Is jy wat jy tweet?

Ten spyte van die toenemende gebruik van Twitter, is daar min navorsing oor die verband tussen Twitter en persoonlikheid van die gebruiker. Druk verbruikers hulle persoonlikheid op sosiale media uit? Kan daar akkurate persoonlikheidsoordele gevel word op grond van die persoon se Twitter profiel? Twitter as mikroblog kan as ‘n goeie medium dien om die verband tussen mikroblog en persoonlikheid te sien. Deur die mikroblog, in die geval Twitter, te bestudeer sal ons sien hoe persoonlikheid uitgedruk word in geskrewe vorm. Die doel van die studie is dus om die verhouding tussen persoonlikheid en Twitter te peil. 

Ja, die verhouding kan gepeil word, baie abstrak en soms wuspelturig, maar met die behulp van tegnologie wat woorde analiseer is dit tog moontlik. Daar kan veral verskille in geslag, ouderdom, en lokaliteit ontleed word deur te kyk na woorde eie tot die bepaalde groep mense. So ook kan daar deur ‘n analise van positiewe en negatiewe, asook persoonlike en onpersoonlike woorde gesien word of die persoon meer geneig is om ‘n ekstro of introvert te wees.

So daar is tog ‘n merkbare eie karakter van elke persoon se mikroblog te siene op die Twitter webwerf. Maar wat sal nou met daardie inligting gedoen word? Vir bemarkingsdoeleindes is daar vele opsies, maar wat my betref wonder ek oor die geloofsaspek van die bevindinge. Hoe kan hierdie navorsing in verhouding staan met die kerk? Hoe kan die kerk dit gebruik? Moet die kerk al meer kompartemente skep in die samelewing of moet die samelewing juis bymekaar gebring word in die kerk, met al sy verskillende fassette?

Wat Jeugbediening betref is die vraag weer op die tafel oor intergenerasionele bediening… Moet kinderkerk buite die kerk geskied in die saal of moet dit in die hoof erediens geskied? En as dit in die hoof erediens geskied, hoe akkommodeer jy van jonk tot oud in een erediens?

Van wat ek op ‘n onwetenskaplike manier kan aflei deur blote observasie van die sosiale media, van facebook en twitter, is dat hierdie vorme van sosiale media juis besig is om die mure van die samelewing af te breek. Sosiale media skep juis die ruimte dat almal by almal kan leer, veral in die geval van twitter.

As God dit is wat in die Skrif van Hom geopenbaar is, is Hy net dit?

As die kerk is wat sy verkondig, is sy net dit?

As jy is wat jy tweet, is jy net dit?

hoekom hunker almal na betekenis?

So vanoggend het ek half in ‘n dwaal tot ‘n interessante gedagte gekom. Iewers hierdie week het ek gelees van ‘n student wat opgestaan het in die klas en sy dosent aangevat het en God verdedig het teen die dosent wat God heeltemal probeer diskrediteer het. Nou ons almal weet dat hierdie student Albert Einstein was, maar dit is nie die punt van die storie nie. Hierdie storie het in my gedagtes gemaal en toe ek vanoggend my tandeborsel optel toe slaan dit my tussen my oë.

Al die dinge wat sin gee aan die lewe, dit alles, is dinge wat ons nie wetenskaplik kan verduidelik nie. Gedagtes en emosies kan nie wetenskaplik verduidelik word nie. As ons klinies daarna gaan kyk sal ons sien dat dit bloot ‘n klompie elektrone en neutrone is wat tussen jou breinlobbe beweeg en sekere impulse met mekaar kommunikeer, maar hoe en hoekom daardie gekommunikeerde impulse omgeskakel word na emosie en taal is heeltemal onbekend. Hoekom kan die mens nie ook bloot reageer op instink nie?

Die betekenis wat ek en jy vind in die klein dingetjies wat maak dat ons glimlag of diep geraak word deur iemand anders se seer kan nie wetenskaplik verduidelik word nie. Net soos God nie bewys kan word deur die wetenskap nie, so kan ons manier van betekenisvol kommunikeer ook nie vasgestel word nie.

Hoekom moet daar juis betekenis wees in die lewe? Hoekom hunker almal na betekenis, al is dit nie van iets groters as hulself nie, maar selfs net om betekenis in hul eie klein lewens te sien. Hoekom? Hoekom wil ons klein mensies iets beteken? Wat is die waarde daarin/daarvan?

Hoekom kan ons nie bloot dierlik funksioneer en tevrede wees deur net ons basiese behoeftes te bevredig nie?