vrydagaandrooiwyn 02

ek is jou dwelm
ek is jou dopamien
ek is jou denker
ek is jou dag

so hoekom vandag
so hoekom verlaat
so hoekom vertrek
so hoekom verstoot
-jy vir my.

ek was jou dwelm
ek was jou dopamien
ek was jou denker
ek was jou dag

want ‘n dwelm versteur
want ‘n dwelm verstaan
want ‘n dwelm versoen
want ‘n dwelm verwerp nie
-maar jy vir my.

-Francois van Dijk

vrydagaandrooiwyn 01

dis die bruin
dis die rooi
alles in jou is mooi

dis die flikker
dis die vlam
jou kniee word lam

dis die glimlag
dis die geklink
ons drink

dis die proe
dis die praat
dis jou smaak wat my nie verlaat…

-Francois van Dijk
met apologie aan Jan F. E. Celliers (1865-1940)

Oubos

Oubos die mense praat oor jou
Oubos die mense is bang vir jou
Oubos die mense bewonder jou
Oubos, ken die mense vir jou?

Jy is hoogs eksklusief
met plek vir slegs veertig uitgesoekte families
jy huisves die staatspresident bloedlyn

helderblou strande
klowe met hoë rotswande
in strakke teenstelling met jou helikopterlandingstasie

Oubos speelplek van die rykes
vir mense wat mense ken
of dalk net vir doodgewone mense
wat in die see wil swem

– Francois van Dijk