die mannetjie

jou hande weergalm ‘n soeke na meer

al hoe dieper grou

jy in die aarde opsoek na vrugbare grond

om op te tel in verbrokkeling

 

klonte plof

na onder en breek

die reuk oop vir al wat leef

in die oomblik

 

wysheid antwoord met ‘n

ewige standvastigheid

bied ‘n veilige gebied vir rus

op die rug

 

son word vervang deur maan

seun word man

mannetjie

moet nooit ophou soek nie.

 

– Francois van Dijk

ongetiteld

Blou sand silwer

hoe sal ek jou ooit kan skilder?

 

Kinderlik staar jy na my in nuuskierigheid

en wonder wat in my blou skuil.

En as ek terug kyk na jou

is jy (nie).

 

Giggel, wapper, trippel

dit is jy wat dans

saam met die wind.

Die see wit skuim sproei

wat jy in jou in nooi

arms oop.

 

Jou woorde is water wat lewe bring.

Jou glinster word my groei,

van stille saadjie

tot waaragtige woud.

 

Jou water bring lewe in my.

 

– Francois van Dijk.

koffie kringe

Asem in, asem uit,

tussen watter wêrelde vind jy jouself vanaand?

 

Waar spoel jy jou duifwit koppie

met ‘n bietjie warm water?

Opgehoop met kitskoffie

laat val jy jou teelepel in die koppie met ‘n geklingel

saam die kookborrel van die ketel

en roer.

 

Staar jy by jou kombuisvenster uit?

Hoor jy die reën?

 

Ek sit rustig op my stoep, saam die krieke,

en luister, na geluide van die donkermaan nag.

 

– Francois van Dijk