Filemon: Drie karakters

Jy maak jou oë oop, jy weet nie waar of wanneer jy wakker geword het nie. Jy sien wel dat jy in ‘n tronk lê… Droom jy of is hierdie die werklikheid? Jy voel die koue klipperige vloer, dit is donker met net ‘n klein venstertjie wat ‘n blokkie lig op die vloer laat val. Jy hoor hoe mense praat. Jy begin rondom jou kyk. Iemand is bang vir as hy uit die tronk gaan kom, dat hy nie meer gaan inpas by sy mense nie. Dat hy gesien gaan word as ‘n vreemdeling wat niks werd is nie omdat hy in die tronk was.

Jy word wakker van jou middagslapie en die wind waai deur jou Bybel. Dit val oop by die brief aan Filemon. Wie was Filemon. Hoekom is daar ‘n brief aan hom geskryf? Wie skryf nog briewe? Ek het nie eers vir my Valentyn ‘n brief geskryf nie.

Filemon was ‘n ryk man gewees, hy het in Kolosse gebly, en daar sy eie huiskerk gehad. Huiskerk, vandag “homecell”, sy eie gesin, die mense wat vir hom gewerk het, en waarskynlik die mense wat naby aan hom gebly het, het daar saam die Here aanbid, geloof, en geprys. So, Filemon was ‘n gerespekteerde burger van Kolosse, mense het na hom opgekyk, mense het sy voorbeeld probeer volg.

Ons word ook voorgestel in die brief aan Filemon, aan sy vrou, en sy seun. Sy vrou Appia is ‘n geliefde suster van die skrywer. Sy seun Archippus hoor ons is ‘n medestryder. Nie in die vorm van 300 nie soos die Spartane nie, maar eerder in die vorm van ‘n geweldlose oorlog, ek wens al die betogers kon vir Archippus geken het.

Hoekom ontvang Filemon ‘n brief? ‘n Brief is mos ‘n baie persoonlike ding wat stadig geskryf word, met die hand, en waar jy jou woorde tel, en waar jy sê presies hoe jy voel. ‘n Brief was kosbaar, en is vandag nog meer.

Wie skryf die brief? Een van Filemon se vriende. Ons almal ken hom, of het al van hom gehoor. Paulus, skryf die brief aan Filemon. Paulus weet ons het groot dele van die Romeinse Ryk deurgetoer en vir mense gaan vertel van Jesus. Hy het geloop en die evangelie aan gemeentes, aan huiskerke, en aan sy vriende gaan verkondig. Ons weet ook dat Paulus waarskynlik hierdie brief uit die tronk geskryf het, waar en wanneer hy in die tronk was, weet ons nie presies nie. Maar hy was in die tronk, en by hom was iemand wat ook vir Filemon geken het.

Kom lees lees die brief aan Filemon saam deur. (na Titus, voor Hebreërs)

Nou dat ons hierdie baie persoonlike brief tussen twee vriende gelees het weet ons bietjie meer oor die twee vriende, en ook oor die derde ou wat saam met Paulus in die tronk was.

Onesimus, die derde ou, was ‘n slaaf van Filemon in Kolosse gewees, maar hy het weggehardloop van Filemon af. Hoekom weet ons nie, maar dit het veroorsaak dat hy in die tronk beland het, saam met Paulus. Paulus en Onesimus begin mekaar so goed te ken dat hulle later vriende raak. Paulus noem Onesimus selfs sy kind, sy kind in die geloof. Onesimus het dus in die tronk saam met Paulus al nader aan die Here begin lewe.

Omdat Paulus begin verstaan het in watter penarie Onesimus homself bevind het, het hy besluit om ‘n brief aan sy vriend en Onesimus se eienaar, Filemon te skryf. Hierdie brief van Paulus aan Filemon gaan oor Onesimus. Oor wie hy was, en wie hy geword het, en wat die implikasies daarvan is.

Kan jy onthou wie jy was? Hoe was jy selfs ‘n jaar gelede? Hoe het jy opgetree? Wat het jy saam met jou vriende gedoen? En hoe is jy nou? Wat doen jy nou saam met jou vriende?

Pa, ma, kan jy onthou hoe jou seun of dogter was en hoe hulle nou is? Dinge het verander in hulle lewens. Ja, dinge het verander in jou lewe! Daarom word ons gevra om anders op te tree. As dinge verander kan ons tog nie dieselfde optree soos wat ons voorheen gedoen het nie.

Onesimus het waarskynlik iets baie sleg gedoen dat hy moes weghardloop van Filemon af. Hy het dalk iets gesteel, verkeerd opgetree, of moeg geraak vir die lewe onder Filemon en wou op sy eie aangaan. Ons kan nie ontken dat Onesimus verkeerd opgetree het nie. Gelukkig ontmoet Onesimus toe vir Paulus in die tronk.

Paulus en Onesimus begin gesels en dinge raak beter in Onesimus se lewe, hy besef dat hy verkeerd opgetree het, en nou moet terug gaan na sy eienaar toe. Die tronk ervaring het vir Onesimus verander. Onesimus is nie meer net nog ‘n slaaf nie. Onesimus is nou ‘n Christen. Dit maak hom anders. Dit verander ook die manier van hoe hy optree.

Paulus weet dat Onesimus verander het, hy het dit self gesien, hy weet dat Onesimus nou ‘n goeie man is wat mens kan vertrou en op kan staat maak, maar Filemon weet dit nie. Vir Filemon is Onesimus steeds die lafhard, wegloop, nikswerd slaaf. Daarom skryf Paulus vir Filemon, Paulus wil vir Filemon sê dat Onesimus nou ‘n nuwe mens is. Om vir Onesimus te ontvang as ‘n nuwe mens, om nie meer in sy ou dade vas te kyk nie, maar hom te ontvang soos hy vir Paulus sou ontvang.

Dink nou bietjie julle aan julle bediende of tuinwerker, hulle doen hulle werk getrou en eens op ‘n dag daag hulle net nie meer op nie. Hulle bly sommer net weg. Jy kom agter van suiker, blikkies kos, en jou geheime wegsteekgeld is ook weg. Na twee weke kom hulle weer by jou huis aan, uit die bloute, wat gaan jy maak? Jy het alle reg om hulle in die pad te steek. Jy hoef hulle nie meer in jou huis toe te laat nie. Jy kan hulle selfs by die polisie gaan aangee as jy lus het.

Dit is min of meer wat hier gebeur. Onesimus moet terug gaan na sy eienaar nadat hy vir lank net weg was. Hy het verander, verander van harte, maar Filemon sy eienaar weet dit nie. Filemon het die volste reg om hom in die tronk te laat gooi, om selfs te eis dat hy lyfstraf in die openbaar ontvang.

Paulus vra hom om dit nie te doen nie. Nie omdat hy die groot vriend Paulus is nie, maar vanweë die liefde. In vers 8 sê Paulus dat hy by Filemon pleit ter wille van die liefde. En hierin lê die les. Soos wat Jesus Christus vir ons, wat sondaars is, ons wat Onesimusse is, in ons plek by God die Vader kom pleit het, so kom pleit Paulus by Filemon. Nie op grond van hierdie en daardie reg wat hy verdien het nie, maar op grond van die liefde. Omdat Paulus waarlik lief geword het vir Onesimus, en hom selfs sy kind en sy broer noem, vra Paulus vir Filemon om vir Onesimus met liefde te ontvang. En dit vat ook liefde van Filemon se kant af om te vertrou in die woorde van Paulus en Onesimus nog ‘n kans te gee.

Ons weet dat die liefde alle vrese verdryf. En dit is inderdaad wat hier gebeur in hierdie kort brief aan Filemon. Ons sien hoe Paulus vreesloos vriende raak met iemand wat as nikswerd in die tronk gegooi word. Ons sien hoe Onesimus met deursettingsvermoë en dapperheid bereid is om terug te keer na die een teen wie hy gesondig het. Ons sien hoe Filemon homself moet konfronteer oor hoe hy regtig na mense kyk. Niks van hierdie sou moontlik gewees het sonder die liefde nie. Om Christen te wees beteken om lief te wees! Om so lief te wees dat jy sonder vrees ander onvoorwaardelik sal aanvaar.

So voor jou gedagtes weer begin dwaal na die tronk, die koue vloer, die donkerte, die alleenheid, #imagine wat jy kan doen vanuit die liefde, vir jouself, en vir ander! #imagine!

Lukas 19: Skopper en Saggeus

Voorganger:         Hallo maats! Kom, kom sit hier naby my, ek wil vir julle die storie van Saggeus vertel. Wie van julle weet wie Saggeus was?

Skopper:                More ds., more maats, het ek reg gehoor? Praat ons vandag oor Saggeus?

Voorganger:         More Skopper, sê jy nie more vir die maatjies nie?

Skopper:                More maatjies, julle lyk baaie soet! Dit is vir my so lekker om vanoggend hier by julle te wees!

Voorganger:         Het jy al die pad uit die Karoo gekom om vir ons te kuier Skopper?

Skopper:                Ek het in die koerant gelees dat hier nie water in Bloemfontein is nie, toe besluit ek om julle ‘n bietjie te kom help soek na die water. Ons volstruise is mos goed om water te kry. En natuurlik moet volstruise ook op Sondae kerk toe gaan!

Voorganger:         Ons is bly om jou vandag hier by ons te hê Skopper! En ja, ons praat vandag oor Saggeus. Hy was ‘n tollenaar in Jerigo gewees. Hy was die baas van al die tollenaars gewees.

Skopper:                Was hy nie baie skelm nie? My mamma vertel vir my dat die mense van die E-tol baie skelm is. En was hy nie ook baie kort gewees nie?

Voorganger:         Hahaha, ja Skopper, tollenaars was in daardie tyd net so skelm soos vandag. Hulle het mense baie geld gevra al was dit nie nodig nie. Daarom was Saggeus ‘n baie ryk man gewees, maar, ‘n skelm ryk man. En ja, hy was kort gewees.

Skopper:                Hy was mos so kort dat hy nie vir Jesus kon sien toe Jesus in Jerigo kom kuier het nie.

Voorganger:         Saggeus was kort gewees, daarom het hy vooruit gekyk watter pad Jesus gaan stap en langs die pad in ‘n boom gaan klim het om Jesus mooi te kan sien as Hy daar verby sou kom. Skopper, hoe hard sou jy probeer het om Jesus te sien as jy Saggeus was?

Skopper:                Hoe hard sou ek probeer om Jesus te sien? Baaaie hard! Ek sou probeer vlieg met my klein volstruis vlerkies, so hard sou ek probeer.

Voorganger:         Skopper, kan jy onthou in watter tiepe boom hy geklim het? Maats, kan julle onthou?

Skopper:                Ja, jys reg maatjie, dit was ‘n vyeboom, hy moes seker baie taai gewees het daar in die boom. My mamma het al vir my vyekonfyt op ‘n toebroodjie gesit en dit het my snawel baie taai gemaak.

Voorganger:         Ja, en soos hy daar in die taai vyeboom gesit het kom Jesus toe daar verby. Maar wat gebeur toe? Toe stop Jesus by die vyeboom en roep vir Saggeus. Jesus het hom op sy naam geken. Hy roep hom toe en sê vir hom dat Hy vandag by hom wil gaan kuier.

Skopper:                Maar was Saggeus nie ‘n skelm mens nie? Hoekom wil Jesus dan by ‘n skelm wat in ‘n vyeboom wegkruip gaan kuier?

Voorganger:         Skopper, maats, Jesus wil by almal kuier! Nie net die slim mense, en die mooi mense nie, Jesus wil by almal kuier, selfs die wat so bietjie skelm is, selfs die wat nie so mooi is nie. Jesus het gekom om by almal te kuier.

Skopper:                OooooKkkkkkkk, ek verstaan. Jesus wil selfs by my boetie kuier, al het hy sy kop in die grond gesteek?

Voorganger:         Ja Skopper, Jesus wil by almal kuier!

Skopper:                Jesus en Saggeus het seker lekker saam koeldrank gedrink?

Voorganger:         Ek dink nogal so Skopper, want terwyl hulle gekuier het, het Saggeus vir Jesus gese dat hy die helfte van sy goed vir die arm mense gaan gee, en almal met wie hy skelm was, hy vier keer soveel gaan terug gee.

Skopper:                Sjoe! Dit is nogal ‘n groot ding om te doen! Saggeus was seker baaaaaaie lief vir Jesus?

Voorganger:         Ja Skopper, ek dink ook Saggeus was baie lief vir Jesus. Want, onthooouuu, Jesus het gekom vir almal!

Voorganger:         Maats sê saam met my “Jesus, het gekom, vir almal!”

 

(Kom ons sê saam dat ons Jesus baie nodig het, elke dag, kom ons sê saam dat ons in Hom glo…)

Lukas 11: Here, leer ons bid

Ons teks vir vandag handel oor Jesus wat sy dissipels leer bid.

Vers 1-4: Lukas plaas Jesus se onderrig oor gebed as ‘n reaksie op ‘n versoek van ‘n dissipel wat Hom sien bid. Dalk was die dissipel diep onder die indruk van Jesus se gebedslewe en sy eie gebrek daaraan. Jesus se reaksie op sy versoek is ‘n resepgebed wat hulle altyd kan gebruik as hulle bid. Dit beteken natuurlik nie dat die Ons Vader-gebed die enigste woorde is wat ‘n dissipel hoef te bid nie. Dit is ‘n model- en voorbeeldgebed, in die skool van gebed. Gebed is deel van die omgang met God. Dit is deel van ‘n verhouding.

Dit is uniek dat Jesus sy dissipels leer om God “Vader” (Abba) te noem. Joodse gebede het ook na God as Vader verwys, maar nooit so persoonlik soos hier nie. Jesus leer sy dissipels dat hulle deur Hom in ‘n persoonlike verhouding met God staan. Daarom mag hulle Hom “Vader” noem. Dit moes ‘n geweldige ondervinding en uitdaging vir die dissipels gewees het om tot so ‘n intieme verhouding met God te beweeg. Nou is God nie meer net die God van Abraham, Isak en Jakob nie, maar “my God”. En nie net is Hy nou “my” God nie, maar ook “Vader”. Dit was die verrassende nuwe ding wat Jesus vir sy dissipels wou leer. So het Hy hulle ingelyf in dieselfde persoonlike en hegte verhouding wat Hy met die Vader het. Jesus sê vir hulle: “Nie net Ek mag vir God Vader sê nie, maar julle ook.” Hulle word in dieselfde verhouding van liefde opgeneem wat daar tussen die Vader en die Seun is. Om God “Vader” te noem, bevestig hulle kindskap. Dissipels van Jesus staan in ‘n Vader/kind-verhouding tot God!

Hierdie verhouding gee die dissipel toegang tot God. Daarom mag hulle van Hom dinge vra/smeek. Dikwels word die woord “vra” as sinoniem vir gebed in die Bybel gebruik. Dit is hierdie vra-karakter wat Jesus beklemtoon. “Deur nederig te vra kom die ware mens voor God te staan: sonder maskers, sonder enige pretensies, met leë hande” – soos ‘n afhanklike kind!. Die dissipel van Jesus kry as kind van die verbond die vryheid om in ‘n direkte en persoonlike verhouding tot God te staan. Dit is ‘n vryheid waarin die dissipel beide mag vra en moet vra. Hierdie gebed skakel die dissipel as kind van die Vader aktief by die saak van God in. Hy wil nie hê ons moet stomme objekte van sy genade wees nie, maar medewerkers. Bid is dus nie net ‘n wonderlike voorreg vir die dissipel nie, maar ook ‘n opdrag.

Die gebed wat Jesus hulle leer, het twee stelle versoeke. Die eerste stel vra dat God sy koningskap sal waarmaak (2b). Die tweede stel is versoeke vir die persoonlike behoeftes van die dissipels (3-4).

Die eerste stel versoeke: Vir die kind van die Vader kom die Vader eerste. Die gebed om die heiliging van God se Naam en die koms van sy koninkryk is versoeke wat langs mekaar loop. Albei vra dat die koningskap van God sigbaar sal word. Die gebed vir die koms van die koninkryk is die versoek waarom alles draai.

“Waar om brood gebid en vir brood gedank word, daar kom die koninkryk. Waar God mense hul oortredinge vergewe en mense mekaar s’n, daar kom die koninkryk. Waar versoeking weerstaan en mense van die Bose verlos word, daar kom die koninkryk.”

Die dissipel is as kind volledig en met oorgawe toegewy aan die Naam en eer van die Vader. Die gebed is nie net ‘n versoek dat die Vader sal sorg dat sy Naam geheilig word en sy koninkryk kom nie, maar druk ook die persoonlike verbintenis van die kind uit. Deur hierdie gebed te bid, verbind die dissipel haar/hom daartoe om self die Vader se Naam te heilig en sy koninkryk te help vestig. Gebed kan nooit as ‘n stilstaande ding gesien word nie. Daarvoor lê net te veel klem op die sosiale implikasies van dissipelskap. Dit help ons om te onthou dat ons daartoe opgeroep word om die nood van mense ons nood te maak.

Die tweede stel versoeke: Met hierdie stel versoeke leer Jesus juis die dissipels dat hulle lewens op ‘n spesiale manier die plek is waarin die koninkryk van God sigbaar word. Deur hierdie versoeke uit te spreek erken die dissipel dat hy/sy verstaan dat die persoonlike lewe die plek is waar God se koninkryk in die eerste plek moet kom.

Met die eerste versoek (3) bely die dissipels hul afhanklikheid van God en rus hulle in sy sorg. Jesus leer ons om elke dag se kos te vra “wat ons vir daardie dag nodig het”. Die klem lê op daaglikse afhanklikheid. Die versoek het Israel se versorging in die woestyn as agtergrond en verwys spesifiek na die daaglikse optel van die manna (Eks. 16:18). Elke dag vertrou ek die Here. Daar waar die dissipel in algehele afhanklikheid van die Vader lewe en elke dag deur die Vader versorg word, word die koninkryk sigbaar. Die koninkryk van God word ook daar sigbaar waar stukkende verhoudinge heel word. Met die tweede versoek (4) leer Jesus ons om uit die Vader se genade te leef in ons verhoudinge. Die dissipel van Jesus weet dat sonde alle verhoudings stukkend breek. In hierdie versoek leer Jesus ons wat ons met ons sonde moet maak. Daar is net een manier waarop sonde uit die weg geruim kan word – deur belydenis en vergifnis! In hierdie bede leer Jesus ons om albei te doen. Met hierdie woorde erken die dissipel in die eerste plek die werklikheid van sonde en die noodsaaklikheid dat dit hanteer moet word – sodat God se koninkryk kan kom in herstelde verhoudinge. Maar die bede erken ook dat vergifnis die enigste manier is waarop dit gedoen kan word. Bely en vergifnis gaan altyd saam. Wie vergifnis vra, bely. En wie bely, vra vergifnis.

Die tweede deel van hierdie versoek is nie net ‘n verklaring van gewilligheid om self te vergewe nie, maar ‘n onvoorwaardelike verbintenis daartoe om elkeen te vergewe wat teenoor die dissipel oortree. Die bede sê nie: “Ek onderneem om dit te doen nie”, maar: “Ek doen dit in elk geval!” En teenoor almal. Vergifnis is nie ‘n opsie tussen opsies nie. Dit is die enigste opsie. Want dit is die enigste weg waarlangs die Vader sonde hanteer. Die dissipel vergewe ook nie selektief net sommige oortreders nie, maar “elkeen”. Dit is tog immers wat genade is.

Die derde versoek in die tweede stel versoeke leer ons om te erken dat dissipelskap ‘n stryd is. Daarmee bely die dissipels dat daar voortdurend versoekings tot sonde is en dat ons dit nie op ons eie kan weerstaan nie. Dit is ‘n gebed om God die Vader se beskerming en krag. En só beklemtoon hierdie laaste versoek die feit dat hierdie hele gebed die gebed van ‘n kind is. ‘n Kind wat in totale afhanklikheid van die Vader leef en volledig gerig is op die koms van sy koninkryk. Maar ook ‘n kind wat self met hart en siel en verstand verbind is tot gehoorsaamheid aan die Vader.

Dit is verder opvallend dat Jesus sy dissipels leer om in die meervoud (“ons”) te bid. ‘n Dissipel volg nooit vir Jesus alleen nie, maar altyd saam met ander dissipels. Daarom bid hy/sy ook nooit alleen nie. Christelike gebed is ‘n gemeenskaplike saak.

Vers 5-8: Na die resepgebed volg ‘n gelykenis waarmee Jesus sy dissipels aanmoedig om tot hul Vader te bid en dit met volharding te doen. Dié gelykenis word met die resepgebed verbind deur die woord “brood”. Die vraer in die gelykenis is in ‘n penarie. Hy het ‘n laatnag besoek van ‘n vriend gekry wat op reis is. Oosterse gasvryheid het van hom verwag om vir sy vriend kos te gee, maar hy het niks in die huis om vir hom voor te sit nie. Hy het net een opsie. Gaan vra vir ‘n ander vriend brood. Die klem in die gelykenis val op die lastigheid van die versoek aan die vriend en dat hy ten spyte daarvan tog aan die versoek toegee. Die middel van die nag was die ongemaklikste tyd om iemand in ‘n Palestynse huishouding te pla. Vers 7 gee iets van die ontwrigting deur wat die versoek om brood die vriend aandoen. Die versoek ontstel die vriend. Om daaraan te voldoen beteken vir hom en sy hele huishouding ‘n klomp beslommernis. Hulle is almal al vas aan die slaap. Dit is donker in die huis, want die olielampie wat deur die nag brand, is maar flou. Almal in die huis lê langs mekaar in die een vertrek en die deur is met ‘n dwarsbalk stewig toegemaak. Nou word van hom verwag om in die omstandighede op te staan en brood te gee. Dit gaan almal in die huis wakker maak en hul rus onderbreek. Ten spyte hiervan, sê Jesus, sal hy tog opstaan en alles gee aan die een wat vra. En die rede wat Jesus aangee waarom hy aan die versoek sal voldoen, is die feit dat die een wat die brood kom vra “nie skaam is om aan te hou vra nie”. Dit is die feit dat die vraer die moed by mekaar kon skraap om sy vriend lastig te val en vrymoedig genoeg was om te klop totdat sy vriend die deur oopmaak, wat maak dat die vriend sy versoek (smeking) beantwoord. Die vrymoedigheid van die vraer lei daartoe dat sy vriend aan sy versoek voldoen. En so word hy uit sy penarie gehelp.

Die dissipel kan as kind van die Vader met vrymoedigheid bid. Want as ‘n vriend in die middel van die nag ten spyte van al die ongerief sal opstaan om ‘n ander vriend uit sy penarie te help net omdat hy vrymoedig is om te kom vra, hoeveel te meer sal God die Vader dit nie doen nie! God hoor die roep van hulle wat in nood is en help hulle. Dit is verseker.

Vers 9-10 bestaan uit drie van dieselfde woorde vir bid (vra, soek en klop). Elkeen van hulle word opgevolg met ‘n absolute versekering (“sal”) dat die versoek deur God beantwoord sal word. Hiermee moedig Jesus die dissipels verder aan om met vrymoedigheid te bid. Die kind van die Vader moet geen huiwering hê om tot Hom te bid nie. En as daar iemand is wat uit ondervinding hieroor kan praat, dan is dit Jesus self.

Alhoewel vers 11-13 ook handel oor die manier waarop God gebed beantwoord, lê die klem hier eerder op die goedheid van die gawes wat Hy gee en nie op die sekerheid van wanneer dit verhoor sal word nie. Die vrae wat Jesus in 11 en 12 vra, lok die reaksie uit: “Onmoontlik!”

Weereens kontrasteer Jesus, God die Vader, met menslike karakters. Aardse vaders wat sondaars (“sleg”) is, gee goeie dinge aan hulle kinders. Hoeveel te meer sal God – die volmaakte Vader – dit nie doen nie. Matteus praat in sy weergawe van hierdie gesprek oor “goeie gawes” (7:11), terwyl Lukas hier spesifiek na die gawe van die Heilige Gees verwys. Is die Heilige Gees dan nie die beste goeie gawe nie?

“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie meer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: `Abba!’” (Rom. 8:15), En: “Die Gees staan ons in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom. 8:26).

Alles wat Jesus sy dissipels in hierdie gedeelte oor gebed geleer het, is slegs moontlik in en deur die Heilige Gees. Dit is hierdie goeie gawe wat God vir elkeen gee wat daarom vra.

Verseker!

Amen.