Rillers uit Rigter: Rigters 19, Die Leviet en sy byvrou.

(hersien verlede week se Rigters 11: benoeming, bewusmaking, beswering)

Vanaand vraag waarmee ons vanaand gaan worstel, met die hulp van Rigters 19 is: Hoe praat ons as ons kwaad is en hoe kan ons praat wanneer ons kwaad is?

(lees die hele Rigters hoofstuk 19 regdeur)

Rigters 19 eindig met die sin “Ons moet praat!”. Woede kom baie vinnig in ons op en jy wil die Leviet en sy gasheer sommer ‘’n vuishou gee, om nie te praat van die pa van die vrou daar in Bethlehem nie.

Rigters 19 vertel ons van uiterstes en veral uiterstes in mag.

Die man was meer as die normale man, hy was ‘’n Leviet. Verder woon hy in Efraim in die Noorde.
Die vrou was minder as die normale vrou, sy was ‘’n byvrou en sy kom van Bethlehem in die Suide.
Die tafel is gedek vir misbruik.

Die is soos om te sê: Die man was ‘’n bekende prokureur van ‘’n gegoede woonbuurt en sy vrou ‘’n kassier by ‘’n algemene handelaar in ‘’n woonbuurt waar die water en plastiek sakkies ewe veel in die strate is.

Sy loop toe van haar gegoede man af weg en gaan terug na haar ouerhuis in Bethlehem. Haar man is toe agter haar aan, maar let wel: eers ‘’n jaar en vier maande later… By sy aankoms in Bethlehem ontvang sy vrou se pa hom ook besonders gasvry. Dit is opmerklik hoe lekker die twee manne saam kuier.

Dan kom die vreeslike wrede deel van die verhaal. ‘’n Bende omsingel die huis waarin hulle tuisgaan op pad terug na Efraim en wil die Leviet vir ‘’n homoseksuele bendeverkragting hê. Sy gasheer bied egter sy eie dogter en die Leviet se byvrou aan, maar terwyl hulle nog stry oor die saak, stamp die Leviet sy byvrou by die deur uit.

Dieselfde vrou wat hy nou net in Bethlehem gaan haal het, stamp hy uit tussen die bende. En so word sy aangebied as objek vir misbruik in die bendeverkragting.

In vers 27 staan daar: “Toe haar man die môre opstaan en die huis se deur oopmaak om verder te reis, lê die vrou, sy byvrou, in die deur met haar hande op die drumpel.”

Ten spyte van alles wat gebeur het die vorige nag het hy wat die Leviet is kans gesien om te gaan slaap! Hy val amper oor haar op die drumpel van die huis toe hy verder wil reis. En boonop sê hy toe vir haar: “Staan op dat ons kan vertrek.”

Een van die bekendste en mooiste uitdrukkings in die Bybel kom voor in Johannes 1:14: “En die Woord het vlees geword…”. In Rigters 19 word die woord nie vlees nie, maar die vlees word woord. Suid-Afrika lê besaai met hierdie soort woorde – met die liggame van meisies en vroue wat bedoel is as woorde. Al die geweld en misdaad wat aan ons mense gedoen word, is ‘’n oproep, ‘’n woord.

Maar jy mag dalk nou vanaand gemaklik sit met jou koppie koffie en vra: “Wat het hierdie storie met my te doen? Ek het nie aan enige bende verkragtings, moorde of verminkings van lyke deelgeneem nie.”.

Op so ‘’n reaksie vra ek: “Wat is erger?”
• ‘’n Bende wat die vrou verkrag?
• Of haar man wat veilig binne-in die huis bly tot die volgende oggend en nie waag om voor sonop die deur oop te maak nie?
• ‘’n Bende wat die vrou verkrag?
• Of die gasheer wat sy eie dogter ook aanbied, maar self veilig binne bly?

Wat is erger? Die oortreder of die een wat daaroor stilbly?

Die boodskap vanaand is die eenvoudigste, maar ook die moeilikste van alle boodskappe. Die storie sê reguit dat ons nie oor sulke dinge mag stilbly nie, nee, soos vers 30 sê: “Ons moet daaroor praat!”.

Godsdiens het ook te doen met die dinge waaroor ons nie wil praat nie. Godsdiens het te doen met dinge soos geweld, molestering van kinders, aborsies, verkragtings, ongelukkige huwelike en kinders wat ander kinders spot en terg. En daarmee saam het godsdiens te doen met praat – praat oor wat gebeur het en oor wat ons kan doen om dinge beter te maak.

Rigters 19 sê: “Praat!”.

En nou, weer die vraag, hoe praat ek as ek kwaad is?

Die drie B’s van Rigters 11 (benoeming, bewusmaking, beswering) word nou opgevolg deur drie L’e (luister, leierskap, liefde).

Luister.

Die dogter van die gasheer is stil. Die Leviet se byvrou is stil. Die broosste mense in die teks kry nie ‘’n spreekbeurt nie. Selfs die kneg van die Leviet kry ‘’n spreekbeurt, maar geen vrou kom ooit aan die woord in hierdie lang hoofstuk nie.

Net soos ons na die teks luister, moet ons ook na ons samelewing luister. Wie praat en wie praat nie? Ons kan net begin praat as die stil stemme ook ingenooi is. Die magteloses se stemme moet saam met die sterker stemme gehoor word. Slegs dan kan “om te praat” enigsins sinvol wees.

Leierskap.

Hoofstuk 19 begin: “Toe die volgende gebeurtenisse plaasgevind het, was daar nog nie ‘’n koning in Israel nie.” Hoofstuk 21 sluit af met: “In daardie tyd was daar nog nie ‘’n koning in Israel nie en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” Hoofstuk 19 tot 21 kan as ‘’n eenheid gesien word en dit word begin en afgesluit met ‘’n opmerking oor leierskap.

In die lig van Rigters 19 sien ons goeie leierskap is nodig voordat mense wat kwaad is, kan begin praat. Dit is ook ‘’n baie spesifieke soort leierskap wat nodig is, want dit moet leiers wees wat sal help om die gesprek oop te hou. Leiers wat kan help dat al die stemme ‘’n beurt kry om te gesels. Leiers wat nie bang is nie, maar die moeilike onderwerpe aanvat en die gesprek stimuleer.

Liefde.

Die waarheid mag slegs in liefde gepraat word. Dit beteken nie jy gaan nie benoem, bewusmaak en besweer nie, inteendeel. Jy gaan, maar jy mag dit net in liefde doen, hoe moeilik dit ook al is. Rigters 19 sê ons mag nie stilbly wanneer die hulpeloses onder ons seerkry nie. Nee, ons moet praat.

Wanneer daar gepraat word, moet dit luisterend na die stil stemme wees, in die nabyheid van goeie leierskap en altyd in liefde. Wanneer daar dinge gebeur wat ons kwaad maak, mag ons kwaad word en moet ons nie stilbly nie, maar ons moet luisterend, met leierskap en in liefde praat.

(geleentheid vir dankoffer)
Gaan die wêreld tegemoet en luister na die stil stemme wat die minste gehoor word.
Gaan die wêreld tegemoet en wees ‘’n leier daar waar God jou in sy koninkryk geplaas het.
Gaan die wêreld tegemoet en praat die waarheid in liefde.
Gaan nou en onthou dat jy geroep is om ‘’n verskil te maak.

Rillers uit Rigters: Rigters 11, Jefta se dogter.

Rillers uit Rigters: Rigters 11, Jefta se dogter.

“Jefta het ‘n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: ‘As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, sal die een wat my uit my huis tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.” – Rigters 11:30-31.

“Jefta het in Mispa by sy huis gekom, en toe kom sy dogter hom tegemoet met tamboeryne en koorsanse…” – Rigters 11:34.

(wys trailer van The Generals Daughter)

Het jy dalk ‘n emosie wat jy met die general (Jefta) sou wou deel?

Jefta onderhandel met die leiers en doen di took met die Here self.

Let egter daarop dat God self tjoepstil is dwarsdeur hierdie verhaal. God neem nie deel aan Jefta se gekonkel nie.

Jefta konkel met allerlei ede wat hy aangaan, maar blameer oombliklik sy dogter wanneer dinge nie uitwerk soos wat hy voorsien het nie. Sy – nie hyself nie – sy het hom in ellende gedompel.

Die generaal se dogter, Jefta se dogter… en hierby kan enkele voorbeelde uit ons eie land gevoeg word. Andries Tatane van Ficksburg, Anene Booysen van Bredasdorp en ‘n grad eentjie van Limpopo wat in 2014 op sy heel eerste skooldag in ‘n toilet val en sterf. Ons kan ook na die koue statistiek in Suid-Afrika kyk wat vir ons wys hoe lyk geweld teen vroue en kinders. Teen dogters in die besonder!

Punt is, Jefta se verhaal is nie ‘n vreemde verhaal uit ‘n ander tyd nie.

Ek wil weer die vraag vra wat ek voorheen gevra het: Hoe voel jy elke keer as jy van hierdie verhale hoor? Hoeveel mense, hoeveel lesers van hierdie Rigters boek, het nie al eerstehands iets hiervan beleef nie? Hoe laat dit jou voel en watter emosies roep dit by jou op?

In Rigters is die behandeling van dogters en vroue ‘n goeie aanduiding dat, soos dit telkens gestel word, dit ‘n tyd was toe elkeen gedoen het “wat reg is in sy eie oë” (Rigters 21:25).

Ek vra weer, hoe laat dit jou voel?

Ek sien rooi… maar wat hoor ons dan dikwels uit ons eie godsdienstige tradisie? Ook in al die boekies van hoop wat ons lees? Dat die antwoord by uitstek, altans die default-antwoord op die probleem, die volgende is: Vergifnis. Liefde. Genade.

Wanneer ons daardie gruverhale in die koerant lees of wanneer mense iets daarvan aan hulle eie lyf voel, word daar te vinnig vir hulle gesê om te laat los. Ons is Christene, ons vergeef.

Dit is waar, ek stem saam, maar om te vinnig te beweeg van ‘n misdaad na vergifnis, is teologiese bedrog en ‘n ontkenning van mense se leed en die aanwesigheid van kwaad in hierdie wêreld.

Jefta se storie onstel my en ek wil dit waag om te sê… dit is goed so! Indien dit my nie kwaad gemaak het nie, was daar dalk juis fout.

Jefta se dogter was ‘n hulpelose slagoffer, nes daar vandag steeds baie van hulle is. Ek is vies, nee eintlik woedend vir Jefta wanneer ek die verhaal weer lees…

Hoekom is ek woedend?
1. Jefta praat teveel. Jefta is ‘n prater, ‘n vinnigprater en ‘n grootprater. Hy is ‘n prater wie se mond hom duur te staan kom.
2. Jefta was nie net ‘n onderhandelaar, soos meeste leiers van tyd tot tyd moet wees, nie. Jefta was boonop ‘n manipuleerder ook. Hy manipuleer die mense, die konings e nook vir God. Toe die leiers van Israel vir Jefta hulle leier wil maak, is Jefta nie tevrede nie en onderhandel hy om die hoof te word, nie net die leier nie. Ons kan hom ‘n kansvatter noem. Dan kom Jefta met sy onderhandelinge met die koning van die Ammoniete. Daarna neem Jefta dit selfs nog verder: Hy begin met God self ook onderhandel en maak ‘n gelofte aan Hom met ‘n waarborg dat hy sal wen.
3. Nie alleen maak Jefta sy mond te gou oop nie. Nie alleen is hy ‘n bobaasmanipuleerder nie, nee, Jefta ken ook nie sy eie tradisie nie. In Rigters 11:24 erken hy selfs die bestaan van die god Kemos. Jefta het sit en slaap in die kategeseklas en dit het hom duur te staan gekom.

Die vraag bly steeds hoe ons voel wanneer ons met hierdie verhale gekonfronteer word?

Enkele riglyne vir kwaadword:
1. Benoeming: Benoeming is doodgewoon om nie te ontken wat gebeur het nie. Benoeming behels om die teenoorgestelde te doen as die generaal wat gesê het “it never happened” en te sê: “dit het gebeur”.
2. Bewusmaking: Iewers het iemand die saak ‘n naam gegee deur dit te benoem en nou word dit verder geneem. Bewusmaking as integrale tweede stap moet egter ook verder gaan sodat daar nie net benoeming en bewusmaking plaasvind nie, maar sodat dinge ook kan verander.
3. Beswering: Jesus het ‘n demon ‘n naam gegee, die mense het so ook bewus geword van die probleem, end an het Hy die demon besweer en uitgedryf. Franciskus van Assisi se beswering neem die vorm van ‘n seënbede aan:
a. Mag die Here jou seen met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Dit is dan die hartseer verhaal van die Dogter van Jefta. ‘n Meisie wie se hartseer geskiedenis ons dalk vandag kan help met ons tema van Christenskap en woede, en vir ons wys op die belang van benoeming, bewusmaking en beswering.

Rillers uit Rigters: Inleiding

Rillers uit Rigters: Inleiding
(kyk na prente van geweld asook video wat geweld in Suid-Afrika uitbeeld)

Hopelik gaan hierdie reeks oor die Rillers uit Rigters jou help om jou vieswees te aanvaar en aan te gryp. Met hierdie reeks gaan ons na die wreedheid van ons tyd kyk, saam met die wreedheid van die Bybel, eerder as om dit te ontken. Hierdie reeks gaan jou help om kwaad te word, en selfs jou woede te vier en daaroor te praat, te sing, of te debatteer. Hierdie reeks gaan vertel van grusame dade wat aan mense gedoen is.

So ‘n bietjie agtergrond oor die boek Rigters. Die boek strek oor ‘n tydperk van 200 jaar. Rigters verskyn in ons kanon (Bybel) na Josua. Josua se tyd is verby. Die volk Israel het in die beloofde land ingetrek. Hulle het egter vir 200 jaar lank in die huise van die Kanaaniete gewoon. Die Israeliete se vyande was ook nie ver van hulle nie, en het geduldig op hulle grense vir hulle gewag om ‘n vout te maak.

Die probleem deur die hele boek van die Rigters is dat die Israeliete onthou aan God was en die Kanaanitiese gode aanbid het.

Daar is drie dele aan die boek van Rigters:
1:1-2:5 Israel moet na die dood van Josua in nuwe omstandighede oorleef.
2:6-16:31 Verhale oor helde wat gesorg het vir redelike stabiliteit in deurmekaar tye.
17:1-21:25 Vreemde en selfs skrikwekkende verhale.

Die refrein wat telkens oor en oor in hierdie reeks oor die Rillers uit Rigters gaan herhaal is dat die Israeliete gedoen het net wat hulle wou.

Die boek Rigters sluit nie verniet met die vers af nie; “In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” – Rigters 21:25.