hoekom hunker almal na betekenis?

So vanoggend het ek half in ‘n dwaal tot ‘n interessante gedagte gekom. Iewers hierdie week het ek gelees van ‘n student wat opgestaan het in die klas en sy dosent aangevat het en God verdedig het teen die dosent wat God heeltemal probeer diskrediteer het. Nou ons almal weet dat hierdie student Albert Einstein was, maar dit is nie die punt van die storie nie. Hierdie storie het in my gedagtes gemaal en toe ek vanoggend my tandeborsel optel toe slaan dit my tussen my oë.

Al die dinge wat sin gee aan die lewe, dit alles, is dinge wat ons nie wetenskaplik kan verduidelik nie. Gedagtes en emosies kan nie wetenskaplik verduidelik word nie. As ons klinies daarna gaan kyk sal ons sien dat dit bloot ‘n klompie elektrone en neutrone is wat tussen jou breinlobbe beweeg en sekere impulse met mekaar kommunikeer, maar hoe en hoekom daardie gekommunikeerde impulse omgeskakel word na emosie en taal is heeltemal onbekend. Hoekom kan die mens nie ook bloot reageer op instink nie?

Die betekenis wat ek en jy vind in die klein dingetjies wat maak dat ons glimlag of diep geraak word deur iemand anders se seer kan nie wetenskaplik verduidelik word nie. Net soos God nie bewys kan word deur die wetenskap nie, so kan ons manier van betekenisvol kommunikeer ook nie vasgestel word nie.

Hoekom moet daar juis betekenis wees in die lewe? Hoekom hunker almal na betekenis, al is dit nie van iets groters as hulself nie, maar selfs net om betekenis in hul eie klein lewens te sien. Hoekom? Hoekom wil ons klein mensies iets beteken? Wat is die waarde daarin/daarvan?

Hoekom kan ons nie bloot dierlik funksioneer en tevrede wees deur net ons basiese behoeftes te bevredig nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published.