Eksodus 20: Ek is die Here jou God wat jou bevry!

Die wet wat ons sopas gelees het, het Moses bo op die Sinai berg direk van die Here af gekry en vir die Israeliete onder aan die voet van die berg gaan vertel. Die Israeliete het onder by die voet van die berg gesit omdat hulle voortvlugtinge was. Hulle het pas uit Egipte ontsnap.

Nou wat is hierdie wet wat hulle ontvang en hoekom ontvang hulle wette? En hoekom het ons dit steeds vandag?

Die wet wat hulle ontvang is verdeel in twee gedeeltes; die eerste gedeelte fokus op God en die tweede gedeelte op wie ons behoort te wees in verhouding met God.

So ons hoor hier dat die wet die verhouding tussen God en mens versterk. Wat meer is, as ons mooi na die konteks van die wet gaan kyk hier in Eksodus 20 sal ons sien dat die tien gebooie ontstaan binne die groter verhaal van verlossing en bevryding, waar die volk swaar gebuk gegaan het onder die slawerny van Egipte.

Eksodus 20 kom na vore uit noodkrete van ‘n volk wat uit onderdrukking bevry is. Nou ons is lief daarvoor om te se ons is vry om te doen wat ons wil, maar is ons regtig so vry? Wanneer laas het jy jou vryheid gaan meet aan die vryheid wat God ons belowe?

Hoe vry is jy regtig om jou geloof uit te leef? Is jy op skool? Jammer jy moet alle of geen godsdienste akkommoddeer. Werk jy? Jammer dit is onproffesioneel om oor godsdiens in die werksplek te gesels. Braai jy ‘n vleisie? Jammer die een onderwerp wat veral vermy moet word is godsdiens.

Hoe vry is jy regtig om te rus? Op skool reeds word die druk gelaai tot op die maksimum en daar is min kinders wat nie ‘n vol week het wat oorloop van huiswerk nie. By die werk neem daardie druk net verder toe, en as jy dit waag om verlof te neem gluur jou kollegas jou aan asof verlof ‘n die verkeerdste ding is.

Hoe vry is jy om die gesag wat jy het te gebruik om ander te onderrig? Mense toon nie meer respek vir die geslagte wat voor hulle gegaan het nie, nee, hoe ouer jy is hoe meer irrelevant is jy.

Hoe vry is jy om te leef sonder om oor jou skouer te kyk? Daar is eenvoudig nie meer respek vir lewe nie, en as jy ‘n selfoon in jou sak het en jy stap alleen op straat is jy potensiaal deel van die moord statistiek van Suid-Afrika.

Kom ons kyk sommer na gister se koerant…

Die verhaal waarin Eksodus 20 afspeel, is die verhaal van God wat die noodkrete van die volk hoor en hulle van onderdrukking bevry. Hierin is dit belangrik om reg na die tien gebooie te kyk. Die tien gebooie is fundamenteel tot ‘n lewe in gemeenskap met mekaar, die tien gebooie moet nie gesien word as wette vanuit ‘n juridiese oogpunt nie, maar as reels wat die samelewing wil beskerm. Die tien gebooie le die basis vir lewe in gemeenskap met mekaar. Soos wat jou ma jou geleer het om nie jou hand op ‘n warm plaat te sit nie, om jou veilig te hou, so leer die gebooie ons wat om nie te doen nie, om ons in gemeenskap met mekaar veilig te hou.

Hierdie fokus op verhoudings dien as ‘n basiese beginsel vir die interpretasie van die tien gebooie en die toepassing daarvan in die geloofsgemeenskap.

Die tien gebooie word algemeen verdeel in twee dele. Die eerste deel bestaan uit die inleiding en opdragte wat verband hou met ons verhouding met God. Die tweede gedeelte hou verband met ons verhouding tot ons naaste. Die twee dele is onlosmaaklik met mekaar verbind en is baie belangrik vir ‘n lewe in geloof.

Hoewel die tweede gedeelte gerig is op die verhoudings tussen mense, is die oorsprong van hierdie wyses van leef gelee in die karakter van God; God wat red, bevry, en die lewe voorop stel.

As ons mooi na vers 2 kyk “Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipte, die plek van slawerny, bevry het.” kan ons noem dat vers 2 eintlik voor elke gebod gelees kan word. Hierdie bevryding van God is ook nie net ‘n historiese daad wat duisende jaar gelede afgehandel is nie, dit vertoon die karakter van God, God is steeds besig om te bevry.

Daarom kan ons met vrymoedigheid bely dat ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring: dat Hy in ‘n wereld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy geestelike gevangenis bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is, ondersteun, die vreemdeling beskerm en die pad vir die goddelose versper; dat Hy, ons, sy volk, wil leer om goed te doen en reg te soek; dat, ons, as geloofsgemeenskap, daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan.

Die tien gebooie word verstaan vanuit hierdie beginsel uitsprake oor bevryding, wat lewe in gemeenskap moontlik maak. Die doel van die tien gebooie is dus nie om te bind of te straf nie, maar om ruimte te skep en die gemeenskap uit te daag tot die vorming van konstruktiewe verhoudings wat die lewe in vryheid moontlik maak.

Vanuit die bogenoemde is dit sinvol om na elke gebod te kyk vanuit die vryheidsperspektief. Ek is die Here jou God wat jou bevry…

1.) Geen ander gode nie: Die bevrydende moment in hierdie gebod is die eenvoudige enkelvoudigheid daarvan. Ons hoef nie ons lojaliteite te verdeel deur na ons verlossing op ander plekke te soek nie. Ons kan rus vind in die Een God wat die lewe vir ons wil.

2.) Geen beelde of afbeeldings wat gedien of vereer word nie. Hierdie gebod daag ons vandag uit om ook bevry te raak van die beperkende beelde en idees wat ons oor God koester. Ons denke oor God is dikwels die afbeeldings wat ‘n ware verhouding met God verhinder.

3.) Sy naam nie sal misbruik nie. Deur God se naam te gebruik maak ons aanspraak op Sy teenwoordigheid. As ons dus taal gebruik oor God om mense te beperk, mmis ons God se bevrydende karakter.

4.) Hou die Sabbat heilig. Op die dag word ons as gelowiges genooi om in die wete van God se bevrydende handeling te rus en nie normaal, soos elke dag, voort te gaan nie. Hierdie gebod bevry ons verder van die idee da tons volkome verantwoordelik is vir ons redding deur harde werk. God nooi ons elkeen om in Sy bevrydende karakter te rus.

5.) Eer jou vader en jou moeder. Ons word opgeroep om te onthou waar ons vandaan kom, dat ons die volk van God is. Ons kinders moet mekaar hieraan herinner.

6.) Jy sal nie moord pleeg nie. Die lewe van elke mens is kosbaar en heilig. God tree in die geskiedenis in om die lewe moontlik te maak. Nou word ons opgeroep om daardie selfde lewe te beskerm en te bewaar. Hierdie sesde gebod roe pons op om die lewe te bewaar, te beskerm en te streef na die bevestiging van menswaardigheid vir almal.

7.) Jy sal nie owerspel pleeg nie. Die gebod roep gelowiges om mekaar te bevry deur in verhoudinge te leef waar ontsag vir mekaar bestaan.

8.) Moenie steel nie. Die gebod roep gelowiges op om respek te he vir mekaar se eiendom en besittings.

9.) Moenie jok nie. Die gebod bevestig die feit dat die waarheid sal vry maak. Gelowiges word opgeroep om na die waarheid te soek wat vry maak en wat die lewe moontlik maak.

10.) Moenie begeer nie. As ons begeer verloor ons fokus op al die wonders waarmee God ons seen. Hierdie laaste gebod bring ons weer terug by die genadige en bevrydende God wat ons seen met die wonder van genoeg: die fees van genoeg.

As deel van hierdie bevrydende waarheid in die tien gebooie moet onthou word dat;

1.) Die gebooie deur God gegee word ‘n uitdrukking van sy wil vir die mens, en hoe ons as mens behoort te leef.
2.) Die primere fokus van die gebooie is om die lewe van die gemeenskap van gelowiges te vorm.
3.1) Die gebooie is ‘n geskenk aan die gemeente wat die weg en die vreugde van die lewe uitwys.
3.2) Die gebooie is ook ‘n waarskuwing aan die gemeente teen die sonde wat na die dood lei.
4.) Die intensie van die gebooie is om liefde vir God en liefde vir ons naaste te kweek. Hierdie twee kante kan nie afsonderlik beleef word nie.

Daarom mag ons in hierdie Lydenstyd besef dat soos Christus vir ons gely om ons van ons sonde te bevry so ook is die gebooie daar as riglyn oor hoe God wil he ons moet leef om ‘n ware vrye lewe saam en naby aan Hom te geniet.

So as God vir ons elkeen vanoggend kom se: “Ek is die Here jou God wat jou bevry…” Mag ons daardie woorde glo en daardie woorde leef deur die tien gebooie te leef, deur die Goddelike vryheidsmanifes te leef!

Amen.

Hoe om ons skuldlas te verwerk.

Hoe om ons skuldlas te verwerk

As ons van ’n skuldlas praat, moet ons ’n onderskeid tref tussen die staat van skuld en die gevoel van skuld.

Die staat van skuld.

• Sosiale skuld: Numeri 5:6 “wanneer iemand, man of vrou, ’n medemens benadeel…is hy skuldig.”
• Statutêre skuld: Romeine 13:5 sê ons moet ons onderwerp aan die owerhede, “nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ’n gewetensaak is.”
• Morele skuld: 1 Johannes 3:4 sê: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God.”

’n Oortreding skep altyd ’n skuldlas. Dit is die staat van skuld.

Die gevoel van skuld.

In Psalm 38:5 sê Dawid: “Ja, my ongeregtighede het my oorweldig soos ’n las wat vir my te swaar is.” Die oorsaak van baie van ons emosionele probleme is ons gevoelens van skuld. Soms raak dit ons fisies (byvoorbeeld ’n onvermoë om te slaap), ander kere raak dit ons emosioneel.

Vier moontlike toestande van skuld
• Onderdrukte skuld: As ons skuldig is, maar ons voel nie skuldig nie.
• Erkende skuld: As ons skuldig is en ons voel skuldig.
• Valse skuld: As ons nie skuldig is nie, maar ons voel skuldig.
• Geen skuld: As ons nie skuldig is nie en voel ook nie skuldig nie.

Onderdrukte skuld
• Rasionaliseer oortreding deur te sê dat ons almal maar sondaars is.
• Nog ’n manier om ons skuld te onderdruk is om iemand anders te blameer.
• Sommige probeer ons skuldgevoelens te onderdruk deur dit as normaal te regverdig.
• Hoor wat Dawid ervaar het voordat hy sy sonde bely het: “Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte.” – Psalm 32:3-4.
• As ons voortgaan om ons skuldgevoelens te onderdruk, sal ons uiteindelik ons gewete vernietig. In 1 Timoteus 4:2 lees ons van “skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.”

Erkende skuld

• Daar is net een manier om skuld te delg en dit is om die skuld te betaal.
• Sosiale skuld: ’n Opregte verskoning.
• Statutêre skuld: ’n Boete of tronkstraf.
• Morele skuld: Die ewige hel en verdoemenis.
• 1 Petrus 2:24 “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.”
• Jesus het ons morele skuld betaal, ons moet egter self ons sosiale en statutêre skuld betaal.

Wat van ons skuldgevoelens?
Soos ons sien sal betaling die staat van die skuld verwyder. Dit verwyder egter nie die gevoel van skuld nie. Die skuldgevoel sal slegs verdwyn wanneer die vereffening van die skuld aanvaar word.

Valse skuld

Waar kom valse skuld vandaan?
• Wettiese teologie waar die klem val op die dinge wat ons moet en nie moet doen nie.
• Wanneer ons terugkyk op ’n situasie en dan onsself onredelik die skuld gee. “Ek moes…” of “As ek maar net…”

Oorkoming van valse skuld

• Het ek ’n mens-gemaakte “wet” oortree?
o “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.” – Galasiërs 5:1.
• Was die valse skuld as gevolg van emosionele manipulasie?
o “Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle of enige menslike regbank my beoordeel nie… Die Here se oordeel oor my is al wat saak maak.” – 1 Korintiërs 4:3-4.
• Was dit vanweë onvolmaaktheid?
o “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” – Filippense 1:6.

Mag jy weier om jouself te belas met valse skuld. Jy mag spyt wees oor dinge wat in jou lewe gebeur het, maar jy hoef nie gebuk te gaan onder die swaar las van valse skuld nie.

Handhaaf jou verhouding met die Here deur enige sonde wat die Gees onder jou aandag bring, onmiddellik te bely en reg te stel. Geniet dan jou “Geen Skuld”

Ons posisie in Christus.

Ons posisie in Christus

1.) Wat bepaal ons optrede?
• Suksesvolle mense teenoor mense waarmee alles skeefloop
• Selfbeeld bepaal baie
• ’n Gedragsiklus word gekweek
• Ons moet onsself sien soos die Here ons sien

2.) Ons sondige mens is gekruisig.
• Rom 6:6 “…sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.”
• Die probleem is ons glo dit nie en laat die sonde steeds ons gedrag beïnvloed.
• Rom 7:6 “Ons is nou vrygemaak van die wet wat ons gebind het.”
• Ons moet optree asof ons sondige natuur dood is, dan sal ons agterkom dat die sonde se, mag inderdaad gebreek is.

3.) Ons is verseël met die Heilige Gees.
• Ef. 1:13 “Ons is verseël met die Heilige Gees.” Ons is Syne, ons behoort aan die Here.
• Soos ’n verloofring is die seël van die Heilige Gees.
• Ons beminning, ons liefde, moet eerste op God toegespits wees.

4.) Ons is geroepe o heilig te wees.
• Waaraan laat die woord “heilige” of “saint” jou dink?
• Die Bybel se definisie: Rom 1:7 “geroepe heiliges”
• ’n Heilige is iemand wat weer deur die Gees gebore is.
• Dit is iets wat jy reeds is. Jy is reeds ’n heilige.
• Ef. 4:1 “…laat julle lewe in ooreenstemming wees met julle roeping wat julle van God ontvang.”

5.) Heilige optrede.
• As ons geroepe is om heiliges te wees, hoe moet ons optree?
• Gal 6:22-23 “…liefdevol, vreugdevol, vredeliewend, geduldig, vriendelik, goedhartig, getrou, nederig, selfbeheersd…”
• As heiliges het ons dieselfde versoekings en frustrasies as almal anders, maar as heiliges probeer ons om op ’n positiewe manier op die lewe se beproewings en moeilike omstandighede te reageer.