Op ‘n oorgangstydperk in die kerkjaar, soos vandag, waar ons op die randjie van pinkster staan, is dit belangrik om terug te kyk sodat ons weer met betekenis kan vorentoe kyk.
Met Kersfees het ons Jesus se geboorte herdenk, daar waar Hy van die voerbak van die diere, hulle tafel, gebore was om ons van ons sondes te verlos. Vanaf Epifanie (dit beteken verskyning) tot Lydenstyd het ons gesels oor Jesus se doop en Sy aardse bediening. Vanaf Lydenstyd het ons gesels oor die gebeure rondom Jesus se versoeking in die woestyn, Sy lyding, Sy dood en wat dit vir ons elkeen beteken, en waaraan ons elkeen kan sterf om weer waarlik te lewe.
Met Paasfees, die tydperk waarin ons nou is, gesels ons oor Jesus se opstanding uit die dood. ‘n Tydperk van rondom 50dae waar Hy in verheerlikte vorm op aarde tussen mense en aan Sy dissipels verskyn het. Eerskomende Donderdag is dit Hemelvaart, waar ons herdenk dat Hy opgevaar het na die hemel, waar Hy solank ons plek gereed maak. En dan breek Pinkster aan waar ons feesvier oor die uitstorting van die Heilige Gees.
Dit was die buitenste kring, nou wil ek daardie kring nog kleiner trek. Ek het gesê dat ons vandag nog in die Paas tydperk is, waar ons gesels van toe Jesus in ‘n verheerlikte vorm aan Sy dissipels verskyn het. Vandag sit ons almal, soos sy dissipels van baie jare gelede, weer saam en luister na wat Hy te sê het.
Soos baie stories begin, begin vandag se storie aan tafel.
In Joh 13:2 is Jesus saam met Sy dissipels aan tafel, voordat hulle eet was Jesus hulle voete en leer hulle om ook so ander se voete te was. In Joh 13:23-27 wys Jesus sy verraaier aan. In Joh 13:34-35 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy weggaan. Hy bevestig ook weer die liefdesgebod. In Joh 13:38 verseker Jesus vir Petrus dat hy Hom sal verloën.
In Joh 14:1-12 verduidelik Jesus aan sy dissipels dat Hy gaan terugkeer na sy Vader, maar Hy gaan hulle nie soos weeskinders agterlaat nie. In Joh 14:15-31 belowe Hy hulle dat die Heilige Gees by hulle sal wees.
Dit alles gebeur aan tafel. Terwyl brood gebreek word en wyn gedeel word lê Jesus die toekoms uit. Donderdag herdenk ons die Hemelvaart en daarna die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster. Kom ons gesels vandag saam oor hierdie wonderlike belofte.
[lees Johannes 14:15-31]
In Johannes 14:16 belowe Jesus om ons Vader te vra om ‘n Voorspraak te stuur. Dit is die eerste van vyf uitsprake oor die Voorspraak. Voorspraak is ‘n ander naam vir Trooster, Helper of Advokaat. Dit dui op iemand wat in die hof iemand bystaan, bemoedig, troos en vir al sy/haar belange sorg. Die bedoeling is dat Jesus die Voorspraak sou wees, maar noudat Hy op die punt is om weg te gaan belowe Hy ‘n plaasvervanger. Jesus verklaar dat die Voorspraak vir ewig by sy dissipels en by ons sal wees.
Nog net ‘n klein rukkie dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Wie My lief het, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan Hom openbaar.
Judas vra dan: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”
Judas hou nog vas aan die Joodse Messiasverwagting waarvolgens die Messias Hom as koning aan die volk, die wêreld, sou openbaar. Nou het Judas die indruk dat Jesus nie so ‘n plan het nie, maar dat Hy Hom aan ‘n kleiner kring wil openbaar. Nou wil Judas weet wat dan van daardie plan geword het.
Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.”
Hierdie woorde van Jesus kan maklik verkeerd verstaan word. Ons kan dink, die wat Hom nie liefhet nie, het nie deel aan Hom nie. En dit is presies reg. As ons nie vir Jesus lief het nie, het ons nie deel aan Hom nie. As ons Hom nie liefhet nie, sal ons Hom ook nie sien nie. As ons Hom nie lief het nie, sal Hy ook nie in ons woon nie. Dit klink rof, want dit is.
Ons dink baie dat die teenoorgestelde van liefde, haat is, maar dit is nie. Die teenoorgestelde van liefde, is vrees. Daarom kan ons selfs so ver gaan om te sê dat die wat vir Jesus bang is nie deel aan Hom sal hê nie, die wat vir Jesus bang is, sal Hom nie sien nie.
Vrees, of om bang te wees, ontstaan wanneer beheer uitgeoefen wil word en jy nie in staat is daartoe nie. ‘n Basiese manier om dit te verduidelik sal wees om te sê ek is bang wanneer ek bestuur, want ek kan nie die ander bestuurders beheer nie. Of wanneer ek sê ek is bang vir die donker, want ek kan nie beheer wat ek nie kan sien nie.
Liefde is egter om vertroue te plaas in dit wat jy nie kan sien nie, en vir die goeie te hoop. ‘n Radikale anderste manier van dink en voel. Liefde is om te vertrou dat die persoon in die ander baan in haar baan gaan bly. Liefde is om te vertrou dat dit wat ek nie kan sien nie, my nie kwaad wil aandoen nie.
Liefde begin wanneer ons elkeen ons eie kwesbaarheid erken. Liefde begin wanneer ons elkeen erken dat ons nie die belangrikste een in die kamer is nie. Liefde begin wanneer ons ander se kwesbaarheid raaksien en dit wil genees. Liefde begin wanneer ons juis die ander in die kamer wil laat belangrik voel. Wanneer ons vanuit kwesbaarheid liefde begin leef, belowe Jesus sal ons Hom sien, sal ons ervaar hoe Hy deur ons werk.
Wanneer ons vanuit onvoorwaardelike, onselfsugtige liefde leef, sal ons vrede begin ervaar. Vrede dat ons bestaan nie gaan oor opgaar en groter gaan nie, maar eerder gaan oor deel en ligter leef. Vrede is ‘n wonderlike gevoel om te ervaar. Om vanuit vrede te leef maak die wêreld wonderlik.
As jy vanuit vrees leef wil jy alles beheer, jou manier is die beste, en sterkte vir die wat anders as jy dink of doen. As jy vanuit vrees leef, sal dit ook vir jou moeilik wees om die wil van die Here te hoor, te sien, of nog meer te doen. Vrees bou hoë mure en hou uit. Vrees maak dat jy Jesus op ‘n afstand hou, want sê nou net Hy kom verander jou lewe!
Sê nou net Jesus kom breek jou mure af, sê nou net Jesus kom jou huis binne, sê nou net Hy kom sit by jou aan tafel, wat gaan jy maak? Jesus se teenwoordigheid in Saggeus se lewe het gemaak dat hy 2/3 van al sy besittings aan die armes gee. Ek kan verstaan hoekom jy bang is vir die teenwoordigheid van die Here! Ek kan verstaan hoekom jy Hom buite wil hou. Sê nou net Hy kom verander jou!
Jesus belowe die Heilige Gees aan die dissipels sodat hulle ook kan doen wat Hy gedoen het, sodat hulle ook met die krag en mag kan optree waarmee Hy opgetree het. Dit vra egter ‘n oorgawe aan Hom, dit vra blootstelling, dit vra kwesbaarheid, dit vra saggeaardheid, dit vra liefde. As jy vanuit die oerbron wil leef wat hierdie hele aarde tot stand gebring het, as jy vanuit ‘n diep stroom energie wil put, wil ek vandag vra: “Is jy bereid om lief te hê?”
Jesus is besig om van sy dissipels afskeid te neem en belowe aan hulle twee dinge: die Voorspraak wat die Heilige Gees is en sy vrede. Die twee staan nie los van mekaar nie, want waar die Heilige Gees in die hart is, daar is ook vrede.
Hierdie vrede is die erflating van Jesus en is daarom anders as die vrede wat die wêreld gee. Hierdie is die innerlike vrede wat vloei uit die regte verhouding met God.
Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, gewoonlik ‘n afwesigheid van stryd, oorlog of onenigheid. Daarom is die wêreld se vrede van korte duur en onseker; gewoonlik niks meer as ‘n hoop op vrede nie. Jesus skenk die vrede as ‘n werklikheid wat nie aan omstandighede gekoppel is nie. Juis in die mees ontwrigtende omstandighede bly daardie vrede in die hart omdat die kind van God weet dat sy saak met God reg is.
Hierdie Goddelike vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees. Omstandighede sal kom waarin jou geloof en moed tot die uiterste beproef sal word, maar in daardie uur sal die vrede wat Jesus gee, alle vrees verdryf.
Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het, soos ons nou met die doop gesien het. God kom eerste na ons toe en sê vir ons dat Hy ons baie lief het. Liefde verdryf vrees, wat plek maak vir die vrede van die Heilige Gees.
Is jy opsoek na liefde?
Is jy opsoek na vrede?
Dan is die eintlike vraag: “Wil jy dat die Heilige Gees jou lewe verander?”
Hierdie het Jesus vir sy dissipels aan tafel vertel, hulle was nou elf in die kamer. Hulle het geweet dat hulle nie hoef te vrees as Jesus nie meer by hulle is nie, want die Heilige Gees, Jesus se gelyke, sal nou by hulle wees. Hulle het geweet dat hulle met dieselfde krag as Hy kan optree, sou hulle vanuit die Gees optree ter verheerliking van God. Hulle het rustig om die tafel gesit, ‘n innerlike vrede het oor hulle gespoel soos hulle in Jesus se blou oë gestaar het terwyl Hy gepraat het. Hy sê toe vir hulle: “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”
Amen.