dit…

Ek het ‘n tydjie gelede in ‘n ry gestaan en wag, voor my in die ry was ‘n ma met ‘n kind in haar skouers saam met ‘n pa. Ek het afgely die kind is die van die pa en die ma. Ek het nie gevra nie.

Wat my opgeval het was die manier hoe die ma vir die kind gekyk het terwyl die pa vir ‘n wyle die kind vasgehou het. Sy het anders as die pa na die kind gekyk. Nie dat die pa nie liefdevol na die kind gekyk het nie, maar dit was asof die ma se kyk dieper was. Dalk het ek dit ingelees, maar dit is steeds met my.

Ek wonder nou al lank hoe moet ‘n vrou voel wanneer sy geboorte skenk aan ‘n baba, en die baba word haar kind en sy die kind se ma. Hoe moet dit voel? Ietsie, waar daar voorheen niks was nie, word deur twee mikroskopiese selletjies begin en dan groei dit soos ‘n plantjie. Het jy al ooit gedink hoe dit moet voel om ‘n plantjie in jou maag te laat groei, vir nege maande? En dan na daardie nege maande in ‘n beskermde en redelik beheersde omgewing, nou word jy forseer om daardie plantjie uit te plant in sy eie grond.

Daar moet iets gebeur die oomblik wat daardie naelstring geknip word. Hoekom hou party kulture daardie naelstring? Hoekom eet party mense dit selfs? Geboorte skenk is ‘n wonder. Deur en deur! Jy maak ‘n ander mens, ‘n mens met potensiaal.

Potensiaal wat na enige kant toe kan gaan. Ek dink ook ‘n deel van geboorte skenk is om beheer oor te gee. Om vrede te maak dat jy hierdie nuwe mens, ja, wat jy geskep het, nie kan beheer nie. Jy kan informeer, inlig, onderrig, maar nie beheer nie.

Ek wonder oor daardie spanning tussen ma en kind, daardie spanning tussen liefde en beheer. Liefde floreer in vryheid. Liefde is nie bang vir die onbekende nie. Liefde gee kans. Liefde gee geleentheid.

Ek wonder steeds wat sien ‘n ma as sy na haar kind kyk, diep in sy of haar oe staar en net kyk. Wat sien sy? Dink sy aan wat kan wees? Dink sy aan wat is? Dink sy aan wat was? En terwyl sy dink, dink ek, terwyl sy na daardie eie weerkaatsing van haar oe in haar kind kyk, is daar ‘n liefde wat nie gekeer kan word nie. ‘n Diepteliefde wat enige berg sal uitklim, vir haar kind.

Ek kan nie anders as om te wonder oor my eie ma nie. Oor hoe sy na my gekyk het nie, en steeds na my kyk. Al sit ons honderde kilometers uit mekaar is die band daar. En ook my pa. Hy kyk op ‘n anderse manier. Hy kyk meer vanuit ‘n trots dink ek. Meer van ‘n kyk, dit is wat ek gemaak het, kyk dit is deel van my, kyk daar is my bloedlyn, kyk dit is ons.

Ek dink geboorte is deel van die primitiewe menswees in die moderne samelewig van vandag. Dit is daardie deel van die mens wat nie ontken kan word nie. Al wil ons vandag al meer individualisties leef, op ons eie kragte staatmaak, herhinner die daad van geboorte ons dat ons nie sonder ander kan nie. Dat ons sal dood gaan as ons nie liefde vir mekaar kan wys nie.

Dat ons stil stil sal sterf as ons nie op somersaande in mekaar se oe kan staar nie. In die wintermaande mekaar nie kan vashou nie. In die lente nie saam kan dans nie. En herfs hand aan hand kan stilstaan en kan opkyk terwyl ‘n blaar van bo na onder tuimel en gereed maak vir rus.

Geboorte is ‘n wonder deur en deur wat my nog vir lank gaan fassineer.

Leave a Reply

Your email address will not be published.