Lukas 11: Here, leer ons bid

Ons teks vir vandag handel oor Jesus wat sy dissipels leer bid.

Vers 1-4: Lukas plaas Jesus se onderrig oor gebed as ‘n reaksie op ‘n versoek van ‘n dissipel wat Hom sien bid. Dalk was die dissipel diep onder die indruk van Jesus se gebedslewe en sy eie gebrek daaraan. Jesus se reaksie op sy versoek is ‘n resepgebed wat hulle altyd kan gebruik as hulle bid. Dit beteken natuurlik nie dat die Ons Vader-gebed die enigste woorde is wat ‘n dissipel hoef te bid nie. Dit is ‘n model- en voorbeeldgebed, in die skool van gebed. Gebed is deel van die omgang met God. Dit is deel van ‘n verhouding.

Dit is uniek dat Jesus sy dissipels leer om God “Vader” (Abba) te noem. Joodse gebede het ook na God as Vader verwys, maar nooit so persoonlik soos hier nie. Jesus leer sy dissipels dat hulle deur Hom in ‘n persoonlike verhouding met God staan. Daarom mag hulle Hom “Vader” noem. Dit moes ‘n geweldige ondervinding en uitdaging vir die dissipels gewees het om tot so ‘n intieme verhouding met God te beweeg. Nou is God nie meer net die God van Abraham, Isak en Jakob nie, maar “my God”. En nie net is Hy nou “my” God nie, maar ook “Vader”. Dit was die verrassende nuwe ding wat Jesus vir sy dissipels wou leer. So het Hy hulle ingelyf in dieselfde persoonlike en hegte verhouding wat Hy met die Vader het. Jesus sê vir hulle: “Nie net Ek mag vir God Vader sê nie, maar julle ook.” Hulle word in dieselfde verhouding van liefde opgeneem wat daar tussen die Vader en die Seun is. Om God “Vader” te noem, bevestig hulle kindskap. Dissipels van Jesus staan in ‘n Vader/kind-verhouding tot God!

Hierdie verhouding gee die dissipel toegang tot God. Daarom mag hulle van Hom dinge vra/smeek. Dikwels word die woord “vra” as sinoniem vir gebed in die Bybel gebruik. Dit is hierdie vra-karakter wat Jesus beklemtoon. “Deur nederig te vra kom die ware mens voor God te staan: sonder maskers, sonder enige pretensies, met leë hande” – soos ‘n afhanklike kind!. Die dissipel van Jesus kry as kind van die verbond die vryheid om in ‘n direkte en persoonlike verhouding tot God te staan. Dit is ‘n vryheid waarin die dissipel beide mag vra en moet vra. Hierdie gebed skakel die dissipel as kind van die Vader aktief by die saak van God in. Hy wil nie hê ons moet stomme objekte van sy genade wees nie, maar medewerkers. Bid is dus nie net ‘n wonderlike voorreg vir die dissipel nie, maar ook ‘n opdrag.

Die gebed wat Jesus hulle leer, het twee stelle versoeke. Die eerste stel vra dat God sy koningskap sal waarmaak (2b). Die tweede stel is versoeke vir die persoonlike behoeftes van die dissipels (3-4).

Die eerste stel versoeke: Vir die kind van die Vader kom die Vader eerste. Die gebed om die heiliging van God se Naam en die koms van sy koninkryk is versoeke wat langs mekaar loop. Albei vra dat die koningskap van God sigbaar sal word. Die gebed vir die koms van die koninkryk is die versoek waarom alles draai.

“Waar om brood gebid en vir brood gedank word, daar kom die koninkryk. Waar God mense hul oortredinge vergewe en mense mekaar s’n, daar kom die koninkryk. Waar versoeking weerstaan en mense van die Bose verlos word, daar kom die koninkryk.”

Die dissipel is as kind volledig en met oorgawe toegewy aan die Naam en eer van die Vader. Die gebed is nie net ‘n versoek dat die Vader sal sorg dat sy Naam geheilig word en sy koninkryk kom nie, maar druk ook die persoonlike verbintenis van die kind uit. Deur hierdie gebed te bid, verbind die dissipel haar/hom daartoe om self die Vader se Naam te heilig en sy koninkryk te help vestig. Gebed kan nooit as ‘n stilstaande ding gesien word nie. Daarvoor lê net te veel klem op die sosiale implikasies van dissipelskap. Dit help ons om te onthou dat ons daartoe opgeroep word om die nood van mense ons nood te maak.

Die tweede stel versoeke: Met hierdie stel versoeke leer Jesus juis die dissipels dat hulle lewens op ‘n spesiale manier die plek is waarin die koninkryk van God sigbaar word. Deur hierdie versoeke uit te spreek erken die dissipel dat hy/sy verstaan dat die persoonlike lewe die plek is waar God se koninkryk in die eerste plek moet kom.

Met die eerste versoek (3) bely die dissipels hul afhanklikheid van God en rus hulle in sy sorg. Jesus leer ons om elke dag se kos te vra “wat ons vir daardie dag nodig het”. Die klem lê op daaglikse afhanklikheid. Die versoek het Israel se versorging in die woestyn as agtergrond en verwys spesifiek na die daaglikse optel van die manna (Eks. 16:18). Elke dag vertrou ek die Here. Daar waar die dissipel in algehele afhanklikheid van die Vader lewe en elke dag deur die Vader versorg word, word die koninkryk sigbaar. Die koninkryk van God word ook daar sigbaar waar stukkende verhoudinge heel word. Met die tweede versoek (4) leer Jesus ons om uit die Vader se genade te leef in ons verhoudinge. Die dissipel van Jesus weet dat sonde alle verhoudings stukkend breek. In hierdie versoek leer Jesus ons wat ons met ons sonde moet maak. Daar is net een manier waarop sonde uit die weg geruim kan word – deur belydenis en vergifnis! In hierdie bede leer Jesus ons om albei te doen. Met hierdie woorde erken die dissipel in die eerste plek die werklikheid van sonde en die noodsaaklikheid dat dit hanteer moet word – sodat God se koninkryk kan kom in herstelde verhoudinge. Maar die bede erken ook dat vergifnis die enigste manier is waarop dit gedoen kan word. Bely en vergifnis gaan altyd saam. Wie vergifnis vra, bely. En wie bely, vra vergifnis.

Die tweede deel van hierdie versoek is nie net ‘n verklaring van gewilligheid om self te vergewe nie, maar ‘n onvoorwaardelike verbintenis daartoe om elkeen te vergewe wat teenoor die dissipel oortree. Die bede sê nie: “Ek onderneem om dit te doen nie”, maar: “Ek doen dit in elk geval!” En teenoor almal. Vergifnis is nie ‘n opsie tussen opsies nie. Dit is die enigste opsie. Want dit is die enigste weg waarlangs die Vader sonde hanteer. Die dissipel vergewe ook nie selektief net sommige oortreders nie, maar “elkeen”. Dit is tog immers wat genade is.

Die derde versoek in die tweede stel versoeke leer ons om te erken dat dissipelskap ‘n stryd is. Daarmee bely die dissipels dat daar voortdurend versoekings tot sonde is en dat ons dit nie op ons eie kan weerstaan nie. Dit is ‘n gebed om God die Vader se beskerming en krag. En só beklemtoon hierdie laaste versoek die feit dat hierdie hele gebed die gebed van ‘n kind is. ‘n Kind wat in totale afhanklikheid van die Vader leef en volledig gerig is op die koms van sy koninkryk. Maar ook ‘n kind wat self met hart en siel en verstand verbind is tot gehoorsaamheid aan die Vader.

Dit is verder opvallend dat Jesus sy dissipels leer om in die meervoud (“ons”) te bid. ‘n Dissipel volg nooit vir Jesus alleen nie, maar altyd saam met ander dissipels. Daarom bid hy/sy ook nooit alleen nie. Christelike gebed is ‘n gemeenskaplike saak.

Vers 5-8: Na die resepgebed volg ‘n gelykenis waarmee Jesus sy dissipels aanmoedig om tot hul Vader te bid en dit met volharding te doen. Dié gelykenis word met die resepgebed verbind deur die woord “brood”. Die vraer in die gelykenis is in ‘n penarie. Hy het ‘n laatnag besoek van ‘n vriend gekry wat op reis is. Oosterse gasvryheid het van hom verwag om vir sy vriend kos te gee, maar hy het niks in die huis om vir hom voor te sit nie. Hy het net een opsie. Gaan vra vir ‘n ander vriend brood. Die klem in die gelykenis val op die lastigheid van die versoek aan die vriend en dat hy ten spyte daarvan tog aan die versoek toegee. Die middel van die nag was die ongemaklikste tyd om iemand in ‘n Palestynse huishouding te pla. Vers 7 gee iets van die ontwrigting deur wat die versoek om brood die vriend aandoen. Die versoek ontstel die vriend. Om daaraan te voldoen beteken vir hom en sy hele huishouding ‘n klomp beslommernis. Hulle is almal al vas aan die slaap. Dit is donker in die huis, want die olielampie wat deur die nag brand, is maar flou. Almal in die huis lê langs mekaar in die een vertrek en die deur is met ‘n dwarsbalk stewig toegemaak. Nou word van hom verwag om in die omstandighede op te staan en brood te gee. Dit gaan almal in die huis wakker maak en hul rus onderbreek. Ten spyte hiervan, sê Jesus, sal hy tog opstaan en alles gee aan die een wat vra. En die rede wat Jesus aangee waarom hy aan die versoek sal voldoen, is die feit dat die een wat die brood kom vra “nie skaam is om aan te hou vra nie”. Dit is die feit dat die vraer die moed by mekaar kon skraap om sy vriend lastig te val en vrymoedig genoeg was om te klop totdat sy vriend die deur oopmaak, wat maak dat die vriend sy versoek (smeking) beantwoord. Die vrymoedigheid van die vraer lei daartoe dat sy vriend aan sy versoek voldoen. En so word hy uit sy penarie gehelp.

Die dissipel kan as kind van die Vader met vrymoedigheid bid. Want as ‘n vriend in die middel van die nag ten spyte van al die ongerief sal opstaan om ‘n ander vriend uit sy penarie te help net omdat hy vrymoedig is om te kom vra, hoeveel te meer sal God die Vader dit nie doen nie! God hoor die roep van hulle wat in nood is en help hulle. Dit is verseker.

Vers 9-10 bestaan uit drie van dieselfde woorde vir bid (vra, soek en klop). Elkeen van hulle word opgevolg met ‘n absolute versekering (“sal”) dat die versoek deur God beantwoord sal word. Hiermee moedig Jesus die dissipels verder aan om met vrymoedigheid te bid. Die kind van die Vader moet geen huiwering hê om tot Hom te bid nie. En as daar iemand is wat uit ondervinding hieroor kan praat, dan is dit Jesus self.

Alhoewel vers 11-13 ook handel oor die manier waarop God gebed beantwoord, lê die klem hier eerder op die goedheid van die gawes wat Hy gee en nie op die sekerheid van wanneer dit verhoor sal word nie. Die vrae wat Jesus in 11 en 12 vra, lok die reaksie uit: “Onmoontlik!”

Weereens kontrasteer Jesus, God die Vader, met menslike karakters. Aardse vaders wat sondaars (“sleg”) is, gee goeie dinge aan hulle kinders. Hoeveel te meer sal God – die volmaakte Vader – dit nie doen nie. Matteus praat in sy weergawe van hierdie gesprek oor “goeie gawes” (7:11), terwyl Lukas hier spesifiek na die gawe van die Heilige Gees verwys. Is die Heilige Gees dan nie die beste goeie gawe nie?

“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie meer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: `Abba!’” (Rom. 8:15), En: “Die Gees staan ons in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom. 8:26).

Alles wat Jesus sy dissipels in hierdie gedeelte oor gebed geleer het, is slegs moontlik in en deur die Heilige Gees. Dit is hierdie goeie gawe wat God vir elkeen gee wat daarom vra.

Verseker!

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.