drome van ‘n randfiguur

‘n boekwinkel wil ek besit

en donker koffie daaruit bedien

ek wil gesels met rustigheid

en skryf, of die waagmoed

bymekaarskraap om wel te skryf

 

om te kan skryf

sonder beplande mooi sê-woorde

om impulsief krapperig

met gelaaide ink

woorde aanmekaar te vleg

 

om verwronge en soms eenvoudige

droombeelde gestalte te gee

in ‘n minder vlietende vorm

sodat onbewuste onbewustheid

blootgelê kan word

 

– Francois van Dijk

my hart se rooi

koraal

grys

jy was

my hart se rooi

 

jou steak, jou groente, jou slaai, jou wyn

jou dans, jou lag, jou prentjies, jou prag

 

saam het ons geleef, anders

 

vanaand het jy my woorde gesteel

my gedagtes geboei

jou boeie laat my so bietjie bloei, rooi

 

ongelukkig, saam kan ons nie meer leef…ongelukkig

 

– Francois van Dijk

swartpeper en rooiwyn

soos die nuwe oggendson

het jy gekom, in my ysblou oë

gestaar, gekyk, gesien, raakgesien,

en ek het daar gestaan.

 

jou warmte het my hart ontdooi

my hart laat klop

laat klop aan jou deurtjie

om my in te laat.

 

saam het ons

kos geflop en kos gemaak

swartpeper en rooiwyn

geruik en geproe.

 

nou sit jy daar

en ek is hier…

 

–          Francois van Dijk