Johannes 9: Sien jy My? Hoor jy My? Dit is Ek wat met jou praat.

In hierdie verhaal van Johannes 9, die genesing van die blinde man, kan die beelde van lig en donker, sien en nie-sien, nie gemis word nie. In hierdie verhaal stry die Jode oor die identiteit van Jesus. Volgens die Ou Testament is dit slegs God en die Messias wat blindes kan laat sien. Hierdie wonderteken van Jesus is dus ‘n bewys dat Hy die Messias is: self ook God, ‘n konsep wat die Jode moeilik geglo het.

 

Die genesing van die blinde man is die sesde van sewe tekens wat Jesus uitvoer. Die ander tekens is:

  1. Die troue in Kana (2:1-11).
  2. Die genesing van die offisier se seun (4:46-53).
  3. Die genesing van die verlamde (5:2-9).
  4. Die vermeerdering van die brood (6:1-13).
  5. Jesus wat op die see loop (6:16-21).
  6. Die genesing van die blinde man (9:1-41).
  7. Die opwekking van Lasarus uit die dood (11:17-44), hieroor gesels ons volgende week.

 

Ons het hier te doen met ‘n belangrike verhaal in die Boek van Tekens wat aan lesers ‘n duidelike boodskap oor die identiteit van Jesus wil oordra, dat Hy wel die Seun van die mens is.

 

Jesus is aan die stap en “sien” dan ‘n man wat van sy geboorte af “blind” was (9:1). Hierdie volwasse man ken geen ander werklikheid as die wêreld van ‘n blinde persoon nie. In die antieke wêreld het fisieke siekte en gestremdheid groot implikasies gehad. As ‘n babatjie met ‘n gestremdheid se lewe gespaar was, was sy of haar lewe gekenmerk deur sosiale en godsdienstige uitsluiting.

 

Mense sou draaie om hulle geloop het en hierdie persone sou gewoonlik op die rand van die dorp of stad probeer oorleef het, afhanklik van ander se bydraes.

 

Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou?

 

Die fokus val op die blinde man.

 

Die feit dat die blinde man nie ‘n naam het nie is ‘n tegniek wat Johannes gebruik om ons in die storie in te trek. Eerder as wat ons toeskouers van die storie is, kan ons nou ons eie naam vir die man sonder naam gee, en deelnemers in die storie raak.

 

Wat ‘n baie diep vraag na vore roep: “Francois, sien jy raak wat om jou aan die gang is?”

 

Al sou Jesus net ‘n woord van genesing kon uitspreek, gaan Hy hier anders te werk. Hy spoeg op die grond en maak daarmee ‘n bietjie klei aan (9:6). So grillerig soos wat ‘n spoeg-en-kleimengsel vir ons vandag mag wees, was dit nie ongewoon in die antieke wêreld nie. Daar is geglo dat speeksel van belangrike mense kon gesond maak. Dit was wel ‘n gebruik wat soms met magiese kragte geassosieer is en daarom met versigtigheid in die Joodse wêreld gebruik was.

 

Die klei is aan die man se oë gesmeer en hy word deur Jesus “gestuur” na die Siloambad om homself te gaan was. Volgens tradisie was dit ‘n plek van reiniging. Die man het die opdrag uitgevoer en met sy terugkeer was sy sig herstel (9:6-7). Vir die eerste keer in sy lewe was hy nou sosiaal aanvaarbaar tussen sy mense. Hy sou nie langer as uitgeworpene op die rand van die samelewing leef nie. ‘n Nuwe lewe het vir hom aangebreek.

 

Ons moet besef dat die man hier nie net ‘n fisiese verandering ondergaan het nie, maar ook ‘n spirituele verandering ondergaan het. Omdat die begeerte daar was om te verander het sy geloof in dade oorgegaan. Die teenwoordigheid van Jesus was die katalisator, Jesus het sy reeds ingebore geloof aangespoor.

 

Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou? Of wil ons eerder die gaan ontmoet op die randte van ons dorp en winkelsentrums? Wil ons die randfigure help verander, vernuwe, deur hulle bloot te stel aan die teenwoordigheid van Jesus Christus?

 

In Johannes 9:8-9 lees ons die eerste keer dat die man, behalwe vir sy blindheid ook ‘n bedelaar was. Ons kan ons voorstel dat, toe Jesus en die dissipels hom gesien het, hy gesit en bedel het op ‘n besige plek. Ons lees later in die verhaal van die man se ouers. Hy was nie ‘n weeskind nie, maar as gevolg van sy blindheid het hy soos een gelewe.

 

Vir die eerste keer in die verhaal praat die man self en bevestig sy identiteit: “Dit is ek!”.

 

Van hier af word die spanning wat die wonderwerk veroorsaak het, toenemend duidelik.

 

Hierdie groep Jode, getrou aan die wet moet nou ‘n ernstige oortreding hanteer: die ontheiliging van die Sabbat deur “hierdie man”. Genesing van nie-lewensbedreigende siektes moes oorstaan na ‘n ander dag. Daarmee saam het Jesus klei aangemaak – een van die 39 verbode take op die Sabbat, en die man se oë daarmee gesalf.

 

Die man beskryf Jesus as ‘n profeet, maar die Jode reageer glad nie hierop nie (9:17). Hulle fokus eerder op ‘n eenvoudiger saak, naamlik die egtheid van sy destydse blindheid en impliseer dat hy leuens daaroor en oor sy genesing vertel. Sy ouers word as getuies ingeroep. Hulle is bang vir die Jode en distansieer hulle van hulle seun en sy ervaring.

 

Die hele Johannes 9 is eintlik ‘n lang hofsaak waar verskillende getuies geroep en ondervra word. Die eerste wat die man die genesing herroep aan sy bure in vers 11 neem dit hom een vers, die tweede keer aan die Fariseërs in vers 17 slegs ‘n halwe vers en die derde maal aan die Jode in vers 24 weier hy om dit te doen, want dit is duidelik dat die wat hom ondervra nie in die waarheid belangstel nie. Hulle probeer dat hy Moses eerder as Jesus kies, die sekuriteit van die wet bo die vryheid van die Waarheid, hulle gesag eerder as sy ervaring van die Openbaring.

 

Die vet is in die vuur en die grense word duidelik deur die leiers getrek: Hy mag dalk ‘n dissipel van “hierdie man” wees, maar hulle is dissipels van Moses, die ware profeet. Hulle staan vas op hulle oortuigings oor Moses, wie se verhouding met God bekend aan hulle was, maar weet niks van “hierdie man” nie. Hiermee sê hulle eintlik: “Ons is reg en jy is verkeerd. Hierdie man kan nie van God af wees nie. Jy dwaal in die duisternis en ons is in die lig.” (9:29).

Op hierdie punt van die verhaal sou ‘n mens verwag die man sou stilbly, of selfs sy aanspraak dat Jesus ‘n profeet is, ontken. Die Joodse leiers was immers invloedryke en magtige persone wat die lewe vir hom moeilik kon maak.

 

Nes ‘n mens wil vra waar Jesus is, maak Hy weer sy verskyning. Nadat Hy die nuus ontvang het dat die man “weggestuur” is, het Hy hom “gevind” en hom gevra of hy in die Seun van die mens glo (9:35). Die man besef toe nie dat dit die einste Jesus is wat voor hom staan nie. Jesus sê toe vir hom: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”. Die laaste gesprek wat hulle gehad het was immers toe die man nog blind was.

 

Dadelik raak hierdie storie diep persoonlik. Die man ontmoet sy geneesheer.

“Jy sien My, dit is Ek wat met jou praat.”

 

Om wie loop ons draaie? Wie wil ons op die randte van ons dorp of winkelsentrums hou? En hoekom wil ons dit só hou? Wil ons dit só hou?

 

“Sien jy My, hoor jy My, dit is Ek wat met jou praat.”

 

Die Jode in hierdie verhaal is ongemaklik met Jesus omdat Hy nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Inteendeel het hulle eintlik geen verwagtinge nie, want hulle was oortuig dat hulle reeds die volle kennis en insig van God het. Hulle het godsdienstige reels en regulasies wat hulle al in hulle slaap kon opsê, waaronder die oor die Sabbat. Hulle verstaan alles, begryp alles, weet alles. Daarom is hulle ontsteld oor “hierdie man” wat kan genees en homself as profeet verkondig. Hy stir, waar daar nie gestir moet word nie.

 

Die Lewende God kan nie voorgeskryf word nie. Hulle wat dink hulle lewe in die lig, leef dalk in werklikheid in die donkerte. Hulle wat nooit uitgedaag kan word om anders te dink oor wie God is, of hoe Jesus te werk gaan nie, maak van geloof ‘n afgodsdiens. Hulle wat so seker is van hulle saak dat daar geen ruimte vir vrae of twyfel is nie, bou mure wat veilige hawes skep, maar eintlik net tronkmure is wat die ware liefde van hulle af weghou.

 

Die Seun van die mens wil grense deurbreek en nuwe moontlikhede oopmaak sodat elkeen wat Hom aanroep, verwonderd mag staan oor wie Hy is.

 

“Sien jy My, hoor jy My, dit is Ek wat met jou praat.”

 

Amen.

Johannes 14: Wil jy verander?

Op ‘n oorgangstydperk in die kerkjaar, soos vandag, waar ons op die randjie van pinkster staan, is dit belangrik om terug te kyk sodat ons weer met betekenis kan vorentoe kyk.

 

Met Kersfees het ons Jesus se geboorte herdenk, daar waar Hy van die voerbak van die diere, hulle tafel, gebore was om ons van ons sondes te verlos. Vanaf Epifanie (dit beteken verskyning) tot Lydenstyd het ons gesels oor Jesus se doop en Sy aardse bediening.  Vanaf Lydenstyd het ons gesels oor die gebeure rondom Jesus se versoeking in die woestyn, Sy lyding, Sy dood en wat dit vir ons elkeen beteken, en waaraan ons elkeen kan sterf om weer waarlik te lewe.

 

Met Paasfees, die tydperk waarin ons nou is, gesels ons oor Jesus se opstanding uit die dood. ‘n Tydperk van rondom 50dae waar Hy in verheerlikte vorm op aarde tussen mense en aan Sy dissipels verskyn het. Eerskomende Donderdag is dit Hemelvaart, waar ons herdenk dat Hy opgevaar het na die hemel, waar Hy solank ons plek gereed maak. En dan breek Pinkster aan waar ons feesvier oor die uitstorting van die Heilige Gees.

 

Dit was die buitenste kring, nou wil ek daardie kring nog kleiner trek. Ek het gesê dat ons vandag nog in die Paas tydperk is, waar ons gesels van toe Jesus in ‘n verheerlikte vorm aan Sy dissipels verskyn het. Vandag sit ons almal, soos sy dissipels van baie jare gelede, weer saam en luister na wat Hy te sê het.

 

Soos baie stories begin, begin vandag se storie aan tafel.

 

In Joh 13:2 is Jesus saam met Sy dissipels aan tafel, voordat hulle eet was Jesus hulle voete en leer hulle om ook so ander se voete te was. In Joh 13:23-27 wys Jesus sy verraaier aan. In Joh 13:34-35 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy weggaan. Hy bevestig ook weer die liefdesgebod. In Joh 13:38 verseker Jesus vir Petrus dat hy Hom sal verloën.

 

 

 

In Joh 14:1-12 verduidelik Jesus aan sy dissipels dat Hy gaan terugkeer na sy Vader, maar Hy gaan hulle nie soos weeskinders agterlaat nie. In Joh 14:15-31 belowe Hy hulle dat die Heilige Gees by hulle sal wees.

 

Dit alles gebeur aan tafel. Terwyl brood gebreek word en wyn gedeel word lê Jesus die toekoms uit. Donderdag herdenk ons die Hemelvaart en daarna die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster. Kom ons gesels vandag saam oor hierdie wonderlike belofte.

 

[lees Johannes 14:15-31]

 

In Johannes 14:16 belowe Jesus om ons Vader te vra om ‘n Voorspraak te stuur. Dit is die eerste van vyf uitsprake oor die Voorspraak. Voorspraak is ‘n ander naam vir Trooster, Helper of Advokaat. Dit dui op iemand wat in die hof iemand bystaan, bemoedig, troos en vir al sy/haar belange sorg. Die bedoeling is dat Jesus die Voorspraak sou wees, maar noudat Hy op die punt is om weg te gaan belowe Hy ‘n plaasvervanger. Jesus verklaar dat die Voorspraak vir ewig by sy dissipels en by ons sal wees.

 

Nog net ‘n klein rukkie dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Wie My lief het, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan Hom openbaar.

 

Judas vra dan: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

 

Judas hou nog vas aan die Joodse Messiasverwagting waarvolgens die Messias Hom as koning aan die volk, die wêreld, sou openbaar. Nou het Judas die indruk dat Jesus nie so ‘n plan het nie, maar dat Hy Hom aan ‘n kleiner kring wil openbaar. Nou wil Judas weet wat dan van daardie plan geword het.

 

Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.”

 

Hierdie woorde van Jesus kan maklik verkeerd verstaan word. Ons kan dink, die wat Hom nie liefhet nie, het nie deel aan Hom nie. En dit is presies reg. As ons nie vir Jesus lief het nie, het ons nie deel aan Hom nie. As ons Hom nie liefhet nie, sal ons Hom ook nie sien nie. As ons Hom nie lief het nie, sal Hy ook nie in ons woon nie. Dit klink rof, want dit is.

 

Ons dink baie dat die teenoorgestelde van liefde, haat is, maar dit is nie. Die teenoorgestelde van liefde, is vrees. Daarom kan ons selfs so ver gaan om te sê dat die wat vir Jesus bang is nie deel aan Hom sal hê nie, die wat vir Jesus bang is, sal Hom nie sien nie.

 

Vrees, of om bang te wees, ontstaan wanneer beheer uitgeoefen wil word en jy nie in staat is daartoe nie. ‘n Basiese manier om dit te verduidelik sal wees om te sê ek is bang wanneer ek bestuur, want ek kan nie die ander bestuurders beheer nie. Of wanneer ek sê ek is bang vir die donker, want ek kan nie beheer wat ek nie kan sien nie.

 

Liefde is egter om vertroue te plaas in dit wat jy nie kan sien nie, en vir die goeie te hoop. ‘n Radikale anderste manier van dink en voel. Liefde is om te vertrou dat die persoon in die ander baan in haar baan gaan bly. Liefde is om te vertrou dat dit wat ek nie kan sien nie, my nie kwaad wil aandoen nie.

 

Liefde begin wanneer ons elkeen ons eie kwesbaarheid erken. Liefde begin wanneer ons elkeen erken dat ons nie die belangrikste een in die kamer is nie. Liefde begin wanneer ons ander se kwesbaarheid raaksien en dit wil genees. Liefde begin wanneer ons juis die ander in die kamer wil laat belangrik voel. Wanneer ons vanuit kwesbaarheid liefde begin leef, belowe Jesus sal ons Hom sien, sal ons ervaar hoe Hy deur ons werk.

 

Wanneer ons vanuit onvoorwaardelike, onselfsugtige liefde leef, sal ons vrede begin ervaar. Vrede dat ons bestaan nie gaan oor opgaar en groter gaan nie, maar eerder gaan oor deel en ligter leef. Vrede is ‘n wonderlike gevoel om te ervaar. Om vanuit vrede te leef maak die wêreld wonderlik.

 

As jy vanuit vrees leef wil jy alles beheer, jou manier is die beste, en sterkte vir die wat anders as jy dink of doen. As jy vanuit vrees leef, sal dit ook vir jou moeilik wees om die wil van die Here te hoor, te sien, of nog meer te doen. Vrees bou hoë mure en hou uit. Vrees maak dat jy Jesus op ‘n afstand hou, want sê nou net Hy kom verander jou lewe!

 

Sê nou net Jesus kom breek jou mure af, sê nou net Jesus kom jou huis binne, sê nou net Hy kom sit by jou aan tafel, wat gaan jy maak? Jesus se teenwoordigheid in Saggeus se lewe het gemaak dat hy 2/3 van al sy besittings aan die armes gee. Ek kan verstaan hoekom jy bang is vir die teenwoordigheid van die Here! Ek kan verstaan hoekom jy Hom buite wil hou. Sê nou net Hy kom verander jou!

 

Jesus belowe die Heilige Gees aan die dissipels sodat hulle ook kan doen wat Hy gedoen het, sodat hulle ook met die krag en mag kan optree waarmee Hy opgetree het. Dit vra egter ‘n oorgawe aan Hom, dit vra blootstelling, dit vra kwesbaarheid, dit vra saggeaardheid, dit vra liefde. As jy vanuit die oerbron wil leef wat hierdie hele aarde tot stand gebring het, as jy vanuit ‘n diep stroom energie wil put, wil ek vandag vra: “Is jy bereid om lief te hê?”

 

Jesus is besig om van sy dissipels afskeid te neem en belowe aan hulle twee dinge: die Voorspraak wat die Heilige Gees is en sy vrede. Die twee staan nie los van mekaar nie, want waar die Heilige Gees in die hart is, daar is ook vrede.

 

Hierdie vrede is die erflating van Jesus en is daarom anders as die vrede wat die wêreld gee. Hierdie is die innerlike vrede wat vloei uit die regte verhouding met God.

 

Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, gewoonlik ‘n afwesigheid van stryd, oorlog of onenigheid. Daarom is die wêreld se vrede van korte duur en onseker; gewoonlik niks meer as ‘n hoop op vrede nie. Jesus skenk die vrede as ‘n werklikheid wat nie aan omstandighede gekoppel is nie. Juis in die mees ontwrigtende omstandighede bly daardie vrede in die hart omdat die kind van God weet dat sy saak met God reg is.

 

Hierdie Goddelike vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees. Omstandighede sal kom waarin jou geloof en moed tot die uiterste beproef sal word, maar in daardie uur sal die vrede wat Jesus gee, alle vrees verdryf.

 

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het, soos ons nou met die doop gesien het. God kom eerste na ons toe en sê vir ons dat Hy ons baie lief het. Liefde verdryf vrees, wat plek maak vir die vrede van die Heilige Gees.

 

Is jy opsoek na liefde?

Is jy opsoek na vrede?

Dan is die eintlike vraag: “Wil jy dat die Heilige Gees jou lewe verander?”

 

Hierdie het Jesus vir sy dissipels aan tafel vertel, hulle was nou elf in die kamer. Hulle het geweet dat hulle nie hoef te vrees as Jesus nie meer by hulle is nie, want die Heilige Gees, Jesus se gelyke, sal nou by hulle wees. Hulle het geweet dat hulle met dieselfde krag as Hy kan optree, sou hulle vanuit die Gees optree ter verheerliking van God. Hulle het rustig om die tafel gesit, ‘n innerlike vrede het oor hulle gespoel soos hulle in Jesus se blou oë gestaar het terwyl Hy gepraat het. Hy sê toe vir hulle: “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

 

Amen.

 

Johannes 2: Brendon en Helene

Ek wil graag namens Brendon en Helene, baie welkom sê aan elkeen wat vanmiddag hier saam met ons is om hierdie mooi geleentheid te vier!

Brendon, Helene, ja hierdie is julle dag!

Kom ons bid saam.

Kom ons sing nou saam To God be the Glory (verse 1&3), almal kan gerus staan.

Ek lees vir ons voor uit Johannes 2:1-11.

Daar word gereeld na hierdie storie verwys as die eerste wonderteken van Jesus, maar wat in Kana gebeur is meer as ‘’n wonderteken; dit is ‘’n duidelike beeld wat die essensie van Jesus se boodskap aan die mens laat weerklink: om na die wêreld te kyk en hemel op aarde te vind.

Op een vlak is hierdie ‘’n gelykenis oor die huwelik en as sodanig gee dit ‘’n blik oor die diep betekenis van die samestelling van ‘’n gemeenskap. Op ‘’n ander vlak, gebruik dit die huwelik as metafoor vir die skuif in bewussyn oor die essensie van wat Jesus kom doen.

Hierdie troue waarby Jesus was verteenwoordig ons menslike kondisie: ons wyn, ons lewenslus, ons kompleksiteit en gees, is besig om op te raak.

Die verandering van water in wyn simboliseer ‘’n baie dieper verandering in die menslike gees, van onbewuswees na ‘’n bedwelmde visioen. Dit is die sentrale tema van die Evangelies: om ‘’n verandering van visie deur te gaan en lewe in oorvloed en intensiteit te ontdek.

Die Evangelies is vol van tonele waar Jesus besig is om te eet, om te kook, om kos te bedien, om ‘’n maaltyd aanmekaar te sit, om vir Sy dissipels om te gee en om die geselskap van mense om die etenstafel te geniet. ‘’n Essensiële deel van Jesus se onderrig was om die lewe met ‘’n positiwiteit tot plesier en lewenslus aan te pak. Om ‘’n volgeling van Jesus te wees beteken om warmte en gemeenskap na te streef.

Brood, wyn, kuns en argitektuur is nie toevallighede in die lewe nie, maar eerder ekspressief van die kern van ‘’n spirituele lewe.

Daar heers ‘’n merkwaardige diepte in die storie van Jesus se lewe, ‘’n beweging van die wyn van Kana na die wyn van die laaste maaltyd.

As Kana gesien word as Jesus se eerste wonderteken, miskien moet ons daaraan dink as die eerste les van Jesus se spiritualiteit: Om menslik te wees, om die belangrikheid van speel en eenvoudige sensuele plesier raak te sien en om na ons familie te luister. Om dan daarna dieper te gaan. Om dan Kana as ‘’n voorsmaak te sien van die maaltyd waar die wyn as die lewegewende bloed gesien sal word wanneer lewenskuns aan ‘’n sterwende wêreld gebied word.

Jesus het nie net vir Sy dissipels gesê om wyn as ‘’n herinnering van Sy bloed te drink nie, maar Hy het ook gesê: “Ek is die wingerdstok, julle die lote.” Jesus is nie net die druif wat vertrap en gekruisig word nie, Hy is ook die wingerdstok, die oorsprong van die misterieuse wyn. As wyn die simbool is, is om te gis en onder die invloed van wyn te wees, die ervaring van Jesus self.

Die storie in Kana het ook iets te sê oor verhouding en oor die huwelik in die besonder. Dit is geen toevalligheid dat Jesus Sy lewenswerk by ‘’n troue begin het nie.

Twee mense wat aparte lewens geleef het besluit om daardie lewens te deel. Almal weet dat so ‘’n proses van om te begin deel moeilik is, soos om druiwe te trap om die sap daaruit te kry. Maar met tyd neem daardie lewens nuwe kompleksiteit en rykheid aan, as gevolg van die deel en saam swaar kry. Soos druiwesap wat in wyn verander, gis die twee lewens wat selfstandig probeer om oor die weg te kom in ‘’n paartjie wat saam die diepe misterie van ‘’n gedeelde lewe ontdek.

Die huwelik is ‘’n spirituele daad, want dit vra ‘’n konstante onselfsugtigheid, ‘’n bewustelike besluit om ‘’n goeie lewe te leef en ‘’n genoegsame oorspoel van daardie lewenslesse in die grootmaak van kinders en gemeenskap met familie en bure.

Jesus het respek vir die huwelik gehad, deur dit die plek te maak waar Hy vir die eerste keer die Koninkryk laat manifesteer. Hiermee wys Hy vir ons dat dit wat in die huwelik plaasvind is deel van die essensie van die Koninkryk.

As ons mooi na die teks gaan kyk sal ons sien dat die water wat Jesus gebruik vir die verandering in wyn is water wat gebruik was vir reiniging. Jesus verskuif die klem van reinigende water na lewegewende wyn. Saam met Hom skuif ons van moralisme na vreugde, van onderdrukkende reëls na die genieting van die lewe se diepste vreugdes.

Die storie van die bruilof in Kana is nie net die eerste wonderteken van Jesus as leermeester en geneesheer nie, dit is die hoeksteen en sleutel van Sy hele wese. Die beeld van die water wat in wyn verander vertel die hele storie van Jesus.

Jesus is radikaal. Inplaas daarvan om te streef vir reinheid en onskuld, streef na lewenslus en plesier, ‘’n lewe vol vreugdevolle oomblikke saam met vriende, familie en bure. Inplaas daarvan om ons self te definieer in terme van harde werk, moet ons die belangrikheid van plesier waardeer. So sal ons sien dat die normale lewe soos gewone water is, terwyl die spirituele lewendige lewe in egte gemeenskap meer soos wyn is.

Daarom, mag julle vandag die hierdie teken van die Here vir julleself neem en dit deel van julle lewe maak. Mag julle die plesier, soos Jesus, in die Evangelie raaksien. Mag julle, die diepe misterie van die wyn by die bruilof, deel maak van vandag, wat julle bruilof is. Mag julle lewens soos druiwe wat eens apart was transformeer in goeie wyn wat met elke slukkie lewenslus aanvuur in julle huwelik. En mag julle onthou dat Jesus Christus die wingerdstok is. Hy is die begin van julle vriendskap, julle huwelik en nou ook die deel van julle lewe verder saam. Hy is ook vandag die Een wat die misterie van ‘’n pragtige huwelik saam met mekaar en Hom kom deel het.

Die spreekwoord lui: “In vino veritas.” Ja, daar is waarheid in wyn en vandag kom openbaar Jesus aan ons: “In vino Vida.” Dat Hy die Een is wat lewe gee en dit in oorvloed. Mag julle huwelik getuig van ‘’n Goddelike lewe, vol lewe!

Amen.

The Solemnization of the Marriage

We have come together in the presence of God to witness the marriage of Brandon and Ester-Helene. We have also come together to ask his blessing on them and to rejoice with them. Our Lord Jesus Christ, by his presence at the marriage in Cana of Galilee, blessed this life commitment between two people.

Marriage is an expression of God’s loving care when in the beginning He said: “It is not good for the man to live alone. I will make a suitable companion to help him.” (Gen. 2:18). So He created them as partners for one another to supplement and help one another. To be thus united in the Lord is a privilege, a joy and a responsibility.

Elsewhere in the Bible, marriage is likened to the relationship between Christ and his church.

As Christ and the church are a union, so too you are a union of husband and wife. As Christ is united with his Church, so too are you united with a bond of love. As Christ loved the Church, so too you must love one another. As Christ gave his life for the Church, so too should you give yourselves in love to one another. And as the church is loyal to Christ, so too should you be loyal to one another and serve one another’s interests.

Contracting the Marriage

Question to the couple:

Brandon and Ester-Helene, do you accept everything the Lord teaches us in his Word concerning the Christian marriage and state of matrimony? Is it you firm intention to live your life together accordingly? Do you wish for the blessing of God in the solemnization of your marriage?

Answer: Yes.

Now give each other the right hand.

Question to the bridegroom:

Brandon, do you take all here present as being witnesses of your taking Ester-Helene as your lawful wife? Do you promise, before God and his congregation, to love, honour and remain faithful forever and in all circumstances to your bride, Ester-Helene?

Answer: Yes.

Question the the bride:

Ester-Helene, do you take all here present as being witnesses of your taking Brandon as your lawful husband? Do you promise, before God and his congregation, to love, honour and remain faithful to your bridegroom, Brandon?

Answer: Yes.

Marriage Declaration

I now pronounce that Brandon and Ester-Helene are now with the blessing of our Lord lawfully married.

Exchange of the Rings

Prayer

Heavenly Father, Let this ring through your mercy be a sign to Brandon and Ester-Helene of love and faithfulness without end; may it always remind them of the promise they made today, and of the union You established between them. In the Name of Jesus Christ our Lord. Amen.

Kom ons sing nou saam Laat Heer U seën (Lied 304:4) vir Brandon en Helene.

Prayer (Blessing)

God the Father, God the Son, God the Holy Spirit, bless, keep and protect you. May God fill you with his grace that you may live together faithfully and may receive the blessing of eternal life. Amen.