dit…

Ek het ‘n tydjie gelede in ‘n ry gestaan en wag, voor my in die ry was ‘n ma met ‘n kind in haar skouers saam met ‘n pa. Ek het afgely die kind is die van die pa en die ma. Ek het nie gevra nie.

Wat my opgeval het was die manier hoe die ma vir die kind gekyk het terwyl die pa vir ‘n wyle die kind vasgehou het. Sy het anders as die pa na die kind gekyk. Nie dat die pa nie liefdevol na die kind gekyk het nie, maar dit was asof die ma se kyk dieper was. Dalk het ek dit ingelees, maar dit is steeds met my.

Ek wonder nou al lank hoe moet ‘n vrou voel wanneer sy geboorte skenk aan ‘n baba, en die baba word haar kind en sy die kind se ma. Hoe moet dit voel? Ietsie, waar daar voorheen niks was nie, word deur twee mikroskopiese selletjies begin en dan groei dit soos ‘n plantjie. Het jy al ooit gedink hoe dit moet voel om ‘n plantjie in jou maag te laat groei, vir nege maande? En dan na daardie nege maande in ‘n beskermde en redelik beheersde omgewing, nou word jy forseer om daardie plantjie uit te plant in sy eie grond.

Daar moet iets gebeur die oomblik wat daardie naelstring geknip word. Hoekom hou party kulture daardie naelstring? Hoekom eet party mense dit selfs? Geboorte skenk is ‘n wonder. Deur en deur! Jy maak ‘n ander mens, ‘n mens met potensiaal.

Potensiaal wat na enige kant toe kan gaan. Ek dink ook ‘n deel van geboorte skenk is om beheer oor te gee. Om vrede te maak dat jy hierdie nuwe mens, ja, wat jy geskep het, nie kan beheer nie. Jy kan informeer, inlig, onderrig, maar nie beheer nie.

Ek wonder oor daardie spanning tussen ma en kind, daardie spanning tussen liefde en beheer. Liefde floreer in vryheid. Liefde is nie bang vir die onbekende nie. Liefde gee kans. Liefde gee geleentheid.

Ek wonder steeds wat sien ‘n ma as sy na haar kind kyk, diep in sy of haar oe staar en net kyk. Wat sien sy? Dink sy aan wat kan wees? Dink sy aan wat is? Dink sy aan wat was? En terwyl sy dink, dink ek, terwyl sy na daardie eie weerkaatsing van haar oe in haar kind kyk, is daar ‘n liefde wat nie gekeer kan word nie. ‘n Diepteliefde wat enige berg sal uitklim, vir haar kind.

Ek kan nie anders as om te wonder oor my eie ma nie. Oor hoe sy na my gekyk het nie, en steeds na my kyk. Al sit ons honderde kilometers uit mekaar is die band daar. En ook my pa. Hy kyk op ‘n anderse manier. Hy kyk meer vanuit ‘n trots dink ek. Meer van ‘n kyk, dit is wat ek gemaak het, kyk dit is deel van my, kyk daar is my bloedlyn, kyk dit is ons.

Ek dink geboorte is deel van die primitiewe menswees in die moderne samelewig van vandag. Dit is daardie deel van die mens wat nie ontken kan word nie. Al wil ons vandag al meer individualisties leef, op ons eie kragte staatmaak, herhinner die daad van geboorte ons dat ons nie sonder ander kan nie. Dat ons sal dood gaan as ons nie liefde vir mekaar kan wys nie.

Dat ons stil stil sal sterf as ons nie op somersaande in mekaar se oe kan staar nie. In die wintermaande mekaar nie kan vashou nie. In die lente nie saam kan dans nie. En herfs hand aan hand kan stilstaan en kan opkyk terwyl ‘n blaar van bo na onder tuimel en gereed maak vir rus.

Geboorte is ‘n wonder deur en deur wat my nog vir lank gaan fassineer.

Jongmense wil nie meer sit en luister nie

Jongmense wil nie meer sit en luister nie

Bywoning van eredienste daal, maar tog is die gesamentlike samekomste van die gemeente ’n noodsaaklike deel van Christenwees. Bywoning van eredienste daal, nie omdat moderne mense “minder geestelik” is nie, maar omdat ons nie daarin geslaag het om vir hulle te wys dat die kerk hulle sal help om hulle geestelike honger te stil nie.

Daar is nie net ’n toenemende gaping tussen geestelike honger en kerkbetrokkenheid nie, maar daar is ook toenemende wantroue in sekere kerkleiers. Om bywoning te tel en bywoning te bevorder, lyk vir meeste kerkleiers na goeie rentmeesterskap. Vir die gewone lidmate lyk dit meer na … ego. Dit is veral waar onder jongmense – gelowig en ongelowig. Wat ons doen nadat ons die kerk verlaat het, is belangriker vir God as hoeveel mense daar is.

Ons was ’n samelewing van klubs – diensgroepe, politieke partye, ens. Ons het van vergaderings en die struktuur daarvan gehou. Nie meer nie. Ons identifiseer ons nie meer deur ons klubs, groepe of denominasies nie. Mense glo hulle tel nie as die skare getel word nie. Mense wil nie meer nommers wees nie – hulle voel asof hulle gemanipuleer word. Leiers voel nog dat om die naamlose, gesiglose mense wat samekomste bywoon, te tel is ’n bewys dat hulle hulle werk goed doen. Niemand anders glo dit nie.

Baie mense wat die kerk verlaat, verlaat nie vir God nie – hulle verlaat die kerk oor die manier waarop ons kerk doen. Doen is belangriker as bywoning. Hoe kan ons mense aanmoedig tot groter geestelike toewyding?

  • Gee aan mense die geleentheid om ’n verskil te maak

Mense wil ’n verskil maak – kyk na die bewusmakingsveldtogte vir kanker. Ons wys nie vir bywoners van eredienste hoekom hulle teenwoordigheid belangrik is nie; hoe dit hulle geestelike honger kan stil nie; hoe hulle bywoning kan gebruik om ander te seën en tot hulle voordeel te wees nie.

  • Maak die kommunikasie twee-rigting so dikwels as moontlik

Mense wil aktiewe deelnemers en nie passiewe verbruikers wees nie. Hulle wil praat met – nie net toegespreek word nie. Hulle wil weet dat hulle siening iets beteken.

  • Meer stories en minder statistiek

Ons vertel stories, want mense is belangrik en stories gaan oor mense.

  • Maak die verbinding vir hulle

Mense sien nie meer die verband tussen betaal vir die leraar se salaris of die afbetaal van die kerk se skuld en die voorsiening van kos aan armes as antwoord op hulle geestelike verlange nie. Ons moet vir hulle wys waarom dit belangrik is.

Die begeerte om te skuif van passiewe verbruikers na aktiewe deelnemers is ’n goeie ding. Mense wil nie net sit en luister nie. Hulle wil leer, groei en deelneem. Ons moet hulle help om te kry waarna hulle soek.

Kommunikeer die visie

Toe God vir Dawid ’n visie van die tempel in Jerusalem gegee het, wou Dawid dadelik betrokke raak om hierdie visie ’n werklikheid te maak. Maar God het vir hom gesê dat die taak om die tempel te bou aan Salomo opgedra sou word. Dawid het nie gevoel dat hy nou uitgeskuif word nie – hy aanvaar onmiddellik sy opdrag om die visie van die tempel oor te dra op so ’n manier dat Salomo sy ongekwalifiseerde ondersteuning vir die projek sou gee.

Let op hoe Dawid dit gedoen het (1 Kronieke 28):

  • Hy maak seker dat almal besef dat die visie van God kom (vers 1-3)
  • Hy lig Salomo in dat die taak om die tempel te bou syne sou wees (vers 6-7). ’n Halfhartige poging sou nie die werk gedoen kry nie. Dit sou totale toewyding aan God en die taak vereis (vers 8-10).
  • Dawid verseker die mense dat God vir Salomo in staat sal stel om die taak suksesvol te voltooi: Ek het hom vir My as seun gekies, en Ek sal vir hom ’n Vader wees (vers 6).
  • Dawid gee aan Salomo voldoende besonderhede oor die tempel sodat Salomo dit kon visualiseer (vers 11-19).
  • Daarna bemoedig Dawid weer vir Salomo (vers 20-21).

Een van die belangrikste take van ’n leier is om ander in die gemeente aan te steek met die visie. Dink aan Dawid se strategie. Baie van die beginsels kan aan jou eie situasie oorgedra word. God het aan ons die voorreg gegee om deel te neem aan sy werk op aarde. Maar ons moet hierdie Godgegewe visie aan ander oordra op so ’n wyse dat hulle dit sal aanvaar. Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand  waarin ons sit. Jerusalem is in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat die vernedering nie langer op ons rus nie.” Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak (Nehemia 2:17-18).

gluhwein

Op die stoof

Naartjies, Naaltjies, en Kaneel.
Naartjies, Naaltjies, en Kaneel.

Die eindproduk

 

Vrydagaand net voor ‘n tuinkonsert besluit ek om die aand met Gluhwein, eerder as gewone rooiwyn, te geniet. Ek is toe dadelik Woolies toe om ‘n paar bottels daar te gaan koop, maar toe is al die Gluhwein in die hele Bloemfontein uitverkoop, by Preller en die Loch Logan se Woolies. En ‘n koue aand om vuurtjies met sal net beter wees as ek ‘n glas warm wyn in my hand kan vashou.

Ek besluit toe net daar en dan om my eie gluhwein te maak, want so afhanklik kan ek nie van Woolies wees as hulle nie die produkte kan lewer nie. Ek bel toe ‘n vriendin, kry haar resep en koop die bestandele. Vinnig vinnig is ek daar uit met twee bottels wyn, en die nodige bestandele om die wyn ‘n transformasie te laat ondergaan.

Dit was toe eintlik heel eenvoudig om dit self te maak en het selfs beter as Woolies s’n geproe, want ek kon die smaak na my kies en keur manipuleer.

Ok, hier is die bestandele met die resep wat volg; ‘n Bottel rooiwyn, enige rooiwyn sal doen en dit hoef nie baie duur wyn te wees nie. ‘n Pakkie naartjies. Kaneel stokkies. Naaltjies (Cloves). Suiker.

Wat jy doen is jy sit heel eerste ‘n pot op die stoof en draai die plaat sommer na max, tensy jy virewig daar wil staan. Gooi jou bottel wyn in die pot. Rasper ‘n naartjie se skil in die wyn in, en daarna sny jy dieselfde naartjie in skywe op en gooi dit ook in die wyn. Gooi dan twee kaneel stokkies by en so vier na ses naaltjies, na smaak. Om die ergste suur te breek het ek toe ook drie eetlepels suiker by die mengsel gegooi. Dit is alles wat jy gebruik op een bottel wyn. Jy roer dit goed deurmekaar en laat dit warm word tot dit begin borrel, laat dit dan borrel vir so 5minute. Na die 5minute kan jy dit van die plaat afhaal, ‘n sif uithaal en die mengsel daardeur gooi om al die stukkies uit die wyn te haal. Gooi dit dan in ‘n fles en daar het jy jou lekker warm wyn om langs ‘n vuurtjie, kaggel, of sommer terwyl jy ‘n boek lees te geniet.

Jy kan natuurlik meer naartjie skywe ingooi as jy ‘n meer sitrus smaak verlang, ek het gekies om dit redelik neutraal met ‘n effense soet smakie te maak.

So gaan voort en maak jou eie Gluhwein!