was, was sy of haar lewe gekenmerk deur sosiale en godsdienstige uitsluiting.

 

Mense sou draaie om hulle geloop het en hierdie persone sou gewoonlik op die rand van die dorp of stad probeer oorleef het, afhanklik van ander se bydraes.

 

Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou?

 

Die fokus val op die blinde man.

 

Die feit dat die blinde man nie ‘n naam het nie is ‘n tegniek wat Johannes gebruik om ons in die storie in te trek. Eerder as wat ons toeskouers van die storie is, kan ons nou ons eie naam vir die man sonder naam gee, en deelnemers in die storie raak.

 

Wat ‘n baie diep vraag na vore roep: “Francois, sien jy raak wat om jou aan die gang is?”

 

Al sou Jesus net ‘n woord van genesing kon uitspreek, gaan Hy hier anders te werk. Hy spoeg op die grond en maak daarmee ‘n bietjie klei aan (9:6). So grillerig soos wat ‘n spoeg-en-kleimengsel vir ons vandag mag wees, was dit nie ongewoon in die antieke wêreld nie. Daar is geglo dat speeksel van belangrike mense kon gesond maak. Dit was wel ‘n gebruik wat soms met magiese kragte geassosieer is en daarom met versigtigheid in die Joodse wêreld gebruik was.

 

Die klei is aan die man se oë gesmeer en hy word deur Jesus “gestuur” na die Siloambad om homself te gaan was. Volgens tradisie was dit ‘n plek van reiniging. Die man het die opdrag uitgevoer en met sy terugkeer was sy sig herstel (9:6-7). Vir die eerste keer in sy lewe was hy nou sosiaal aanvaarbaar tussen sy mense. Hy sou nie langer as uitgeworpene op die rand van die samelewing leef nie. ‘n Nuwe lewe het vir hom aangebreek.

 

Ons moet besef dat die man hier nie net ‘n fisiese verandering ondergaan het nie, maar ook ‘n spirituele verandering ondergaan het. Omdat die begeerte daar was om te verander het sy geloof in dade oorgegaan. Die teenwoordigheid van Jesus was die katalisator, Jesus het sy reeds ingebore geloof aangespoor.

 

Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou? Of wil ons eerder die gaan ontmoet op die randte van ons dorp en winkelsentrums? Wil ons die randfigure help verander, vernuwe, deur hulle bloot te stel aan die teenwoordigheid van Jesus Christus?

 

In Johannes 9:8-9 lees ons die eerste keer dat die man, behalwe vir sy blindheid ook ‘n bedelaar was. Ons kan ons voorstel dat, toe Jesus en die dissipels hom gesien het, hy gesit en bedel het op ‘n besige plek. Ons lees later in die verhaal van die man se ouers. Hy was nie ‘n weeskind nie, maar as gevolg van sy blindheid het hy soos een gelewe.

 

Vir die eerste keer in die verhaal praat die man self en bevestig sy identiteit: “Dit is ek!”.

 

Van hier af word die spanning wat die wonderwerk veroorsaak het, toenemend duidelik.

 

Hierdie groep Jode, getrou aan die wet moet nou ‘n ernstige oortreding hanteer: die ontheiliging van die Sabbat deur “hierdie man”. Genesing van nie-lewensbedreigende siektes moes oorstaan na ‘n ander dag. Daarmee saam het Jesus klei aangemaak – een van die 39 verbode take op die Sabbat, en die man se oë daarmee gesalf.

 

Die man beskryf Jesus as ‘n profeet, maar die Jode reageer glad nie hierop nie (9:17). Hulle fokus eerder op ‘n eenvoudiger saak, naamlik die egtheid van sy destydse blindheid en impliseer dat hy leuens daaroor en oor sy genesing vertel. Sy ouers word as getuies ingeroep. Hulle is bang vir die Jode en distansieer hulle van hulle seun en sy ervaring.

 

Die hele Johannes 9 is eintlik ‘n lang hofsaak waar verskillende getuies geroep en ondervra word. Die eerste wat die man die genesing herroep aan sy bure in vers 11 neem dit hom een vers, die tweede keer aan die Fariseërs in vers 17 slegs ‘n halwe vers en die derde maal aan die Jode in vers 24 weier hy om dit te doen, want dit is duidelik dat die wat hom ondervra nie in die waarheid belangstel nie. Hulle probeer dat hy Moses eerder as Jesus kies, die sekuriteit van die wet bo die vryheid van die Waarheid, hulle gesag eerder as sy ervaring van die Openbaring.

 

Die vet is in die vuur en die grense word duidelik deur die leiers getrek: Hy mag dalk ‘n dissipel van “hierdie man” wees, maar hulle is dissipels van Moses, die ware profeet. Hulle staan vas op hulle oortuigings oor Moses, wie se verhouding met God bekend aan hulle was, maar weet niks van “hierdie man” nie. Hiermee sê hulle eintlik: “Ons is reg en jy is verkeerd. Hierdie man kan nie van God af wees nie. Jy dwaal in die duisternis en ons is in die lig.” (9:29).

Op hierdie punt van die verhaal sou ‘n mens verwag die man sou stilbly, of selfs sy aanspraak dat Jesus ‘n profeet is, ontken. Die Joodse leiers was immers invloedryke en magtige persone wat die lewe vir hom moeilik kon maak.

 

Nes ‘n mens wil vra waar Jesus is, maak Hy weer sy verskyning. Nadat Hy die nuus ontvang het dat die man “weggestuur” is, het Hy hom “gevind” en hom gevra of hy in die Seun van die mens glo (9:35). Die man besef toe nie dat dit die einste Jesus is wat voor hom staan nie. Jesus sê toe vir hom: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”. Die laaste gesprek wat hulle gehad het was immers toe die man nog blind was.

 

Dadelik raak hierdie storie diep persoonlik. Die man ontmoet sy geneesheer.

“Jy sien My, dit is Ek wat met jou praat.”

 

Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou?

 

“Sien jy My, hoor jy My, dit is Ek wat met jou praat.”

 

Die Jode in hierdie verhaal is ongemaklik met Jesus omdat Hy nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Inteendeel het hulle eintlik geen verwagtinge nie, want hulle was oortuig dat hulle reeds die volle kennis en insig van God het. Hulle het godsdienstige reels en regulasies wat hulle al in hulle slaap kon opsê, waaronder die oor die Sabbat. Hulle verstaan alles, begryp alles, weet alles. Daarom is hulle ontsteld oor “hierdie man” wat kan genees en homself as profeet verkondig. Hy stir, waar daar nie gestir moet word nie.

 

Die Lewende God kan nie voorgeskryf word nie. Hulle wat dink hulle lewe in die lig, leef dalk in werklikheid in die donkerte. Hulle wat nooit uitgedaag kan word om anders te dink oor wie God is, of hoe Jesus te werk gaan nie, maak van geloof ‘n afgodsdiens. Hulle wat so seker is van hulle saak dat daar geen ruimte vir vrae of twyfel is nie, bou mure wat veilige hawes skep, maar eintlik net tronkmure is wat die ware liefde van hulle af weghou.

 

Die Seun van die mens wil grense deurbreek en nuwe moontlikhede oopmaak sodat elkeen wat Hom aanroep, verwonderd mag staan oor wie Hy is.

 

“Sien jy My, hoor jy My, dit is Ek wat met jou praat.”

 

Amen.

1 Korintiërs 3: Hoe lyk jou bouwerk?

Paulus stig die gemeente van Korinte tydens sy tweede sendingreis, iewers in die omgewing van 50nC. Na ‘n bediening van omtrent 18maande, vertrek Paulus saam met Akwila en Priscilla, die purperverkopers, na Palestina en, Apollos volg hom in Korinte op as geestelike leier.

 

Tot sover is dit goeie nuus. Toe, tydens sy verblyf in Efese vertel Chloë en haar mense vir Paulus dat daar in Korinte ‘n persoonlikheidkultus ontstaan het. Die gemeente het eerder na charismatiese sprekers as die Woord begin luister. Dit het die gemeente in groepe verdeel. En ongelukkig was Paulus en Apollos se aanhangers die voorbokke van die verdeeldheid.

 

Apollos, as begaafde spreker, se bedieningstyl het hulle positief geïnspireer. Hulle was opgewonde oor die evangelie en ook oor die gemeente se toekoms. Paulus se aanhangers het weer aanklank gevind by sy kalm en beredeneerde bedieningstyl. Vir hulle was sy uitleg van die grondwaarhede van kardinale belang; miskien omdat hulle ongelowiges was wat tot bekering gekom het en ‘n behoefte aan die onvervalste leer van die evangelie gehad het. Hierin het Paulus volhard ten spyte van kritiek op sy werkswyse.

 

Sefas se aanhangers het weer vasgeklou aan sy boodskap wat hulle herinner het aan die tyd toe hulle nog in Jerusalem was. ‘n Vierde groep het hulle aan “Christus” verbind. Wie hulle was, weet ons nie presies nie behalwe dat hulle klieks gevorm het. In hulle oë was hulle beter as ander want hulle het verskeie geestesgawes beoefen.

 

Om op te som was daar vier groepe in die gelowige gemeenskap van Korinte: Die Apollos groep wat van ‘n charismatiese opgewonde evangelie gehou het; Die Paulus groep wat van ‘n kalm geberedeneerde uitleg van die Woord gehou het; Die Sefas groep wat vasgeklou het aan hoe dit in die verlede was; en die sogenaamde Christus groep wat hulself as beter as ander beskou het omdat hulle geestesgawes beoefen.

 

Hierdie groepvorming rondom gemeenteleiers het ‘n bedreiging vir die gemeente ingehou. Net soos wat dit vandag nog ‘n bedreiging vir die kerk in die breë, en ons almal vandag hier saam inhou. So skryf Paulus net voor Pinkster in 54/55nC ‘n brief aan hulle om die genade van die Here vir hulle as gemeente te verduidelik. Ons lees hierdie brief in 1 Korintiërs 3.

 

(Lees 1 Korintiërs 3)

 

In hierdie gedeelte sê Paulus vir die gemeente: Onthou, God het die gemeente van Korinte op Jesus Christus as fondament gebou. Daarom is die gemeente God se eiendom waarin Hy deur sy Gees woon. Daarom mag ‘n bouer net op dieselfde fondament, Jesus Christus die Here, voortbou. Dit het Paulus self deur die Here se genade in Korinte gedoen. Apollos het saam met hom gedien, terwyl elkeen op sy eie manier en tyd in die gemeente werksaam was.

 

Daarom, sê Paulus, is dit so hartseer dat dit nie meer vir Korinte gaan om Jesus nie, maar om die menslike ek. Die resultaat hiervan in groepvorming, wat lei tot onderlinge konflik. Uiteindelik kom God se Naam in gedrag. So verloor die gemeente sy vermoë om ‘n verskil in die wêreld te maak.

 

Vandag is dit nog só. Die oomblik wanneer dit oor die eie ek gaan, ontstaan daar groepvorming wat lei tot konflik. Dan is dit ek teenoor jy, ons teenoor julle. Wit teenoor bruin, bruin teenoor swart, swart teenoor wit, en arm teenoor ryk. Die resultaat is huwelike wat verbrokkel, huisgesinne wat opbreek, samelewingstrukture wat in duie stort. Geboue word afgebrand, menseregte word vertrap en delikate verhoudings waaraan hard gewerk is, word in ‘n oogwink vernietig. So verdeel ‘n kerk of gemeente ook in groepe. Die een groep sê ja, en die ander sê nee. Konflik ontstaan tussen lidmate wat lei tot vermindering van getalle en selfs skeuring.

 

Hoekom gebeur dit? Want ‘n ek-fondament beteken dat kerk-wees vir mense gaan oor sit, wag en ontvang, terwyl hulle fokus op wat hulle as verkeerd kan uitwys. Ek sal ‘n erediens bywoon as die boodskap of predikant my pas. Ek sal help by ‘n diensgroep as en wanneer dit my pas. Hierdie selfgerigte houding is presies die teenoorgestelde van ‘n houding wat op Jesus as die fondament bou. Wie op Jesus bou, sal ten spyte van die gemeente se menslike foute en lidmate se verskillende persoonlikhede en behoeftes, saam met ander begin bou op beginsels wat Jesus in sy Woord neergelê het.

 

Die kerk is daarom nie ‘n luukse restaurant, waar ek maar net kan inkom, van die spyskaart kan kies wat om te eet en wag dat my behoeftes aangespreek moet word nie. Nog minder is die predikante, ouderlinge, diakens en ander lidmate kelners wat net daar is om my behoeftes te bevredig. Daarom daag Paulus Korinte, maar ons ook vir uit: Laat staan die ek-fondament. Vergeet van dit wat vir my belangrik is en van die wat ander gedoen of gesê het. Fokus net op Jesus as fondament. Die Here stel belang of ek aan sy kerk gebou het, omdat Jesus vir my die belangrikste is. Is ek bereid om dit te doen, alleen en ook saam met ander?

 

As ek seker is van my verhouding met die Here, hoekom is ek dan onverskillig, apaties, gee-nie-om-nie teenoor die Here se kerk? Dan pas die vrugte wat ek dra tog nie by die boom wat ek is nie. En dit sal die Here nie ongestraf laat bly nie, want in werklikheid is ek besig om die gemeente te verwoes en God oneer aan te doen!

 

As Jesus my persoonlike fondament is, maar ook die fondament waarop ek in die gemeente bou dan sal ek God se versekering ontvang dat:

 

  • Die stormwinde kan maar aan die gemeente ruk en pluk, maar dit sal bly voortbestaan omdat die fondament op rots is, dit is dat Jesus die Here is. (Mat 7:24)

 

  • Niks my as gelowige ooit uit God se hand sal ruk nie, want Hy is my Herder. (Joh 10:27-28)

 

  • Ek in die vreugde kan deel om saam met ander in diens van God en sy kerk te wees, want hiervoor het Jesus met sy bloed betaal. (Filippense 2:1-5)

 

Hoe lyk my bouwerk? Bou ek op my eie behoeftes, of bou ek op Jesus Christus as my fondament?

Lukas 10: Die Here roep na jou

Dink aan al die padverkeer op aarde; al die motors, motorfietse en vragmotors in al die stede, dorpe en landelike gebiede wat ry en stop, wegtrek, versnel en draai, en besef dat daar op hierdie oomblik meer aktiwiteit in jou brein aan die gang is!

 

So het jou brein met al sy gedagtes die vermoë om jou half afwesig te maak in die oomblik waarin jy nou leef. Dit is egter die enigste plek waar jy kan leef – jou brein steel dus jou lewe!

 

Daar is wetenskaplik bewys dat mense met ‘n wandering mind minder gelukkig is as mense wat in die hier en nou leef. ‘n Ander studie het gevind dat Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD) bevorder word wanneer klein kindertjies baie TV kyk. Die TV leer ons aandag om rond te spring, met die gevolg dat dit al moeiliker word om die geraas van ander gedagtes stil te maak en aandag aan een ding te gee.

 

Moderne maniere van aandag gee wil jou nie toelaat om met jou liggaam kontak te maak of jou liggaam te laat ontspan of op enige manier meer in die hede teenwoordig te wees nie. Daar is nie tyd om tot rus te kom en sodoende dieper in die hier en nou in te daal nie.

 

In plaas daarvan om jou te bekommer, kan jy eerder daarop fokus om dit te doen wat nou goed is!

 

Kom ons oefen

 

  • Kyk na jou hande en sluit jou oë.
  • Voel hoe jou lyf nou voel.
  • Haal aandagtig asem: Trek jou asem ‘n bietjie dieper as gewoonlik in, voel die spanning in jou en voel dan die uitvloei van jou asem.
  • Herhaal dit nog twee maal.
  • Let op of jou lyf nou anders voel, al is dit minimaal.
  • Maak jou oë nou rustig oop en kyk weer na jou hande. Merk jy iets meer op as aan die begin van die oefening?

 

Kom ons lees Lukas 10:38-42 x2

 

Jesus en sy twaalf dissipels was op reis oppad na Jerusalem. Hulle kom toe aan in die dorpie Betanië waar hulle by Marta en Maria tuisgaan, waarskynlik was Lasarus ook daar soos ons dit in Johannes 11 vind. Betanië was Oos van Jerigo, teen die oostelike hang van berg Olivet. Die afstand tussen Betanië en Jerusalem was ongeveer drie kilometer.

 

Marta ontvang Jesus en sy twaalf dissipels as gas in haar huis, ‘n goeie huisvrou. En tot op hierdie punt is dit ‘n baie mooi en edele storie waaroor daar dalk in die Goeie Huishouding tydskrif geskryf kan word. Alles is goed in die lieflike huis in Betanië.

 

‘n Oomblik gelede het Marta vir Jesus hartlik ontvang en nou sit haar suster Maria reeds by die voete van Jesus, daardie selfde voete wat sy op ‘n later stadium sal salf. Hier sit sy nou en luister aandagtig na elke woord wat uit die hart van Christus kom en rol oor Sy lippe. Alles is goed. Alles is goed.

 

Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak (v40).

 

Arme vrou! Ons simpatiseer met haar, doen ons nie? Marta se gedagtes was getrek in alle rigtings. Sy het seker gedink: “Hoe sal ek ooit kan omsien na al die detail van hierdie spoggerige maaltyd: die voorgereg, die slaai, die vleis, die groente, die souse, die broodrolletjies, die nagereg, wie gaan waar aan die tafel sit? En dit alles vir:

 

  • Jesus en vir Lasarus
  • Maria en ook ekself Marta, plus
  • Petrus, Andrias, Jakobus en Johannes
  • Filippus, Bartholomeus,
  • Matteus, en Tomas ook,
  • Jakobus die mindere en Judas die meerdere,
  • Simon en Judas.

 

Al word Lasarus se naam van die lysie afgetrek omdat hy nie eksplisiet in die verhaal genoem word nie, is dit steeds vyftien mense!

 

Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” (v40).

 

Al  hierdie werk wat Maria doen, en Marta sit net daar…en niks doen nie! Marta ontplof van woede. Sy is uit die veld geslaan. Sy voel dat sy goeie rede het om kwaad te wees. In haar uitbarsting vind sy nie net met Maria fout nie, maar ook met Jesus wat haar toelaat om net daar te sit, sonder om iets te doen.

 

“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” (v41-42).

 

Die uitdrukking, “Marta, Marta” wys verseker dat Jesus afkeer wat sy sê. Marta was na binne bekommerd en na buite ontsteld. Dit is duidelik van die manier hoe sy opgetree en gepraat het oor baie dinge. Amper soos om te sê: “So ‘n groot ete was nie belangrik nie, inelkgeval, daar is dinge wat baie meer belangrik is as om te eet.”

 

Net een ding is nodig sê Jesus. Hierdie een ding het Maria gekies, om te luister na die woorde van Jesus. Kan daar feitlik enige iets meer belangrik wees as om heelhartig te luister na die woorde van ons Here Jesus Christus? Dit, en niks anders nie, is die gedeelte wat belangrik is en nooit weggeneem sal word nie.

 

Ons kan ook tereg vra of Jesus nie te hard op Marta was nie…

  • Behalwe vir die laaste goedjies, sou die maaltyd al gereed gewees het toe Jesus en sy dissipels daar aankom. Was daar nie altyd iemand vooruit gestuur om aankoms aan te kondig nie?
  • Dit beteken ook dat met aankoms een van die susters die geëerde gaste moes vermaak. Of eerder, moes gereed wees om by hulle voete te sit en te luister na hulle woorde. Om dit nie te doen nie, sou onwelvoeglik gewees het en nie goeie maniere nie. Daarom het Maria presies die regte ding gedoen.
  • Vers 40 wil dit laat klink asof Maria reeds voorheen in die kombuis gehelp het met die voorbereiding van die maaltyd.

 

Ons almal is soms sterker in die hier en nou teenwoordig as ander kere. Hoe voel ons oor die volgende stelling? “Ons gedagtes laat dikwels ‘n probleem ‘n skaduwee gooi wat langer en groter is as die ding self”. Hoe het Marta se gedagtes ‘n skaduwee gegooi oor die feit dat Jesus teenwoordig was in haar huis? Wat het Marta gekeer om die teenwoordigheid van Jesus Christus te omarm, om dit te geniet soos haar suster Maria?

 

Jesus stel aan Marta voor om oop vir die oomblik te wees, om teenwoordig te wees saam met Hom, in die hier en nou.

 

Hoe sluit Marta of Maria se ervaring by jou aan? Ons kan maklik bekommerd raak wanneer ons beheer word deur ons eie ego. Wat gaan die mense sê van my vuil kombuis? Die eintlike probleem kom na vore die oomblik as ‘n vuil kombuis belangriker raak as ‘n oomblik saam met die Here. Die Here roep jou in die hier en nou in.

 

Die Here is met jou, hier en nou, jy kort niks nie. Hy laat jou rus op sagte grasperke. Hy bring jou na waters waar daar vrede is. Hy gee jou nuwe krag. Hy lei jou op die regte paaie. Selfs al raak dit donker, hoef jy nie bang te wees nie, want Hy is met jou, hier en nou. Jy is veilig. Sy goedheid en liefde sal jou lewe lank met jou wees.

 

Die Here roep na jou, in die hier en nou.

Amen.