nagwandel

ek was gelukkig in my droomwêreld
ek, alleen, op my eie
sonder eksterne faktore wat my delirium kon versteur

alleen, met my glas wyn
alleen, met stapels boeke
alleen, met stapels hout
alleen, met warm kaggellig

maar

jy moes kom en my nagwandel versteur
jy moes my kom wakker maak
sonder koffie
koud

jy het my forseer om op te staan

om dit te onthou wat ek al lankal toegesluit het
om dit te gaan oopsluit
om dit uit te haal
om dit aan te trek

nou is ek wakker
dit is koud
en hier staan ek
met my liefde op my mou

en ek soek na jou…

– Francois van Dijk

skemerstorieverteller

jy is die ambassadeur van drome
jy trap bospaadjies in my
gedagtes
deur ruig bosse na oop vlaktes
jy weeg jou woorde
dit is gevul met afwagting en misterie
nes die glimmer van die vuurvliegie se stertjie
en soos jy hierdie vuurvliegie loslaat in my vlaktes
droom ek steeds voort, van nuwe stories
wat jy my gaan vertel
van berge, bome, bessies, en besies

-Francois van Dijk

saterdagaandrooiwyn 01

die maan het agter die wolke wegkruipertjie gespeel
die reën het gedrip drip
die windjie het gesny en gesteek
maar, die kameeldoringhoutvuur het geknetter

hakskoene het geklipklop
strikdassies het gepunt gestaan
woorde het gehardloop
bruin, groen, blou oë het geskitter

lekker ruik
lekker proe
lekker loperige
kase op soutbrosbeskuitjies

vlamme het geflikker
proppe was platgetrap
wyn het gevloei
glase het geklingel

daar was gestaan
daar was gesit
daar was gelag
en, daar was gesoen…

– Francois van Dijk