Lukas 7: Vir spys en drank

Jy laat jou kinders die tafel dek, ‘n vars helder wit tafeldoek met ‘n blou strepe regdeur van punt tot punt. Messe en vurke soos ma julle geleer het, en julle kan lepels ook dek, ons kry vanaand ‘n spesiale gas.

 

Almal kuier lekker gemaklik in die kombuis, die voordeur klokkie lui, hallo oom. Oom ek gaan roep gou vir my pa. Jesus tree oor die drumpel, hy is binne julle huis. Die huis gloei ‘n warm geel-oranje kleur, die reuk van vars gebakte brood wat in die lug hang.

 

Julle gaan sit aan tafel.

 

Net toe julle sit, kom ‘n sekere vrou, wat ‘n reputasie gehad het, julle huis binne. Julle het die voordeur oop vergeet. En sy begin huil, en huil en huil. Almal kyk nou vir pa, wat nou weer ongemaklik na Jesus kyk, wat rustig sit, vol vrede.

 

Leonard Sweet praat van die “Foodie Bible” wanneer hy oor die Bybel praat in sy boek From Tablet to Table. Iemand het hom glo op ‘n dag uitgedaag en gesê hy moet die hele Bybel in ses sinne opsom: drie vir die Ou Testament en drie vir die Nuwe Testament.

 

Hy begin toe met die Ou Testament: “They tried to kill us. We survived. Let’s eat!”

 

Toe gee hy sy weergawe van die Nuwe Testament: “I love you! I forgive you! Let’s eat!”

 

Volgens Sweet het Jean Leclerc die beste definisie van die Evangelie, “Jesus ate good food with bad people.”, gehad. Dit herinner aan ‘n beskrywing van Jesus wat die wêreld deur versprei het: “’n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars…” (Lukas 7:35).

 

Jesus se eetgewoontes het ‘n leefstyl geword waarom Hy ‘n styl van dissipelskap ontwikkel het. Mens wonder soms hoe jy daaroor moet dink as jy sien wie saam met Hom aan tafel was en wat by die partytjies gebeur het waar Hy en sy dissipels opgedaag het.

 

In Johannes se vertelling van die Bruilof in Kana vertel hy dat die wyn opgeraak het toe Jesus en sy dissipels daar opgedaag het… Dit is duidelik dat Jesus se leefstyl, waarvan ‘n groot deel om tafels gebeur het, fyn dopgehou moet word. Sy tafelgenote, hulle saam met wie Hy eet, wat saam met Hom om die tafel is, wil ons iets sê oor God.

 

Leonard Sweet maak die opmerking dat die Ou en Nuwe Testament opgesom kan word in drie sinne elk. Elkeen se laaste sin is: “Kom ons eet.”. Watter ruimtes het ‘n etenstafel geskep dat dit so hoog geag word in die Bybelse tyd?

 

In ons teksgedeelte is dit ‘n vrou met ‘n reputasie wat haar verskyning maak aan die tafel. Jesus het geweet hoe die sosiale strukture van die dag werk. Vir Fariseërs, mens wat die wette en sosiale reëls van die dag streng nagevolg het, sou dit erg ongemaklik gewees het om saam met so ‘n vrou aan die tafel te sit. Dit kon selfs implikasies vir hulle reinheid ingehou het. Jesus laat haar sit. Watter ongemak maak hierdie vreemde tafelgenoot in jou wakker?

 

In daardie dae was daar baie gasvryheidsgebruike. Dit was onder andere gebruik om te sorg dat wanneer iemand by jou kom eet, sy voete gewas word, dat die gas ‘n soen van verwelkoming kry en ook gesalf word. Opmerklik dat Simon die Fariseër wat veronderstel was om die voorbeeld van rituele reinheid te wees, niks hiervan doen nie.

 

Die “sondige” vrou wat ongenooid haar verskyning maak, kom beskaam Simon deur Jesus se voete met haar trane te was, dit met haar hare af te droog, sy voete onophoudelik te soen en dit met duur olie te salf. Wat hoor jy in die gebeure?

 

Jesus eet saam met Simon, die gerespekteerde Fariseër, die kerkman. Hy is ewe gemaklik met die vrou wat ‘n reputasie in die dorp gehad het. Wat hoor jy in die gedeelte oor God se hart?

 

In die Joodse kultuur was daar baie reinheidswette wat ook op die geografie van die landskap betrekking gehad het. So was sekere plekke in ‘n stad of dorp reiner as ander. In Jerusalem byvoorbeeld was die tempel die simbool van reinheid en ook die middelpunt van die stad.

 

In die tempel het jy die Heiligdom en die Allerheiligste gekry, wat van mekaar met ‘n voorhangsel geskei is. Vandaar is daar in grade van heiligheid met konsentriese sirkels, sirkels soos jy ‘n klippie in ‘n dam sou gooi, al verder weg beweeg van hierdie episentrum of middelpunt van heiligheid.

 

Mense het natuurlik in die stad gewoon in hierdie meer of minder heilige dele, na gelang van hulle eie straat van reinheid. Lukas het hierdie grondplan van heiligheid goed verstaan en bou dit in sy evangelie uit. Mense wat naby aan die tempel gewoon het, is beskou as meer rein as die wat verder gewoon het.

 

Mense soos prostitute het die vêrste weg van die tempel gewoon – in die stadsmure. Dink maar aan Ragab die prostituut, wat die verspieders gehuisves het, en met die rooi tou gehelp het. Behalwe die geografie was daar ander lewenspraktyke wat jou reinheid bepaal het. Een van hulle was wie die mense aan jou etenstafel was. Kyk bietjie saam met wie Jesus aan tafel is. Wat sê dit vir jou oor Jesus?

 

Ons het dalk nie meer reinheidswette en -rituele wat ons vandag volg nie, maar ons klassifiseer mense steeds volgens waar hulle bly, wat hulle ry en wat hulle kry. Wanneer Jesus ewe gemaklik saam met Simon die Fariseër as met die “sondige” vrou om die tafel kan sit, wat wil Jesus ons leer oor ons houding teenoor mense? En wat wil dit vir ons sê oor die gemeenskap waarin ons bly wat mense takseer op waar hulle bly, wat hulle ry en wat hulle kry?

 

Jesus laat die vrou haar gang gaan in – van alle plekke – die Fariseër se huis. Hierdie onrein vrou vat aan Jesus, sy soen hom en vee met haar hare oor sy vel. En Jesus keer haar nie. Inteendeel, deur haar dit toe te laat verbreek Hy self ook die geldende reinheidskodes.

 

Dit is ook wat Hy orals in die Lukas-Evangelie doen: Hy deurbreek die geldende teenstelling tussen rein en onrein. Daar is vroeër ook gepraat oor die voorhangsel wat die Allerheiligste van die Heiligste in die tempel geskei het. In hoofstuk 23 bereik die verbreking van die rein-onrein-teenstelling ‘n hoogtepunt wanneer Jesus aan die kruis sterf en daardie voorhangsel middeldeur skeur.

 

Jesus wys deur die gebeure rondom Simon se tafel dat die “slegte” mense wat in die mure van die stad, ver van die Allerheiligste af, geleef het, soms inderwaarheid die naaste aan die Allerheiligste leef. Hulle weet hulle het God nodig; hulle besef dat hulle van sy vergifnis afhanklik is. Hoe groter iemand se besef van sy/haar afhanklikheid van God se vergifnis en genade is, hoe “reiner” is so ‘n persoon voor God. Of, soos dit in die bergrede gestel word: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”

 

Die kern van die blye boodskap van die evangelie van Jesus Christus is egter dat God mense red wat weet dat hulle hulleself nie kan red nie; dat hulle voor God “onrein” is – maar daardie besef van onreinheid is voor God juis ‘n teken van reinheid. En vir mense soos hierdie vrou weerklink Jesus se woorde tot in ons dag: “Jou sonde is vergewe.”

 

Daar is egter nog meer in hierdie teks en ons moet dit nie te gou uit die gedagte verloor nie. Jesus eet ook saam met ‘n Fariseër. Ja, met sy optrede daar aan tafel daag Jesus wel vir Simon uit, maar tegelykertyd is Jesus ook in Simon se huis en eet Hy aan die Fariseër se tafel.

 

In Lukas en Handelinge wys Lukas se tafelgesprekke vir ons dat Jesus ‘n besondere hart het vir sondaars soos hierdie vrou, vir tollenaars, vir armes en kreupeles, vir al die mense op die rand van die samelewing. Maar wat ons dikwels nie raaklees nie, is dat Hy ook ‘n hart vir Fariseërs het.

 

Die blote feit dat Jesus saam met hulle geëet het, dat Hy met hulle in gesprek getree het, is ‘n bewys dat Hy ook vir hulle omgee. God is met die saam met wie Hy eet. Jesus eet saam met onreines en reines; saam met die sondaars en heiliges; Hy eet in die geselskap van ‘n sondige vrou en ‘n vrome Fariseër.

 

Na alles wat in die gedeelte gebeur het – die voetesalwing, die gelykenis, en die verkondiging van vergifnis – sê Jesus vir die vrou: “Gaan in vrede.”. Dit is die heel laaste woorde in vers 50. In die lig van hierdie opdrag wat die vrou kry, naamlik om in vrede te gaan, vra Fred Craddock tereg: “Waarheen moet hierdie arme vrou nou gaan?”

 

Sy het hier kragdadig tot bekering gekom. Na haar ou vriende kan sy nie gaan nie, want sy gaan nie meer daar inpas nie en leef nou ‘n nuwe lewe. En die kerkmense gaan definitief ook nie vir haar kans sien nie. Sy het liefde aan Jesus bewys omdat sy vergeef is. Is daar êrens in die stad mense wat aan haar liefde gaan bewys omdat hulle ook soos sy vergeef is?

 

Ons het ‘n vergeefde kerk nodig wat liefde kan bewys en waarbinne vergeefde sondaars ‘n plek kan kry. Ons het ‘n kerk nodig, gelowige mense nodig, wat sê: “Jy is welkom hier by ons. Kom sit by ons tafel.”.

 

Martin Versfeld sê tereg: “Om iemand in jou huis in te neem, of jou kastrol, is om jou hart vir hom oop te maak.”

 

Vir spys en drank sê ons U dank, ons loof U naam, O Heer

Vir spys en drank sê ons U dank, ons loof U naam, O Heer

Alle goeie gawes, daal van die Hemel neer

Ons dank U heer, ja dank U heer

En wil U liefde eer.

 

Amen.

Johannes 14: Wil jy verander?

Op ‘n oorgangstydperk in die kerkjaar, soos vandag, waar ons op die randjie van pinkster staan, is dit belangrik om terug te kyk sodat ons weer met betekenis kan vorentoe kyk.

 

Met Kersfees het ons Jesus se geboorte herdenk, daar waar Hy van die voerbak van die diere, hulle tafel, gebore was om ons van ons sondes te verlos. Vanaf Epifanie (dit beteken verskyning) tot Lydenstyd het ons gesels oor Jesus se doop en Sy aardse bediening.  Vanaf Lydenstyd het ons gesels oor die gebeure rondom Jesus se versoeking in die woestyn, Sy lyding, Sy dood en wat dit vir ons elkeen beteken, en waaraan ons elkeen kan sterf om weer waarlik te lewe.

 

Met Paasfees, die tydperk waarin ons nou is, gesels ons oor Jesus se opstanding uit die dood. ‘n Tydperk van rondom 50dae waar Hy in verheerlikte vorm op aarde tussen mense en aan Sy dissipels verskyn het. Eerskomende Donderdag is dit Hemelvaart, waar ons herdenk dat Hy opgevaar het na die hemel, waar Hy solank ons plek gereed maak. En dan breek Pinkster aan waar ons feesvier oor die uitstorting van die Heilige Gees.

 

Dit was die buitenste kring, nou wil ek daardie kring nog kleiner trek. Ek het gesê dat ons vandag nog in die Paas tydperk is, waar ons gesels van toe Jesus in ‘n verheerlikte vorm aan Sy dissipels verskyn het. Vandag sit ons almal, soos sy dissipels van baie jare gelede, weer saam en luister na wat Hy te sê het.

 

Soos baie stories begin, begin vandag se storie aan tafel.

 

In Joh 13:2 is Jesus saam met Sy dissipels aan tafel, voordat hulle eet was Jesus hulle voete en leer hulle om ook so ander se voete te was. In Joh 13:23-27 wys Jesus sy verraaier aan. In Joh 13:34-35 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy weggaan. Hy bevestig ook weer die liefdesgebod. In Joh 13:38 verseker Jesus vir Petrus dat hy Hom sal verloën.

 

 

 

In Joh 14:1-12 verduidelik Jesus aan sy dissipels dat Hy gaan terugkeer na sy Vader, maar Hy gaan hulle nie soos weeskinders agterlaat nie. In Joh 14:15-31 belowe Hy hulle dat die Heilige Gees by hulle sal wees.

 

Dit alles gebeur aan tafel. Terwyl brood gebreek word en wyn gedeel word lê Jesus die toekoms uit. Donderdag herdenk ons die Hemelvaart en daarna die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster. Kom ons gesels vandag saam oor hierdie wonderlike belofte.

 

[lees Johannes 14:15-31]

 

In Johannes 14:16 belowe Jesus om ons Vader te vra om ‘n Voorspraak te stuur. Dit is die eerste van vyf uitsprake oor die Voorspraak. Voorspraak is ‘n ander naam vir Trooster, Helper of Advokaat. Dit dui op iemand wat in die hof iemand bystaan, bemoedig, troos en vir al sy/haar belange sorg. Die bedoeling is dat Jesus die Voorspraak sou wees, maar noudat Hy op die punt is om weg te gaan belowe Hy ‘n plaasvervanger. Jesus verklaar dat die Voorspraak vir ewig by sy dissipels en by ons sal wees.

 

Nog net ‘n klein rukkie dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Wie My lief het, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan Hom openbaar.

 

Judas vra dan: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

 

Judas hou nog vas aan die Joodse Messiasverwagting waarvolgens die Messias Hom as koning aan die volk, die wêreld, sou openbaar. Nou het Judas die indruk dat Jesus nie so ‘n plan het nie, maar dat Hy Hom aan ‘n kleiner kring wil openbaar. Nou wil Judas weet wat dan van daardie plan geword het.

 

Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.”

 

Hierdie woorde van Jesus kan maklik verkeerd verstaan word. Ons kan dink, die wat Hom nie liefhet nie, het nie deel aan Hom nie. En dit is presies reg. As ons nie vir Jesus lief het nie, het ons nie deel aan Hom nie. As ons Hom nie liefhet nie, sal ons Hom ook nie sien nie. As ons Hom nie lief het nie, sal Hy ook nie in ons woon nie. Dit klink rof, want dit is.

 

Ons dink baie dat die teenoorgestelde van liefde, haat is, maar dit is nie. Die teenoorgestelde van liefde, is vrees. Daarom kan ons selfs so ver gaan om te sê dat die wat vir Jesus bang is nie deel aan Hom sal hê nie, die wat vir Jesus bang is, sal Hom nie sien nie.

 

Vrees, of om bang te wees, ontstaan wanneer beheer uitgeoefen wil word en jy nie in staat is daartoe nie. ‘n Basiese manier om dit te verduidelik sal wees om te sê ek is bang wanneer ek bestuur, want ek kan nie die ander bestuurders beheer nie. Of wanneer ek sê ek is bang vir die donker, want ek kan nie beheer wat ek nie kan sien nie.

 

Liefde is egter om vertroue te plaas in dit wat jy nie kan sien nie, en vir die goeie te hoop. ‘n Radikale anderste manier van dink en voel. Liefde is om te vertrou dat die persoon in die ander baan in haar baan gaan bly. Liefde is om te vertrou dat dit wat ek nie kan sien nie, my nie kwaad wil aandoen nie.

 

Liefde begin wanneer ons elkeen ons eie kwesbaarheid erken. Liefde begin wanneer ons elkeen erken dat ons nie die belangrikste een in die kamer is nie. Liefde begin wanneer ons ander se kwesbaarheid raaksien en dit wil genees. Liefde begin wanneer ons juis die ander in die kamer wil laat belangrik voel. Wanneer ons vanuit kwesbaarheid liefde begin leef, belowe Jesus sal ons Hom sien, sal ons ervaar hoe Hy deur ons werk.

 

Wanneer ons vanuit onvoorwaardelike, onselfsugtige liefde leef, sal ons vrede begin ervaar. Vrede dat ons bestaan nie gaan oor opgaar en groter gaan nie, maar eerder gaan oor deel en ligter leef. Vrede is ‘n wonderlike gevoel om te ervaar. Om vanuit vrede te leef maak die wêreld wonderlik.

 

As jy vanuit vrees leef wil jy alles beheer, jou manier is die beste, en sterkte vir die wat anders as jy dink of doen. As jy vanuit vrees leef, sal dit ook vir jou moeilik wees om die wil van die Here te hoor, te sien, of nog meer te doen. Vrees bou hoë mure en hou uit. Vrees maak dat jy Jesus op ‘n afstand hou, want sê nou net Hy kom verander jou lewe!

 

Sê nou net Jesus kom breek jou mure af, sê nou net Jesus kom jou huis binne, sê nou net Hy kom sit by jou aan tafel, wat gaan jy maak? Jesus se teenwoordigheid in Saggeus se lewe het gemaak dat hy 2/3 van al sy besittings aan die armes gee. Ek kan verstaan hoekom jy bang is vir die teenwoordigheid van die Here! Ek kan verstaan hoekom jy Hom buite wil hou. Sê nou net Hy kom verander jou!

 

Jesus belowe die Heilige Gees aan die dissipels sodat hulle ook kan doen wat Hy gedoen het, sodat hulle ook met die krag en mag kan optree waarmee Hy opgetree het. Dit vra egter ‘n oorgawe aan Hom, dit vra blootstelling, dit vra kwesbaarheid, dit vra saggeaardheid, dit vra liefde. As jy vanuit die oerbron wil leef wat hierdie hele aarde tot stand gebring het, as jy vanuit ‘n diep stroom energie wil put, wil ek vandag vra: “Is jy bereid om lief te hê?”

 

Jesus is besig om van sy dissipels afskeid te neem en belowe aan hulle twee dinge: die Voorspraak wat die Heilige Gees is en sy vrede. Die twee staan nie los van mekaar nie, want waar die Heilige Gees in die hart is, daar is ook vrede.

 

Hierdie vrede is die erflating van Jesus en is daarom anders as die vrede wat die wêreld gee. Hierdie is die innerlike vrede wat vloei uit die regte verhouding met God.

 

Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, gewoonlik ‘n afwesigheid van stryd, oorlog of onenigheid. Daarom is die wêreld se vrede van korte duur en onseker; gewoonlik niks meer as ‘n hoop op vrede nie. Jesus skenk die vrede as ‘n werklikheid wat nie aan omstandighede gekoppel is nie. Juis in die mees ontwrigtende omstandighede bly daardie vrede in die hart omdat die kind van God weet dat sy saak met God reg is.

 

Hierdie Goddelike vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees. Omstandighede sal kom waarin jou geloof en moed tot die uiterste beproef sal word, maar in daardie uur sal die vrede wat Jesus gee, alle vrees verdryf.

 

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het, soos ons nou met die doop gesien het. God kom eerste na ons toe en sê vir ons dat Hy ons baie lief het. Liefde verdryf vrees, wat plek maak vir die vrede van die Heilige Gees.

 

Is jy opsoek na liefde?

Is jy opsoek na vrede?

Dan is die eintlike vraag: “Wil jy dat die Heilige Gees jou lewe verander?”

 

Hierdie het Jesus vir sy dissipels aan tafel vertel, hulle was nou elf in die kamer. Hulle het geweet dat hulle nie hoef te vrees as Jesus nie meer by hulle is nie, want die Heilige Gees, Jesus se gelyke, sal nou by hulle wees. Hulle het geweet dat hulle met dieselfde krag as Hy kan optree, sou hulle vanuit die Gees optree ter verheerliking van God. Hulle het rustig om die tafel gesit, ‘n innerlike vrede het oor hulle gespoel soos hulle in Jesus se blou oë gestaar het terwyl Hy gepraat het. Hy sê toe vir hulle: “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

 

Amen.

 

Lukas 4: Saam met Jesus aan tafel

Jesus was pas gedoop en het uitgesien na sy publieke bediening. Eers het Hy tyd geneem vir refleksie, vir stilword, in die woestyn. Watter tiepe Messias sou Hy wees? Sou Hy Sy mag vir Homself gebruik? Of, om ‘n magtige reik te vestig wat die wêreld oor sal regeer? Of om groot, al is dit sonder doel, wonderwerke te doen?

 

Hy het dit alles verwerp vir wat dit was, versoekings vanaf die duiwel. Omdat dit versoekings was, impliseer ook dat Jesus geweet het Hy kan dit alles doen. Dat Hy klippe in brode kon verander, of van ‘n krans afspring en deur engele gedra word. Jesus was nie gebonde deur die menslike beperkinge nie, Hy het geweet Hy het kragte wat ander mense nie het nie. Hy moes besluit hoe Hy dit gaan gebruik.

 

Vanuit die stilte van die woestyn, die versoeking van die duiwel, het Jesus toe ‘n teruggegaan na Galilea vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het ook na Nasaret gegaan, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan.

 

[lees saam Lukas 4:14-30]

 

Al was Jesus in Bethlehem gebore, en ‘n groot gedeelte van Sy bediening in Kapernaum was, het Hy ‘Jesus van Nasaret’ gebly. Nasaret was die plek waar Jesus grootgeword het, Sy tuisdorp.

 

Soos Sy gewoonte was het Hy na die sinagoge toe gegaan… Jesus het reeds alles geweet, Hy was vol van wysheid, en steeds gaan Hy gereeld na die sinagoge. Hoe gereeld kom ons as gelowiges bymekaar om saam te gesels oor die Woord? Is dit al ‘n gewoonte in ons lewens om gereeld te gesels oor wie God is en wat Hy vir ons doen?

 

 

 

 

 

 

 

 

Hoe die dinge normaalweg in die sinagoge sou gebeur:

  1. Shema, Danksegging, Shema
    1. “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.”
  2. Gebed
  3. Lees uit die Pentateug
  4. Lees uit die Profete
  5. Kort preek
  6. Seënbede waarop die gemeente met ‘Amen’ antwoord.

 

Jesus lees dan voor vanuit die Jesaja rol wat vir hom aangegee word deur een van die geleerdes in die sinagoge. Hy lees uit Jesaja 61:1&2.

 

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het…” Jesus is gedoop deur Johannes die doper en die oomblik toe Hy gedoop is het die hemel oopgegaan en die Heilige Gees het in ‘n sigbare gestalte op Hom neergedaal in die vorm van ‘n duif.

 

Hierdie ‘neerdaal van die Heilige Gees’ beteken dat Jesus die een was om die evangelie aan die armes te verkondig. Die woordjie ‘armes’ kom ook in die Saligsprekinge voor, ‘Salig of Gelukkig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele’. Die armes wat hier van gepraat word is die behoeftiges, die wat ‘n behoefte het. Jesaja 66:2 gaan verder deur te sê “Ek slaan ag op die mens in nood, op die een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord.”

 

Die gevangenis waarvan daar in vers 18 gepraat word dui op die bannelinge van die tyd. Die mense wat uit hulle eie land geneem was en weggesleep is na ‘n vreemde land waar hulle baie moeilike omstandighede moes deurmaak. Jesus het vir hierdie mense gekom. Die bannelinge. Die vreemdelinge.

 

Op ‘n ander vlak dui die gevangeneskap ook op die wat vasgevang is in hul sonde. Die wat verslaaf is aan… Die Here Jesus het gekom om die gevangenis te bevry van die greep van die onderdrukker, of dit nou iets of iemand is.

 

Hy het gekom sodat die wat blind is weer kan sien. Hy het gekom om die onderdruktes te bevry. Hy het gekom om genade aan te kondig.

 

Waar in jou lewe beleef jy ‘n armoede? En ek dink nie Jesus praat hier van ekonomiese armoede nie. Waar beleef jy ‘n spirituele armoede? Waarom sukkel jy so om tyd met die Here deur te bring? Wat keer jou om intiem met die Here te wees? Wanneer laas het jy Sy fluisterstem gehoor?

 

Sien jy nog regtig raak wat rondom jou aangaan? Is jy bewus van jou bure? Is jy bewus van die dinge wat in die riviertjie hier onder gebeur? Of is jy horende doof en sienende blind?

 

Sodra ons ongemaklik raak met ‘n situasie maak ons baie maklik of ons iets anders het om te doen, dan sit ons maklik oorfone in ons ore, of kyk af na ons selfone en lyk baie besig, net sodat niemand ons konfronteer met die werklikheid nie. Ja, ons skep baie maklik ons eie realiteite, ons eie droomwerelde, waar alles ok is, terwyl die dorp aan die brand is. Terwyl daar soveel stories van seer rondbeweeg en ons selfs help om die storie aan die beweeg te hou.

 

Jesus het gekom om na die wat ignoreer word, te luister. Jesus het gekom om na die wat verbygekyk word, te kyk. Jesus het gekom, om so ook ons te laat hoor, om ons te laat sien.

 

Almal in die sinagoge is verwonderd deur die boodskap van die Jesuskind. Hy praat so mooi uit die Skrif. En net nadat hy die boekrol toegemaak het begin die twyfel weer. “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” Net nadat Jesus die evangelie met Sy tuisdorp gedeel het, die goeie nuus vir hulle vertel het, trek hulle Sy boodskap in twyfel. Wil hulle hê dat Hy moet bewyse lewer van Wie Hy sê Hy is.

 

Wie is hierdie timmerman se seun om vir ons te sê dat ons die armes moet help? Hulle is veronderstel om sterk in hul geloof te wees en dan sal hulle regkom. Wie is hierdie kind om vir ons te sê om te luister na die wat geignoreer word? Hy weet nie hoe lank daardie een kan aanhou met kla oor die lewe nie? Hulle moet net stilbly en harder werk. Hy dink omdat hy hier in die sinagoge is kan hy vir ons sê ons moet kyk na hoe stukkend dinge hier rondom ons is. Dit was nog altyd so, en sal waarskynlik so bly, dit is nie ons probleem nie.

 

Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, en Hom na die rand van die dorp gejaag, waar hulle hom van die kranse wou afstamp.

En daar loop Hy toe saggies en stil deur hulle, weg van hulle af.

 

Ek het die Graad 9C klas gevra wat hierdie gedeelte vir hulle sê, drie dinge het vir hulle uitgestaan:

  1. Moenie iemand te vinnig oordeel nie.
  2. Die sagte een kan sterk wees, en die sterk ene kan sag wees.
  3. Dat dit ons opdrag is
    1. Om te verkondig aan die armes
    2. Om die gevangenis vry te laat
    3. Om die blindes te genees
    4. Om die onderdruktes te bevry
    5. Om die genade van die Here aan te kondig

 

Ons moet meer na ons kinders luister, want hulle het die spyker op sy kop geslaan.

 

Hulle het gesien dat die Nasareners in die sinagoge vir Jesus hopeloos te vinnig veroordeel het vanuit hulle ongeloof. Hulle het Hom steeds as die timmerman se seun gesien. Hulle self was blind. Hulle het na Sy woorde geluister, maar nie gehoor dat Hy sê Hy die een is wat kom verkondig, vrylaat, genees en genade bring nie. Hulle self was ‘n gevangene van hulle gedagtes dat die verlosser ‘n krygsman sou wees, groot en sterk.

 

Jesus kom na die dorpie Nasaret om vir die mense te wys dat dit nie nodig is om hard te praat, of met gebalde vuise die wêreld te verander nie. Jesus wys vir ons dat die wêreld sal verander, wanneer ons begin bedien. [skink wyn en breek brood]

 

Wanneer ons armes se nood verlig, wanneer ons gevangenis vry maak, wanneer ons blindes genees, wanneer ons onderdruktes bevry, wanneer ons genade betoon…

 

Dan word ons nood verlig, dan word ons vrygemaak van dit wat ons gevangenis hou, dan word ons genees om te sien, dan word ons bewus dat die Here se genade reeds met ons is.

 

So voordat ons potensieële ouderlinge, diakens, assistente, Sondagskool tannies en ooms, soliste, en leiers van organisasies verwerp, in ons eie dorp, laat ons tweekeer kyk en luister, na die saam met wie ons grootgeword het en laat ons profete in ons eie land word.

 

Aan wie gaan jy die evangelie verkondig?

Wie gaan jy help om vry te kom uit die gevangenis?

Wie gaan jy help om te sien?

Watter onderdrukte gaan jy in vryheid uit stuur?

Aan wie gaan jy genade betoon?

 

En Jesus sal tussen ons rondloop en saam met ons aan tafel kom sit.

 

Amen.