Prediker 4: Herman en Maria-Helena

Dominee Jan het beplan om ‘’n paartjie te trou aan die einde van die erediens. Na die dankoffer het Dominee Jan beplan om die paartjie vorentoe te roep vir ‘’n kort huwelik seremonie voor die hele gemeente. Omdat Dominee Jan al redelik oud was, kon Dominee Jan nie die name van die paartjie onthou wie hy nou wou trou nie. Dominee Jan sê toe: “Sal die wat wil trou asseblief vorentoe kom.” Onmiddellik het daar, 9 enkellopende dames, 3 weduwees, 4 wewenaars en 6 enkellopende mans na vore gekom.

Daarmee wil ek graag namens Herman en Maria-Helena, baie welkom sê aan elkeen wat vanmiddag hier saam met ons is om hierdie mooi geleentheid te vier!

Herman, Maria-Helena, ja hierdie is julle dag! Maria-Helena, jy lyk pragtig! Eks seker Herman is baie trots om jou aan sy sy te hê!

Kom ons bid saam.

Kom ons sing nou saam Amazing Grace soos aangedui op julle kaartjie. [staande]

Ek lees vir ons voor uit Prediker 4:9-12.

Die opskrif van hierdie gedeelte sê dadelik vir ons dat twee beter as een vaar. Al lyk hierdie soos algemene kennis vir ons, leef ons eintlik vandag presies die teenoorgestelde.

Ons dink ons kan alles self doen, as ek genoeg geld het, dan doen ek dit self. Ook, ek doen dinge self sodat ek in beheer van dinge kan wees. Ek doen dinge self sodat ek vir almal kan vertel, “kyk wat het ek gedoen…” So hierdie gedeelte is eintlik vandag teen die kultuur, waar al hoe minder mense voor die Here vir mekaar belowe dat hulle saam bymekaar sal staan, in die goeie sowel as die slegte.

Herman en Maria-Helena kon netsowel aangehou saambly het en gewoon aangegaan het met hul lewens, maar hulle het nie. Hulle het juis vandag gekies om voor die Here ‘’n belofte te maak dat hulle vir altyd saam met mekaar sal staan. Deur die goeie tye, sowel as die uitdagende tye.

Hierdie gedeelte begin deur vir ons te sê dat twee beter as as een vaar, en dit is waar. Die volgende sinnetjie sê “hulle inspanning kom tot iets” eintlik sê dit dat twee wat saam werk meer bereik, en dit makliker bereik, as een wat alleen alles moet doen.

Voorbeelde volg dan om vir ons beter te verduidelik hoekom twee beter as een vaar.

As die een val, kan die ander een hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom of haar op te help nie. Hy of sy gaan net daar bly lê waar geval is, seer. Soos die man wat aangeval was op sy donkie op pad na Jerusalem deur rowers ‘’n barmhartige Samaritaan nodig gehad het, so het Herman en Maria-Helena mekaar nodig, so het ons mekaar nodig wanneer die lewe ons omslaan.

As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Rut, die Moabitiese vrou het langs Boas gaan inkruip. Saam het hulle warm geslaap. Saam het hulle ‘’n nuwe lewe geskep en mekaar omhels in vreugde elke dag soos hulle al nader aan mekaar gegroei het soos die jare aangestap het.

Een kan alleen oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. Moses se opdrag om die volk uit Egipte te lei het hom oorweldig, hy het iemand gekort om hom daarmee te help. Toe gee die Here vir hom Josua. Saam was hulle nie oorweldig deur die groot taak om ‘’n nuwe bestaan in ‘’n onbekende land te gaan maak nie.

Nou moet ook onthou word, soos julle seker ook weet, is die meeste van die gedeeltes in die Ou Testament gerig op mense wat op trek is, mense wat heeltyd aan die gang is, mense op reis. Hierdie gedeelte dieselfde, dit is nie ‘n gedeelte vir mense wat stilsit nie, dit is bedoel vir reisgenote.

Ons almal wat vandag hier is weet dat Herman en Maria-Helena besig is om gereed te maak om na Windhoek te verhuis. Dit is ‘’n baie groot stap wat hulle saam neem. Dit is ‘’n stap wat saamgaan met moeilike Visums, police clearance en werkspermitte. Dit is ‘’n gespanne pad wat hulle aanpak.

Maria-Helena, Herman. Vandag wil ek vir julle gerusstel en sê dat in elke angstige situasie is die Here saam met julle. Onthou julle het mekaar om mekaar te ondersteun. Moet nie in die gespanne situasie vir mekaar kwaad raak as iets anders julle ontstel het nie. Dra mekaar se laste. Saam kan julle weerstand bied.

Help mekaar op soos die barmhartige Samaritaan, sonder om iets terug te verwag, gee aan mekaar in oorvloed. Hou mekaar warm en beskerm mekaar teen gevaar soos Boas en Rut saamgeleef het. Bied saam weerstand teen die moeilike wêreld en strewe saam na nuwe hoogtes in onbekende terrein soos Moses en Josua. Die Here was saam met al hierdie mense, so sal Hy ook saam met julle wees, oral waar julle gaan.

In hierdie saam reis is daar geen plek vir selfsugtigheid of selfgerigtheid nie. Werk saam. Wanneer julle saamry moet julle saam na die Kaart kyk, saam die Bybel lees, julle vreugdes en hartseer deel, en ook mekaar waarsku as die een dalk iets of iemand in die pad of agter ‘n bossie sien (soms met ‘’n blou en wit lig op die dak) wat dalk die reis kan belemmer.

Daar gaan vinnige afdraandes op hierdie pad wees, spoedhobbels, kronkelpaaie, ompaaie, stadige bulte, sirkels, reguit paaie, lang paaie, maar onthou deur dit alles, dat julle saam, met God, op pad is die toekoms in. Saam, met God, is julle toekoms.

Daarom, onthou, in die reis wat die lewe is, vaar twee beter as een, saam met God. ‘’n Driedubelle tou breek nie maklik nie.

Herman, as hoof van die huis moet jy vir Maria-Helena beskerm en altyd laat veilig en geliefd voel. Maria-Helena as vrou vir Herman moet jy hom liefhê met jou hele hart, maak julle huis ‘’n sagte omgewing waar julle saam mekaar kan geniet. En saam, moet julle, Herman en Maria-Helena, die Here in dankbaarheid dien.

Van vandag af, eet dus julle brood met vreugde, drink julle wyn met ‘’n blye gemoed, God het lankal reeds goedgekeur wat julle doen. Dra wit klere, geniet die lewe waarin die Here julle vir mekaar gegee het. En onthou, God is met julle waar julle ook al mag gaan.

Amen.

 

Huweliksbevestiging.

Seënbede

Tien Beloftes

Oorgeneem uit Die vrou op pad

Omdat Jesus Christus die wet vir ons volkome vervul het, word die Tien Gebooie in Hom tien beloftes aan ons.

Eerste gebod: Ek belowe jou dat, as Ek die eerste plek in jou lewe inneem, jy geen ander gode sal wil dien nie – Ek sal die eerste en ereplek in jou lewe hê.

Tweede gebod: As Ek in jou hart is, belowe Ek dat jy geen gesnede beeld van my sal maak nie. Dit sal nie nodig wees nie, want jy sal self my beeld dra.

Derde gebod: As jy My lief het, sê Jesus, belowe Ek jou dat my Naam nooit ‘’n vloekwoord oor jou lippe sal kan wees nie, maar steeds en in alle omstandighede deur jou in ere gehou sal word.

Vierde gebod: As Ek die ereplek in jou lewe het, belowe Ek jou dat die Sondag die hoogtepunt van die week vir jou sal wees. Dit sal vir jou vreugde wees om kerk toe te gaan – nie ‘’n dag om teen op te sien nie, maar om na uit te sien!

Vyfde gebod: As Ek in jou lewe is, belowe Ek vir jou dat dit vir jou ‘’n voorreg sal wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal vir jou nie moeilik wees nie, want agter hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies en geleen het.

Sesde gebod: Ek belowe jou dat jy nooit iemand sal wil seermaak nie, wat nog te sê doodmaak.

Sewende gebod: Ek belowe jou dat, as jy My lief het, dit nie moeilik sal wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. Gee My ‘’n plek in julle huwelik en Ek sal julle liefde vir mekaar en julle geluk in my hande bewaar en vashou.

Agste gebod: As Ek op die troon van jou hart sit, belowe Ek dat jy nie daarop ingestel sal wees om iets van ander te neem nie. Jy sal daagliks vra: Aan wie en waar kan ek aan ‘’n ander iets GEE? Maar neem? Nee, nooit…!

Negende gebod: As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ‘’n ander kwaad te praat nie. Ek belowe jou dat Ek deur my Gees jou ‘’n lojale mens sal maak wat van ander geen woord sal sê as dit nie iets goeds kan wees nie.

Tiende gebod: Ek belowe dat Ek deur my Gees jou so sal vul met dankbaarheid dat jy niks meer sal begeer nie. Jy sal vergenoeg wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat Hy dit nodig vind en as Hy gee, gee Hy altyd genoeg sodat niks jou sal ontbreek nie.

Rillers uit Rigters: Rigters 4, Jael en Sisera (en Jesus)

Rillers uit Rigters: Rigters 4, Jael en Sisera (en Jesus)
(lees Rigters 4 en Johannes 12:12-16)

Daar is verbysterende hoeveelheid ooreenkomste tussen die twee tekste wat ons so pas gelees het, want beide het met betrekking tot die genre dieselfde bedoeling. Kom ons kyk net eers weer na die twee verhale, eer die verhaal van Jael in Rigters 4 en dan die van Jesus in Johannes 12.

Indien ‘’n mens die boek Rigters van hoofstuk 1 tot en met 21 deur lees, klink dit vir jou soos ‘’n gekrapte CD. Dit is oor en oor dieselfde ou storie. Die Israeliete maak droog. Die Here gee hulle oor. ‘’n Rigter kom en help met die uitkoms. En kort daarna word alles weer van vooraf herhaal.

Wat is Rigters 4 gebeur, is dat koning Jabin se generaal, Sisera, die Israeliete vir twintig jaar lank verdruk. Hoe kry hy dit reg? Deur middel van tegnologie. Perde en strydwaens op die vlaktes was baie beter as Israeliete op donkies.

Met hierdie situasie in gedagte word die volgende rigter met die naam Debora aan ons voorgestel. Onthou Rigters 11 en Rigters 19? Is julle nie ook verras om nou ‘’n vrou in so ‘’n leiersposisie te sien nie? As rigter gee Debora dan ook raad. Sy sê vir Barak hy moet optrek teen Sisera en hy sal wen. Barak sê hy sal dit net doen as Debora saamgaan en sy stem toe in.

Onthou, hierdie is ‘’n parodie. Hier is waar die mense om die kampvuur reeds begin lag. Die Israeliete gaan oorlog toe en ‘’n vrou gaan die eer kry. En daar hardloop die generaal met nege honderd ysterstrydwaens wat deur almal gevrees word die berge in. Kan jy jou indink hoe ‘’n Israelitiese pa hierdie storie aan sy kinders sit en oorvertel om die kampvuur. Nege honderd ysterstrydwaens word net so gelos en al die manskappe hardloop die berge in, hoekom, omdat daar ‘’n vrou met die naam Debore aankom. Snaaks.

Jael, ‘’n ander vrou, sien vir Sisera hardloop en nooi hom om in haar tent te kom skuil. En nog ironie kom na vore. Net soos Barak te min vertroue in ‘’n vrou gehad het, het Sisera teveel vertroue in ‘’n vrou geplaas en aanvaar daarom Jael se uitnodiging.

Wanneer Sisera vas slaap in Jael se tent, slaan sy met ‘’n hamer ‘’n tentpen teg deur sy slaap sodat sy hom in die grond vasslaan. Die vrou met die hamer en die tentpen in haar hand, die vrou wie se klere vol rooi bloed spatsels is, sy kry die eer vir die oorlog.

Gegewe die kultuur van die tyd, die plek, die rol van vroue en die krag van generaal Sisera, word koning Jabin en Sisera en sommer ook generaal Barak bietjie belaglik gemaak.

In hierdie hoofstuk word rolle van mag en geslag omgekeer.
o ‘’n Vrou, nie ‘’n man nie, kry die eer.
o ‘’n Onbekende boervrou wat nie eens regtig deel van Israel was nie, kry die eer.
o Die mense wat op bruin donkies ry, dit wil sê die swakker, onwaarskynliker groep, wen die oorlog; nie die mense met die negehonderd ysterstrydwaens nie.

Hierdie verhaal is grotendeels ‘’n soort parodie op die swak leierskap van die dag. En die kinders rondom die kampvuur lê op die grond soos hulle lag teen die tyd.

Jesus reis van Betanië af waar Hy by Marta, Maria en Lasarus gekuier het en Maria Hom met olie gesalf het, na Jerusalem vir die Paasfees. Jesus reis op ‘’n donkie. Die donkie is die teken van nederigheid en vrede.

Daar is verwag dat die Verlosser-Messias van Israel iemand sou wees wat op ‘’n perd sal ry en die Romeinse onderdrukkende juk kom afgooi. Maar nee, Jesus ry op ‘’n donkie en stel dit duidelik dat Hy nie kom om ‘’n gewelddadige opstand te lei nie. Nee, Hy is hier om die teenoorgestelde te doen.

Die eerste hoorders en lesers van die storie het geweet en besef dat Jesus wat op ‘’n donkie uit die Ooste kom ‘’n blatante parodie is op Pilatus wat op sy perd uit die Weste kom. Jesus is hier besig om ‘’n grap van die onderdrukkende heersers van die te maak. Jesus is die hofnar.

As ons Johannes 12 met Rigters 4 vergelyk, sien ons hoe die onwaarskynlike heldin wat die spyker inslaan, die eer kry. In Johannes is dit die onwaarskynlike held in wie se hande die spykers geslaan word, wat die eer kry. In Johannes skyn Jesus se glorie nie, nee, dit bloei. In beide hierdie verhale is dit die onwaarskynlike persoon wat die glorie of eer kry en is daardie eer terselfdertyd ‘’n ontbloting van die bestel waarin hulle hulself bevind.

Wat vir die wêreld na onsin lyk, is God se wysheid (1 Kor. 1).

Vir elke riller uit Rigters het ons drie letters gehad, eers B, (benoem, bewusmaking, besweer), toe L (luister, leierskap, liefde) en nou is dit J vir Jael, Jesus en Jy.

Ons onthou vir Jefta en sy dogter wat geoffer is en ons sê weer dat sulke vreeslike dinge benoem moet word, as dit gebeur. Ons sê dus dit het gebeur en werk dan met bewusmaking. En ons druk deur wanneer ons dit ook besweer. Nooit weer mag so iets gebeur nie.

Ons onthou ook die vlees wat in Rigters 19 woord geword het. Die opgesnyde lyf van die Leviet se byvrou. Ons sê dat ons weet ons moet praat, maar dat ons dit luisterend moet doen en seker moet maak dat ook die stil stemme saamgesels. Ons weet ook ons het goeie leierskap daarvoor nodig, wat die gesprek kan fasiliteer. En ons kan net praat indien ons dit in liefde doen.

Hier aan die einde van die Rillers uit Rigter reeks ontdek ons ‘’n hofnar, of eerder drie hofnarre: Daar was Jael, daar was Jesus en nou is dit die voortsetting van daardie verhale in vandag se tyd.

Soos Jael die mense met die ysterstrydwaens en perde verslaan en so die eer gekry het, so ry Jesus teenoor Pilatus in Jerusalem in op ‘’n donkie. Die onwaarskynlikes kry die eer.
• Jesus ontbloot die wêreld van geweld, mag en onderdrukkende strukture.
• Jael se optrede ontbloot ‘’n leierskap lose chaotiese situasie.
• En vandag in Suid-Afrika word Christene opgeroep om ook op donkies te klim, om teen die mag en geweld van vandag op ‘’n donkie agter Jesus aan te ry. Die kan is dat jy sodoende vir Pilatus op sy perd tegemoet kan tegemoet ry.

Wat beteken dit prakties om op donkies te klim ten opsigte van die tema “Christenskap en woede”?

Wanneer geweld deel van die kultuur van ‘’n nasie word, wanneer korrupsie endemies word en mense begin moedeloos word oor sake soos leierskap, is dit moeilik om in sulke tye nie deel van die kultuur van geweld en korrupsie te word nie. Dit is moeilik om nie oor sulke dinge stil te bly nie en jy mag dalk soms soos ‘’n nar voel. Maar wanneer jy gewoon nie saamgaan met die stroom nie, sit jy alreeds op ‘’n donkie wat reguit tussen ‘’n trop perde en strydwaens inry. Wanneer mense benoem en bewus maak en besweer en op ‘’n spesifieke wyse praat, dan gaan ons vir die wêreld soos narre lyk.

Jael se verhaal wys ons iets daarvan. Jesus stel dit voor. Deur die eeue heen was daar volgelinge van die Man op die donkie. Aan die einde van hierdie reeks oor die Rillers uit Rigters neem die parodie van Rigters 4 ons na ‘’n Man op ‘’n donkie wat binne ‘’n wrede wêreld vir ons kom sê: “Volg My!”.