prioriteitswoordsom

‘n Menigte impulse, objekte, en emosies roer tans hier binne my. Soos ek lees van verskillende realiteite wat gevorm word deur jou persepsie van jou identiteit en invloede in daardie realiteit kom daar so dan en wan ‘n kitsboodskap deur wat maak dat my selfoon se middelste blokkie wit flikker, dit trek my aandag af.

En dwing my om my aandag te vestig op die swart lettertjies wat boodskap dra teen die agtergrond van die wit skerm. Eerstens, wie die sender is bepaal hoeveel aandag aan die boodskap geskenk sal word.

Hoe prioritiseer mens oor mense? En op watter gronde? En is dit reg? Veral as gevoelens betrokke is wat moontlik vulkaniese eienskappe dra.

Dit is deesdae vir my moeiliker om te skryf juis vanwee hierdie prioriteitsprobleem wat my in die oë staar, soos wat ek oggend na oggend in die spieel kyk terwyl ek my stoppelbaard verruil vir ‘n illusie van kompleksiteit. Wie? Waar? Wanneer? Hierdie is alles bepalende faktore in die prioriteitswoordsom.

Begeerte speel ook ‘n belangrike rol in hierdie woordsom. Tyd ook. Dalk grotendeels tyd, omdat tyd prioriteite vereis. As aanvaar word dat oomblikke, herinneringe, geskiedenis, nie bepaal word deur tyd nie, maar juis deur dit wat dit is, oomblikke, herinneringe, los van tyd.

So om te ontsnap vanuit die prioriteitsprobleem is dit nie nodig om ‘n woordsom op te los nie, maar eerder nodig om ‘n nuwe realiteit te skep waar tyd nie ‘n bepalende rol speel nie. Tyd is inherent aan priotiteite. Skakel tyd uit, en daar is geen nood vir prioriteite nie.

Maar nou is ek besig om my eie werklikheid te skep, ‘n droomwereld waar dit moontlik is om besluitloos deur die lewe te kan gaan sonder enige perke, want tyd impliseer perke. Dus vir wie tyd nie ‘n beduidende rol speel nie, gaan voort, gaan groot, en wees bly, want selfs die dood het nie ‘n greep op jou nie. Vir jou is geboorte die begin en dood die einde, maar jou timeline op Facebook is nie liniêr nie, maar in ‘n sirkelgang, ‘n labirint wat sirkel vanuit jou diepe wese.

hoekom hunker almal na betekenis?

So vanoggend het ek half in ‘n dwaal tot ‘n interessante gedagte gekom. Iewers hierdie week het ek gelees van ‘n student wat opgestaan het in die klas en sy dosent aangevat het en God verdedig het teen die dosent wat God heeltemal probeer diskrediteer het. Nou ons almal weet dat hierdie student Albert Einstein was, maar dit is nie die punt van die storie nie. Hierdie storie het in my gedagtes gemaal en toe ek vanoggend my tandeborsel optel toe slaan dit my tussen my oë.

Al die dinge wat sin gee aan die lewe, dit alles, is dinge wat ons nie wetenskaplik kan verduidelik nie. Gedagtes en emosies kan nie wetenskaplik verduidelik word nie. As ons klinies daarna gaan kyk sal ons sien dat dit bloot ‘n klompie elektrone en neutrone is wat tussen jou breinlobbe beweeg en sekere impulse met mekaar kommunikeer, maar hoe en hoekom daardie gekommunikeerde impulse omgeskakel word na emosie en taal is heeltemal onbekend. Hoekom kan die mens nie ook bloot reageer op instink nie?

Die betekenis wat ek en jy vind in die klein dingetjies wat maak dat ons glimlag of diep geraak word deur iemand anders se seer kan nie wetenskaplik verduidelik word nie. Net soos God nie bewys kan word deur die wetenskap nie, so kan ons manier van betekenisvol kommunikeer ook nie vasgestel word nie.

Hoekom moet daar juis betekenis wees in die lewe? Hoekom hunker almal na betekenis, al is dit nie van iets groters as hulself nie, maar selfs net om betekenis in hul eie klein lewens te sien. Hoekom? Hoekom wil ons klein mensies iets beteken? Wat is die waarde daarin/daarvan?

Hoekom kan ons nie bloot dierlik funksioneer en tevrede wees deur net ons basiese behoeftes te bevredig nie?