Jy laat jou kinders die tafel dek, ‘n vars helder wit tafeldoek met ‘n blou strepe regdeur van punt tot punt. Messe en vurke soos ma julle geleer het, en julle kan lepels ook dek, ons kry vanaand ‘n spesiale gas.
Almal kuier lekker gemaklik in die kombuis, die voordeur klokkie lui, hallo oom. Oom ek gaan roep gou vir my pa. Jesus tree oor die drumpel, hy is binne julle huis. Die huis gloei ‘n warm geel-oranje kleur, die reuk van vars gebakte brood wat in die lug hang.
Julle gaan sit aan tafel.
Net toe julle sit, kom ‘n sekere vrou, wat ‘n reputasie gehad het, julle huis binne. Julle het die voordeur oop vergeet. En sy begin huil, en huil en huil. Almal kyk nou vir pa, wat nou weer ongemaklik na Jesus kyk, wat rustig sit, vol vrede.
Leonard Sweet praat van die “Foodie Bible” wanneer hy oor die Bybel praat in sy boek From Tablet to Table. Iemand het hom glo op ‘n dag uitgedaag en gesê hy moet die hele Bybel in ses sinne opsom: drie vir die Ou Testament en drie vir die Nuwe Testament.
Hy begin toe met die Ou Testament: “They tried to kill us. We survived. Let’s eat!”
Toe gee hy sy weergawe van die Nuwe Testament: “I love you! I forgive you! Let’s eat!”
Volgens Sweet het Jean Leclerc die beste definisie van die Evangelie, “Jesus ate good food with bad people.”, gehad. Dit herinner aan ‘n beskrywing van Jesus wat die wêreld deur versprei het: “’n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars…” (Lukas 7:35).
Jesus se eetgewoontes het ‘n leefstyl geword waarom Hy ‘n styl van dissipelskap ontwikkel het. Mens wonder soms hoe jy daaroor moet dink as jy sien wie saam met Hom aan tafel was en wat by die partytjies gebeur het waar Hy en sy dissipels opgedaag het.
In Johannes se vertelling van die Bruilof in Kana vertel hy dat die wyn opgeraak het toe Jesus en sy dissipels daar opgedaag het… Dit is duidelik dat Jesus se leefstyl, waarvan ‘n groot deel om tafels gebeur het, fyn dopgehou moet word. Sy tafelgenote, hulle saam met wie Hy eet, wat saam met Hom om die tafel is, wil ons iets sê oor God.
Leonard Sweet maak die opmerking dat die Ou en Nuwe Testament opgesom kan word in drie sinne elk. Elkeen se laaste sin is: “Kom ons eet.”. Watter ruimtes het ‘n etenstafel geskep dat dit so hoog geag word in die Bybelse tyd?
In ons teksgedeelte is dit ‘n vrou met ‘n reputasie wat haar verskyning maak aan die tafel. Jesus het geweet hoe die sosiale strukture van die dag werk. Vir Fariseërs, mens wat die wette en sosiale reëls van die dag streng nagevolg het, sou dit erg ongemaklik gewees het om saam met so ‘n vrou aan die tafel te sit. Dit kon selfs implikasies vir hulle reinheid ingehou het. Jesus laat haar sit. Watter ongemak maak hierdie vreemde tafelgenoot in jou wakker?
In daardie dae was daar baie gasvryheidsgebruike. Dit was onder andere gebruik om te sorg dat wanneer iemand by jou kom eet, sy voete gewas word, dat die gas ‘n soen van verwelkoming kry en ook gesalf word. Opmerklik dat Simon die Fariseër wat veronderstel was om die voorbeeld van rituele reinheid te wees, niks hiervan doen nie.
Die “sondige” vrou wat ongenooid haar verskyning maak, kom beskaam Simon deur Jesus se voete met haar trane te was, dit met haar hare af te droog, sy voete onophoudelik te soen en dit met duur olie te salf. Wat hoor jy in die gebeure?
Jesus eet saam met Simon, die gerespekteerde Fariseër, die kerkman. Hy is ewe gemaklik met die vrou wat ‘n reputasie in die dorp gehad het. Wat hoor jy in die gedeelte oor God se hart?
In die Joodse kultuur was daar baie reinheidswette wat ook op die geografie van die landskap betrekking gehad het. So was sekere plekke in ‘n stad of dorp reiner as ander. In Jerusalem byvoorbeeld was die tempel die simbool van reinheid en ook die middelpunt van die stad.
In die tempel het jy die Heiligdom en die Allerheiligste gekry, wat van mekaar met ‘n voorhangsel geskei is. Vandaar is daar in grade van heiligheid met konsentriese sirkels, sirkels soos jy ‘n klippie in ‘n dam sou gooi, al verder weg beweeg van hierdie episentrum of middelpunt van heiligheid.
Mense het natuurlik in die stad gewoon in hierdie meer of minder heilige dele, na gelang van hulle eie straat van reinheid. Lukas het hierdie grondplan van heiligheid goed verstaan en bou dit in sy evangelie uit. Mense wat naby aan die tempel gewoon het, is beskou as meer rein as die wat verder gewoon het.
Mense soos prostitute het die vêrste weg van die tempel gewoon – in die stadsmure. Dink maar aan Ragab die prostituut, wat die verspieders gehuisves het, en met die rooi tou gehelp het. Behalwe die geografie was daar ander lewenspraktyke wat jou reinheid bepaal het. Een van hulle was wie die mense aan jou etenstafel was. Kyk bietjie saam met wie Jesus aan tafel is. Wat sê dit vir jou oor Jesus?
Ons het dalk nie meer reinheidswette en -rituele wat ons vandag volg nie, maar ons klassifiseer mense steeds volgens waar hulle bly, wat hulle ry en wat hulle kry. Wanneer Jesus ewe gemaklik saam met Simon die Fariseër as met die “sondige” vrou om die tafel kan sit, wat wil Jesus ons leer oor ons houding teenoor mense? En wat wil dit vir ons sê oor die gemeenskap waarin ons bly wat mense takseer op waar hulle bly, wat hulle ry en wat hulle kry?
Jesus laat die vrou haar gang gaan in – van alle plekke – die Fariseër se huis. Hierdie onrein vrou vat aan Jesus, sy soen hom en vee met haar hare oor sy vel. En Jesus keer haar nie. Inteendeel, deur haar dit toe te laat verbreek Hy self ook die geldende reinheidskodes.
Dit is ook wat Hy orals in die Lukas-Evangelie doen: Hy deurbreek die geldende teenstelling tussen rein en onrein. Daar is vroeër ook gepraat oor die voorhangsel wat die Allerheiligste van die Heiligste in die tempel geskei het. In hoofstuk 23 bereik die verbreking van die rein-onrein-teenstelling ‘n hoogtepunt wanneer Jesus aan die kruis sterf en daardie voorhangsel middeldeur skeur.
Jesus wys deur die gebeure rondom Simon se tafel dat die “slegte” mense wat in die mure van die stad, ver van die Allerheiligste af, geleef het, soms inderwaarheid die naaste aan die Allerheiligste leef. Hulle weet hulle het God nodig; hulle besef dat hulle van sy vergifnis afhanklik is. Hoe groter iemand se besef van sy/haar afhanklikheid van God se vergifnis en genade is, hoe “reiner” is so ‘n persoon voor God. Of, soos dit in die bergrede gestel word: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”
Die kern van die blye boodskap van die evangelie van Jesus Christus is egter dat God mense red wat weet dat hulle hulleself nie kan red nie; dat hulle voor God “onrein” is – maar daardie besef van onreinheid is voor God juis ‘n teken van reinheid. En vir mense soos hierdie vrou weerklink Jesus se woorde tot in ons dag: “Jou sonde is vergewe.”
Daar is egter nog meer in hierdie teks en ons moet dit nie te gou uit die gedagte verloor nie. Jesus eet ook saam met ‘n Fariseër. Ja, met sy optrede daar aan tafel daag Jesus wel vir Simon uit, maar tegelykertyd is Jesus ook in Simon se huis en eet Hy aan die Fariseër se tafel.
In Lukas en Handelinge wys Lukas se tafelgesprekke vir ons dat Jesus ‘n besondere hart het vir sondaars soos hierdie vrou, vir tollenaars, vir armes en kreupeles, vir al die mense op die rand van die samelewing. Maar wat ons dikwels nie raaklees nie, is dat Hy ook ‘n hart vir Fariseërs het.
Die blote feit dat Jesus saam met hulle geëet het, dat Hy met hulle in gesprek getree het, is ‘n bewys dat Hy ook vir hulle omgee. God is met die saam met wie Hy eet. Jesus eet saam met onreines en reines; saam met die sondaars en heiliges; Hy eet in die geselskap van ‘n sondige vrou en ‘n vrome Fariseër.
Na alles wat in die gedeelte gebeur het – die voetesalwing, die gelykenis, en die verkondiging van vergifnis – sê Jesus vir die vrou: “Gaan in vrede.”. Dit is die heel laaste woorde in vers 50. In die lig van hierdie opdrag wat die vrou kry, naamlik om in vrede te gaan, vra Fred Craddock tereg: “Waarheen moet hierdie arme vrou nou gaan?”
Sy het hier kragdadig tot bekering gekom. Na haar ou vriende kan sy nie gaan nie, want sy gaan nie meer daar inpas nie en leef nou ‘n nuwe lewe. En die kerkmense gaan definitief ook nie vir haar kans sien nie. Sy het liefde aan Jesus bewys omdat sy vergeef is. Is daar êrens in die stad mense wat aan haar liefde gaan bewys omdat hulle ook soos sy vergeef is?
Ons het ‘n vergeefde kerk nodig wat liefde kan bewys en waarbinne vergeefde sondaars ‘n plek kan kry. Ons het ‘n kerk nodig, gelowige mense nodig, wat sê: “Jy is welkom hier by ons. Kom sit by ons tafel.”.
Martin Versfeld sê tereg: “Om iemand in jou huis in te neem, of jou kastrol, is om jou hart vir hom oop te maak.”
Vir spys en drank sê ons U dank, ons loof U naam, O Heer
Vir spys en drank sê ons U dank, ons loof U naam, O Heer
Alle goeie gawes, daal van die Hemel neer
Ons dank U heer, ja dank U heer
En wil U liefde eer.
Amen.