Voorganger: Hallo maats! Kom, kom sit hier naby my, ek wil vir julle die storie van Saggeus vertel. Wie van julle weet wie Saggeus was?
Skopper: More ds., more maats, het ek reg gehoor? Praat ons vandag oor Saggeus?
Voorganger: More Skopper, sê jy nie more vir die maatjies nie?
Skopper: More maatjies, julle lyk baaie soet! Dit is vir my so lekker om vanoggend hier by julle te wees!
Voorganger: Het jy al die pad uit die Karoo gekom om vir ons te kuier Skopper?
Skopper: Ek het in die koerant gelees dat hier nie water in Bloemfontein is nie, toe besluit ek om julle ‘n bietjie te kom help soek na die water. Ons volstruise is mos goed om water te kry. En natuurlik moet volstruise ook op Sondae kerk toe gaan!
Voorganger: Ons is bly om jou vandag hier by ons te hê Skopper! En ja, ons praat vandag oor Saggeus. Hy was ‘n tollenaar in Jerigo gewees. Hy was die baas van al die tollenaars gewees.
Skopper: Was hy nie baie skelm nie? My mamma vertel vir my dat die mense van die E-tol baie skelm is. En was hy nie ook baie kort gewees nie?
Voorganger: Hahaha, ja Skopper, tollenaars was in daardie tyd net so skelm soos vandag. Hulle het mense baie geld gevra al was dit nie nodig nie. Daarom was Saggeus ‘n baie ryk man gewees, maar, ‘n skelm ryk man. En ja, hy was kort gewees.
Skopper: Hy was mos so kort dat hy nie vir Jesus kon sien toe Jesus in Jerigo kom kuier het nie.
Voorganger: Saggeus was kort gewees, daarom het hy vooruit gekyk watter pad Jesus gaan stap en langs die pad in ‘n boom gaan klim het om Jesus mooi te kan sien as Hy daar verby sou kom. Skopper, hoe hard sou jy probeer het om Jesus te sien as jy Saggeus was?
Skopper: Hoe hard sou ek probeer om Jesus te sien? Baaaie hard! Ek sou probeer vlieg met my klein volstruis vlerkies, so hard sou ek probeer.
Voorganger: Skopper, kan jy onthou in watter tiepe boom hy geklim het? Maats, kan julle onthou?
Skopper: Ja, jys reg maatjie, dit was ‘n vyeboom, hy moes seker baie taai gewees het daar in die boom. My mamma het al vir my vyekonfyt op ‘n toebroodjie gesit en dit het my snawel baie taai gemaak.
Voorganger: Ja, en soos hy daar in die taai vyeboom gesit het kom Jesus toe daar verby. Maar wat gebeur toe? Toe stop Jesus by die vyeboom en roep vir Saggeus. Jesus het hom op sy naam geken. Hy roep hom toe en sê vir hom dat Hy vandag by hom wil gaan kuier.
Skopper: Maar was Saggeus nie ‘n skelm mens nie? Hoekom wil Jesus dan by ‘n skelm wat in ‘n vyeboom wegkruip gaan kuier?
Voorganger: Skopper, maats, Jesus wil by almal kuier! Nie net die slim mense, en die mooi mense nie, Jesus wil by almal kuier, selfs die wat so bietjie skelm is, selfs die wat nie so mooi is nie. Jesus het gekom om by almal te kuier.
Skopper: OooooKkkkkkkk, ek verstaan. Jesus wil selfs by my boetie kuier, al het hy sy kop in die grond gesteek?
Voorganger: Ja Skopper, Jesus wil by almal kuier!
Skopper: Jesus en Saggeus het seker lekker saam koeldrank gedrink?
Voorganger: Ek dink nogal so Skopper, want terwyl hulle gekuier het, het Saggeus vir Jesus gese dat hy die helfte van sy goed vir die arm mense gaan gee, en almal met wie hy skelm was, hy vier keer soveel gaan terug gee.
Skopper: Sjoe! Dit is nogal ‘n groot ding om te doen! Saggeus was seker baaaaaaie lief vir Jesus?
Voorganger: Ja Skopper, ek dink ook Saggeus was baie lief vir Jesus. Want, onthooouuu, Jesus het gekom vir almal!
Voorganger: Maats sê saam met my “Jesus, het gekom, vir almal!”
(Kom ons sê saam dat ons Jesus baie nodig het, elke dag, kom ons sê saam dat ons in Hom glo…)