Efesiërs 5:6-20

In hierdie tweede brief van Paulus aan die Efesiërs val die klem op die eenheid van die kerk. In die gedeelte wat ons vandag saamgelees het is Paulus besig om aan die Efesiërs te verduidelik wat die nuwe lewe behels met die doel vir ‘n oproep tot bewapening en oorwinning van die bose magte. Dink maar aan Efesiërs 6 se wapenrusting.

Paulus maak ‘n aantal persoonlike vermanings aan die Efesiërs deur hulle te vertel oor twee belangrike dinge:
• Hy vertel hulle oor die beginsels van die nuwe lewe.
• Hy vertel hulle oor die praktyk van die nuwe lewe.

Vandag gaan ons stilstaan by die praktyk van die nuwe lewe. Hoe die nuwe lewe in Christus prakties gelewe kan word en wat die impak daarvan sal wees.

Alles bou stelselmatig op mekaar. Paulus begin in hoofstuk 5 met die riglyne vir die nuwe lewe en gaan dan verder deur te noem dat ons moet lewe as mense van die lig. Nou hoe lewe ons as mense van die lig?

Hy begin deur in vers 6 te sê: Pasop vir enige praatjies wat jou weg van God neem, pasop vir leë woorde wat jou weglei van God se waarheid. Wanneer ons leë woorde met leë beloftes volg is ons nie op die pad van die Here nie, en gaan ons die straf van die Here op hierdie pad ontmoet.

Nou hoe lyk leë woorde, woorde wat met allerlei onwaarhede mislei? Dit is praatjies wat te goed klink om waar te wees. Die belofte van ‘n multimiljoenrand besigheid binne ‘n jaar, verloor 60 kilogram in 6 weke, of sagter gestel, “werk nog ‘n uur langer, jou gesin sal jou nie mis nie”, “nog net een glasie wyn dan kan jy ry”, of die uitklophou “ons kan nie sonder jou aangaan nie”.

Bly op die pad van die waarheid waarsku Paulus ons. Alles wat goed is vat baie tyd, pasop vir kitsoplossings, kitskos en kitsverhoudings. Die wêreld kan aangaan sonder jou, al wil jy nie so dink nie, dit is die waarheid. Pasop vir jouself! Wie vinnig lewe, gaan vinniger dood. Kom in ritme met God se tyd, sy Woord en sy bepalings vir hierdie wêreld is die wyse weg.

Bly weg van die wat dwaalspore loop en loop die reguit pad. Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. Iemand wat dwaal gaan jou by sy of haar afdraaipaadjies intrek en kort voor lank staan jy voor die spieël en wonder hoe het jy hier gekom…

Leef as mense van die lig sê Paulus. Dit is net donker as daar nie lig is nie, daarom moet ons die lig wees sodat daar al minder en minder donkerte sal wees. Die lig simboliseer verligting, bevryding, nuwe lewe en ‘n verhouding met God. Die mooi van dit alles is, is wanneer ons besluit om die nuwe lewe te leef raak ons self lig, ons begin self skyn.
Wanneer ons die vertrek instap vlug die duisternis, want dit kan nie uithou met die lig nie. Die lig is altyd sterker as die donkerte, altyd.

Paulus sê ons moet as mense van die lig gaan leef. Wanneer ons leef as mense van die lig behoort daar uit ons alles wat goed, reg en waar is te kom. Verbeel jou ‘n wêreld waar alles waar is, waar niemand jok om eerste in die ry te staan of om bo op iemand anders te trap om bo uit te kom nie. Verbeel jou ‘n wêreld waar alles waar is, geen valse nuusberigte wat net die een na die ander click najaag om nog ‘n advertensie in jou oë in te forseer.

Lig word gekenmerk deur die vrug wat dit voortbring. Wanneer jy wonder of jy besig is met die regte ding, vra jouself gerus af of dit waarmee jy besig is vir die Here mooi is? Luister na daardie stemmetjie wat so met jou praat! Is jy besig met die regte dinge? Is jou lewe op die regte plek? Sien mense jou as ‘n ligtoring op ‘n rots?

Die lig bring vrug voort, die duisternis bring net onvrugbaarheid. Die duisternis wil wegsteek, toemaak, stilmaak en doodmaak. Moenie saamwerk aan die vrugtelose werke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.

Kom ons praat nie net van die Zondo kommissie nie, maar ook van die stil stil agter die rug van ‘n vriendin praatjies, die wegkyk wanneer daar verkeerd gedoen word, die saampraat om die braaivleisvuur net sodat jy nie te positief is oor die land se toekoms saam met God nie. Wanneer ons stilbly oor die goeie, oor die moontlikhede van die waarheid, dit is dan wanneer die donkerte oor ons toesak. Vir die lig om te skyn moet ons aanhou die skakelaars aansit, die kerse aansteek, en ons woorde gebruik om die lig te laat skyn.

Die werke van die duisternis moet deur die lig van alle kante ontbloot word, sodat dit gesien kan word vir wat dit werklik is. Meestal leuens, sondige dade van ongehoorsame mense wat weier om te lewe volgens die wil van die Here.

“Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood, en Christus sal jou lewe verlig!”

Die nuwe lewe in Jesus Christus is ‘n lewe in die lig.

Steek aan daardie kersie binne jou sodat die donkerte kan vlug.

En kom ons lewe as mense van die lig.

Amen.

2 Timoteus 3:14-17

Van al Paulus se medewerkers het Timoteus die langste en naaste saam met Paulus geleef, en in ‘n ware sin van die woord ‘n navolger van Paulus geword. Timoteus het begin dink en doen soos wat hy gesien het by Paulus.

Aan hierdie “ware” en “geliefde” kind (soos Paulus Timoteus genoem het) kon hy met ‘n geruste hard die voortsetting van sy eie werk toevertrou. Kan jy jou kind vertrou om in jou voetspore te volg? Wil jy hê jou kinders moet in jou voetspore volg? Ja, Nee, Hoekom? Watter voorbeeld stel jy vir jou kinders?

Timoteus het Paulus gevolg in:
• Leer: hy het die inhoud van Paulus se lewe geken en vir ander ook daarvan vertel.
• Lewenswandel: hy het die evangelie prakties uitgeleef en in alles Paulus se voorbeeld as gestuurde van Christus nagevolg.
• Lewensdoel: hy het dieselfde doel voor oë gehad as Paulus.

Soos Paulus, en ook soos Jesus, het Timoteus met geduld en vriendelikheid teenoor sy medemense opgetree, en in al sy handelinge die stem van die “liefde” vir God en die medemense gehoorsaam.

In Antiogië het die Jode vir Paulus en Barnabas gewelddadig uit die stad verdryf (Hand. 13:50). In Ikonium het die Jode ‘n beweging op tou gesit om die apostels te mishandel en te stenig, daarom moes hulle ook dáár vlug (Hand. 14:5-6). En in Listre is Paulus so met klippe gegooi dat die mense hom vir die dood aangesien het en uit die stad gesleep het (Hand. 14:19).

Op elkeen van hierdie plekke het vervolging en bitter lyding oor hom gekom, maar by elke plek het hy ook die beskerming van God en die wonder van sy redding ervaar. Daarom is hy verseker, en kan Timoteus net so verseker wees, dat God sy getroue dienaar nooit in die steek sal laat nie. Daarom kan hulle sonder vrees die wêreld ingaan met hulle Christus-getuienis.

Timoteus moet volhard op sy lewenspad wat Paulus hom geleer het. Hy kan volhard op sy lewenspad om dat daar vir sy lewe twee onwankelbare stutte is: die evangelie wat hy by Paulus geleer het, en die heilige geskrifte, wat hy van kleins af leer ken het.

Hier kom twee baie belangrike dinge vir ons na vore! Timoteus kan die golwe van die lewe weerstaan omdat iemand vir hom geleer het van Jesus en omdat hy die Bybel ken.

Nou wie het vir Timoteus al hierdie dinge geleer? In 2 Timoteus 1:5 lees ons dat sy ma en sy ouma dit vir hom geleer het, saam met Paulus.

Timoteus se ma en ouma het waarskynlik die grootste rol gespeel in sy geloofslewe! Onder die Jode was dit ‘n vaste reël dat kinders vanaf hulle vyf jaar oud is deur hul pa geleer word om die Bybel te lees. Timoteus se pa was ‘n Griek, daarom het sy ma en ouma hom toe geleer van die Bybel.

Sy ma en ouma! Ouers, Oumas en Oupas, wat leer julle julle kinders ne kleinders van die Bybel? Lees julle nog saam Bybelstories of is dit makliker om Ben Ten, Peppa Pig of Paw Patrol aan te sit? Ken julle kinders vir Abraham, vir Daniël, vir Debora, vir Simson, vir Elie, vir Jeremia, vir Job, vir Johannes, vir Jesus, vir Saggeus, vir Lasarus, Nikodemus, vir Paulus, vir Timoteus?

Wil jy graag hê hulle moet weet van die belangrikheid van familiebande, van dapperheid, van stilte, van wysheid, van beproewing, van liefde, van regverdigheid, van innerlike genesing, van ‘n goeie voorbeeld wees? Ek stel dan voor julle begin hulle aan hierdie karakters voorstel en nie net aan Ben, Peppa en Chase nie.

Die Bybel is vol wysheid en insig vir ‘n goeie lewe, naby aan God. Timoteus het daarvan by sy ma en ouma geleer en later by Paulus. Hy het dit nie by die Sinagoge geleer nie, en jammer om te sê maar die minderheid van julle kinders gaan dit hier by die kerk leer. Julle kinders gaan leer van die lewe by julle! By julle waarmee hulle elke dag saam spandeer, nie net dalk een uur per week nie.

Wat is julle gesin se wedstrydplan? Wat is jou wedstrydplan vir jou lewe?

Twee dinge het Timoteus gedra tot waar ons hom vandag ontmoet het, sy mense en sy kennis van die Bybel. Wat dra jou vandag? Wat is die pilare of tentpenne wat jou lewe staande hou?

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die mens wat in diens van God staan (ons almal behoort in diens van God te staan), volkome voorbereid en toegerus sal wees vir elke goeie werk!

Markus 13:31-33

Terwyl Jesus op aarde was, het Hy met ‘n verskeidenheid mense oor geloof gepraat. Jesus het in die alledaagse dinge van die lewe ‘n aanknopingspunt gevind of ‘n waarheid met ‘n alledaagse item (soos sout, visvang of skape) en in vanoggend se geval mosterdsaad en suurdeeg en dit vergelyk met die lewe. Deur ‘n gelykenis te vertel of ‘n metafoor te gebruik het Jesus ruimte geskep dat die wat na Hom geluister het self oor die betekenis van die gelykenis of metafoor kon nadink en so by die gesprek ingetrek word.

Die gelykenis van die mosterdsaadjie en die suurdeeg is ‘n voorbeeld van hoe Jesus twee dinge wat vir die mense baie bekend was, gebruik het om vir hulle iets meer van God se koninkryk te vertel.

Albei hierdie vergelykings was verrassend, want die koninkryk werk anders as wat die mense verwag het. Die mense van Jesus se tyd het gedink die koninkryk van God sal met magsvertoon aanbreek. Die mosterdsaadjie is egter klein en nederig en groei mettertyd. Mense het gedink die koninkryk sal met ‘n groot skouspel aanbreek, maar die suurdeeg se invloed is onsigbaar hoewel kragtig.

Dit is hier ook duidelik dat Jesus ‘n skerp sin vir humor gehad het. Hy spot hier waarskynlik met Esegiël wat die koninkryk van God vergelyk het met ‘n magtige sederhout boom. Daar staan in Esegiël 17:23 “Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal ‘n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak.”

En hier kom vergelyk Jesus die koninkryk van die hemel met ‘n klein bossie-agtige mosterd plantjie. Glad nie wat hulle verwag het nie. Maar die mosterd bossie byt vas, hy word nie uitgeroei nie. Dit is soos onkruid onder plaveisel, eendag is eendag dan kraak die plaveisel en die plantjie steek sy kop uit.

Die Here se manier is stil, klein, stadig en nederig, tog aanhoudend sonder opgee. Die Here gee nie op nie.

As ons na die suurdeeg kyk mag dit dalk party dae lyk asof daar niks aangaan nie, maar stadig maar seker begin die hele spul deeg vol borreltjies te raak wat wys dat daar dinge aan die gang is wat ons nie altyd raaksien nie.

Die koninkryk van God is ‘n realiteit! Die vraag is waarna kyk ons? Soek ons magtige seders of soek ons die klein mosterd bossies wat nie laat los nie? Soek ons kits winkelbrood of gaan ons geduldig wag vir die stadige goed deursuurde regte egte varsgebakte tuisgemaakte brood?

Die skare soek gewoonlik vir tekens van mag en glorie en sien dan nie raak dat dit wat reeds binne-in hulle elkeen is nie, dat die eintlike mag en glorie nie van hierdie wêreld is nie.

Jesus roep ons elkeen om soos die koring te sterf aan onsself, sodat ons fyngemaal kan word, met water gemeng kan word en stadig kan gis sodat ons later heerlike brode kan wees. Maar as ons nie in onsself gaan sterf nie, gaan daar geen brood wees nie.

Oorweeg dit om hierdie week ‘n tydjie opsy te sit om na te dink oor elkeen van hierdie wonderlike beelde. Dink dan daarom om dalk jou eie gelykenis te skryf. Hoe jy dalk die sin sal voltooi: “Die koninkryk van die hemel is soos…”