koffie kringe

Asem in, asem uit,

tussen watter wêrelde vind jy jouself vanaand?

 

Waar spoel jy jou duifwit koppie

met ‘n bietjie warm water?

Opgehoop met kitskoffie

laat val jy jou teelepel in die koppie met ‘n geklingel

saam die kookborrel van die ketel

en roer.

 

Staar jy by jou kombuisvenster uit?

Hoor jy die reën?

 

Ek sit rustig op my stoep, saam die krieke,

en luister, na geluide van die donkermaan nag.

 

– Francois van Dijk

drome van ‘n randfiguur

‘n boekwinkel wil ek besit

en donker koffie daaruit bedien

ek wil gesels met rustigheid

en skryf, of die waagmoed

bymekaarskraap om wel te skryf

 

om te kan skryf

sonder beplande mooi sê-woorde

om impulsief krapperig

met gelaaide ink

woorde aanmekaar te vleg

 

om verwronge en soms eenvoudige

droombeelde gestalte te gee

in ‘n minder vlietende vorm

sodat onbewuste onbewustheid

blootgelê kan word

 

– Francois van Dijk

my hart se rooi

koraal

grys

jy was

my hart se rooi

 

jou steak, jou groente, jou slaai, jou wyn

jou dans, jou lag, jou prentjies, jou prag

 

saam het ons geleef, anders

 

vanaand het jy my woorde gesteel

my gedagtes geboei

jou boeie laat my so bietjie bloei, rooi

 

ongelukkig, saam kan ons nie meer leef…ongelukkig

 

– Francois van Dijk