Psalm 23 nooi jou om ‘n oomblik stil te staan by die hoop wat God gee. Mag Psalm 23 jou aandag ‘n oomblik vashou by al die fasette van God se troos en omgee, versorging en bewaring, redding en troos. Mag dit jou aanmoedig om opnuut te leef vanuit die hoop wat in jou is.
Raak bewus van al jou emosies wat in jou na vore kom vanoggend. Ontvang die frustrasie of speelsheid, woede of voortvarendheid, pyn of hoop. Nooi al die emosies in en praat met God daaroor vanoggend.
Psalms 23 is ‘n baie gewilde Psalm. Vir baie van ons is dit die Psalm waaraan ons eerste dink as ons Psalms dink, en dalk selfs die eerste verse as ons aan die Bybel dink. Psalm 23 het baie doen met metafore. ‘n Metafoor wys heen na iets meer. En twee beelde wat prominent in hierdie Psalm voorkom is die van herder en van gasheer.
Die ervare herder weet waar om die beste weiding in ‘n redelike onherbergsame landstreek te vind. Sy versadigde kudde vlei hulle dan neer in die groen gras van die veld. Kos moet ook aangevul word met water. Die herder bring sy kudde by ‘n plek waar hulle rustig kan drink sonder vrees vir wilde diere of ander gevare. Op hierdie manier word die lewenskrag van die uitgeputte skaap herstel. Selfs al lei die herder die skape op gevaarlike bergpaaie met hulle bedrieglike afgronde is daar geen vrees by die kudde nie. Die herder is immers daar. Sy stok, ‘n verdedigingswapen, en sy staf met die bekende krom punt, bring rustige sekerheid.
Hierdie metafoor beeld op ‘n onvergeetlike wyse die Goddelike sorg vir sy kinders uit. Die beelde van groen velde en rustige waters is pragtige beelde. Ons kan amper sê dat dit wil klink asof hierdie skape op ‘n permanente vakansie is saam met hierdie goeie herder. Hy gee hulle krag.
Die herder is die een wat genoeg kos gee, die een wat beskerm, die een wat lei, en ook die een wat onthaal. Wanneer hierdie herder onthaal word bekers tot die randjie toe vol gemaak, word daar lekker geëet, word daar gedans en gelag. Hierdie herder se goedheid word vir lank onthou, soos dáárdie Desember vakansie waarvan almal nou nog praat. Toe die hele familie bymekaar was, of toe ons net op ons eie was en rustig na die veld of see kon kyk terwyl die son sak.
Psalm 23 laat my aan vakansie dink. Aan ‘n plek waarheen ‘n mens kan gaan om battery te herlaai. ‘n Plek waar gerus kan word weg van die alledaagse geraas.
Verbeel jou jy bly in die besige Moederstad, met al haar verkeer en baie liggies wat weerkaats oor die swart swart see. Of verbeel jou jy is selfs net vir ‘n dag daar om inkopies te doen of ‘n belangrike afspraak het om na te kom. Besig. So besig. “Besig” het ‘n status woord geraak. In vandag se tye word woorde soos die van Psalm 23 al dowwer, al stiller. Wie het tyd om op hul groen-waterbeperkte-gras te sit saam met hul kinders? Wie het tyd om hul voete in hul swembad te dip, wat nog te sê van ‘n helder bergstroompie?
Ons het ‘n vakansie nodig, ons het tyd nodig, en daarom kom Psalm 23 vanoggend na ons elkeen in ‘n nuwe vorm:
1Die Here is my sekuriteitsmaatskappy
ek voel veilig.
2Hy laat my slaap onder my warm duvet.
By Hom is geen waterbeperkings of enige droogtes nie.
3Hy laat groei my gras.
Hy keer dat my bande bars.
Hy sorg dat Google Maps akkuraat is
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al hou Bainskloofpas se draaie nie op nie,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
5U laat staan my om ‘n Karoo-plaas braaivleisvuur,
terwyl my vyande moet toekyk.
U ontvang my soos Jan Braai,
ek word oorlaai met rooiwyn, skaaptjoppies en aartappelslaai.
6U goedheid en liefde
sal lank by my bly
en ek sal tuis wees
in my huis, in U huis,
vir altyd.
Met vakansie is die Here jou getroue beskermer in die vorm van jou sekuriteitsmaatskappy.
Met vakansie is die Here jou betroubare leidsman in die vorm van jou slimfoon.
Met vakansie is die Here jou liefdevolle gasheer in die vorm jou braaivleisvuur.
Wanneer jy op pad is wil jou herder jou laat verstaan dat alles veilig is, jy ingesluit. Jou motor het sy Tracker. Jou versekering sal sorg vir enige skade, of dit nou aan jou motor is en of dit by die huis is, jy sal niks kort kom nie. Wat belangrik is dra jy saam met jou in jou hart en gedagtes. Jou herder sorg selfs dat daar na jou mediese toestand gekyk word sou jy iets oorkom op pad na jou waters van rus.
Die Here is jou getroue beskermer. Hy volg jou, Hy verseker jou van genoeg.
Wanneer jy op pad is wil jou herder jou ook nie laat verdwaal nie, daarom het Hy voorsien dat iemand slim Google Maps uitgedink het. Hy lei jou op die regte paaie, tot die eer van sy Naam.
Die Here is jou betroubare leidsman. Jy kan op sy leiding vertrou om by jou waters van rus uit te kom.
En wanneer jy uit die Kaap is, oor Bainskloof, en op pad na die Karoo waar jy om jou braaivleisvuur gaan staan is die Here ook daar. Hy ontvang jou in liefde, in die stille oopte, waar daar genoeg tyd en plek is om asem te kan haal. Nou stop die stad se gejaag eers. Nou raak jy rustig.
Luister.
Asem.
Ruik jy die stof, voel jy die klippe, sien jy al die vlamme uit die rook uit opstaan?
Ook daar is die Here. Hy is besig om vir jou ‘n tafeldoek in die wind oop te gooi. Die koeldrank en wyn word oopgemaak en op die tafel gepak. Genoeg glase wat blink in die namiddag son. Simba tjippies in hout bakkies. Tarentale wat raas in die verte en die vlamme staan al hoër. Die toeknyprooster word vol skaaptjoppies gepak, darem ‘n worsie ook. Dit raak skemer. Kerse dans in die wind terwyl messe en vurke in borde gesels. Die sterre knipoog. Jy is tuis. Jy het jou herder se kraal gevind. Rus, sy kussing is sag, sy duvet is warm, en more oggend vroeg sal Sy blikbeker met koffie vir jou wag.
Jy sal tuis wees, in Sy huis.
Die Here is jou herder,
Hy gee vir jou genoeg.
Hy laat jou rus.
Hy gee jou nuwe krag.
Hy wag vir jou!
So wanneer gaan jy vakansie hou?