Paulus stig die gemeente van Korinte tydens sy tweede sendingreis, iewers in die omgewing van 50nC. Na ‘n bediening van omtrent 18maande, vertrek Paulus saam met Akwila en Priscilla, die purperverkopers, na Palestina en, Apollos volg hom in Korinte op as geestelike leier.
Tot sover is dit goeie nuus. Toe, tydens sy verblyf in Efese vertel Chloë en haar mense vir Paulus dat daar in Korinte ‘n persoonlikheidkultus ontstaan het. Die gemeente het eerder na charismatiese sprekers as die Woord begin luister. Dit het die gemeente in groepe verdeel. En ongelukkig was Paulus en Apollos se aanhangers die voorbokke van die verdeeldheid.
Apollos, as begaafde spreker, se bedieningstyl het hulle positief geïnspireer. Hulle was opgewonde oor die evangelie en ook oor die gemeente se toekoms. Paulus se aanhangers het weer aanklank gevind by sy kalm en beredeneerde bedieningstyl. Vir hulle was sy uitleg van die grondwaarhede van kardinale belang; miskien omdat hulle ongelowiges was wat tot bekering gekom het en ‘n behoefte aan die onvervalste leer van die evangelie gehad het. Hierin het Paulus volhard ten spyte van kritiek op sy werkswyse.
Sefas se aanhangers het weer vasgeklou aan sy boodskap wat hulle herinner het aan die tyd toe hulle nog in Jerusalem was. ‘n Vierde groep het hulle aan “Christus” verbind. Wie hulle was, weet ons nie presies nie behalwe dat hulle klieks gevorm het. In hulle oë was hulle beter as ander want hulle het verskeie geestesgawes beoefen.
Om op te som was daar vier groepe in die gelowige gemeenskap van Korinte: Die Apollos groep wat van ‘n charismatiese opgewonde evangelie gehou het; Die Paulus groep wat van ‘n kalm geberedeneerde uitleg van die Woord gehou het; Die Sefas groep wat vasgeklou het aan hoe dit in die verlede was; en die sogenaamde Christus groep wat hulself as beter as ander beskou het omdat hulle geestesgawes beoefen.
Hierdie groepvorming rondom gemeenteleiers het ‘n bedreiging vir die gemeente ingehou. Net soos wat dit vandag nog ‘n bedreiging vir die kerk in die breë, en ons almal vandag hier saam inhou. So skryf Paulus net voor Pinkster in 54/55nC ‘n brief aan hulle om die genade van die Here vir hulle as gemeente te verduidelik. Ons lees hierdie brief in 1 Korintiërs 3.
(Lees 1 Korintiërs 3)
In hierdie gedeelte sê Paulus vir die gemeente: Onthou, God het die gemeente van Korinte op Jesus Christus as fondament gebou. Daarom is die gemeente God se eiendom waarin Hy deur sy Gees woon. Daarom mag ‘n bouer net op dieselfde fondament, Jesus Christus die Here, voortbou. Dit het Paulus self deur die Here se genade in Korinte gedoen. Apollos het saam met hom gedien, terwyl elkeen op sy eie manier en tyd in die gemeente werksaam was.
Daarom, sê Paulus, is dit so hartseer dat dit nie meer vir Korinte gaan om Jesus nie, maar om die menslike ek. Die resultaat hiervan in groepvorming, wat lei tot onderlinge konflik. Uiteindelik kom God se Naam in gedrag. So verloor die gemeente sy vermoë om ‘n verskil in die wêreld te maak.
Vandag is dit nog só. Die oomblik wanneer dit oor die eie ek gaan, ontstaan daar groepvorming wat lei tot konflik. Dan is dit ek teenoor jy, ons teenoor julle. Wit teenoor bruin, bruin teenoor swart, swart teenoor wit, en arm teenoor ryk. Die resultaat is huwelike wat verbrokkel, huisgesinne wat opbreek, samelewingstrukture wat in duie stort. Geboue word afgebrand, menseregte word vertrap en delikate verhoudings waaraan hard gewerk is, word in ‘n oogwink vernietig. So verdeel ‘n kerk of gemeente ook in groepe. Die een groep sê ja, en die ander sê nee. Konflik ontstaan tussen lidmate wat lei tot vermindering van getalle en selfs skeuring.
Hoekom gebeur dit? Want ‘n ek-fondament beteken dat kerk-wees vir mense gaan oor sit, wag en ontvang, terwyl hulle fokus op wat hulle as verkeerd kan uitwys. Ek sal ‘n erediens bywoon as die boodskap of predikant my pas. Ek sal help by ‘n diensgroep as en wanneer dit my pas. Hierdie selfgerigte houding is presies die teenoorgestelde van ‘n houding wat op Jesus as die fondament bou. Wie op Jesus bou, sal ten spyte van die gemeente se menslike foute en lidmate se verskillende persoonlikhede en behoeftes, saam met ander begin bou op beginsels wat Jesus in sy Woord neergelê het.
Die kerk is daarom nie ‘n luukse restaurant, waar ek maar net kan inkom, van die spyskaart kan kies wat om te eet en wag dat my behoeftes aangespreek moet word nie. Nog minder is die predikante, ouderlinge, diakens en ander lidmate kelners wat net daar is om my behoeftes te bevredig. Daarom daag Paulus Korinte, maar ons ook vir uit: Laat staan die ek-fondament. Vergeet van dit wat vir my belangrik is en van die wat ander gedoen of gesê het. Fokus net op Jesus as fondament. Die Here stel belang of ek aan sy kerk gebou het, omdat Jesus vir my die belangrikste is. Is ek bereid om dit te doen, alleen en ook saam met ander?
As ek seker is van my verhouding met die Here, hoekom is ek dan onverskillig, apaties, gee-nie-om-nie teenoor die Here se kerk? Dan pas die vrugte wat ek dra tog nie by die boom wat ek is nie. En dit sal die Here nie ongestraf laat bly nie, want in werklikheid is ek besig om die gemeente te verwoes en God oneer aan te doen!
As Jesus my persoonlike fondament is, maar ook die fondament waarop ek in die gemeente bou dan sal ek God se versekering ontvang dat:
- Die stormwinde kan maar aan die gemeente ruk en pluk, maar dit sal bly voortbestaan omdat die fondament op rots is, dit is dat Jesus die Here is. (Mat 7:24)
- Niks my as gelowige ooit uit God se hand sal ruk nie, want Hy is my Herder. (Joh 10:27-28)
- Ek in die vreugde kan deel om saam met ander in diens van God en sy kerk te wees, want hiervoor het Jesus met sy bloed betaal. (Filippense 2:1-5)
Hoe lyk my bouwerk? Bou ek op my eie behoeftes, of bou ek op Jesus Christus as my fondament?