Wat sê kerkspieël oor die NG Kerk?

WAT SÊ KERKSPIEËL OOR DIE NG KERK?

Tydens die onlangse Gemeentedienste-Netwerk het die aanwesiges die volgende tien uitdagings en geleenthede vir die NG Kerk geïdentifiseer. Dit is gedoen op grond van die jongste Kerkspieël-navorsing:

  • Die konflik in gemeentes blyk minder te wees (bv net 6.9% weet van ernstige konflik in die gemeente wat leiers of lidmate die gemeente laat verlaat het, vs 9% in 2006) en die ervaring van die positiewe kant van leraars se bediening styg (bv 47.8% dink die gemeente en die predikant pas goed by mekaar, vs 42% in 2006). Dit is iets om te vier!
  • Die potensiaal vir verandering by lidmate is meer as wat ons verwag het (74.2 % dink die gemeente is altyd gereed om iets nuuts te probeer – 2006 was dieselfde; 32.6% dink die gemeente beweeg reeds in ‘n nuwe rigting, vs 18% in 2006). Dit is iets om te benut.
  • Daar is ‘n groeiende behoefte aan spiritualiteit (59.4% dink geestelike begeleiding is die belangrikste rol van ‘n predikant, vs 56% in 2006, die tweede hoogste keuse na die rol van die predikant in Eredienste en prediking) wat in lyn is met die algemene ontwaking in spiritualiteit en ‘n geleentheid is vir ons. Ons moet dié behoefte aangryp in ons beplanning.
  • Die Bybel as Woord van God (94.2%, dieselfde as in 2006) blyk steeds baie belangrik te wees vir lidmate terwyl ons egter ook raaksien dat ‘n betekenisvolle komponent van ons erediensbywoners ‘n letterlike woord vir woord verstaan van die Bybel het (40.1% beskou dit so, effens meer as 2006 se 38%). Daar is ook 36.4% wat dit in die lig van sy historiese konteks en kerklike leerstellings verstaan (‘n matige styging van 28% in 2006), en 17.9% wat die Bybel as die Woord van God in die lig van sy historiese en kulturele konteks verstaan (‘n redelike skerp daling van die 29% in 2006). Die hoeveelheid mense wat die invloed van kerklike leerstellings erken in die verstaan van die Bybel het dus afgeneem en die aantal wat die kulturele konteks van die Bybel verreken in die verstaan van die Bybel het toegeneem. Ons bly ‘n kerk van die Woord, maar ons sal aandag moet gee aan deurdagte verstaansraamwerke.
  • ‘n Besondere sosiale deernis word bespeur by lidmate veral deur hulle gemeenskapsbetrokkenheid. ‘n Groot en steeds groeiende persentasie van erediensbywoners is betrokke by kosvoorsiening (54.7% – meer as die helfte van alle erediensbywoners) geldelike- (41%), pastorale- (30.6%), en werksverskaffingshulp (18.7%) aan mense buite hulle familie. Die betrokkenheid by gemeenskapsdiens groei dus besonders. Dit is ook vloeibaar en organies. ‘n Groot persentasie verkies om dit self in die gemeenskap te doen eerder as deur aksies van die gemeente, iets wat gemeentes sal moet verreken. Die impak van ons gemeentes is reeds baie groot op dié terrein, en kan met vrug verder uitgebou word.
  • Die demografiese verskuiwings in ons gemeenskappe word nie gereflekteer in lidmaatskap van gemeentes nie (99% van die erediensbywoners wat die vraelys ingevul het, is blank). Ons gemeentes (en sinodes en ringe) sal ernstig hieroor moet reflekteer oor wyses waarop gasvryheid oor grense heen betoon kan word en ons meer insluitende in terme van lidmaatskap kan raak.
  • Die gemeenskap-tendense rondom bv egskeiding word nie gereflekteer in die kerk nie (60.6% van erediensbywoners was steeds in ‘n eerste huwelik, vs 63% in 2006). Dit is iets om te vier, hoewel ons steeds op die bevordering van gesonde huwelike en families moet bly fokus.
  • Die behoefte van gemeentes aan die geestelike leierskap van die leraars groei. Dit is die derde hoogste rolverwagting van die predikant, 41.7% (39% in 2006). Ons is oortuig dat dié behoefte gereflekteer moet word in ons opleiding van studente en VBO van leraars.
  • Daar is ‘n groeiende waarneming dat mense uit die toekoms gemotiveer word (34.2% stem beslis saam dat hulle opgewonde is oor die gemeente se toekoms en 43.3% stem daarmee saam, wat ‘n gekombineerde totaal van 77.5% gee). Dit beteken vir ons dat aksies wat fokus op die genesing van ons land en die koms van die koninkryk ‘n groeiende ondersteuning sal geniet.

Die Erediensbelewing oor ‘n wye spektrum is groeiend positief en moet op waarderende wyses gekommunikeer word binne sinodes en ringe. Daar ‘n groot persentasie wat deur die eredienste en aktiwiteite van die gemeente gehelp word in hulle alledaagse lewe, 64%. As die aantal wat tot ‘n mate gehelp word bygetel word, is dit ‘n baie groot persentasie, 91,6% (teenoor 89% in 2006). Die meeste erediens bywoners rapporteer groei in hulle geloof die afgelope jaar. Die grootste rede daarvoor is steeds die rol wat die gemeente speel, 40.1% (39% in 2006), die tweede grootste rede is steeds eie privaat aktiwiteite, 28.6% (28% in 2006), en ‘n klein groep groei steeds as gevolg van ander groepe en gemeentes, 11.6% (12% in 2006). Dit is goeie nuus vir gemeentes wat op geloofsgroei fokus. Daar is duidelik ‘n groter bewussyn van God se teenwoordigheid in die eredienste, 87.8% (vs 67% in 2006), ditto die bewussyn van inspirasie, 80.3% (vs 42% in 2006), ditto verwondering, 52.3% (vs 20% in 2006), ditto vreugde, 79.8% (vs 49% in 2006), ditto spontaneïteit, 66% (vs 37%) en roepingsvervulling, 60% (vs 30% in 2006). Ons sien dit ook in die afname van verveling, 63% beleef dit selde en frustrasie, 67.5% beleef dit selde.

Danie Mouton

‘n Nuwe Suid-Afrika

Binne ‘n jaar nadat hy op 20 September 1989 formeel as staatspresident ingehuldig is, het F.W. De Klerk massaoptrede toegelaat, die verbod op die evrydingsorganisasies opgeheg en die noodtoestand beeindig. Dit was ‘n reusesprong wat visie en moed geverg het.

In ‘n televisiegesprek in 2001 tussen De Klerk en Van Zyl Slabbert was daar eenstemmigheid dat De Klerk, as hy wou, nog in sy amp kon gewees het. Vir De Klerk was die vernaamste beswaar daarteen dat om aan die mag vas te klou “gestroop van enige moraliteit sou wees”. (Giliomee 2004:593)

 

Die NG leierskap het aan die Waarheid en Versoenings Kommissie (WVK) gese dat die kerk apartheid op verskeie sinodes verwerp het, maar dat die kerk self oor die WVK verdeeld is. (Giliomee 2004:613)

 

Die NG Kerk het tussen 1981 en 1999 9% van sy lidmate verloor, maar die Anglikaanse Kerk en ander groot kerke wat apartheid teengestaan het, het in dieselfde mate lidmate afgestaan. Die NG Kerk het op ‘n pragmatiese wyse afskeid geneem van apartheid as ‘n stelsel wat nie kon werk nie. Kerkeenheid was ‘n nuwe ideaal, maar dit as ontwykend. Sedert die vroee 1990’s was daar gesprekke tussen die NG Kerk, die NG Sendingkerk, die NG Kerk in Afrika (swart) en die Reformed Chruch in Africa (Indiers) om in ‘n enkele kerk te verenig. Die Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika het op die grondslag van die Belhar-belydenis van 1982 die Verenigde Gereformeerde Kerk gevorm. Die het daarop aangedring dat die NG Kerk as voorwaarde vir eenheid Belhar as vierde belydeniskrif saam met die drie formuliere van eenheid aanvaar. Die afstigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk in 1987 het die NG Kerk baie versigtig gestem en teen 2004 het dit nog nie die Belhar-belydenis aanvaar nie. In sy kern het die NG Kerk ‘n volkskerk, ‘n kerk vir wit Afrikanermense, gebly.

Die kerk het gesukkel om sy plek te vind in ‘n nuwe Suid-Afrika wat skielik, wat openbare lewe betref, sekuler en permissief geword het. Terwyl die lidmaatskap van die vernaamste Afrikaanse kerke afgeneem het, was die Afrikaners nog steeds sterk verbind tot die Christelike godsdiens. (Giliomee 2004:625-626)

 

Milan Kundera het eenkeer gese: “One cannot judge a nation exclusively by the success of its politics; one must also consider the values that its culture is able to create during the periods of its worst defeat.” (Giliomee 2004:628)

 

Dat hulle (Die Afrikaners) Calviniste was, was ook belangrik. Katolieke samelewings was hierargies en waardes soos gelykheid, broederskap en geregtigheid het nie sterk op die voorgrond getree nie. Katolieke elites het slawerny en wit bevoorregting op grond van klas of kultuur geregverdig; hulle het nie rassisme as regverdiging nodig gehad nie. By die Afrikaners as Calviniste het die waardes van gelykheid, broederskap en geregtigheid swaar geweeg. Ras en kleur was al wat beskikbaar was om mense se uitsluiting op grond van hul afkoms te regverdig. Hoe sterker die egalitariese ingesteldheid onder die blankes, hoe groter die rassisme. Die Afrikaners was nei rassiste omdat hulle nie sterk genoeg demokraties was nie; hulle was rassiste juis omdat hulle so vroeg demokrate geword het en so volledig demokrate was in ‘n tyd toe die Westerse wereld nog slawerny aanvaar het. (Giliomee 2004:632)