Efesiërs 4: Wat is jou lewensleuse?

Die gedeelte wat ons nou uit Efesiërs 4 gaan lees, is deel van ‘’n groter brief wat as omsendbrief aan verskillende gemeentes in Klein-Asië, vandag Wes-Turkye, gerig is, waaronder Efese een van die gemeentes is. Efesiërs was die belangrikste van hierdie reeks gemeentes. Die sewe kerke waarvan Johannes in Openbaring 1:11 praat was min of meer in hierdie gebied, asook die kerk in Kolossense.

In hierdie brief word gewys op God se bedoeling… om alles wat in die hemel en op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Jesus Christus. In die kerk van Christus is Jode en nie-Jode saamgebring as eenheid, ‘’n liggaam waarvan Christus die hoof is.

[lees Efesiërs 4:1-6]

Hierdie ses verse kan baie kort opgesom word: Die kerk is spiritueel een, daarom, laat dit spiritueel een wees! Hierdie mag dalk deurmekaar klink juis omdat ons mense vandag hierdie eenvoudige feit wil kompliseer. Wanneer daar oor spirituele eenheid gepraat word moet dit egter nie so verstaan word dat elke persoon maar net nog ‘’n ratjie in ‘’n groot masjien raak nie, nee. Wanneer daar oor spirituele eenheid gepraat word, is dit ‘’n baie persoonlike gesprek wat persoonlik met elkeen wil praat, elkeen met sy eie temperament, persoonlikheid en talente.

Spirituele eenheid word word verkondig van die een na die ander gemeente sodat hierdie gemeentes in hulle gemeentes en vir ander gemeentes ‘’n seën kan wees. So kan die kerk opgebou word en ‘’n seën vir die wêreld wees. Soos later in vers 12 staan is dit waar, daar is werk om te doen. Om hierdie doel te verkry moet gelowiges saamwerk, elkeen moet sy unieke bydrae tot die groei van God se koninkryk maak.

In vers een praat Paulus reguit met die Efesiërs en ook vandag reguit met ons: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” Dit is asof Paulus vir hierdie mense sê: “As julle gelowiges is en julle wens is om as gelowiges geken te word, leef dan soos gelowiges!”

Sommer dadelik in die eerste vers oor die eenheid van die kerk in Hoofstuk vier is daar baie dinge wat dadelik uitspring. Paulus vra van ons dat ons lewenswandel in ooreenstemming moet wees met dit wat ons van God ontvang het. En nie net sommer nog iets wat ons van God ontvang het nie, maar ons roeping. Nou dit is nie net dominees wat ‘’n roeping van God ontvang nie. Elke liewe een van ons het ‘’n spesifieke taak van die Here ontvang en dit is ons roeping.

Het jy al gedink oor jou roeping? Leef jy werklik God se plan vir jou lewe uit? Leef jy God se roeping vir jou lewe uit? Of lewe jy eerder in ooreenstemming met wat jy dink die beste vir jou is? Hoe ernstig, hoe diep, hoe stil, luister jy na die Here se plan, se opdrag vir jou lewe? Jy is nooit te oud om te begin om te luister na die stem van die Here nie. As jy op 16 begin luister na die stem van die Here, great! Maar, jy kan ook op 56, op 73 begin luister na die stem van die Here. En saam met Paulus vra ek julle vanoggend, laat jou lewe in ooreenstemming wees met wat God vir jou beplan!

Paulus volg dan deur die verskeie deugde aan die Christelike lewe toe te skryf en begin daarmee om beskeie te wees. Nadat soveel seëninge ontvang is dat die grootheid daarvan nie beskryf kan word nie, is dit die regte houding vir ‘’n Christen om in te neem deur beskeie te wees oor dit wat hy/sy het, omdat dit alles van God af is.

Volgende om mekaar in liefde te verdra is nie net gemik om die groepie onmiddellike mense rondom jou nie, maar ons moet almal rondom ons in liefde verdra, nie net die vriendelike mense nie, maar selfs daardie buffel by die werk wat net vir homself koffie maak…

Paulus voeg ook by dat hierdie verdraagsaamheid in liefde moet geskied. Kom ons kyk gou kortliks na hoe ons mekaar in liefde moet verdra…

Ons moet mekaar verdra deur geduldig te wees, deur vriendelik te wees, deur nie grootpraterig te wees nie, deur nie ons eie belange te soek nie, deur nie liggeraak te wees nie, deur boek te hou van die kwaad. Is dit hoe jy die mense om jou verdra, of bly jy net stil terwyl jy allerhande ander dinge dink?

Nadat Paulus ‘’n reeks deugdes gelys het sê hy dan dat die eenheid van die kerk nagestreef moet word deur in vrede met mekaar te leef. Hierdie maak dat in ons uitleef van ons roeping ons nie later mekaar te na kom om te leef nie. Vrede is dit wat ons bymekaarhou. As daar nie vrede is nie wil mense gewoonlik nie bymekaar wees nie.

Dink maar vir jouself, enige verhouding met drama wil mense vermy. Daai moeilike oom word vermy, of ons gaan nie daar rugby kyk nie, want daar baklei hulle altyd. Mense is geneig om na ander mense te soek met wie hulle in vrede kan leef. Daarom sê Paulus lewe jou roeping in vrede uit sodat jy daardeur die koninkryk van die Here vergroot.

Ons as kerk hier op aarde behoort eenheid na te streef omdat dit die presiese voorbeeld is wat die Here aan ons gee in Sy Drie-eenheid. Die eenheid wat daar tussen die Vader, Seun en Gees bestaan dien as voorbeeld vir hoe ons eenheid hier op aarde kan wees.

Die Goddelike eenheid is ‘’n eenheid in dat hulle almal saamwerk om in verhouding met ons mense te staan en so liefde heen en weer te laat vloei tussen mens en God. Die Drie-eenheid is ook elkeen op sy eie. Vader as Skepper, Seun as Verlosser en Gees as begeleier. So word hulle ook uitgebeeld reg deur die Bybel en ook hier in Efesiërs 4.

Hierdie eenheid wat daar bestaan tussen Vader, Seun en Gees moet as die basis dien vir die eenheid wat daar in die kerk behoort te wees. In die drie-eenheid het die Vader, Seun en Gees elkeen hul eie karakter en eie taak, hulle verskil en ook is hulle een. So kan ons as kerk, wat elkeen verskillend is saamwerk tot ‘’n gemeenskaplike doel. Elkeen met sy eie gawe, soos Paulus in vers 7 noem, moet saamwerk tot die eenheid in die gemeente deur sy/haar gawe te gebruik om eenheid na te streef.

Daar staan nie dat ons ons gawes behoort te gebruik om almal dieselfde as ons te kry nie, of om net mense wat reeds dieselfde as ons dink by ons eenheid in te sluit nie. Daar staan juis dat ons moet gebruik wat aan ons gegee is om so ander te bereik met die evangelie en aan hulle te vertel dat hulle ook kan gebruik wat aan hulle gegee is vir die koninkryk van God.

In 1999 het die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie die publiek gevra om ‘’n nuwe wapen vir die land te ontwerp. Na ‘’n lang proses is die ontwerp van Iaan Bekker gekies en is sy ontwerp ook die wapen wat op elke offisiële dokument van die land verskyn. Hierdie nuwe wapen is op Vryheidsdag, 27 April, 2000, onthul.

Hoekom ek vanoggend ons aandag op ons landswapen fokus is dat die onderste gedeelte veral belangrik is en ek wonder of ons al werklik besef het wat daar staan?

!KE E: /XARRA //KE

Vir party lyk dit soos rekenaartaal vloekwoorde, vir ander dalk ‘’n tikfout, die meeste Suid-Afrikaners sukkel om dit uit te spreek en ons leuse is in eenvoudige taal net vreemd.

Ons leuse is geskryf in die Khoisan taal van die /Xam mense, wat letterlik “diverse mense verenig”. Hierdie leuse spreek die feit aan dat elke individuele daad behoort by te dra tot eenheid in gedagte en daad. Op ‘’n kollektiewe vlak vra dit ‘’n nasie om saam te staan in ‘’n gemeenskaplike nasionale trots – ons eenheid in ons diversiteit.

As ek vir Paulus reg verstaan het hy die Efesiërs ‘’n hele paar jaar terug gevra om juis hierdie leuse uit te leef. Om in hulle diversiteit as eenheid te staan. Elkeen met sy roeping, soos die Here gawes aan elkeen gegee het behoort daardie roeping in oorstemming met lewenswandel uit te leef sodat daar eenheid tussen almal sal bestaan wat die Gees sal smee.

Ons sê ons is Christene, nou laat ons dit vir ander begin wys. Laat ons lewens in ooreenstemming wees met dit wat ons van God ontvang. Laat ons ons Godgegewe lewens gebruik om eenheid in die gemeenskap te bevorder. Laat ons in vrede saam met mekaar lewe.

Diversiteit kan maklik konflik veroorsaak, daarom skryf Paulus aan ons elkeen vanoggend: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde.” Dit is nie nodig dat ek weer 1 Kor. 13 aanhaal nie, ons almal ken die gedeelte wat al by baie troues beskryf het wat presies die liefde is. In ons diversiteit, in ons andersheid, moet ons saam met mekaar in liefde leef. As ons op enige ander manier leef, sal daar nie vrede wees nie. Daar sal nie vrede in hierdie land wees totdat ons as nasie begin saamstaan nie.

Die /Xam mense se leuse het ons land se leuse geraak “diverse mense verenig”, saam met Paulus wil ek vanoggend bylas, “in liefde”.

Wat is jou lewensleuse?

Is dit “Ek sal my ding doen. Doen jy jou ding.”?

Of is jou lewensleuse “Diverse mense verenig, in liefde, sodat, ons God se fontein van liefde kan wees”?

Amen.

Markus 2: Gaan soek jou vriende

Hierdie teks van Markus 2:1-12 is deel van ‘’n reeks genesings verhale wat voorkom in Markus. Die besetene word in Kapernaum genees van ‘’n onrein gees. Petrus se skoonmoeder word van haar koors genees. Die genesing van ‘’n melaatse man en ook die man met ‘’n gebreklike hand vorm deel van hierdie reeks genesings waarin Jesus die verlamde man genees.

Nadat Jesus ‘’n paar dae in die omgewing rondgegaan het, kom hulle so onopmerklik as moontlik terug na Kapernaum, maar dit duur nie lank nie en ‘’n groot skare vergader rondom die huis van Petrus.

Verbeel jou jy is deel van die skare wat uitvind dat Jesus in jou dorpie is, verbeel jou jy vind vandag uit dat Jesus by Pieter Grobler van Tulip laan 5 bly… Hoe gaan jy optree? Wat gaan jy maak? Gaan jy saam met ander mense buite Pieter se huis saamdrom om te sien hoe Jesus lyk, om te sien hoe hierdie wonderwerker lyk?

Terwyl Jesus besig was om die Woord te verkondig sien die skare toe ‘’n klompie mense aankom; hulle dra iemand, ‘’n verlamde man; daar is vier draers. Soos die mense nader kom word hulle meer en meer opgemerk. Aangesien die mense die ingang tot Petrus se huis toestaan besluit die vier manne om met die buitetrap op na die plat dak te gaan. Hulle is vasbeslote om die man op die draagbaar by Jesus uit te kry. Hulle breek Petrus se huis se dak stukkend, die stof en klei val orals in die huis, maar hulle moet die man by Jesus uitkry. Jesus steur Hom egter nie veel aan al die bourommel wat van bo, op hom en sy dissipels neer reën nie. Hulle wat waag om op die Here te vertrou word nie beskaam nie.

Jesus gaan voort om vir die man op die draagbaar te sê dat sy sondes vergewe is. Hier word nie eksplisiet gesê dat sonde gelyk aan siekte is nie, maar wat hier wel impliseer word, is dat indien jou siel rus vind in die vergifnis van jou sonde, sal jou gesondheidstoestand jou nie kwel nie. Hierdie uitspraak is skokkend vir die vrome Jode, omdat slegs God alleen die mag het om sondes te vergewe, daarby is geen versoeningsoffer deur die draers of die verlamde gemaak nie. Die optrede wek ontevredenheid by die skrifgeleerdes.

Nie almal hou van Jesus nie, vir party is Jesus te radikaal. Jesus vra van sy volgelinge om hulle kruise op te neem. Die koste van dissipelskap moet bereken word. Is ons volgelinge van Jesus? Followers? Of is ons net toeskouers? Fans?

Die skrifgeleerdes het moontlik vir Jesus as radikaal beleef omdat Hy nie ingepas het in hulle denke oor hoe daar opgetree behoort te word nie. Nie net vergewe Hyself iemand nie, maar vra Hy ook nie ‘’n offer inruil vir vergifnis nie. Die skrifgeleerdes was deel van die skare mense wat rondom Petrus se huis gesit en staan het en Jesus se elke beweging dopgehou het.

Wat is die verskil tussen om ‘’n toeskouer van Jesus en om ‘’n volgeling van Jesus te wees? As volgeling van Jesus sou jy waarskynlik intieme kennis van Jesus gehad het deur jou lewende verhouding met Hom en sou jy nie die pad na die huis se deur toegestaan het nie, maar eerder die pad oopgemaak het vir almal om Jesus persoonlik te ontmoet. Wanneer laas het jy iemand gelei om Jesus te ontmoet? Het jy al iemand gelei na Jesus toe? Dieselfde Jesus wat vir hierdie verlamde man, teen die gebruik van die dag gesê het: “Jou sonde is vergewe”.

Die prys om ‘’n volgeling van Jesus te wees is baie meer as die van ‘’n toeskouer. ‘’n Toeskouer gooi so elke nou en dan ‘’n geldjie in die sakkie, ‘’n toeskouer luister so elke nou en dan ‘’n Hillsong liedjie, ‘’n toeskouer is selfs elke aand in gesprek met God voor hy gaan slaap. Maar die prys om ‘’n volgeling van Jesus te wees is soveel meer. Om ‘’n volgeling van Jesus te wees vra alles. Om ‘’n volgeling van Jesus te wees vra ‘’n lewe in verhouding met Jesus, vra ‘’n lewe wat verander en ander verander as gevolg van ‘’n verhouding met Jesus. ‘’n Toeskouer staan die vensters en deure na Jesus toe, geniet dit vir homself, maar ‘’n volgeling sal alles in sy mag doen sodat die een wat nie vir Jesus ken nie Hom ontmoet. ‘’n Volgeling van Jesus sal alles doen om die vensters en deure na Jesus vir die vreemdeling oop te maak.

‘’n Derde perspektief in hierdie verhaal is die van die man op die draagbaar self. Daar is dinge wat ons ook terughou en selfs weerhou van Jesus af. Dinge wat maak dat ons nie Jesus kan volg nie. Dit kan sonde in jou eie lewe wees of die gevolge van ander se sonde teenoor jou. Dit kan ook verskillende omstandighede of ervarings wees. Hierdie alles kan ons na Jesus toe bring. Soms het ons nodig om mense te vergewe vir die dinge wat hulle aan ons gedoen het. En soms het ons nodig om ander vir vergifnis te vra vir wat ons aan hulle gedoen het…

‘’n Laaste paar skoene waarin ons onsself kan sit, nadat ons in die skoene van die skare, die skrifgeleerdes en die verlamde was, is die skoene van een van die vier vriende wat die verlamde na Jesus bring.

Vir jou kan vandag gevra word, watter dinge lê by jou voete? Wat of wie sal jy vandag na Jesus toe wou dra? Jy weet van die dinge in jou lewe, in jou gesin, in daardie hoekie wat niemand van weet nie, wat genesing kort…

Dit is vier perspektiewe in een storie.

Waar staan jy vandag? Is jy, ‘’n toeskouer in die skare, ‘’n skrifgeleerde wat Jesus se optrede te vreemd vir die werklikheid vind, ‘’n verlamde wie se sonde maak dat hy nie kan beweeg nie, of is jy die persoon wie sy vriend na Jesus se voete bring?

In vers 10 praat Jesus met die skrifgeleerdes, maar Hy praat ook so dat almal daar kan hoor en sien. Hy sê: “Ek gaan nou vir julle die bewys dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Die man het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap. Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys, so iets het hulle nog nooit gesien nie.

Wat my weer en weer opval van die misterie van God en sy liefde is dat hierdie man op die draagbaar se sonde nie vergewe was omdat hy om vergifnis gevra het nie, of omdat sy geloof so sterk of groot was nie. Nee, die man op die draagbaar kon netsowel die stomme in plaas van die die verlamde man gewees het, want in hierdie storie praat die man op die draagbaar nie een keer nie. Hy praat nie.

Wat nog meer is, is dat sy vriende of die mense wat hom deur die dak laat sak ook nie praat nie, hulle is stil. Hulle vertel nie vir Jesus van al die mooi en goeie dinge wat hulle van Hom en van Sy koninkryk weet nie. Hulle bewys nie hulle geloof deur te spog oor al die goeie dade wat hulle doen nie.  Hulle laat eenvoudig net hulle vriend by Jesus uitkom. Dit is genoeg.

Hulle het waarskynlik gevoel soos ek en jy baie dae voel, deur nie te weet wat om in elke situasie te sê nie. Maar dit het nie gemaak dat hulle nie hulle vriend na Jesus toe vat nie. Dit het nie gemaak dat hulle by die huis bly nie. Nee, al het hulle moontlik nie geweet wat om te sê nie het hulle geloof hulle gedwing, om maak nie saak wat nie, hulle vriend by Jesus uit te bring.

 

Hulle het niks gesê nie, die man op die draagbaar het niks gesê nie. Jesus is die eerste een wat praat in hierdie verhaal. Jesus is die een wat in ons stiltes begin praat. Jesus sal so ook die een wees wat in jou vriende se stiltes begin praat. Stiltes wat net stiller en stiller raak soos hulle lammer en lammer raak. Stiltes wat later deel van jou vriende se lewe raak soos die verlammende las deel van hulle lewe geraak het.

Mag jy dan die moed bymekaarskraap om in geloof die stil pad saam met jou lam vriend te stap en stil-stil jou vriend voor Jesus se voete te kom neerlê. Hy het volmag om alle sondes te vergewe. Julle hoef nie te praat nie. Jesus Christus ons Verlosser sal jou vrymaak van jou sonde. Hy sal jou en jou vriende genees.

Mag jy opstaan, jou draagbaar vat en jou vriende gaan soek en hulle na Jesus se voete toe bring!

Amen.

Johannes 17: Deel van ons?

Hoofstuk 16 van Johannes se brief het vier opskrifte; Julle moet nie van My afvallig word nie, Die werk van die Heilige Gees, Julle droefheid sal in blydskap verander en Ek het die wêreld oorwin. Jesus sê onder andere dat Hy nog baie dinge het om vir sy dissipels te sê en dat hulle ook nie alles sal begryp wat Hy sê nie. Hy sê dan vir hulle in Johannes 16:13 “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.”

Met hierdie uitspraak oor die dinge wat nog gaan kom sê Jesus ook verder dat hulle droefheid in blydskap sal verander, want Hy het reeds die wêreld oorwin.” Met dit raak hulle stil, Jesus kyk op na die hemel, praat met Sy Vader en bid dan ook vir Sy dissipels.

[Lees Johannes 17:20-23]

Wat dadelik hier opval is dat Jesus duidelik sê dat Hy nie net vir Sy dissipels bid nie, maar ook vir hulle wat deur hulle woorde tot geloof in Hom sal kom. Met ander woorde, God almagtig, Jesus Christus, die een wat 2000 jaar gelede aan die kruis gesterf het, het vir my en vir jou, gebid. Laat dit vir ‘’n oomblik insink. Jesus Christus, Verlosser, Oorwinnaar van die dood, het vir ons gebid.

Dit is ‘’n gedagte so groot dat vandag se preek eintlik sommer reeds net hier kan eindig. Jesus het vir my, Francois, gebid. Jesus het vir, Kraggakamma, gebid. Jesus het vir ons gebid.

God se woorde word hulle woorde, hulle woorde behoort ons woorde te wees.

Wat verder hier opval is dat Jesus se woorde die dissipels se woorde geraak het. Jesus het Homself met sy dissipels gedeel en hulle het weer op hul beurt wat hulle by Jesus geleer het met die mense om hulle gedeel om meer en meer mense in die geloof te oortuig van wie Jesus is.

Die Here wat hulle aanbid en agtervolg het se woorde het hulle woorde geraak. Net so moet ons woorde ook die woorde wees van Wie ons aanbid en agtervolg. Dit is eintlik heel logies. As jy heeldag te doen het met finansies gaan jou woorde vol finansiële terme wees. Jy gaan praat van ‘’n wins en ‘’n verlies na mate jou verhoudings met mense groei of kwyn. As sy ‘’n boer is, is water waarskynlik vir jou ‘’n belangrike bron, dan gaan die hoeveelheid water in jou damme bepaal hoe goed dit met jou gaan. As boer is jy die dam halfvol of die dam halfleeg tipe mens.

As gelowige behoort ons geloofstaal ook ons daaglikse lewe te weerspieël. Ons lewe nie maar net nie, ons is deur genade gered uit die dood. Die mooi natuur rondom ons is nie maar net ‘’n speling van ewolusie nie, dit is die hand van God wat alles beeldskoon geskape het, elke dingetjie op sy plek. Ons werke behoort nie net ‘’n beroep te wees nie, die plek waarheen jy gaan om geld te maak sodat jy ‘’n naweek kan geniet nie. Ons werke behoort ‘’n roeping te wees, die daaglikse aktiwiteit wat jy doen om jou Godgegewe talente uit te leef wat die Here jou gegee het sodat jy daardeur ‘’n verskil in die wêreld kan maak.

As ons woorde, wat natuurlik dade ook impliseer, Jesus se woorde en dade word, kan julle #imagine hoe hierdie gemeenskap sal lyk? Kan julle #imagine hoe PE sal verander as ons klein groepie Kraggakammalinge werklik Jesus begin leef!

Die ek in die ons.

Ek sê spesifiek “groepie” Kraggakammalinge want Jesus het nie bedoel dat ons alleen leef nie. Jesus het nie sy lewe op aarde alleen geleef nie, hy het dit konstant in gemeenskap met ander geleef. Daarom in vers 21 bid Jesus dat ons een mag wees. Ons is God se fontein van liefde. Saam moet ons leef.

As elkeen op sy eie lewe, gaan ons vinnig in opposisie teenoor mekaar staan. Ons gaan beter as mekaar wil wees. Die een gaan meer wil bymekaarmaak as die volgende een. En kort voor lank word hierdie een-een-lewe, ‘’n alleen-lewe, waar jy alleen, al een is wat omgee oor jou eie koninkryk.

Jesus bid vir ons dat dit juis nie moet gebeur nie. Dat ons deur alles altyd moet saamstaan. Dat ons belangriker as ek is. Dat ons ‘’n gesamentlike doel sal najaag. Daardie doel weereens om meer mense deel te maak van ons. Om die mense wat alleen lewens lei, deel te maak van ons. Sodat hulle woorde ook die woorde van Jesus kan word. Sodat hulle ook die heerlikheid van God in gemeenskap kan ervaar.

 

 

Geloof lei tot kennis en kennis vermeerder geloof.

Ons Kraggakammalinge se eenheid sal getuig van Jesus Christus se woorde. In vers 21 sal ons eenheid getuig sodat die mense kan glo in Jesus Christus, in vers 23 sal ons eenheid getuig sodat die mense kan weet van Jesus Christus. Ons geloof sal tot kennis van God lei en daardie kennis sal weereens ons geloof vermeerder. As ons as gemeenskap saamstaan en leef vanuit Jesus se woorde en dade sal ons eenheid vir die mense daar buite laat glo dat Jesus in ons lewens aan die werk is. So ‘’n geloof in ons eenheid wat Christus bewerk sal maak dat die ekke van die buurt by ons wil aansluit. Hulle sal dan weet dat ons een is omdat Jesus ons saambind in geloof en daardie kennis sal weer maak dat die ekke meer en meer deel word van ons.

[houtspeelgoed illustrasie]

Jesus se WOORDE moet ONS GELOOFSWOORDE word. Verdeeldheid bedreig ‘’n gemeenskap, maar EENHEID getuig van ‘’n gemeenskap wat gewortel is in die GELOOFSWOORDE van Jesus Christus.

Gaan jy op jou eie aangaan? Of gaan jy meer en meer deel van ONS raak?