Prediker 9:1-10

Ek het gewonder… As ek ‘n meisie sou ontmoet, sou sy mooi goue krulhare hê? Sou sy grappig saam met my ‘n staproete in die berge gaan doen? Sou ek vir haar koffie en ontbyt op ‘n vuurtjie kon maak? Sou ons verloof raak? Sou ons trou en die lewe saam geniet. En dan eendag oppad na haar werk verongeluk sy. Bring liefde regtig geluk?

Ek het gewonder… Wat as ek deel raak van die 5am club? Wat as ek vroeg opstaan, terwyl almal nog lê en slaap, en vooruit dink. Wat as ek vooruit dink, met die gaping wat ek in die mark gesien het, en my maatskappy kry daardie kontrak. Wat as ek deur daardie harde werk vir my vrou ‘n gemaklike lewe kan gee. Wat as ek deur my harde werk vir my kinders ‘n goeie geleerdheid kan gee? En een aand terwyl ek na-ure op kantoor steeds besig is kry ek die oproep van die onkoloog, die gewas is kwaadaardig, ek het kanker. Bring finansiële sekuriteit regtig geluk?

Ek het gewonder… Wat as ek terwyl ek jonk is ‘n huis in ‘n goeie woonbuurt koop en verhuur? Teen die tyd wat ek aftree is die huis afbetaal en baie werd. Ek sal goed geld gemaak het. Wat as ek dit regkry om my pension so te bestuur dat ek jaarliks oorsee by my kinders kan gaan kuier? En toe lees ek in die koerant dat die bank die rentekoers gaan verlaag, dat die rand weer gedegradeer gaan word, en dat my aandele nog minder werd is. Bring spaarsamigheid regtig geluk?

As ons so na ons lewens kyk, vorentoe vir ons wat jonk is, agtertoe vir die wat al gevorder het in jare, dan vra ons almal, is dit regtig die moeite werd om ’n goeie lewe te lei? Is dit regtig die moeite werd om wyse raad te volg?

Die Prediker het hierdie selfde eksistensiële vrae gevra iewers in die omgewing van 250vC. Die Prediker was waarskynlik deel van ‘n welgestelde gemeenskap wat hulle kinders na hom vir onderrig gestuur het. Daarom kan hy aan die kinders voorstel om mooi klere aan te trek en duur olies vir hul hare te gebruik, al kom dit tot niks.

In Prediker 9:1-6 word twee sake wat nou met mekaar verbind is, aan die orde gestel. Eerstens dat ‘n wyse man nie kan weet wat God weet nie, en dat dieselfde lot almal gaan tref. In vers 1 word verklaar dat God so oor die wyse regeer dat hy self nie weet wat hom gaan tref nie. God is in beheer van die tye en Hy sal sy plan sonder die medewerking van die mens laat realiseer.

Vers 2 en 3a beklemtoon weer dat dieselfde lot almal gaan tref. Ongeag regverdige of verkeerde optrede, gaan een en dieselfde lot almal tref.

Geen mens kan God se werke verstaan nie. Wat ons oor Hom sê, is altyd gebrekkig. Daarom kan ons die lewe, wat God se geskenk aan die mens is, nooit ten volle beskryf nie. Ons almal se bestaan word deur die eindigheid begrens. Hiermee moet ons vrede maak en saamleef.

In Prediker 9:3b lees ons van die mens se reaksie op die lot wat hom tref. Hy gee hom oor aan die boosheid en die kwaad. Dit maak nie eers meer saak hoe jy lewe nie, want ongeag jou lewenstyl, dieselfde lot tref almal.

In Prediker 9:4-6 gee die Prediker aandag aan sowel die lewe as die dood. Dit lyk of die Prediker in hierdie verse ‘n positiewe siening van die lewe voorstaan. Hy sê die lewendes het hoop. ‘n Hond wat lewe, is tog beter daaraan toe as ‘n dooie leeu; ‘n hondelewe is tog beter as geen lewe nie. Die Prediker sê dat die lewendes se voordeel bo die dooies is dat hulle weet hulle gaan sterf. (herhaal) So word die wat lewe se hoop, wanhoop.

Prediker 9:5-6 vertel van die lot van die dooies: Hulle weet van niks nie, daar wag geen beloning op hulle nie, niemand sal weer aan hulle dink nie en gelukkig vir hulle het hulle nie meer deel aan die smart hier op aarde nie.

In hierdie neerdrukkende omstandighede beveel die Prediker in vers 7 lewensvreugde as die hoogste goed vir hierdie lewe aan. Almal is na die sinlose dood op pad en daarom moet die lewe so lank as moontlik geniet word. Vir die Prediker kan die dood nie van die lewe losgemaak word nie, en niemand het ‘n sê daaroor nie. Die dood maak almal gelyk, of jy wys of dwaas is, almal sterf, sonder enige besittings. 6×6, dieselfde lot tref almal.

Spreuke sê:

Die lewe lê voor vir wie by die reg bly,
die dood wag vir wie aanhou kwaad doen. (11:19)
Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe
wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet. (13:13)

Hierdie siening van die dood deel die Prediker nie, daarom hoor ons hom sê:
In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien:
‘n regverdige gaan onder al doen hy reg,
‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd (7:15)

Omdat die dood nie ontsnap kan word nie en ‘n plek is waar ‘n mens vergeet word en dit leeg en leweloos is, beveel hy vreugde aan: Geniet die lewe met al jou mag, want daar is slegs een lewe.

Nou mag jy dalk vra, nou maar hoe moet ek my lewe geniet as ek weet die dood wag vir my? Hier moet ons insien dat vers 7-10 ’n opdrag van die Prediker is. In hierdie laaste verse gee die Prediker as’t ware ’n opdrag vir die mens oor hoe om die lewe te geniet.

Hy sê: Eet jou brood met vreugde en drink jou wyn met ‘n bly en vrolike hart. Geniet die kos wat jou tafel laat kreun. En onthou: God knik sy kop instemmend. Moenie rouklere dra nie, maar dra wit klere. Wit is die kleur van vrolikheid en vreugde. Gaan na die ontwerpers toe en laat hulle spesiaal vir jou mooi klere maak. Trek dit aan en geniet die lewe. Geniet die lewe met die man of vrou wat jy lief het. In die vreugde van die liefde word die lewe gevier.

Al kom die lewe tot niks, is dit God se geskenk aan jou. Vers 9 sê dat ons moet onthou dat hierdie lewe ‘n geskenk van God is.

Daar is amper ‘n teenstrydigheid by die Prediker. Aan die een kant sê hy die lewe is sinloos, maar aan die ander kant moet ons dit tog ernstig opneem. Eers word gesê alles kom tot niks en dan weer volg die oproep om die lewe te geniet.

Vir die Prediker het die absurde van die lewe in die onbeheerbare dinge gelê. In dinge soos om gebore te word, oorlog, siekte, teleurstelling, rampe en uiteindelik die dood. Hieroor het niemand beheer nie. Elke mens is hieraan uitgelewer. ‘n Goeie lewe kon die teenspoed nie keer nie. Dit is waarom die Prediker keer op keer gesê het dat alles in die lewe tot niks kom.

Elke mens het die een of ander beperking, siekte, ouderdom, ongeluk, geldtekort, die lysie gaan aan, en dit kan alle lewensvreugde demp. Dit kan ‘n mens selfs knak. Maar teen alle hoop in en omring van sinloosheid het die Prediker nogtans nie die lewe prysgegee nie. Hy wil hê dat mense skeppend en opwindend lewe. Hulle moet drome droom en dit najaag. Hulle moet elke nuwe dag gryp en iets daaruit haal. Hulle moet hulle nuwe lewensmoontlikhede ontdek en verwesenlik. Leef voluit en geniet die lewe.

In elke mens se lewe is daar die mooi, helder oomblikke, maar ook die donker ure, dae en jare; is daar sukses, maar ook talle mislukkings; is daar telkens ‘n traan by die lag; is daar by die jonkwees ook ouerword; is daar met die wins ook die verlies; is daar geboorte en ook die uitgerekte sterfbed. Om alles te vererger tref die ellende nie almal gelyk nie.

In wanhoop is daar nog hoop. In klag is daar lof. Al ervaar iemand geweldige laagtepunte, kan hy God nog loof. Gelowiges se lof tydens swaarkry is soms meer eg en dieper as in hulle voorspoed.

By die Prediker is daar ‘n dringendheid. Die lewe gaan gou verby en dit kom gou ‘tot niks’. Vandag is die tyd van liefde en die lewe moet hier en nou geniet word. Gryp die dag en leef! Die Prediker se raad aan ons is: Jy moet lewe, elke sekonde, met oorgawe. Om wys te leef is om alles wat jy doen met oorgawe en geesdrif te doen. Volg hierdie raad.

Ons leer by die Prediker om sin te vind in die alledaagse dinge. As ‘n mens gestroop is, vind jy die sin in die byna vanselfsprekende. TT Cloete het die wyse gedagte in sy gedig Uitgedun verwoord, so ook het Koos du Plessis dit gedoen in ‘n ongetitelde gedig in sy bundel, Om jou verlaas te groet.

TT Cloete skryf:

Ek dank U dat ek Heer
soos van ouds vanoggend weer
my baard mag skeer.
Vroeër was ek gesteld
op geweld
en eer en geld.
Nou is ek goedkoop
gesteld op bloedsomloop
en brood en stroop.

Koos du Plessis dig:

Eenvoud is die vreugde van die lewe:
dis gee en neem net wat daar is;
dis dankbaar eet van elke skewe
snytjie brood wat liefde is.

Emmanuel Levinas sê dat ons die sin van die lewe in die ander vind. Liefde gee sin aan my lewe. Liefde wat sin aan my lewe gee, vra van my aandag vir die ander. Hierdie liefde beteken dat ek myself vir ander oopmaak. As die ander sien en ervaar, sien en ervaar ek dit ook. Vir Levinas is die ander ook ‘n gekwalifiseerde ander: die arme, die vreemdeling, die weeskind. Aan die ander moet ons gasvryheid toon.

Die ontmoeting met die ander is ‘n insny in die daaglikse gang van sake. Hierdeur word die ‘ware self’ wakker geroep. Om mens te wees, beteken om aan verhoudings met ander mense te bou. Die goeie lewe van ‘n mens is ‘n lewe tussen ander mense. Ons sien die plooie van tyd op die ander. Dit wek by ons deernis, vir onsself, en vir die ander. En in hierdie deernis vir die ander vind ons ruimte vir onsself en vir die ander. Dit alles maak die lewe sinvol.

En onthou wat die Prediker sê:

Eet jou brood met vreugde!
Drink jou wyn met ‘n blye gemoed!
Dra wit kleure!
Versorg jou hare met olie!
Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet!
Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen!

Lap oor kansel, broodplank, brood, wynglas, skink wyn…

Ek eet my brood, ek drink my wyn, ek dra my feestelike klere. Ek geniet die lewe saam met my vrou, ek doen alles wat my hand goed vind om te doen. Maar dit maak my nie gelukkig nie…

Voordat jy nie besef dat soos jy eet en drink jy nie jou eie lewe vier nie. Maar die Een vier wat lewe aan jou gegee het, jy die Een vier wat die graan vir die broodjie laat groei het, jy die Een vier wat die druif vir die wyn laat swel het. Voordat jy nie besef dat jy in jou vrolikheid, in jou liefde, in jou sekuriteit, in jou spaarsamigheid, jou Skepper behoort te vier nie, sal jy nie werklik gelukkig wees nie.

Gryp die lewe! Carpe Diem! Gryp die lewe met al twee hande aan, saam met die Here, want Hy is die een wat die vreugde in jou lewe sit!

Gryp die lewe, saam die Here!

Amen.

Jeremia 18: Ervaar jy dat die Here besig is om jou te vorm?

 

  1. Jeremia is gehoorsaam

 

Jeremia is in gesprek met God en wag op ‘n antwoord van die Here. Hy probeer vasstel wat die Here vir hom wil sê, maar hy kan nie hoor wat die Here vir hom sê nie. Hy sukkel om fyn ingestel te kom om te onderskei wat God vir hom wil sê.

 

In vers 2 sê die Here aan Jeremia: “Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat.” Sekere dinge sal ons nooit verstaan nie, voordat ons nie eers die dinge wat die Here van ons vra om te doen gehoorsaam het nie.

 

Daar kom tye wat ons eers die Here onvoorwaardelik moet gehoorsaam voordat ons in daardie posisie is waar Hy sy eintlike boodskap of droom vir ons lewe aan ons kan bekendmaak. Om afhanklik van die Here te leef vra totale gehoorsaamheid aan Hom.

 

Om na die pottebakker se huis te gaan het hom laat dink aan Israel en die Here se droom vir Israel en hoe die volk misluk het… soos stukkende potskerwe wat die wêreld vol lê… Die prentjie berei sy gedagtes voor vir dit wat die Here aan hom wil verduidelik. Dit bring insig, wat hy nie in sy normale dagprogram sou kry nie.

 

Soms is dit nodig om na die stukkende om jou te kyk om te kan sien hoe dinge kan wees. Dit is nodig om alle filters af te haal. Geen Lark, Juno, X-Pro II of Lo-Fi filters nie, net die waarheid. Dit is nodig om die harde werklikheid reguit in die oë te kyk om ook te besef dat die Here weer stukkende potte aanmekaarsit en heelmaak.

 

Jeremia moes eers kyk hoe die pottebakker die klei brei en voorberei om ‘n pot te vorm voordat hy besef die Here besig is om met hom te praat deur die pottebakker. Die Here laat dikwels dinge gebeur om ons gedagtes te laat fokus op wat Hy wil hê ons moet raaksien.

 

Ons moet diep nadink oor wat alles die naweek gebeur het. Die Here probeer met ons praat! Net dwase hou aan met die gejaag van die lewe sonder om stil te staan en te dink wanneer belangrike dinge gebeur. Weet dat die Here jou aandag probeer trek deur dinge wat jy die naweek beleef het en vorentoe ook deur die klein dingetjies… Die Here probeer vir jou iets wys. Moet dit nie mis nie!

 

 

 

Jeremia kom op die presiese oomblik by die pottebakker se huis aan toe hy ‘n vars klomp klei optel en begin voorberei. Dit is ‘n unieke proses om ‘n pot te maak, wat toe juis besig was om te gebeur. Hy staan en kyk in verwondering oor die geduld waarmee die pottebakker die klei begin vorm. Nie instapotte nie, maar met geduld gevorm. Uiteindelik sou die pottebakker iets met waarde van die klei maak. Word stil. Kyk. Luister. Neem waar… Die Here is besig om te praat!

 

  1. Die Pottebakker

 

Jeremia sien dat die pottebakker ‘n spesifieke intensie met die klei het. Hy werk doelgerig. Hy neem ‘n stuk rowwe klei en hy weet vooraf wat hy met daardie stuk klei wil doen. Hy gaan iets nuttig en kosbaar vorm. Wanneer hy daardie klei tot ‘n produk gevorm het, bewonder hy die produk. Dit gee hom satisfaksie en hy is trots op die produk. Die produk is voltooi en gemaak vir ‘n spesifieke doel!

 

So het die Here ook ‘n intensie met ons lewens. Die Here het ‘n plan met ons elkeen se lewe! Hy het ‘n baie spesifieke eindproduk ingedagte. Daarom, moenie jou tyd mors nie. Moenie ophou drome droom vir jou lewe nie! Waarvoor lewe jy? Waarvoor staan jy elke oggend op? Waaraan gaan jy vorm gee?

 

Hierdie pottebakker is absoluut in beheer. Ons moet ook beheer neem van ons lewens. Ons kan dit nie net los om maar te sien wat gebeur nie.

 

Die pottebakker gebruik verskillende instrumente om sy klei te bewerk. Daar is die draaitafel. Die instrument is ontwerp om die klei in die rondte te draai. Die blad van die draaitafel was van klip gemaak. Wanneer die klei op die draaitafel beland gebruik die pottebakker ‘n klein plankie of skrapertjie om onsuiwerhede uit die klei uit te haal.

 

Jeremia hou dop hoe die pottebakker met groot omgee die klei vorm. Die Here is besig om ons elkeen met groot omgee en liefde te vorm. Hy gebruik verskillende ervarings en omstandighede om ons te vorm.

 

Die pottebakker se hand was ervare. Hy kon vooruit aanvoel as die klei nie reg is nie. Sy hand was altyd liggies op die klei. Wanneer hy sien die klei verander het hy vroegtydig die regte aanpassings gemaak om die klei ‘n effense anderse vorm te gee. Die Here se hande is liggies op ons elkeen… voel jy dit?

 

Die pottebakker het met groot geduld en fokus gewerk. Die Here is deur al die eeue op pad met sy kinders. Met groot geduld werk Hy oor die tyd heen. Nou is dit ons tyd. Ons beurt. Ons generasie moet nou ‘n verskil begin maak! Moenie die geleentheid wat die Here vir jou gee om deel te wees van Sy plan misloop nie!

 

  1. Watter tipe klei is jy?

 

‘n Belangrike eienskap van pottebakkersklei is dat dit die regte tekstuur moet hê sodat dit sag en aanpasbaar kan wees om gevorm te word, maar tog ook sterk kan wees, nadat dit in die oond gebak is.

 

Klei moet vry van onsuiwerhede wees. Jeremia let op hoe die pottebakker die klei deurwerk met sy hande. Die pottebakker haal elke stukkie onsuiwerheid uit. Elke klippie of stukkie gras word verwyder en weggegooi. Klei wat vol onsuiwerhede is, kan nie gebruik word nie. Klei wat onsuiwerhede bevat sal uiteindelik kraak, of die klippies wat daarin is sal maak dat die pot nie mooi afgewerk kan word nie.

 

‘n Lewe vol sonde, vol klippies, val uitmekaar uit. Die Heilige Gees sal nie tuis wees in so ‘n lewe nie, en dan sal die Here se krag ook nie daar wees nie. Pak jy jou lewe vol klippies?

Klei moet sag en vormbaar wees. Met droë harde klei kan die pottebakker niks maak nie. Daarom gooi die pottebakker bietjie water by die klei en brei die klei totdat dit sag en vormbaar is. Die pottebakker hou aan om die klei te brei totdat hy tevrede is met die tekstuur en daarna word die produk gevorm en in ‘n oond gebak. Dit word dan in uiters hoë temperature gebak.

 

So vorm en bak die Here ons. Met water en met vuur.

 

Die is Here is die pottebakker en ons die klei.

 

Doen slegs U wil, Heer, U wil met my,

U, die Pottebakker, met my, die klei;

vorm my en maak my net soos u wil;

op U vertrou het, nederig en stil.

 

Watter tipe klei is jy? Ervaar jy dat die Here besig is om jou te vorm?

 

Amen.

2 Konings 5: Waar sien jy die Here raak?

Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid begin meestal in ons gedagtes. Die maniere waarop ons oor die lewe dink, is die beginpunt van wat ons doen. Gehoorsaamheid aan God lyk dikwels anders as die manier waarop mense om ons leef. Dit vra dikwels dat ons ‘n keuse moet maak om anders as die normale moet optree. Dit vra dikwels dat ons ‘n keuse vir die heilige moet maak.

 

Daarom moet ons eers luister na God en die Bybel om te weet wat God van ons vra. Die woord “gehoorsaamheid” help ons hiermee. Ons moet eers God “hoor” en dan “saam” met die Heilige Gees dit doen. Gehoorsaamheid is nie ‘n voorwaarde om God se genade te verdien nie, maar is ‘n spontane reaksie of keuse in antwoord tot God se liefde.

 

In hierdie verhaal in 2 Konings ontmoet ons vir Naaman, die hoof van die leër, ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet, ‘n dapper soldaat. Ons ontmoet ook ‘n dogtertjie wat ontvoer is uit haar land wat as bediende vir Naaman se vrou werk. En ons hoor van Elisa, die profeet van Israel.

 

Elisa het baie wonders gedoen. Hy het giftige water drinkbaar baar gemaak. Hy het olie laat vermeerder sodat ‘n weduwee haar man skuld kan afbetaal. Hy het ‘n vrou se kind uit die dood laat opstaan. Hy het ‘n giftige bredie eetbaar gemaak en ook brood laat vermeerder sodat ‘n honderd mense kos gehad het.

 

In hierdie storie oor Naaman gebeur dit dat hy, die gesiene soldaat, melaatsheid opdoen. Hy word siek, en toe van alle mense, vertel die ontvoerde dogtertjie hom van die profeet Elisa in Israel wat hom sal kan genees. Onthou, Naaman en sy vrou bly in Aram, saam met die dogtertjie wat sy soldate ontvoer het uit Israel.

 

Naaman gaan toe na sy koning om hom verlof te vra om na die koning van Israel te gaan sodat hy genees kan word. Sy koning gee toestemming en stuur hom met ‘n brief vir die koning van Israel. Toe hy by die koning van Israel aankom skeur die koning sy kleure en sê tereg aan Naaman: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee?” En met die woorde is hy weg van die koning na die profeet Elisa.

 

Toe hy by die tempel aankom opsoek na Elisa, stuur Elisa vir hom ‘n boodskap: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond en rein wees.” Hy was nie baie gelukkig met hierdie boodskap nie. Hoekom het Elisa nie self met hom, die gesiene soldaat kom praat nie, hoekom moet hy hom in die Jordaan gaan was terwyl die Damaskus, Abana en Parpar riviere daar is wat baie mooier en skoner is?

 

Hy is daar weg sonder om die opdrag van die profeet uit te voer. Terug by die huis het sy amptenare mooi met hom gepraat en hom probeer oorreed om die eenvoudige opdrag van die profeet uit te voer.

 

Hy gaan toe af na die Jordaan rivier, was hom sewe maal, en sy vel het soos die van ‘n klein seuntjie geword, en hy was rein, genees van alle melaatsheid.

 

Met die storie kan ons onsself vra met wie in die storie assosieer ons?

 

Naaman die gesiene soldaat opsoek na genesing? Die naamlose ontvoerde dogtertjie in ‘n vreemde land? Een van die konings? Dalk een van Naaman se amptenare? Waar plaas jy jouself in die storie? Of dalk die dieper vraag, wie is jy voor God?

 

Wat verras in hierdie verhaal is dat die ontvoerde dogtertjie eintlik die een is wat die bevelvoerder van die soldate wat haar ontvoer het se lewe red. As uitgebuite, as gemarginaliseerde, as ontneemde klein dogtertjie gee sy steeds raad vir haar eienaar sodat sy lewe gered kan word. Hoekom? Hoekom laat sy hom nie eerder sterf om ‘n kans te kry om te ontsnap nie?

 

Hierdie verhaal is vol gemengde emosies, maar twee emosies wat duidelik hier uitstaan is die van trots en nederigheid.

 

 

 

 

Naaman het duidelik vanuit sy trots desperaat opgetree en dadelik na die konings gegaan. Manne van sy statuur. Manne in beheer van sake wat vinnig dinge sal kan regruk. Die koning van Israel dwing hom egter om te gaan kennis maak met Elisa. Hy kom daar aan en Elisa kom nie eers uit sy huis nie, Elisa stuur net ‘n boodskap. Hierdie maak die trotse, gesiene soldaat kwaad. Waar is die aanroep van die Here se Naam, waar is die profeet se hande wat oor sy melaatsheid moet beweeg, in kort waar is die ding wat iemand anders moet doen om my te genees?

 

Hierby kan baie van ons aansluit. Baie van ons, veral ons mans, maar ook van die dames, loop met hope trots in ons opgesluit. Ons dra ons seer stil stil binne in ons. Tot die dag wat dit nie meer anders kan nie, tot die dag wanneer die seer binne ons buite ons begin wys. ‘n Humeur wat dalk nie meer ingehou kan word nie, ‘n skuinskyk, ‘n te vinnige opmerking. Of dalk begin die seer slapelose nagte veroorsaak, sakke onder die oë, moeilike dae.

 

En eers wanneer dit begin wys begin ons daaraan dink om na iemand te gaan om ons te genees van ons seer sonder dat ons regtig op ‘n dieper vlak met ons seer vrede maak. Naaman was trots, en die profeet wou hom nie gesond maak nie.

 

Elisa stuur wel die boodskap aan Naaman om homself in die Jordaan te gaan was. ‘n Eenvoudige boodskap. Maar trotse Naaman wil dit nie doen nie. Dit is benede hom om hierdie eenvoudige dingetjie te doen en iets groot daarvan te verwag.

 

Hy ry terug huisstoe en daar gesels hy met sy amptenare, waarskynlik in tipiese braaivleisvuur styl, “Kan jy glo die man vra dit van my, weet hy wie ek is?”

 

En is hier waar die Gees reeds oorneem in Naaman se lewe. Vir een of ander onverklaarbare rede luister hy die gesiene soldaat na die raad van amptenare. Hy gaan toe af na die Jordaan en was hom sewe maal daarin. Hy word toe genees van sy melaatsheid en sy vel raak soos die van ‘n klein seuntjie.

 

Wat in hierdie verhaal belangrik is om raak te sien is baie, verskillende karakters se verskillende emosies en optrede, maar vandag veral Naaman en die klein dogtertjie.

Naaman moes uiteindelik sy trots laat staan om in nederigheid letterlik af te daal na die Jordaan rivier en die eenvoudige en dalk snaakse ding te doen om homself sewe keer in die Jordaan rivier te was.

 

Hoe baie staan ons trots nie tussen ons en die opdragte van die Here nie? Wat gaan mense van my dink as ek na hulle toe stap en vertel dat die Here vir hulle baie lief is, dat Hy omgee oor hulle gesondheid, en dat hy hulle gesond wil maak? Trots vra altyd: “Wat gaan die mense sê?” God vra: “Petrus, is jy regtig lief vir my?”

 

In hierdie verhaal is die klein dogtertjie die eerste een om te praat. Sy neem die inisiatief om haar meester tot genesing te help, al is sy hulle slaaf, al het sy rede om kwaad te wees, is sy steeds die een wat genesing aanbied.

 

Hoe bereid is jy om opdragte van die Here uit te voer? Is jy die klein dogtertjie wat in jou ongemak steeds sonder huiwer die Here se liefde aan almal oordra, of is jy Naaman wat eers deur jou seer of siekte geraak moet word voordat jy na die stem van die Here luister?

 

Ek sluit af.

 

Om gehoorsaam te wees moet ons kan luister. Hoe goed luister jy? Wanneer iemand iets vir jou vandag sê, vra: “Hoor ek jou reg as jy sê…” en herhaal wat gesê is in jou eie woorde om dit te toets. Gehoorsaamheid vra dat ons hoor wat God sê sodat ons vorentoe saam kan wees.

 

Waar praat God met jou? Waar sien jy die Here raak? Waar hoor jy Hom?

 

Naaman het God gevind toe hy na ‘n klein dogtertjie geluister het. Naaman het God gevind toe hy na sy amptenare geluister het. Naaman het God gevind in die geringstes, die sonder aansien.

 

Amen.