Markus 1: Die nuwe lewe

Voordat daar slegs kinders oor was om te doop in die Christelike gemeenskap het die doop anders gewerk as wat ons dit vandag in die NGK ken.

 

Die doop was bedien aan volwassenes. Daar is ‘n kruis op die voorkop van elke kandidaat gemaak, en sout was bedien. Hierdie het gewoonlik op Aswoensdag plaasgevind en in die daaropvolgende 40dae. In hierdie 40dae was die kandidaat onderrig in die lewe van Christus en die kerk. Die priester het dan sy vinger natgemaak en die lippe van die kategeet aangeraak. Wanneer dit gebeur het, het die kategeet al sy klere uitgetrek en was die rug en bors met olie gesalf. Satan is dan afgesweer en ‘n eed is afgelê om Christus te volg. Die geloofsbelydenis (wat ons vandag nog saam opsê) is dan deur die kategeet opgesê. Na dit is water geseën en die kategeet is daarmee besprinkel en was dan nuut gebore. Met die hulp van hul ouers is die kategete dan in wit geklee. Weer is ‘n kruis deur die priester op hul voorkoppe gemaak en daarna mag hulle deelgeneem het aan die nagmaal.

 

Na die gebruik van die nagmaal was elkeen ‘n drankie gegee wat bestaan het uit heuning, water en melk. Hierdie drankie was ook in daardie tyd gegee aan pasgebore babas.

 

Veel korter vertel Markus van die doop en versoeking van Jesus. In die tyd toe Johannes besig was om te doop by die Jordaan kom Jesus daar aan uit Nasaret in Galilea en ondergaan die doop saam met die sondaars.

 

Waarom Hy, die sondelose, die doop van bekering en van vergifnis van sondes ondergaan het, verklaar Hy ten dele self deur te sê dat dit moes geskied om alle geregtigheid te vervul. Daarmee word bedoel dat dit God se wil was met Hom en daaraan moes Hy gehoorsaam wees.

 

Ook betuig Hy met die daad dat Hy bewus is van sy Messiasroeping. Hy het gekom om vir die sondes van die volk in te staan en het vir die doel een geword met hulle. Daarom ondergaan Hy die doop as teken dat Hy die oordeel en die dood wat die volk toekom, op Hom neem. Verder is sy daad ook ‘n erkenning van die profetiese roeping van Johannes die Doper.

 

Merkwaardig en vinnig speel die volgende gebeurtenisse by die doop af. Toe Jesus uit die water opstyg, het Hy die hemele sien oopgaan. In die gestalte van ‘n duif, die simbool van reinheid, onskuld en vrede, het die Heilige Gees op Hom neergedaal. Voorheen het die Gees wel in Hom gewoon, maar nou daal dit sigbaar neer om in Hom te bly as toerusting vir sy besondere amp en die bemiddelaar te wees van onbreekbare band met die Vader.

 

Die stem uit die hemel spreek Jesus direk aan. Die Vader noem Hom sy geliefde Seun en betuig sy welbehae in Hom. Dit was sy eerste openbare daad op die weg wat sou lei tot sy lyding en sterwe tot versoening van ons sonde.

 

Voortaan behoort Hy nie meer aan Homself nie. Hy staan onder die leiding van die Heilige Gees. Die Gees dryf Hom dadelik uit na die woeste, verlate streke waar Hy in die eensaamheid deur Satan versoek sou word. Vir 40 dae, net soos Moses en Elia, bly Hy sonder kos om in daardie tydperk met Satan die stryd te voer. Satan het Hom aangeval om die oprigting van die koninkryk van God te probeer verhinder, maar kon die Seun van God nie oorwin nie.

 

Jesus is wel versoek, maar bly die sondelose. As bewys daarvan verkeer Hy met die diere soos Adam in die paradys voor die sondeval. Aan die einde van die tydperk van stryd verskyn die engele om Hom met voedsel te bedien en sodoende eer van die Vader aan Hom te betuig.

 

Wanneer enige iemand ‘n oorgangsfase in hul lewe betree is daar gewoonlik drie fases wat die een na die ander afspeel:

  • afsondering
  • transformasie
  • integrasie

 

Hierdie drie fases is sigbaar wanneer belangrike tydperke in ons lewens van nader bekyk word. Dink maar aan ‘n oriënteringsweek op Hoërskool.

 

Die graad 8’s word afgesonder van die res van die skool deur verskeie tegnieke. Hulle moet anders aantrek, anderse dinge doen, fisies op ‘n ander plek wees. Hulle word afgesonder van die groter geheel om gereed te maak om die fase van transformasie binne te gaan.

 

Wanneer die fase van transformasie binne gegaan word vanuit die afsonderingsfase is dit makliker om dit wat anders is te identifiseer, dit ‘n naam te gee, en te besluit of dit deel van die lewe van Hoërskool gaan raak. In die aanloop na transformasie vanuit afsondering sien die graad 8 dat verhoudings anders werk in die Hoërskool as in die Laerskool. Ouderdomme meng, geslagte meng, en sien ook raak dat party ouens en meisies buite skooltyd alleen saam ‘n cappuccino geniet. Hierdie is alles deel van die transformasie fase.

 

Die fase van transformasie is seker een van die belangrikste fases in ons elkeen se lewens, want transformasie werk op ‘n vreemde manier. Laurie Ann Paul (professor in filosofie aan die universiteit van North Carolina) praat van die vampire-effect wanneer sy van transformasie praat.

 

Sy verduidelik dat wanneer ‘n mens werklike totale transformasie ondergaan kan daar nie terug gekeer word na die vorige lewe nie. Sy verduidelik dit aan die hand van ‘n vampier.

 

Terwyl jy wonder oor hoe dit is om ‘n vampier te wees kan jy baie boeke oor vampiere lees en flieks daaroor kyk, maar jy sal nooit ten volle weet hoe dit is om ‘n vampier te wees nie. Jy kan nie die ervaring van ‘n vampier hê sonder om jou menslikheid op te gee nie. En sodra jy jou menslikheid opgee om die ervaring van ‘n vampier te hê is dit ook onmoontlik om terug te keer na die menslike vorm omdat jy nou ‘n vampier is. Amper soos die wurm wat ‘n vlinder word, kan die vlinder nie terug verander na ‘n wurm nie.

 

Die doop werk dieselfde. Die doop is ‘n heilige oomblik in elkeen se lewe wat veronderstel is om elke persoon totaal te transformeer. Die doop behoort ons elkeen ‘n anderse uitkyk op die lewe te gee, ‘n nuwe bril.

 

Ons ervaring van water berei ons voor vir ons woestyn wat wag.

 

Jesus is direk na sy doop deur die Gees weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank sonder kos deur die Satan versoek en verlei is.

 

Hy is gevra om klippe in brood te verander. Maar, “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

 

Hy is gevra om van die hoogste punt van die tempel af te spring. Maar, “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

 

Hy is gevra om die Satan te aanbid. Maar, “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

 

Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

 

Die woestyn is ‘n plek van voorbereiding, van beproewing, van afsondering, van stilte, van uitdaging, van transformasie, van ontdekking en van ontmoeting.

 

Jesus se woestyn tydperk het Hom voorberei vir sy bediening van die evangelie wat gewag het. Sy woestyn tydperk het Hom gereed gemaak om anders as die wêreld op te tree.

 

Paulus sê vir ons dat die grootste vreugde te vinde is in die lyding soos Christus. “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (Romeine 5:3-6)

 

Het ons dalk iets van hierdie vreugde vergeet? Probeer ons alle lyding ten alle koste te vermy sodat ons lewens so gemaklik moontlik kan voortgaan sonder enige beproewing of uitdaging? Hoe eg is ons geloof werklik? Die egtheid van jou geloof kom gewoonlik uit in tye van swaarkry, wanneer jy nie meer opsies het nie, wanneer jy vasgeloop is, dan kom die egtheid van jou geloof uit.

 

Drie maal het Christus die satan weerstaan. Sou jy die klippe in brode wou verander? Sou jy van die tempel af wou vlieg? Sou jy al die koninkryke wat jy kon sien wou hê?

 

Die Heilige Gees is saam met Christus die woestyn in, en só is Hy ook saam met jou vandag. As pasgebore baba (nuutgebore deur die doop) word Jesus die woestyn in gelei deur die Gees. Sal jy jou kind vandag alleen sonder gids in die woestyn in stuur? Sal jy sonder gids in die woestyn bly vir 40dae sonder kos?

 

Die Heilige Gees is lank terug uitgestort om ons elkeen te onderhou en te begelei in ons woestyn. Die woestyn wat ons sterk maak, die woestyn wat volharding kweek, die woestyn wat egtheid van geloof kweek. Ons is nie alleen in ons woestyn nie, ons het die Heilige Gees as gids wat ons onderhou en begelei deur alle beproewing sodat ons kan transformeer na ‘n nuwe mens.

 

Die Heilige Gees is met ons in hierdie lydingstyd sodat ons, ons vreugde in Jesus se lyding kan vind. Hoe Hy gely het vir ons. Laat ons dan in hierdie tyd van beproewing vir ons elkeen, hierdie droë tyd, hierdie tyd sonder water, onthou van ons water, lank lank gelede. Laat ons elkeen onthou van ons doop waar ons as nuwe mense uit die water saam met Christus opgestaan het as oorwinnaars. As oorwinnaars oor die droogte.

 

Laat ons hierdie transformerende, hierdie veranderingsoomblik, hierdie woestyn tyd,  deelmaak van ons lewe. Sodat ons sterker, met volharding, in die geloof kan vorentoe kyk en kan weet dat ons vreugde ook in lyding te vinde is.

 

Die vraag is egter of jy die les in jou lyding wil raaksien…

 

Amen.

Hebreërs 3: ‘n Rustige hart oor die toekoms

Dit is ‘n nuwe jaar met nuwe dinge, ons is besig om ons Nuwejaarsvoorneme in die geheim te formuleer en saam te stel soos wat ons na die jaar se uitdagings kyk. Die meeste van ons gaan more amptelik terug werk toe, tog het die gedagte van werk al heelwat vroeër in ons agterkoppe kom lê. Dit en dat moet nog beplan word, dalk moet daar nog penne en potlode vir die nuwe skooljaar gekoop word. Boeke moet oorgetrek word. Skoene moet gepolitoer word. Hemde moet gestryk word. Gaan ons hierdie jaar probeer om te bid voor ons eet? Gaan ons dit dalk waag om te kyk of ons almal bymekaar kan kry vir huisgodsdiens om die etenstafel na aandete eerder as om so gou as moontlik te eet om die nuutste series te gaan kyk?

 

Dit is ‘n nuwe maar met nuwe dinge wat maar dieselfde is, die vraag is of ons dit dieselfde gaan hou en of ons iets daaromtrent gaan doen?

 

Die skrywer van die Hebreërs brief se doel is om gelowiges wat besig is om in die geloofstryd uit te sak, op te roep om in die geloof te volhard. Hy skryf aan tweede geslag Christene wat geestelike onvolwassenheid en verflouing in hulle geloof openbaar.

 

Met die jaar wat soos ‘n berg voor ons lê kan ons maklik vind dat die taak te groot is om die nuwe jaar anders as voorheen in te gaan. Dat die taak te groot gaan wees om nuwe gewoontes te kweek. Dat die taak te groot gaan wees buite myself ook nog na ander se welstand te kyk. Dat hierdie jaar eerder MY jaar moet wees as ONS jaar. Hierdie jaar kyk ek na myself.

 

Vandag skryf hierdie Hebreërs skrywer ook vir jou! Luister daarom na wat die Heilige Gees vir jou te sê het: Lees Hebreërs 3:7-19.

 

Vandag is hierdie gedeelte vir elkeen van ons net so gepas soos dit vir die Israeliete op trek was, soos vir die Jode in die Psalms, soos vir die vroeë Christene in die Hebreërs brief, so is dit gepas vir ons vandag. Ons moet daarom let op die geskiedenis, die verlede, sodat ons nie die foute van die wat voor ons was herhaal nie.

 

Daar is vandag ‘n oproep om na die stem van God te luister, oombliklik, en met oorgawe te luister.

Ons moet nie, soos ons voorvaders, hardkoppig wees nie. Daar lê ‘n stukkie hardkoppigheid in die meeste van ons, ons geskiedenis is vol daarvan. Wanneer ons nie met iemand saamstem nie, in plaas van verskil in vrede, plaas ons onsself teenoor die ander. Nie ryk en arm nie, maar eerder ryk of arm. Nie swart en wit nie, maar eerder swart of wit. Nie NGK en Shofar nie, maar eerder NGK of Shofar. Ons plaas onsself konstant teenoor mekaar oor klein verskille, vriendekringe breek op oor klein verskille.

 

Is jou finansiële status meer belangrik as die waardigheid en respek waarmee jy ander hanteer? Is dit reg dat jou velkleur die bepalende faktor raak in jou oordeel of jy aan ‘n toekoms in Suid Afrika gaan bou? Is daar slegs een manier om God te aanbid?

 

Of kan ons eerder met sagter harte mekaar ondersteun in finansiële moeilike tye, kan ons eerder met sagter harte, wat almal rooi bloed pomp, saam geweld beveg en bou aan die reënboog nasie, kan ons besef dat geloof in Christus die punt van samekoms is.

 

As Afrikaners is ons, is ek, ongelukkig baie hardkoppig. Ek kyk vas in werksgeleenthede wat weggeneem word, ek kyk vas in taalbeleide by Universiteite, ek kyk vas in erfenisterreine wat verwaarloos word. En dit maak my net meer hardkoppig om my eie te beskerm, om uit te sluit, om laer te trek en in my eie bubble te lewe. Maar is dit regtig ‘n lewe?

 

Wat my opval is dat hardkoppigheid in ons kop sit, en sodra ons afbeweeg na ons harte raak ons sagter. Wanneer ons afbeweeg en met sagte harte na ons wêreld kyk raak dit eers hartverskeurend, deels omdat dit so moeilik is om die werklikheid in die sig te staar en deels omdat daar so baie krake in ons potte is. En die krake is daar om die Lig deur te laat. Wanneer ons met sagte harte na die wêreld om ons kyk begin ons om eerlik met onsself en die om ons te wees.

 

Met ‘n sagte hart kom nederigheid, nederigheid om saam te werk. Nederigheid om nie te staan op ‘n taal nie, maar saam te streef na nuwe kennis, nuwe maniere van doen vir oplossings tot ou probleme. ‘n Sagte hart omarm, sluit in, doen saam, en vind dit moeilik om uit te sluit. Met ‘n sagte hart kan jy, ek, ons, net wees, sonder om te dink, sonder om te veg of te vrees. Met ‘n sagte hart kan ons rus, kan ons saam die ewige rus ingaan.

Die Farao was hardkoppig en het daarvoor sy eersgebore seun verloor, asook al sy manskappe toe die Rooisee om hulle toemaak en hulle in die water vergaan. Hierdie gedeelte in Hebreërs 3 haal Psalm 95 aan wat weer op sy beurt verwys na Eksodus 17 waar die volk in opstand teenoor Moses gekom het.

 

Die volk was op trek deur die woestyn en raak toe onrustig, of eerder ongelowig, sonder vertroue dat die Here aan hulle sal voorsien. Hulle het vergeet van die Rooisee, hulle het vergeet van die Manna en Kwartels, hulle het vergeet van die Wolkkolom in die dag en die Vuurkolom in die nag. En in hulle vergeetagtigheid raak hulle onrustig en later ongelowig oor die krag van God en dat Hy aan hulle water sal voorsien. Moses slaan toe teen die rots met sy staf by Massa en Meriba en daar stroom water uit.

 

Omdat die volk teen die Here in opstand gekom het by Massa en Meriba en Moses die rots moes slaan laat die Here hulle nou vir 40 jaar deur die woestyn trek sodat daardie hele generasie in die woestyn kan sterf sodat hulle nie die beloofde land sal sien nie. Van min of meer 2miljoen mense (600 000 mans) sien slegs 2 die beloofde land as gevolg van hul geloof, Josua en Kaleb. ‘n Reis van min of meer drie weke (400km) raak ‘n reis van 40 jaar as gevolg van opstand teen die Here in ongeloof.

 

Die Israeliete was vir 40 jaar letterlik op ‘n dwaalspoor, omdat hulle innerlik van die Here afgedwaal het. Hulle het hulle innerlike kompas verloor. Hardkoppigheid kan ons maklik op ‘n dwaalspoor plaas, waar ons dink ons weet beter as die Here.

 

Vers 13 herhaal die “vandag” woordjie vir ‘n tweede keer en wys vir ons hoe ons onsself teen hardkoppigheid kan beskerm. Vandag, omdat ‘n Nuwejaarsvoorneme nie more of as die skole begin, begin moet word nie, maar vandag.

 

Solank daar nog ‘n vandag is moet ons mekaar aanspoor sodat niemand van ons in die misleiding van die sonde verhard nie.

 

 

Dit is tyd dat ons mekaar aanspoor. Dat ons nie toekyk hoe mense om ons verkeerde besluite maak nie, maar hulle reghelp. Dit is tyd dat ons saamstaan en verby ons verskille kyk en saam dink oor hoe ons dit wat ons het kan gebruik ten bate van almal. Ons moet dit vandag doen want so ‘n geleentheid kan in ‘n oomblik vir ewig verby gaan. Deur gedurige sonde, deur gedurig nie op die Here te vertrou nie, word die mens verhard en gaan boosheid oor in ongeloof. Ons moet mekaar nou aanspreek om hierdie hardkoppigheid te stop.

 

Vers 15 bevestig wat reeds gesê is: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

 

Ons moet volhard in die geloof. Die Israeliete het mooi begin en Moses met vreugde deur die Rooisee gevolg toe die waters oopmaak. Hulle het die Here geprys. Maar toe die water opraak het hulle vergeet van hoe die Here vir hulle in die verlede gesorg het en het hulle teen Hom in opstand gekom.

 

Dit is vandag die jaar 2018, dit is die nuwe jaar.

 

Die realiteit is die water is min. Die son brand warm. En die jaar lê nog voor. Laat hierdie gedeelte VANDAG vir jou bemoediging bring.

 

Hy het die volk deur die woestyn gely en hulle het die land van melk en heuning beleef.

 

Die Here belowe rus vir die met sagte harte. Die Here belowe rus vir die wat glo. En dit beteken ook ‘n rustige hart oor die toekoms.

 

Mag jy 2018 ingaan met ‘n sagte en rustige hart.

 

Amen.

2 Timoteus 3: Die hele Skrif is deur God geïnspireer

Ek is Bob, die bouer van Extreme Makeover! Eintlik moet ek vandag sê: “Ek WAS Bob, die bouer van Extreme Makeover…”

 

Ek het die eerste dag, toe ons met die bouwerk begin het, na die bouplan van die huis gekyk en alles probeer onthou wat ek moes doen. Toe het ek begin bou, en nooit weer na die plan gekyk nie. Ek het my span opgedeel en elkeen van ons het aan ‘n deel van die muur begin bou, net soos Nehemia se span die muur rondom Jerusalem gebou het.

 

Vandag het ek agtergekom dat iets in die bouwerk nie reg lyk nie. Jerusalem se muur het mooi bymekaar gekom en daar was geen gapings toe hulle klaar gebou het nie. Die muur wat ons gebou het, het nie so mooi bymekaar gekom nie. Ek het vergeet wat die afmetings was wat op die plan gestaan het. Ek moes eintlik elke dag weer na die plan gaan kyk het. Ek is seker die baas van die Extreme Makeover-program, Meneer Pennington, gaan my nou enige oomblik bel en vir my sê: “Bob, vat jou gereedskap en loop!”

 

Bob se fout om nie gereeld na die bouplan te kyk nie, laat my dink aan die Jode wat in en om Jerusalem gewoon het. Hulle het lanklaas na God se plan vir hulle lewens gekyk. Hulle het vergeet hoe God wou hê dat hulle moes lewe. God se plan was geskryf in die wette wat die Here reeds baie jare gelede vir Moses in die woestyn gegee het.

 

Op 2 Oktober (op die vyf en twintigste van die maand Elul in 445vC) is die muur uiteindelik voltooi! Dit het Nehemia en sy bouspan net 52 dae geneem om die muur klaar te bou! Nehemia se vyande het besef dat God hulle gehelp het om die muur te voltooi. (Nehemia 6:15-16) Nou was die stad veilig teen die vyande van buite. Nehemia het ook gesorg dat dit beter gaan met die mense binne die stad omdat hulle begin het om vir mekaar om te gee.

 

Nie lank nadat die muur voltooi is en Nehemia die hekke gehang het nie, het die hele volk op ‘n groot oop stuk grond voor die Waterpoort bymekaar gekom. Die mans en vroue en al die kinders wat al oud genoeg was om te verstaan (omtrent so oud soos julle) het daar bymekaar gekom.

 

Die mense het vir Esra gevra om die wetboek waarin die bevele van die Here was, saam te bring. Nog voordat Nehemia uit Babel na Jerusalem gekom het, het koning Artasasta vir Esra, ‘n Joodse priester wat ook in Babel gewoon het, gestuur om te gaan kyk hoe dit met die Jode in Jerusalem gaan.

 

‘n Groot groep Jode, ook priesters en Leviete, tempelsangers en tempelwagte wat nie jare gelede saam met die eerste groep na Jerusalem toe teruggekeer het nie, het saam met Esra na Jerusalem vertrek. Die tempel van die Here was weer gebou, maar nou moes die volk weer geleer word hoe om as God se spesiale volk te lewe. Dit was nie ‘n maklike taak nie. Omdat hulle so lanklaas na die Here se bouplan vir hulle lewens gekyk het, het hulle baie sonde gedoen. Hulle het ‘n extreme makeover nodig gehad!

 

Esra het op ‘n houtverhoog geklim sodat al die mense hom mooi kon sien. Hy het die Here geprys en al die mense het gesê: “Amen! Amen!” Hulle het hulle hande na die hemel uitgestrek en daarna voor die Here gekniel en met hulle gesigte laag teen die grond neergebuig.

 

Toe Esra die wetboek van die Here oopmaak, het al die mense uit respek opgestaan. Hy het van die oggend tot die middag uit die wet van die Here voorgelees sodat hulle kon hoor hoe God wou hê hulle moes lewe. Die Leviete het langs Esra gestaan en vir die mense mooi verduidelik wat die woorde wat Esra gelees het, beteken.

 

Die mense het mooi geluister. Toe het hulle begin huil omdat hulle besef het hoe groot hulle sonde was. Nehemia, Esra en die Leviete het vir die mense gesê: “Julle moenie treur of huil nie. Vandag is ‘n spesiale dag wat aan die Here, julle God, gewys is.”

 

Nehemia het ook vir die mense gesê: “Gaan eet ‘n lekker maaltyd en drink soet drankies. Deel ook van die kos met die mense wat niks voorberei het nie. Hierdie is ‘n dag wat aan ons God gewy is. Moenie teneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee sal julle krag wees” (Nehemia 8:9-10).

 

Dit was asof die mense vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer na God se bouplan vir hulle lewens gekyk het. Hulle het so lanklaas daarna gekyk dat hulle vergeet het hoe God wou hê dat hulle moes lewe. Nou het hulle hulle foute agtergekom en besef dat hulle al die tyd besig was om met sonde-bakstene te bou. Alhoewel die muur rondom Jerusalem regop gestaan het, was hulle lewens vol sonde-rommel.

 

Al was hulle hartseer oor hulle sonde het Nehemia hulle aangemoedig om bly te wees omdat hulle nou weer gehoor het hoe God wou hê hulle moes lewe. Dit sou hulle die krag gee om in die toekoms te doen wat reg is. Ons lees in Nehemia 8:12 “Die mense het toe weggegaan om ‘n feesmaal te eet en te drink en hulle kos met ander te deel. Hulle het goed verstaan wat voorgelees is. Dit het hulle baie bly gemaak.”

 

Die volgende dag het Esra, die ander priesters en die Leviete weer bymekaargekom en verder uit God se wetboek gelees. Terwyl hulle God se plan vir hulle lewens bestudeer het, het hulle besef dat hulle juis in daardie maand, in Oktober, die Loofhuttefees moes vier. God het lank gelede vir Moses verduidelik hoe hulle dit moes doen. Die fees moes hulle herinner aan die tyd toe God vir hulle in die woestyn gesorg het.

 

Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het hulle weer vir hulle huise uit olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en vyeboomtakke gebou. Hulle het vir sewe dae lank in hierdie takhuise gewoon. Hulle was baie bly om weer te doen wat die Here vir hulle gesê het om te doen! Esra het elke dag, vir sewe dae lank, uit die wetboek voorgelees.

 

Ons lees in Nehemia 9 en 10 hoe die volk hulle sondes bely het en belowe het om in die toekoms aan God se Woord gehoorsaam te wees. Hulle het ook belowe om mooi na God se tempel in Jerusalem te kyk.

 

 

 

 

 

Bob het nie gereeld na sy bouplan gekyk nie en toe het hy ‘n fout gemaak. Die Jode daar in Jerusalem het nie gereeld seker gemaak dat hulle nog God se plan vir hulle lewens volg nie en het toegelaat dat hulle lewens vol sonde-rommel raak. Dit kan maklik gebeur dat ek en jy, al is ons deel van God se Extreme Makeover-span, ook vergeet om seker te maak dat ons nog besig is om God se plan vir ons lewens te volg. Ons moet die Here se Extreme Makeover-plan gehoorsaam.

 

Nehemia en die volk het net ‘n gedeelte van die Ou Testament gehad om te lees om uit te vind wat God se plan is. Ons het vandag die hele Bybel waarin God se Extreme Makeover-plan neergeskryf is.

 

Hoe wonderlik is dit dat die Here nie sy Extreme Makeover-plan vir my lewe en vir die wêreld wat Hy so liefhet, geheim gehou het nie! Hy het sy plan neergeskryf sodat ek en jy dit vandag kan lees en presies kan weet hoe God wil hê dat ons moet lewe.

 

2 Timoteus 3:16 sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.” Sal jy jou Bybel gereeld lees sodat jy nie vergeet hoe die Here wil hê dat jy moet lewe en dat Hy jou roep om deel van sy span te wees nie?

 

Hallo Meneer Pennington. Ek is regtig jammer oor die skewe muur. Ek weet dit is my skuld, maar ek sal regtig in die toekoms meer gereeld na die bouplan kyk om seker te maak ek doen dit reg. Ja, Meneer, dankie, Meneer. Sien Meneer môre. Totsiens, Meneer.”

 

Ek is Bob, die bouer van Extreme Makeover!

 

Kom ons bid saam.