In hierdie verhaal van Johannes 9, die genesing van die blinde man, kan die beelde van lig en donker, sien en nie-sien, nie gemis word nie. In hierdie verhaal stry die Jode oor die identiteit van Jesus. Volgens die Ou Testament is dit slegs God en die Messias wat blindes kan laat sien. Hierdie wonderteken van Jesus is dus ‘n bewys dat Hy die Messias is: self ook God, ‘n konsep wat die Jode moeilik geglo het.
Die genesing van die blinde man is die sesde van sewe tekens wat Jesus uitvoer. Die ander tekens is:
- Die troue in Kana (2:1-11).
- Die genesing van die offisier se seun (4:46-53).
- Die genesing van die verlamde (5:2-9).
- Die vermeerdering van die brood (6:1-13).
- Jesus wat op die see loop (6:16-21).
- Die genesing van die blinde man (9:1-41).
- Die opwekking van Lasarus uit die dood (11:17-44), hieroor gesels ons volgende week.
Ons het hier te doen met ‘n belangrike verhaal in die Boek van Tekens wat aan lesers ‘n duidelike boodskap oor die identiteit van Jesus wil oordra, dat Hy wel die Seun van die mens is.
Jesus is aan die stap en “sien” dan ‘n man wat van sy geboorte af “blind” was (9:1). Hierdie volwasse man ken geen ander werklikheid as die wêreld van ‘n blinde persoon nie. In die antieke wêreld het fisieke siekte en gestremdheid groot implikasies gehad. As ‘n babatjie met ‘n gestremdheid se lewe gespaar was, was sy of haar lewe gekenmerk deur sosiale en godsdienstige uitsluiting.
Mense sou draaie om hulle geloop het en hierdie persone sou gewoonlik op die rand van die dorp of stad probeer oorleef het, afhanklik van ander se bydraes.
Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou?
Die fokus val op die blinde man.
Die feit dat die blinde man nie ‘n naam het nie is ‘n tegniek wat Johannes gebruik om ons in die storie in te trek. Eerder as wat ons toeskouers van die storie is, kan ons nou ons eie naam vir die man sonder naam gee, en deelnemers in die storie raak.
Wat ‘n baie diep vraag na vore roep: “Francois, sien jy raak wat om jou aan die gang is?”
Al sou Jesus net ‘n woord van genesing kon uitspreek, gaan Hy hier anders te werk. Hy spoeg op die grond en maak daarmee ‘n bietjie klei aan (9:6). So grillerig soos wat ‘n spoeg-en-kleimengsel vir ons vandag mag wees, was dit nie ongewoon in die antieke wêreld nie. Daar is geglo dat speeksel van belangrike mense kon gesond maak. Dit was wel ‘n gebruik wat soms met magiese kragte geassosieer is en daarom met versigtigheid in die Joodse wêreld gebruik was.
Die klei is aan die man se oë gesmeer en hy word deur Jesus “gestuur” na die Siloambad om homself te gaan was. Volgens tradisie was dit ‘n plek van reiniging. Die man het die opdrag uitgevoer en met sy terugkeer was sy sig herstel (9:6-7). Vir die eerste keer in sy lewe was hy nou sosiaal aanvaarbaar tussen sy mense. Hy sou nie langer as uitgeworpene op die rand van die samelewing leef nie. ‘n Nuwe lewe het vir hom aangebreek.
Ons moet besef dat die man hier nie net ‘n fisiese verandering ondergaan het nie, maar ook ‘n spirituele verandering ondergaan het. Omdat die begeerte daar was om te verander het sy geloof in dade oorgegaan. Die teenwoordigheid van Jesus was die katalisator, Jesus het sy reeds ingebore geloof aangespoor.
Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou? Of wil ons eerder die gaan ontmoet op die randte van ons dorp en winkelsentrums? Wil ons die randfigure help verander, vernuwe, deur hulle bloot te stel aan die teenwoordigheid van Jesus Christus?
In Johannes 9:8-9 lees ons die eerste keer dat die man, behalwe vir sy blindheid ook ‘n bedelaar was. Ons kan ons voorstel dat, toe Jesus en die dissipels hom gesien het, hy gesit en bedel het op ‘n besige plek. Ons lees later in die verhaal van die man se ouers. Hy was nie ‘n weeskind nie, maar as gevolg van sy blindheid het hy soos een gelewe.
Vir die eerste keer in die verhaal praat die man self en bevestig sy identiteit: “Dit is ek!”.
Van hier af word die spanning wat die wonderwerk veroorsaak het, toenemend duidelik.
Hierdie groep Jode, getrou aan die wet moet nou ‘n ernstige oortreding hanteer: die ontheiliging van die Sabbat deur “hierdie man”. Genesing van nie-lewensbedreigende siektes moes oorstaan na ‘n ander dag. Daarmee saam het Jesus klei aangemaak – een van die 39 verbode take op die Sabbat, en die man se oë daarmee gesalf.
Die man beskryf Jesus as ‘n profeet, maar die Jode reageer glad nie hierop nie (9:17). Hulle fokus eerder op ‘n eenvoudiger saak, naamlik die egtheid van sy destydse blindheid en impliseer dat hy leuens daaroor en oor sy genesing vertel. Sy ouers word as getuies ingeroep. Hulle is bang vir die Jode en distansieer hulle van hulle seun en sy ervaring.
Die hele Johannes 9 is eintlik ‘n lang hofsaak waar verskillende getuies geroep en ondervra word. Die eerste wat die man die genesing herroep aan sy bure in vers 11 neem dit hom een vers, die tweede keer aan die Fariseërs in vers 17 slegs ‘n halwe vers en die derde maal aan die Jode in vers 24 weier hy om dit te doen, want dit is duidelik dat die wat hom ondervra nie in die waarheid belangstel nie. Hulle probeer dat hy Moses eerder as Jesus kies, die sekuriteit van die wet bo die vryheid van die Waarheid, hulle gesag eerder as sy ervaring van die Openbaring.
Die vet is in die vuur en die grense word duidelik deur die leiers getrek: Hy mag dalk ‘n dissipel van “hierdie man” wees, maar hulle is dissipels van Moses, die ware profeet. Hulle staan vas op hulle oortuigings oor Moses, wie se verhouding met God bekend aan hulle was, maar weet niks van “hierdie man” nie. Hiermee sê hulle eintlik: “Ons is reg en jy is verkeerd. Hierdie man kan nie van God af wees nie. Jy dwaal in die duisternis en ons is in die lig.” (9:29).
Op hierdie punt van die verhaal sou ‘n mens verwag die man sou stilbly, of selfs sy aanspraak dat Jesus ‘n profeet is, ontken. Die Joodse leiers was immers invloedryke en magtige persone wat die lewe vir hom moeilik kon maak.
Nes ‘n mens wil vra waar Jesus is, maak Hy weer sy verskyning. Nadat Hy die nuus ontvang het dat die man “weggestuur” is, het Hy hom “gevind” en hom gevra of hy in die Seun van die mens glo (9:35). Die man besef toe nie dat dit die einste Jesus is wat voor hom staan nie. Jesus sê toe vir hom: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”. Die laaste gesprek wat hulle gehad het was immers toe die man nog blind was.
Dadelik raak hierdie storie diep persoonlik. Die man ontmoet sy geneesheer.
“Jy sien My, dit is Ek wat met jou praat.”
Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou?
“Sien jy My, hoor jy My, dit is Ek wat met jou praat.”
Die Jode in hierdie verhaal is ongemaklik met Jesus omdat Hy nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Inteendeel het hulle eintlik geen verwagtinge nie, want hulle was oortuig dat hulle reeds die volle kennis en insig van God het. Hulle het godsdienstige reels en regulasies wat hulle al in hulle slaap kon opsê, waaronder die oor die Sabbat. Hulle verstaan alles, begryp alles, weet alles. Daarom is hulle ontsteld oor “hierdie man” wat kan genees en homself as profeet verkondig. Hy stir, waar daar nie gestir moet word nie.
Die Lewende God kan nie voorgeskryf word nie. Hulle wat dink hulle lewe in die lig, leef dalk in werklikheid in die donkerte. Hulle wat nooit uitgedaag kan word om anders te dink oor wie God is, of hoe Jesus te werk gaan nie, maak van geloof ‘n afgodsdiens. Hulle wat so seker is van hulle saak dat daar geen ruimte vir vrae of twyfel is nie, bou mure wat veilige hawes skep, maar eintlik net tronkmure is wat die ware liefde van hulle af weghou.
Die Seun van die mens wil grense deurbreek en nuwe moontlikhede oopmaak sodat elkeen wat Hom aanroep, verwonderd mag staan oor wie Hy is.
“Sien jy My, hoor jy My, dit is Ek wat met jou praat.”
Amen.