1 Samuel 17: Dawid en Goliat

Vandag wil ek julle ‘n ou ou storie vertel. ‘n Storie van wonder. ‘n Storie van twee volke wat teen mekaar oorlog gemaak het. ‘n Storie van ‘n magtige koning wat bang was. ‘n Storie van ‘n pa se opdrag. ‘n Storie van agt boeties. ‘n Storie van ‘n spotter. En, die storie van God.

Lees 1 Samuel 17:31-51.

Die eerste vraag wat ek myself afgevra het toe ek die storie gelees het was, hoekom het die twee volke vir 40dae lank net teenoor mekaar gestaan? Hoekom het hulle nie mekaar dadelik aangeval toe hulle mekaar gesien het nie. Was hulle tog nie gereed vir oorlog die dag toe hulle uit hulle stad die vlaktes ingetrek het nie? Vir 40 dae lank staan hulle in die oggende vroeg op om net vir mekaar te kyk. Dit is baie vreemd.

Wat ook vir my vreemd was, was dat koning Saul nie vir Goliat tegemoet gaan nie. Hy is tog die koning van die Israeliete, as daar iemand is om die volk se eer te beskerm, dan is dit tog die koning self. Hy is aangestel om oor die volk te regeer, en as daar moeilike gevegte na vore kom is dit hy wat vreesloos na vore moet tree, maar hy doen nie. Hy sit gemaklik in sy tent met sy raadgewers en drink die een koppie wyn na die ander terwyl die res van die volk elke oggend vroeg opstaan gereed vir oorlog. Hy gee ook nie eers die bevel om die Filistyne aan te vat nie. Hy doen net mooi niks nie. Die koning van die Israeliete is stil.

In hierdie veertig dae op die oorlogsveld raak die soldate natuurlik ook honger, nes ek en jy, en hulle het kos nodig. Drie van Isai, die Efratiet uit Betlehem in Juda, se seun is betrokke by hierdie oorlog. Isai stuur dan sy jongste seun Dawid, die skaapwagter, om vir sy broers gebraaide koring en brood te vat. Sonder vrae doen Dawid dit dadelik vroeg die volgende oggend. Hy doen dit so vroeg dat hy reeds by die oorlogsveld aankom die oggend terwyl die manne regmaak om vir die res van die dag vir mekaar te kyk met lelike gesigte. Om mekaar uit te daag oor ‘n afstand.

Dawid kom daar aan en los sommer dadelik die kos by die bode wat daarna sal kyk en sal sorg dat elkeen kry wat aan hom toekom. Hy hardloop om die aksie van nader te bekyk. Tussen die reuk van rokerige vure, modder, en sweet hoor hy skielik hoe iemand gewelddadig skree. Met daardie aaklige skreeugeluid ontmoet Dawid vir Goliat. ‘n Reus in die oë van die volke, 3meter lank, ‘n bronshelm op sy kop, ‘n harnas met skubbe wat 57kg weeg, bronsskerms voor sy bene, met ‘n spies waarvan die lem 7kg weeg. Die gevreesde Goliat aan die skree teen die volk Israel.

Dawid begin dadelik so onder die soldate rondvrae wie hierdie Goliat is. Wie is hierdie man dat hy die linies van die lewende God verkleineer? Soos Dawid nog nuuskierig aan die rondvrae is hoor een van sy broers dat hy in die kamp is. Eliab, Dawid se oudste broer vererg hom toe vir Dawid. Dawid wat nie eers by die oorlog betrokke is nie, kom nou sommer van die kant af en begin vrae te vrae oor die oorlog asof hy weet wat oorlog behels, terwyl hy die heeltyd lekker in die lang gras lê en na sy skapies kyk. So asof Eliab nou kwaad is omdat Dawid vrae begin vrae, waaraan hy as oudste broer nog nie eers gedink het nie. Dawid antwoord sy broer en vrae hom of wat hy gedoen het nie belangrik is nie?

In die eerste plek het Dawid vir sy broers die nodige kos gebring sodat hulle verder kan veg. Maar belangriker as dit, was Dawid die eerste Israeliet in daardie oorlog wat vir die naam van die Here opgestaan het. Nie eers koning Saul het geroer al word sy God gespot deur ‘n reus nie. En hier kom Dawid die kleine skaapwagter en vra wie is hierdie Filistyn wat die enigste ware God so loop en spot.

Die storie begin onder die manskappe versprei van hierdie klein mannetjie wat vrae vrae oor die reuse Goliat. Koning Saul laat haal toe hierdie nuuskierige skaapwagter. Vinnig vind Saul uit dat hierdie skaapwagter nie onderskat moet word nie. Met heldemoed is hy bereid om teen die reus te veg. Dawid verduidelik vir Saul van die leeu en die beer, stories van integriteit. Want as skaapwagter, as ‘n leeu of ‘n beer die skape kom pla het en hy nie teen hulle geveg het nie, hy self die skape moes vervang. Hy was gewoond om teen groot en gevaarlike vyande te veg. Sy wapen van keuse, die slingervel. Eenvoudig van leer, amper soos ‘n kettie.

Koning Saul laat Dawid toe toe om teen die Filistyn te gaan veg, met die wete as Dawid verloor, verloor hy wat koning is ook die oorlog. Hy ag dit so belangrik dat hy sy eie koninklike uitrusting vir Dawid gee om aan te trek. Maar dit is ongemaklik en swaar vir Dawid, hy kies om dit te los, want hy sê hy is nie daaraan gewoond nie. Hy gaan soek vir hom vyf spoelklippies in die rivier en met sy slingervel stap hy op die Filistyn af.

In hierdie storie vind ons ‘n dapper seun wat bereid is om sy lewe te waag vir die naam van die Here. Hy kan dit nie aanvaar dat daar iemand is wat openlik die spot dryf met die Here en sy volk nie. Dawid word op ‘n manier die verteenwoordiger van God op daardie oorlogsveld. Die Filistyn oortree die derde gebod en gebruik die naam van die Here ydellik asof dit sommer niks is nie. Hierdie gedrag kan nie toegelaat word nie. Iemand moet daarteen optree en Dawid is daardie persoon.

Dawid tree ook op vanuit sy menswees met sy eenvoudige slingervel en klippie, dinge wat hy ken en verstaan. Deur slegs bereid te wees om vir die naam van die Here op te staan en geloof die vyand die veg aan te sê gebruik die Here die eenvoudige en verander dit in die verstommende wanneer Dawid die reus met slegs ‘n enkele klippie oorwin.

Dawid het die reus tegemoet gehardloop, en hy was seker bewerig terwyl hy dit gedoen het, maar hy het na die reus toe gehardloop en nie weg van hom soos die res van die Israeliete nie. Hierin word Dawid ook ‘n geloofsheld vir al die Israeliete wat hierdie konfrontasie tussen skaapwagter en reus aanskou. Dawid word ‘n voorbeeld vir die volk van wat dit beteken om vanuit geloof te leef. Hy word ook ‘n voorbeeld van wat moontlik is as daar vanuit geloof gelewe word. As daar vanuit geloof gelewe word, word die onmoontlike moontlik. Dit wat aanvanklik reusagtig lyk, word ontmasker vir wat dit regtig is. Goliat was niks meer as ‘n lompe reus wat stadig beweeg het nie. Goliat se sig was ook nie baie goed nie, want hy het dit nie gewaag om sy spies na Dawid te gooi nie. Goliat moes staatmaak op skilde, helms en harnasse.

Dawid aan die ander kant was rats, klein, en vol energie. Dawid het nie vir 40 dae in oorlogs omstandighede geleef nie. Nee, Dawid was vars vanaf die huis waar hy lekker geëet het en sy kragte opgebou het. Dawid was opgelei om wilde diere te kan verslaan met slegs sy slingervel in tye van nood en kon daardie opleiding gebruik om die reus die stryd aan te sê. Buiten al hierdie menslike dinge, het Dawid slegs die moed gehad om die reus aan te sê omdat hy vanuit geloof gelewe het. Dawid het sy krag in die Here gevind. Hy gee ook die krediet vir die leeu en die beer aan die Here, nie uit sy eie krag nie, maar deur die krag van die Here het hy die wilde diere oorwin. So ook is hy nie bang vir die reus nie, want hy weet soos die Here met hom was met die wilde diere sal die Here soveel te meer met hom wees as hy veg teen een wat die naam van die Here bespot.

 

Daarom, mag ons almal met die geloof van Dawid leef. Mag ons almal soldate vir God wees. Mag ons almal besef dat ons, nie deur ons eie kragte nie, maar deur die heilige krag van die Here, die teenstanders in ons lewe die stryd kan aansê. Mag ons almal besef dat deur aan die kant van die Here te wees daar niks is om te vrees nie.

Amen.

Esegiël 18: Waar jy vandaan kom bepaal nie waarheen jy op pad is nie…

  • Vrae-spreuk

Wie is naby aan jou? Wie is die naaste aan jou? Wie het ‘’n invloed op jou lewe? Wat het ‘’n invloed in jou lewe? Jou pa? Jou ma? Jou onderwyser? Jou vriende? FHM? Sports Illustrated? Die nuus om 19h? MKTV? MTV?

 

Het God ‘’n invloed in jou lewe, oor hoe jy lewe?

 

  • Druiwe-spreuk

Hierdie se-ding van die Israeliete was ‘’n algemene uitspraak in die tyd. Dit was algemeen aanvaar dat as jou ouers iets verkeerd gedoen het dat jy as kind daarvoor sal moet boet en later ook ‘’n hele samelewing vir die sondes van die vorige geslag. Om die groep te beskerm, om te beskerm wat in die groep gebeur het en hoe die groep verder moet voortbestaan het hulle gesê dat die kinders die vaders se sondes deel van hulle lewe moet maak. Hulle moet die gevolge dra van die lewe van hul ouers.

 

Paulus sê vir ons dat die Here die sondes van ons vaders toereken tot die 3de en die 4de geslag maar dat Hy sy liefde betoon tot in die 1000ste geslag. Wat vir ons sê dat ons uit die sirkel van sonde kan breek. Die liefde van die Here vir ons is groter as die sondes.

 

  • Godspraak

Die Here sê vir ons in vers 3 dat Hy dit nie sal toelaat dat die spreuk ooit weer gebruik mag word nie. Ouers mag nie meer hul kinders negatief beinvloed daardeur nie! Die Here verban die druiwe spreuk!

 

In vers 4 sê Hy dan vir ons dat ons nie hoef te bekommer oor;

 

Om deel te wees van die ⅓ van elke kind wat uit ‘’n gebroke huis kom, wat weer eendag self ‘’n gebroke huis sal hê nie.

Dat ons nie, al is ons ¼ wat deurloop onder seksuele geweld, ‘’n selfbeeld probleem gaan ontwikkel nie.

Dat ons nie, afhanklik hoef te  raak van dwels, drank, pille en pornografie soos ons ouers en vriende nie.

 

  • Vryspraak

Dat as ons vry wil wees van die dinge wat ons beinvloed van ander mense of van die dinge wat ander mense aan ons doen, ons moet opstaan, vasstaan en besef dat God gese het dat elkeen sal boet vir die sonde wat hy doen en dat die onskuldige nie met skuldgevoelens hoef rond te loop oor wat iemand anders gedoen het nie.

 

Tom Cruise, was mishandle deur sy pa, wat hy ‘’n gesant van chaos genoem het, hoe ironies dat hy altyd die Mission Impossible gedoen gekry het.

Oprah Winfrey, het in ‘’n gebroke huis groot geword met net haar ma wat vir haar sorg, sy was op 9jaar verkrag en swanger op 14jaar. Sy was die eerste swart vrou om ‘’n biljoener te word.

Steve Jobs, was ‘’n buite-egtelike kind en moes aangeneem word. Vandag het ons almal van sy tegnologie in ons huise.

Angus Buchan, was in Zambië geforseer om sy plaas te verkoop waaraan hy jare gewerk het vir omtrent niks. Vandag doen hy baie werk vir die Here.

Charlise Theron, se pa was ‘’n alkalis, so erg dat haar ma haar pa doodgeskiet het. Vandag het sy ‘’n Oscar agter haar naam.

 

Al hierdie mense het iets gesnap van wat hier staan. Dat hulle nie hoef te boet vir die sondes van hulle ouers nie. Hulle hoef nie die slegte beeld wat hulle ouers uitstraal deel te maak van wie hulle is nie. Hulle is vrygemaak. Die Here het hulle vrygemaak.

 

Jy hoef nie die slegte van wat aan jou gedoen word deel van jou te maak nie, God se, jy mag nie! Jy is ‘’n persoon op jou eie! Elkeen betaal vir sy eie sondes. Die een wat die suur druiwe eet se tande gaan stomp word!

 

 

 

 

  • Lewe-spreuk

Hoe lewe so iemand wat vry is van die slegte invloede van ander?

 

Hy dien nie afgode nie! Hy is nie verslaaf aan drank, dwels, pille of pornografie nie, of die idée dat dit met hom mag gebeur nie!

Hy lewe nie seksueel ontrou nie. Hy verkrag nie, hy skei nie, of koester die idée daarvan nie!

Hy onderdruk niemand nie, veral nie die wat vir hulself kan sorg nie.

Hy steel nie, veral nie van die wat min het nie.

Vir die wat kos en klere nodig het gee hy kos en klere.

 

Die Here sê dat so iemand leef volgens sy wil leef en hy sal lewe, so sê die Here my God.

 

Hierdie lewe wat die Here aan jou belowe vry van die invloede van jou omstandighede is ‘’n Goddelike lewe, ‘’n vervulde lewe, ‘’n lewe sonder kettings, ‘’n gelukkige lewe.

 

Moet nie jou omstandighede blameer vir waarheen jy op pad is nie! God sê jy mag nie meer nie! Hy wil die goeie lewe vir jou hê! Staan op, saam met Hom en lewe!

Genesis 9: Ontdek die reënboog

Daar is liedjies en stories en fabels oor reenboë.  Die bekendste sekerlik dat daar ’n goudpot aan die einde van die reënboog is.  Koos du Plessis sing mos die liedjie:

As die reën van stof en roet verby is, en die rook verdwyn,
sal daar in die sterrelose hemel ‘n neonboog verskyn,
en kyk maar goed, want as jy hom vind
vertel ek vir jou ‘n sprokie my kind,
van ‘n skatkis met ou kettings gebind
aan die neonboog se punt.
As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt,
dalk vind jy die land van blou saffiere
en dalk ‘n brokkie son.

Die verhaal van Noag en die reënboog is natuurlik nie ’n sprokie nie, ons sal ook nie ’n goudpot aan die punt van die reënboog vind nie, maar miskien kry ons vanmôre iets veel meer waardevol by die reënboog se punt.

Nou vriende, dink jou net vir ’n oomblik weer in Noag se skoene in.  Na ’n jaar in die ark swaai die deure toe uiteindelik oop.  En dit is ’n nuwe begin vir Noag en al die diere saam met hom!  Alles is droog en groen en die wêreld is vir ’n slag rustig.  Maar toe wonder ek, hoe het ou Noag gevoel toe hy sy voete op die droë grond sit?  Het hy nie maar by homself gewonder: Sê nou dit gebeur weer?  Ek dink hy het seker die heeltyd die weer dopgehou.  En elke ou wolkie het hom herinner aan die ergste wat kan gebeur.  Hy kon seker ly aan post-traumatiese stres, want elke keer as daar ‘n storm losbars, of as die weerlig slaan, was dit ’n herinnering aan die vorige katastrofe.  So miskien was daar in sy hart opgewondenheid oor die toekoms, maar ook ’n stuk huiwering en bekommernis oor dit wat voorlê en dalk nog kan gebeur.

En is dit nie maar dieselfde gevoel wat ons het so aan die begin van ’n nuwe jaar as die deure oopswaai nie?  Ja, daar is opgewondenheid oor ’n nuwe begin.  Opgewondenheid oor nuwe uitdagings en nuwe geleenthede en miskien nuwe fases in jou lewe of die lewe van jou kinders.  Aan die een kant is daar die opwinding en avontuur, maar aan die ander kant is daar is tog ook die huiwering en bekommernis.  Gaan ek weer so ’n jaar hê soos verlede jaar?  Gaan die storms maar weer woed?  Gaan ek dit regkry om weer kop bo water te hou?  Jy sou die lysie van twyfel en bekommernis natuurlik self kon aanvul.

En dan kyk Noag op en sien die reënboog.  Noag hier is die teken van My genade!  Noag, Ek kom verbind My opnuut weer aan mens en dier.  Noag, Ek belowe, Ek sal nooit weer uitwis en vernietig nie.  Trouens die reënboog is vir julle ’n teken van hoop, want wanneer die wolke oor die aarde saampak sal die reënboog verskyn en sal julle weet dat Ek aan julle dink (Gen. 9:12,16).  Vriende, dit is tog interessant dat Noag hierdie teken juis sal sien wanneer daar ’n storm woed.  Want ons sien ook tog maar God se genade die duidelikste wanneer dit donker is en die lig daarop val!

Calvyn skryf op ’n plek dat die reënboog soos ’n sakrament is.  Soos wat die sakramente van die doop en die nagmaal ons herinner aan God se genade en goedheid, so gee die Here die reënboog om ons te verseker van sy liefde en trou en om daardeur ons geloof te versterk.  Juis sodat ons kan weet; wanneer die onweerswolke saampak sal ons hierdie wonderlike teken in die lug sien wat ons daaraan herinner dat God genadig is!   En dink net watter wonderlike troos en versekering was dit vir Noag en sy mense toe hulle kon opkyk en weet, geen storm sal ons weer platslaan nie!  Geen orkaan sal ons lewe vernietig nie, want God is genadig!  Daar is weer vir ons hoop!

Vriende, interessant van hierdie belofte is dat dit nie in die eerste plek gaan oor dit waaraan die reënboog ons herinner nie, maar eintlik gee die Here die reënboog as ’n reminder vir Homself!  Genesis 9:15 en 16: ”Wanneer …die reënboog verskyn …sal Ek dink aan my verbond met julle … Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond…”  Daarom vriende, herinner die reënboog God gedurig aan sy genade-glimlag oor die mens.  En kan ons leef met die wete: God dink aan ons, selfs al dink ons nie aan Hom nie!

So kom gee die Here hierdie teken om Homself en vir ons te herinner, dat daar hoop is omdat daar genade is!  En hoop en genade word die duidelikste sigbaar wanneer die lig skyn op die onweerswolke wat saampak.

Jy kan dalk vanmôre hier sit en sê: dit is nou goed en weer ’n mooi reënboog-storie vanmôre.  Maar vriende, baie mense sukkel om die reënboog raak te sien.  Sukkel om te sien dat God genadig is, sukkel om te sien dat Hy nie net wil platslaan en vernietig nie.  Baie ander is in situasies en omstandighede vasgevang, ja selfs so aan die begin van die jaar na ‘n vakansie, waar dit baie moeilik is om reënboë van hoop te sien in die donker onweerswolke.  Mense wonder waar hulle hierdie tekens van God se hoop en genade prakties in hulle eie lewens kan sien en ervaar.

Judy Garland sing in The Wizard of Oz:

“Somewhere over the rainbow, way up high,

there’s a land that I heard of once in a lullaby.

Somewhere over the rainbow, skies are blue,

and the dreams that you dare to dream really do come true. 

 

ʼn Lied oor hoop en drome. Maar way up high is nie veel troos vir iemand wat way down low is nie!  Hierdie jaar gaan vir die meeste van ons nie ’n wiegeliedjie wees nie.  Hier waar ons in Afrika leef, pak die onweerswolke gereeld saam en sukkel ons somtyds om deur al die donderstorms en druppels reenboë van hoop te sien.

En toe lees ek die aangrypende verhaal wat prof Daniel Migliore van die Princeton Universiteit in die VSA vertel.  Die verhaal speel af in die middestad van Trenton in New Jersey waar die moeilik was om deur al die rook en hoë geboue enigsins die lug of wolke dop te hou.  Hy sê: ”Eendag was dit my taak om ‘n klein klas van nege en tienjariges te leer. Toe die einde van ons tyd saam aanbreek, het drie van die kinders my gevra om ‘n Bybelstorie vir hulle te lees. Ek het die storie van Noag en die reënboog gelees. Toe ek klaar was met die storie, het ek gevra: ‘Waar kyk julle om ‘n reënboog te sien?’ ‘Op die strate,’ het een geantwoord. Omdat ek gedink het dat hulle my verkeerd verstaan, het ek die vraag herhaal. ‘Op die strate,’ het die antwoord weer gekom. ‘Jy kan reënboë sien in die oliekolle in waterplasse in die strate en parkeergebied’  Dan merk die ou professor op:  ’These Trenton children had found God’s promise of new life not up in the sky, not way up high . . . instead, they had found the sign of God’s promise way down low, in the grimy puddles of their city streets’ (Princeton Seminary Bulletin XIV/1 1993).

Jy sien vriende, om die reënboog van God se genade en sy sorg en sy trou en sy glimlag raak te sien, vra dat ons miskien op vreemde plekke daarvoor moet gaan kyk.  Ja, daar is sulke goeie tye in ons lewens waar ons rustig die reënboog kan bewonder en God se goedheid raaksien.  Maar somtyds vra geloof daarna om reënboë te ontdek in die oliekolle in die waterplasse van die strate waar ons daagliks loop.  En daarom vriende, selfs al gaan ons dalk hierdie jaar somtyds sukkel om ons koppe op te tel en op te kyk, kan ons weet, selfs in elke olierige waterpoel, of miskien meer bekend, olierige slaggat, is daar ’n reënboog van hoop!  Die son sal altyd vir die Here se kinders weer deurbreek, want geen storm duur meer vir ewig nie! In elke storm is daar ’n reënboog as die son daarop skyn!

Koos Dup sing:

As jy geluk en vrede wil vind,
soek die neonboog se punt, 

Mag jy in die jaar wat voorlê ook die voorreg hê om in die geloof die reënboog van God se genade dag vir dag te ontdek.  Ja, somtyds bo in die lug, ander kere onder in die olierige waterpoele.

Amen