die ewigheid in ‘n oomblik

in ‘n oomblik gee ek in

tot ‘n stil diep stem

wat fluister

vanuit al drie hartkamers

 

ek steek my ogies stadig uit

versigtig soos ‘n slakkie

wat dalk moet retereer

en die seer afweer

 

ek sien jou raak

in jou natuurlike habitat

gemaklik

goudbruingebrand

 

vuur

grond

water

dit alles maak dat ons gesels, al hoe later

 

vandag het ek geproe

vandag het ek gesien

vandag het ek gevoel

vandag het ‘n oomblik in ewigheid uitgestrek.

 

– Francois van Dijk

in die vallei van die akasias

in die vallei van die akasias
is 'n man tussen die oorlogslyne

die uitdager, die teenstander
met brons helm
die skaapwagter, die herder
met gebraaide koring

die teenstander daag die heilige
die herder beskerm sy volk

klein en sonder baard
word hy gespot en na gespoeg
deur arrogante woorde
vanaf die teenstander

in die vallei van die akasias
is 'n man tussen die oorlogsone
'n klippie swaai
'n reus val

- Francois van Dijk.

die sekuriteit van seerkry

kneukels krap begeerte nader

donderdreuning dring deur tot
meer van my?

meer van jou wil ek hê
om saggies hier by my
te kom lê.

jy bloei my hart
leeg laat jy my
agterbly slegs vertrooide hare van
jou in my truie...

- Francois van Dijk