Wat sê kerkspieël oor die NG Kerk?

WAT SÊ KERKSPIEËL OOR DIE NG KERK?

Tydens die onlangse Gemeentedienste-Netwerk het die aanwesiges die volgende tien uitdagings en geleenthede vir die NG Kerk geïdentifiseer. Dit is gedoen op grond van die jongste Kerkspieël-navorsing:

  • Die konflik in gemeentes blyk minder te wees (bv net 6.9% weet van ernstige konflik in die gemeente wat leiers of lidmate die gemeente laat verlaat het, vs 9% in 2006) en die ervaring van die positiewe kant van leraars se bediening styg (bv 47.8% dink die gemeente en die predikant pas goed by mekaar, vs 42% in 2006). Dit is iets om te vier!
  • Die potensiaal vir verandering by lidmate is meer as wat ons verwag het (74.2 % dink die gemeente is altyd gereed om iets nuuts te probeer – 2006 was dieselfde; 32.6% dink die gemeente beweeg reeds in ‘n nuwe rigting, vs 18% in 2006). Dit is iets om te benut.
  • Daar is ‘n groeiende behoefte aan spiritualiteit (59.4% dink geestelike begeleiding is die belangrikste rol van ‘n predikant, vs 56% in 2006, die tweede hoogste keuse na die rol van die predikant in Eredienste en prediking) wat in lyn is met die algemene ontwaking in spiritualiteit en ‘n geleentheid is vir ons. Ons moet dié behoefte aangryp in ons beplanning.
  • Die Bybel as Woord van God (94.2%, dieselfde as in 2006) blyk steeds baie belangrik te wees vir lidmate terwyl ons egter ook raaksien dat ‘n betekenisvolle komponent van ons erediensbywoners ‘n letterlike woord vir woord verstaan van die Bybel het (40.1% beskou dit so, effens meer as 2006 se 38%). Daar is ook 36.4% wat dit in die lig van sy historiese konteks en kerklike leerstellings verstaan (‘n matige styging van 28% in 2006), en 17.9% wat die Bybel as die Woord van God in die lig van sy historiese en kulturele konteks verstaan (‘n redelike skerp daling van die 29% in 2006). Die hoeveelheid mense wat die invloed van kerklike leerstellings erken in die verstaan van die Bybel het dus afgeneem en die aantal wat die kulturele konteks van die Bybel verreken in die verstaan van die Bybel het toegeneem. Ons bly ‘n kerk van die Woord, maar ons sal aandag moet gee aan deurdagte verstaansraamwerke.
  • ‘n Besondere sosiale deernis word bespeur by lidmate veral deur hulle gemeenskapsbetrokkenheid. ‘n Groot en steeds groeiende persentasie van erediensbywoners is betrokke by kosvoorsiening (54.7% – meer as die helfte van alle erediensbywoners) geldelike- (41%), pastorale- (30.6%), en werksverskaffingshulp (18.7%) aan mense buite hulle familie. Die betrokkenheid by gemeenskapsdiens groei dus besonders. Dit is ook vloeibaar en organies. ‘n Groot persentasie verkies om dit self in die gemeenskap te doen eerder as deur aksies van die gemeente, iets wat gemeentes sal moet verreken. Die impak van ons gemeentes is reeds baie groot op dié terrein, en kan met vrug verder uitgebou word.
  • Die demografiese verskuiwings in ons gemeenskappe word nie gereflekteer in lidmaatskap van gemeentes nie (99% van die erediensbywoners wat die vraelys ingevul het, is blank). Ons gemeentes (en sinodes en ringe) sal ernstig hieroor moet reflekteer oor wyses waarop gasvryheid oor grense heen betoon kan word en ons meer insluitende in terme van lidmaatskap kan raak.
  • Die gemeenskap-tendense rondom bv egskeiding word nie gereflekteer in die kerk nie (60.6% van erediensbywoners was steeds in ‘n eerste huwelik, vs 63% in 2006). Dit is iets om te vier, hoewel ons steeds op die bevordering van gesonde huwelike en families moet bly fokus.
  • Die behoefte van gemeentes aan die geestelike leierskap van die leraars groei. Dit is die derde hoogste rolverwagting van die predikant, 41.7% (39% in 2006). Ons is oortuig dat dié behoefte gereflekteer moet word in ons opleiding van studente en VBO van leraars.
  • Daar is ‘n groeiende waarneming dat mense uit die toekoms gemotiveer word (34.2% stem beslis saam dat hulle opgewonde is oor die gemeente se toekoms en 43.3% stem daarmee saam, wat ‘n gekombineerde totaal van 77.5% gee). Dit beteken vir ons dat aksies wat fokus op die genesing van ons land en die koms van die koninkryk ‘n groeiende ondersteuning sal geniet.

Die Erediensbelewing oor ‘n wye spektrum is groeiend positief en moet op waarderende wyses gekommunikeer word binne sinodes en ringe. Daar ‘n groot persentasie wat deur die eredienste en aktiwiteite van die gemeente gehelp word in hulle alledaagse lewe, 64%. As die aantal wat tot ‘n mate gehelp word bygetel word, is dit ‘n baie groot persentasie, 91,6% (teenoor 89% in 2006). Die meeste erediens bywoners rapporteer groei in hulle geloof die afgelope jaar. Die grootste rede daarvoor is steeds die rol wat die gemeente speel, 40.1% (39% in 2006), die tweede grootste rede is steeds eie privaat aktiwiteite, 28.6% (28% in 2006), en ‘n klein groep groei steeds as gevolg van ander groepe en gemeentes, 11.6% (12% in 2006). Dit is goeie nuus vir gemeentes wat op geloofsgroei fokus. Daar is duidelik ‘n groter bewussyn van God se teenwoordigheid in die eredienste, 87.8% (vs 67% in 2006), ditto die bewussyn van inspirasie, 80.3% (vs 42% in 2006), ditto verwondering, 52.3% (vs 20% in 2006), ditto vreugde, 79.8% (vs 49% in 2006), ditto spontaneïteit, 66% (vs 37%) en roepingsvervulling, 60% (vs 30% in 2006). Ons sien dit ook in die afname van verveling, 63% beleef dit selde en frustrasie, 67.5% beleef dit selde.

Danie Mouton

Leave a Reply

Your email address will not be published.