Johannes 6: Wie hierdie brood eet sal lewe!

Genesis 9:4 beveel: “Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie.”

 

Teen hierdie agtergrond praat Jesus met die Joodse gemeenskap in die sinagoge in Kapernaum oor hulle “eetgewoontes”.

 

Eetgewoontes is ‘n baie persoonlike ding, en tog ook so alledaags. Ons moet tog elke dag eet om ons dinge te kan doen. Eet jy Weetbix of ‘n Smoothie in die oggend? Het jy ‘n kosblik vir pouse of is die snoepie jou kosblik? Is julle as gesin saam vir middagete of maak julle vir mekaar tyd in die aand? Het julle ‘n ronde, vierkantige of reghoekige etenstafel? Of sit julle voor die televisie en eet? Eetgewoontes, iets waaroor ons nie baie dink nie, maar wat tog so belangrik is.

 

Wanneer jy wel bewus raak van jou eetgewoontes is die oomblik as jy oorslaap by ‘n maatjie of by iemand anders aan tafel sit. Hoe werk al hierdie messe en vurke wat nou voor my lê? Watter kant is my kleinbordjie? Skaapkop? Afval? Beet?

 

Hier in Johannes 6 is die Jode die mense aan tafel wat nie lekker verstaan wat jou aangaan nie.

 

Wat eerste belangrik is, is dat ons verstaan dat verhoudings vir Jesus baie belangrik is. Hy fokus hier op sy verhouding met die Joodse gemeenskap en vertel ook vir hulle dat Hy met hulle, maar ook met almal anders in verhouding wil wees. Die vraag waaroor Jesus met hulle praat is of hulle Hom wil aanvaar of verwerp. Gaan hulle dit eet wat vir hulle opgeskep word, of hulle bord kos net so los?

 

In hierdie gedeelte openbaar Jesus wie Hy is. Hy stel homself gelyk aan die brood wat lewe gee. Wie van Hom eet sal nooit sterf nie.

 

Weereens, die mense wat Jesus ken en Hom verstaan, verstaan die taal wat Hy gebruik, dit is nie vreemd vir hulle om te hoor van vleis wat geëet moet word en bloed wat gedrink moet word nie. Vir die wat nie vir Jesus ken nie, is dit uiteraard baie vreemd. Dit is so vreemd dat dit eintlik aanstoot gee vir die Jode. Onthou, hulle hou streng by die wette, en Genesis 9:4 beveel dat hulle nie vleis met sy bloed in mag eet nie, wat nog te sê van drink.

 

In Johannes is die klem op Jesus. Jesus self is die brood wat lewe gee. Ons moet ook onthou dat brood ‘n basiese voedsel in daardie tyd was, soos vandag nog. Daarom is die brood metafoor so kragtig. Jesus was en is feitlik, broodnodig! Jesus is noodsaaklik vir elkeen se lewe, sonder die basiese voedsel kan daar nie gelewe word nie.

 

As jy aan tafel sit is jou sintuie lewendig. Jy sien die kerse brand, die glase wat blink, die crispy velletjie van die hoender of die vetjie van die tjoppie. Jy hoor hoe almal gesels en lag, dalk vertel iemand ‘n goeie storie… En natuurlik eet jy ook as jy aan tafel is, lekker warm huiskos. Jou sintuie is wakker.

 

Net so as ons mooi kyk sal ons oplet dat ‘sien’, ‘hoor, en ‘eet’ belangrike woorde is in Johannes 6.

 

Verse 36-40 gaan oor sien en glo.

Verse 45 gaan oor hoor en leer.

Verse 51 gaan oor eet en lewe.

 

Psalm 34:9 sê “Smaak en sien dat die Here goed is!”

 

As mens na die Griekse vertaling van hierdie gedeelte in Johannes gaan kyk sien mens iets merkwaardig raak. In vers 54 word die woordjie “eet” weer ‘n keer gebruik, maar hierdie keer op ‘n anderste manier. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir eet is iets wat gelyk staan aan raserige eet. Wat ons kan vertaal met “munch” of “crunch”. Dit sê vir ons dat wanneer die brood van die ewige lewe geëet word of die brood van die lewe “gemunch” word, dit iets lekkers is wat aan die gebeur is.

 

 

 

Jesus verseker hierdie Jode dat die maaltyd wat Hy hulle aanbied uiters goed vir hulle sal wees, maar soos iemand wat nie iets nuuts wil proe nie, wil hierdie Jode net nie verstaan nie.

 

Hy herhaal vier keer aan die Jode, in vers 26, 32, 47 en 53: “Dit verseker Ek julle…” Wat vir ons wys dat dit baie belangrik is waaroor Jesus praat!

 

Hy verseker ons: Ons soek Hom, nie omdat ons die wondertekens gesien het nie, maar omdat ons van die brood geëet het en versadig geword het.

 

Hy verseker ons: Dit is nie Moses wat vir ons die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is sy Vader wat vir ons die ware brood uit die hemel gee.

 

Hy verseker ons: Wie in Hom glo, het die ewige lewe.

 

Hy verseker ons: As ons nie Sy liggaam eet en Sy bloed drink nie, het ons nie lewe in ons nie.

 

Hierdie gasheer, verseker ons van baie dinge, maar luister ons na wat Hy sê? Of trek ons ons neus op vir die gevolge van wat dit aan ons gaan doen? Want as ons van hierdie brood gaan eet en bloed gaan drink gaan ons nie meer dieselfde kan wees nie. Dit gaan ons verander. Dit gaan deel raak van ons liggaam. Christus in ons. Is ons gereed om te leef met Christus in ons? Is ons gereed om met Christus in ons om die braaivleisvuur te staan? Is ons gereed om met Christus in ons in Spar se ry te staan? Is ons gereed om met Christus in ons te bestuur?

 

Christus in ons, verander ons!

 

Ek verseker julle: Wie in Hom glo, het die ewige lewe. Hy is die brood wat lewe gee!

 

Wie hierdie brood eet, sal verander word, en sal ewig lewe!

 

Amen.

Johannes 14: Wil jy dat die Heilige Gees jou lewe verander?

Op ‘n oorgangstydperk in die kerkjaar, soos vandag, waar ons op die randjie van pinkster staan, is dit belangrik om terug te kyk sodat ons weer met betekenis kan vorentoe kyk.

 

Met Kersfees het ons Jesus se geboorte herdenk, daar waar Hy van die voerbak van die diere, hulle tafel, gebore was om ons van ons sondes te verlos. Vanaf Epifanie (dit beteken verskyning) tot Lydenstyd het ons gesels oor Jesus se doop en Sy aardse bediening.  Vanaf Lydenstyd het ons gesels oor die gebeure rondom Jesus se versoeking in die woestyn, Sy lyding, Sy dood en wat dit vir ons elkeen beteken, en waaraan ons elkeen kan sterf om weer waarlik te lewe.

 

Met Paasfees, die tydperk waarin ons nou is, gesels ons oor Jesus se opstanding uit die dood. ‘n Tydperk van rondom 50dae waar Hy in verheerlikte vorm op aarde tussen mense en aan Sy dissipels verskyn het. Eerskomende Donderdag is dit Hemelvaart, waar ons herdenk dat Hy opgevaar het na die hemel, waar Hy solank ons plek gereed maak. En dan breek Pinkster aan waar ons feesvier oor die uitstorting van die Heilige Gees.

 

Dit was die buitenste kring, nou wil ek daardie kring nog kleiner trek. Ek het gesê dat ons vandag nog in die Paas tydperk is, waar ons gesels van toe Jesus in ‘n verheerlikte vorm aan Sy dissipels verskyn het. Vandag sit ons almal, soos sy dissipels van baie jare gelede, weer saam en luister na wat Hy te sê het.

 

Soos baie stories begin, begin vandag se storie aan tafel.

 

In Joh 13:2 is Jesus saam met Sy dissipels aan tafel, voordat hulle eet was Jesus hulle voete en leer hulle om ook so ander se voete te was. In Joh 13:23-27 wys Jesus sy verraaier aan. In Joh 13:34-35 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy weggaan. Hy bevestig ook weer die liefdesgebod. In Joh 13:38 verseker Jesus vir Petrus dat hy Hom sal verloën.

 

In Joh 14:1-12 verduidelik Jesus aan sy dissipels dat Hy gaan terugkeer na sy Vader, maar Hy gaan hulle nie soos weeskinders agterlaat nie. In Joh 14:15-31 belowe Hy hulle dat die Heilige Gees by hulle sal wees.

 

Dit alles gebeur aan tafel. Terwyl brood gebreek word en wyn gedeel word lê Jesus die toekoms uit. Donderdag herdenk ons die Hemelvaart en daarna die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster. Kom ons gesels vandag saam oor hierdie wonderlike belofte.

 

[lees Johannes 14:15-31]

 

In Johannes 14:16 belowe Jesus om ons Vader te vra om ‘n Voorspraak te stuur. Dit is die eerste van vyf uitsprake oor die Voorspraak. Voorspraak is ‘n ander naam vir Trooster, Helper of Advokaat. Dit dui op iemand wat in die hof iemand bystaan, bemoedig, troos en vir al sy/haar belange sorg. Die bedoeling is dat Jesus die Voorspraak sou wees, maar noudat Hy op die punt is om weg te gaan belowe Hy ‘n plaasvervanger. Jesus verklaar dat die Voorspraak vir ewig by sy dissipels en by ons sal wees.

 

Nog net ‘n klein rukkie dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Wie My lief het, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan Hom openbaar.

 

Judas vra dan: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

 

Judas hou nog vas aan die Joodse Messiasverwagting waarvolgens die Messias Hom as koning aan die volk, die wêreld, sou openbaar. Nou het Judas die indruk dat Jesus nie so ‘n plan het nie, maar dat Hy Hom aan ‘n kleiner kring wil openbaar. Nou wil Judas weet wat dan van daardie plan geword het.

 

Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.”

 

Hierdie woorde van Jesus kan maklik verkeerd verstaan word. Ons kan dink, die wat Hom nie liefhet nie, het nie deel aan Hom nie. En dit is presies reg. As ons nie vir Jesus lief het nie, het ons nie deel aan Hom nie. As ons Hom nie liefhet nie, sal ons Hom ook nie sien nie. As ons Hom nie lief het nie, sal Hy ook nie in ons woon nie. Dit klink rof, want dit is.

 

Ons dink baie dat die teenoorgestelde van liefde, haat is, maar dit is nie. Die teenoorgestelde van liefde, is vrees. Daarom kan ons selfs so ver gaan om te sê dat die wat vir Jesus bang is nie deel aan Hom sal hê nie, die wat vir Jesus bang is, sal Hom nie sien nie.

 

Vrees, of om bang te wees, ontstaan wanneer beheer uitgeoefen wil word en jy nie in staat is daartoe nie. ‘n Basiese manier om dit te verduidelik sal wees om te sê ek is bang wanneer ek bestuur, want ek kan nie die ander bestuurders beheer nie. Of wanneer ek sê ek is bang vir die donker, want ek kan nie beheer wat ek nie kan sien nie.

 

Liefde is egter om vertroue te plaas in dit wat jy nie kan sien nie, en vir die goeie te hoop. ‘n Radikale anderste manier van dink en voel. Liefde is om te vertrou dat die persoon in die ander baan in haar baan gaan bly. Liefde is om te vertrou dat dit wat ek nie kan sien nie, my nie kwaad wil aandoen nie.

 

Liefde begin wanneer ons elkeen ons eie kwesbaarheid of broosheid erken. Liefde begin wanneer ons elkeen erken dat ons nie die belangrikste een in die kamer is nie. Liefde begin wanneer ons ander se kwesbaarheid of broosheid raaksien en dit wil genees. Liefde begin wanneer ons juis die ander in die kamer wil laat belangrik voel. Wanneer ons vanuit kwesbaarheid of broosheid liefde begin leef, belowe Jesus sal ons Hom sien, sal ons ervaar hoe Hy deur ons werk.

 

Wanneer ons vanuit onvoorwaardelike, onselfsugtige liefde leef, sal ons vrede begin ervaar. Vrede dat ons bestaan nie gaan oor opgaar en groter gaan nie, maar eerder gaan oor deel en ligter leef. Vrede is ‘n wonderlike gevoel om te ervaar. Om vanuit vrede te leef maak die wêreld wonderlik.

 

As jy vanuit vrees leef wil jy alles beheer, jou manier is die beste, en sterkte vir die wat anders as jy dink of doen. As jy vanuit vrees leef, sal dit ook vir jou moeilik wees om die wil van die Here te hoor, te sien, of nog meer te doen. Vrees bou hoë mure en hou uit. Vrees maak dat jy Jesus op ‘n afstand hou, want sê nou net Hy kom verander jou lewe!

 

Sê nou net Jesus kom breek jou mure af, sê nou net Jesus kom jou huis binne, sê nou net Hy kom sit by jou aan tafel, wat gaan jy maak? Jesus se teenwoordigheid in Saggeüs se lewe het gemaak dat hy 2/3 van al sy besittings aan die armes gee. Ek kan verstaan hoekom jy bang is vir die teenwoordigheid van die Here! Ek kan verstaan hoekom jy Hom buite wil hou. Sê nou net Hy kom verander jou!

 

Jesus belowe die Heilige Gees aan die dissipels sodat hulle ook kan doen wat Hy gedoen het, sodat hulle ook met die krag en mag kan optree waarmee Hy opgetree het. Dit vra egter ‘n oorgawe aan Hom, dit vra blootstelling, dit vra kwesbaarheid, dit vra saggeaardheid, dit vra liefde. As jy vanuit die oerbron wil leef wat hierdie hele aarde tot stand gebring het, as jy vanuit ‘n diep stroom energie wil put, wil ek vandag vra: “Is jy bereid om lief te hê?”

 

Jesus is besig om van sy dissipels afskeid te neem en belowe aan hulle twee dinge: die Voorspraak wat die Heilige Gees is en sy vrede. Die twee staan nie los van mekaar nie, want waar die Heilige Gees in die hart is, daar is ook vrede.

 

Hierdie vrede is die erflating van Jesus en is daarom anders as die vrede wat die wêreld gee. Hierdie is die innerlike vrede wat vloei uit ‘n verhouding met God.

 

Die vrede wat die wêreld gee, hang af van omstandighede, gewoonlik ‘n afwesigheid van stryd, oorlog of onenigheid. Daarom is die wêreld se vrede van korte duur en onseker; gewoonlik niks meer as ‘n hoop op vrede nie. Jesus skenk die vrede as ‘n werklikheid wat nie aan omstandighede gekoppel is nie. Juis in die mees ontwrigtende omstandighede bly daardie vrede in die hart omdat die kind van God weet dat sy of haar saak met God reg is.

 

Hierdie Goddelike vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees. Omstandighede sal kom waarin jou geloof en moed tot die uiterste beproef sal word, maar in daardie uur sal die vrede wat Jesus gee, alle vrees verdryf.

 

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. God kom eerste na ons toe en sê vir ons dat Hy ons baie lief het. Liefde verdryf vrees, wat plek maak vir die vrede van die Heilige Gees.

 

Is jy opsoek na liefde?

Is jy opsoek na vrede?

Dan is die eintlike vraag: “Wil jy dat die Heilige Gees jou lewe verander?”

 

Hierdie het Jesus vir sy dissipels aan tafel vertel, hulle was nou elf in die kamer. Hulle het geweet dat hulle nie hoef te vrees as Jesus nie meer by hulle is nie, want die Heilige Gees, Jesus se gelyke, sal nou by hulle wees. Hulle het geweet dat hulle met dieselfde krag as Hy kan optree, sou hulle vanuit die Gees optree om God te verheerlik. Hulle het rustig om die tafel gesit, ‘n innerlike vrede het oor hulle gespoel soos hulle in Jesus se blou oë gestaar het terwyl Hy gepraat het. Hy sê toe vir hulle: “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

 

Amen.

Johannes 11: Opgewek?

Hoofstuk 11 lei die finale reis na Jerusalem in. In hierdie hoofstuk word die snaar van spanning byna onuithoubaar gespan. Alles werk op na die konfrontasie in die Jerusalem. Die dissipels is pynlik bewus van hierdie gevaarlike situasie en daarom sê hulle vir Jesus in 11:8: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” En soos die verhaal ontvou, blyk dit dat dit die opwekking van Lasarus is wat die laaste strooi is wat die kameel se rug breek. In die opbou van die Johannesevangelie is die opwekking van Lasarus dus van sleutelbetekenis. Dit is die gebeurtenis wat die skaal finaal teen Jesus laat kantel.

 

In die verhaal skuil die diepste boodskap. Jesus se daad van lewegewing en opwekking lei daartoe dat sy eie lewe van Hom weggeneem word. Daar is verder ook ’n ironiese kontras in Jesus wat hard roep dat Lasarus uit die graf moet uitkom en die stille stomheid van Lasarus. Hy praat nie een keer nie. Hy is die totaal passiewe karakter in die verhaal. Die oorverdowende stilte van Lasarus is ’n ontploffende antiklimaks aan die einde van die verhaal. Niks word gerep oor Lasarus as mens, oor sy gevoelens en ervarings nie.

 

Morris West, die fiksieskrywer, het my bewus gemaak van Lasarus se stilswye nadat Jesus hom opgewek het uit die dood. West skryf in sy bekende boek The clowns of God: “Think about the details: the sisters in grief, in fear of what might be revealed when the tomb was opened. Iam foetet, they said, ‘Already he stinks!’ Then the tomb opened, Jesus called, Lazarus stepped out, still wrapped in the cerecloths. Have you ever thought how he must have felt, as he stood blinking in the sunlight, looking anew on a world from which he had taken his last leave? … Nothing could ever be the same as it was before.”

 

Nadat ek hiervan bewus geword het, het hierdie kontras in die verhaal in Johannes 11 vir my al opvallender geword. Die emosielose Lasarus teenoor die emosiebelaaide optrede van Jesus en die susters. Lasarus is die totaal passiewe en Jesus die aktiewe, die Een wat die verloop van die gebeure geheel en al manipuleer. Hy stel selfs sy vertrek na Betanië met twee dae uit, skynbaar om doodseker te maak dat Lasarus dood is by sy aankoms.

 

Teenoor die “harde stem” waarmee Jesus “roep” na Lasarus, staan Lasarus se eie stomgeslane stilte. Die dramatiese verhaal eindig met ’n skokkende en plofbare stilte.

 

Waarom? Definitief nie omdat die skrywer lomp is met die beskrywing van menslike emosie nie. Dit is nie asof hy ’n swakker skrywer is as Morris West nie. Inteendeel, dit is juis in hierdie verhaal dat ons die duidelikste openbaring van emosies by Jesus kry. Jesus het nie alleen “hard geroep” nie, maar ons lees dat sy “gemoed vol geskiet” het en dat hy “aangedaan” was (11:33). En toe bars Hy in trane uit (11:35). Luther se vertaling van vers 33 suggereer selfs ’n bykomende emosie van woede: “Hy het in sy gees kwaad en ontsteld geword.”

 

Juis omdat hoofstuk 11 so ’n emosiebelaaide gedeelte is, staan die stomp einde en die emosielose beskrywing van Lasarus soos ’n seer vinger uit. Die stomme Lasarus beklemtoon juis dat hierdie verhaal nie ’n sappige storie oor Lasarus is wat vandag ’n sensasionele tydskrif sou gehaal het nie. Die betekenis van hierdie verhaal lê elders. Dit word nog duideliker wanneer ons kyk na die strukturele opbou van die verhaal en ook na die reeks wondertekens in hierdie eerste 11 hoofstukke van Johannes.

 

In hierdie eerste 11 hoofstukke van Johannes word sewe wondertekens beskryf. Die eerste by ’n bruilof, die laaste by ’n begrafnis. Feestelikheid teenoor hartseer. Tussenin vind ons genesings en ’n natuurwonder – die volle spektrum van die lewe. Die betekenis van Jesus se lyding en opstanding vir elke faset van die lewe word daardeur gedek. Maar daar is ’n opbou na hierdie laaste wonder wat gaan oor die uitbanning van die grootste hartseer en grootste vrees: die hartseer oor en die vrees vir die dood.

 

Die sewe wondertekens is:

  1. Die eerste teken in Kana (water in wyn) 2:1-11
  2. Die tweede teken in Kana (die genesing van die regeringsamptenaar se seun) 4:46-54
  3. Die genesing by die bad van Bethesda (Jerusalem) 5:1-15
  4. Die voeding van die 5 000 (die See van Galilea) 6:1-15
  5. Jesus loop op die see (die See van Galilea) 6:16-21
  6. Die genesing van die man wat blind gebore is (Jerusalem) 9:1-41
  7. Die opwekking van Lasarus 11:1-44

 

 

Daar is ook nog die interessante opbou van die hoofstuk self. Dit sou struktureel soos volg voorgestel kon word:

 

A1 1-16 Jesus se eerste reaksie op Lasarus se dood

B1 17-22 Marta se dialoog met Jesus

C 23-27 “Ek is die opstanding en die lewe”

B2 28-32 Maria se dialoog met Jesus

A2 33-44 Jesus se tweede reaksie op Lasarus se dood (die wonder)

 

Dit word duidelik dat dit in hierdie verhaal nie eerstens gaan oor die opwekking van Lasarus nie, maar oor die dood en opwekking van Jesus. Die gesinskrisis van Betanië word ’n metafoor van die krisis van die mensdom. Die doel is nie die opwekking van ’n dooie man, wat in elk geval later weer sou sterf nie, maar die gawe van die lewe aan die wêreld.

 

Daarom is Jesus se eerste en tweede reaksie op Lasarus se dood, sy dialoog met Marta en met Maria slegs die stutte wat die sentrale woord van die verhaal omhoog hou:

 

Ek is die opstanding en die lewe.

Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;

en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.

 

Die verhaal wat hier afspeel, is soos ’n doek wat geskilder word, maar wanneer jy dit omhoog hou, ontdek jy daar drup bloed onder uit. Dit is asof die lyding van Jesus deur die oppervlak van die verhaal drup. Jesus se diepe emosies in hierdie hoofstuk is ’n soort voorspel tot Getsémané. Hy weet sy roep na Lasarus om uit die graf te kom beteken maar net dat die tyd naby is vir Hom om die graf te betree. Dit is juis die geloof in Jesus wat deur die opwekking van Lasarus aangevuur word, wat die godsdienstige leiers oortuig dat Jesus uit die weg geruim moet word (11:45-53). In en deur die Lasarus-storie skyn die Jesus-storie.

 

 

 

Dit beteken egter nie dat Marta, Maria en Lasarus slegs pionne is in die verhaal en net gebruik word om ’n dieper geestelike storie te vertel nie. Hulle is werklike mense wat vasgevang is in die werklike pyn en hartseer van die lewe. Dit is nie sonder rede nie dat al die rou emosies so helder beskryf word. Dit is ook nie sonder rede nie dat Jesus hier geskilder word as die Een met die sagte hart wat meevoel. Dit gaan nie oor ’n groot saak ten koste van mense nie. Dit gaan in hierdie hoofstuk, soos altyd by Jesus, oor werklike mense en hulle gevoelens. Hy tree met medelyde in hulle lewe in.

 

Maar wat die skrywer van die Johannes evangelie ons wil help verstaan, is dat Jesus nie net gekom het om ’n bietjie salf aan die wonde te smeer nie, maar om vensters van hoop oop te maak. Te midde van ons lyding word ons ook ingetrek in sy lyding en kry ons deel aan sy opstanding. Ons is veilig, selfs binne-in ’n graf. Jesus se stem is ook dáár hoorbaar.

 

Hierdie “boek van tekens” (Joh 1-12) help ons om te verstaan dat elke faset van ons lewe opgeneem word in die groter Verhaal. Ons verliese en hartseer word uiteindelik deel van die groot verlies en die dieper hartseer van God.

 

Ons trane meng met Syne en ons graf word sy graf wat geopen word. Hy het nie gekom om ons te bevry van die dood in die sin dat ons siekte en dood sal vryspring nie, maar die lewe wat Hy gee, oorskry die grense van die dood.

 

Die finaliteit van die dood, lê nie in wat dit termineer nie, maar in wat dit inhuldig. In Hom sal ons opstaan. In Hom sal ons lewe. Hy is die Een wat die ewigheid vir ons kom oopsluit.

 

Amen.