Psalm 19:8-12

“Vier jaar lyk dit só by ons. Vier jaar van elke dag voer, stof en droë, dooie bosse. Vier jaar wat jy soggens opstaan en die horison bekyk. Of daar nie dalk, asseblief, net êrens ‘n wolke wil uitsteek wat lyk na reën nie.”

“Vier jaar wat jy elke dag glo hierdie week sal dit reën. Vier jaar wat jy alles doen om nie moedeloos te raak n ie, nie moed op te gee nie, positief te bly en die mooi om jou raak te sien, die mense om jou te help en te bemoedig.”

“Maar nou is ons geliefde Karoo droog, swart en bitter. Die vreugde in die veld en ons harte is min. Die vrees bloei soos botter- en hongerblom in ‘n goeie jaar. Ek kan nie eens onthou wanneer laas ons ‘n paddatjie gesien of gehoor het nie.”

“Here, ons wil so graag weer dans in die reën. Ons wil so graag weer een keer skaap sien met bekke wat groen gevlek is van bosse se vars lote. Ons wil so graag weer onbevange lag en vrolik wees en nie ‘n oproep van die bankbestuurder vrees nie.”

“Ons kén van planne maak en rande rek, van stukkende bakkies spoeg en plak en pleit vir uitstel om ‘n rekening te betaal. Ons kén van spaar en sente omdraai. Ons ken van: Nee, my kind, daar is nie nou geld vir nuwe somersklere nie, al pas laas seisoen s’n lank nie meer. Ons probeer Here, ons probeer.”

“Ons wil so graag ons Vader loof en prys vir goeie reëns. Ons wil so graag ons grond, ons hele bestaan, behou. Ons wil só graag hier bly.”

“Help ons Here, asseblief. Ons wil só graag.”

“Iemand het nou die dag sy maer angorabokke, wat R1000 werd is, vir R30 stuk verkoop. Alles opgepak.”

“Toe ander boere sonpanele en skaap aan ons skenk, het ons aangebly.”

“Tot wanneer weet ons nie. Ons moes seker al lankal handdoek ingegooi het, maar ons wil hier bly en leef. Ons leef vir die Karoo, sy stilte, sy veiligheid, sy landelikheid.”

“Ons bedel nie Here, ons bid.”

“Amen.”

Ek wil vandag ‘n bietjie ernstig raak en julle ‘n paar vrae vra wat tot jou wese gaan binnedring. Maak ‘n nota op jou selfoon, skryf in jou boekie, maar dink hieroor, moet dit nie net laat verbygaan nie…

Wat gee vir jou lewe?
Wat gee vir jou wysheid?
Wat bring vir jou blydskap?
Wat bring vir jou insig?
Wat bring vir jou standvastigheid?
Wat bring vir jou regverdigheid?

Wat is vir jou kosbaarder as goud?
Wat is vir jou soeter as heuning?

Laat jy dat die dinge jou lewe beheer?

(gaan sit, gee tyd vir oordenking)

(lees Psalm 19:8-12)

Die Here se woord is volmaak, dit gee vir jou lewe.
Die Here se onderwysing is betroubaar, dit gee vir jou wysheid.
Die Here se bevele dui die regte koers aan, dit bring vir jou blydskap.
Die Here se gebooie is helder, dit bring vir jou insig.
Die Here se eise is goed, dit bring vir jou standvastigheid.
Die Here se bepalings is reg, dit bring vir jou regverdigheid.

Kosbaarder as goud.
Soeter as heuning.

Laat jy dat die Here jou lewe beheer?

Die karaktereienskappe wat aan die woord gegee word is ook waar vir God. Deur die Psalmdigter se prys vir die woord is hy besig om vir God te prys. God wat Homself aan ons bekend maak in Sy woord. Die woord is die sigbare teken van sy wil in geskiedenis. In die Woord word die wil van God sigbaar gemaak om ons te leer en te red, en daarom is dit die basis van vertroue in God se liefdevolle omgee.

Dawid se persoonlike ervaring het hom geleer om die Woord van God te waardeer as die bron van ‘n ryk lewe: dit gee nuwe lewe aan die siel en wysheid aan die wat verkeerd trap; dit verlustig die hart en verlig die oë; dit het te make met die mees waardevolle eienskap wat ‘n Israeliet geken het, regverdigheid.

Dawid is hier baie bewus van sy eie feilbaarheid, dat hyself maklik in sy ou slegte maniere terugsak; hy is bewus van sy eie swakheid om so maklik in te gee tot versoekings, maar hy is ook bewus van die heilige genade van God wat die krag het om hom van sy sondes te vergewe en hom te weerhou daarvan om weer te sondig. Daarom bid hy vir die sondes wat hy onwetend doen in vers 13.

Meer werd as al die geld, soeter as die helderste heuningkoek, so is die Woord van God.

So indien jy sukkel om werklik te lewe, die woord van die Here is volmaak en het alles wat jy nodig het om te lewe. Dit sal jou die wysheid gee vir daardie moeilike besluit wat jy dalk hierdie week of maand moet neem, of dalk die rustigheid met die wete dat die besluit dalk nie so dringend hoef te gebeur soos wat jy dit vir jouself maak nie. Alles kan so ‘n bietjie wag.

Die woord van die Here dui vir ons die regte koers aan, die koers van blydskap! Kom jy dalk agter dat jy ‘n behoefte na ‘n lekker lag het? Wanneer laas het jy op die gras gesit met ‘n koppie tee en gekyk hoe die wind deur die bome waai? Die woord sal vir jou die pad aanwys om by daardie grasperk uit te kom.

Wanneer laas kon jy op ‘n vriend staatmaak? Wanneer laas het jy jou woord gehou al was jy nie so lus om na daardie partytjie of koffie te gaan na die lang dag wat jy gehad het nie? Ons maak vandag so maklik verskonings, deels omdat dit makliker geraak het om ‘n epos of WhatsApp te stuur sonder dat ons mekaar in die oë kyk, en deel omdat ons nie hou by die eise van die Woord nie. Die Here vra dat ons standvastig sal wees, in woord en daad. Hy belowe om altyd vir ons daar te wees, selfs al maak ons foute, selfs al staan ons nie altyd in sy diens nie, belowe Hy dat Hy altyd sal vas staan vir ons. Ons kan op Hom vertrou, Hy commit tot ons, hy los ons nie die oomblik wanneer daar ‘n beter opsie is nie.

En saam met die alles is sy bepalings regverdig. Elke bepaling, elke opdrag van die Here, presies reg soos dit vir ons elkeen uitgesit is. Soms moeiliker, soms makliker, maar altyd reg. Die Here weet wanneer en waarmee Hy ons met wat moet besig hou. Elkeen van sy bepalings is regverdig. Hoe tree jy regverdig op teenoor jou medemens?

Regverdigheid is nie net om almal dieselfde te behandel nie, maar ook om die een wat sukkel bietjie meer te help as die een wat al die geleenthede reeds het. Regverdig wees, is om die speelveld gelyk te maak. Hoe maak jy die speelveld gelyk vir jou medemens?

As jy jou deur hierdie dinge, die Woord van God, God self, laat lei sal jy besef dat die lewe saam met God baie kosbaarder as goeie bankbalans is en soeter as die helderste heuningkoek.

Wie dit alles onderhou, wie hom en haarself deur die Woord van God, deur God self, laat lei se beloning is groot. Prys die Here.

Amen.

Psalm 23: Die Here is my sekuriteitsmaatskappy ek voel veilig

Psalm 23 nooi jou om ‘n oomblik stil te staan by die hoop wat God gee. Mag Psalm 23 jou aandag ‘n oomblik vashou by al die fasette van God se troos en omgee, versorging en bewaring, redding en troos. Mag dit jou aanmoedig om opnuut te leef vanuit die hoop wat in jou is.

 

Raak bewus van al jou emosies wat in jou na vore kom vanoggend. Ontvang die frustrasie of speelsheid, woede of voortvarendheid, pyn of hoop. Nooi al die emosies in en praat met God daaroor vanoggend.

 

Psalms 23 is ‘n baie gewilde Psalm. Vir baie van ons is dit die Psalm waaraan ons eerste dink as ons Psalms dink, en dalk selfs die eerste verse as ons aan die Bybel dink. Psalm 23 het baie doen met metafore. ‘n Metafoor wys heen na iets meer. En twee beelde wat prominent in hierdie Psalm voorkom is die van herder en van gasheer.

 

Die ervare herder weet waar om die beste weiding in ‘n redelike onherbergsame landstreek te vind. Sy versadigde kudde vlei hulle dan neer in die groen gras van die veld. Kos moet ook aangevul word met water. Die herder bring sy kudde by ‘n plek waar hulle rustig kan drink sonder vrees vir wilde diere of ander gevare. Op hierdie manier word die lewenskrag van die uitgeputte skaap herstel. Selfs al lei die herder die skape op gevaarlike bergpaaie met hulle bedrieglike afgronde is daar geen vrees by die kudde nie. Die herder is immers daar. Sy stok, ‘n verdedigingswapen, en sy staf met die bekende krom punt, bring rustige sekerheid.

 

Hierdie metafoor beeld op ‘n onvergeetlike wyse die Goddelike sorg vir sy kinders uit. Die beelde van groen velde en rustige waters is pragtige beelde. Ons kan amper sê dat dit wil klink asof hierdie skape op ‘n permanente vakansie is saam met hierdie goeie herder. Hy gee hulle krag.

 

Die herder is die een wat genoeg kos gee, die een wat beskerm, die een wat lei, en ook die een wat onthaal. Wanneer hierdie herder onthaal word bekers tot die randjie toe vol gemaak, word daar lekker geëet, word daar gedans en gelag. Hierdie herder se goedheid word vir lank onthou, soos dáárdie Desember vakansie waarvan almal nou nog praat. Toe die hele familie bymekaar was, of toe ons net op ons eie was en rustig na die veld of see kon kyk terwyl die son sak.

 

Psalm 23 laat my aan vakansie dink. Aan ‘n plek waarheen ‘n mens kan gaan om battery te herlaai. ‘n Plek waar gerus kan word weg van die alledaagse geraas.

 

Verbeel jou jy bly in die besige Moederstad, met al haar verkeer en baie liggies wat weerkaats oor die swart swart see. Of verbeel jou jy is selfs net vir ‘n dag daar om inkopies te doen of ‘n belangrike afspraak het om na te kom. Besig. So besig. “Besig” het ‘n status woord geraak. In vandag se tye word woorde soos die van Psalm 23 al dowwer, al stiller. Wie het tyd om op hul groen-waterbeperkte-gras te sit saam met hul kinders? Wie het tyd om hul voete in hul swembad te dip, wat nog te sê van ‘n helder bergstroompie?

 

Ons het ‘n vakansie nodig, ons het tyd nodig, en daarom kom Psalm 23 vanoggend na ons elkeen in ‘n nuwe vorm:

 

1Die Here is my sekuriteitsmaatskappy

ek voel veilig.

2Hy laat my slaap onder my warm duvet.

By Hom is geen waterbeperkings of enige droogtes nie.

3Hy laat groei my gras.

 

Hy keer dat my bande bars.

Hy sorg dat Google Maps akkuraat is

tot die eer van sy Naam.

 

4Selfs al hou Bainskloofpas se draaie nie op nie,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

 

5U laat staan my om ‘n Karoo-plaas braaivleisvuur,

terwyl my vyande moet toekyk.

U ontvang my soos Jan Braai,

ek word oorlaai met rooiwyn, skaaptjoppies en aartappelslaai.

6U goedheid en liefde

sal lank by my bly

en ek sal tuis wees

in my huis, in U huis,

vir altyd.

 

Met vakansie is die Here jou getroue beskermer in die vorm van jou sekuriteitsmaatskappy.

Met vakansie is die Here jou betroubare leidsman in die vorm van jou slimfoon.

Met vakansie is die Here jou liefdevolle gasheer in die vorm jou braaivleisvuur.

 

Wanneer jy op pad is wil jou herder jou laat verstaan dat alles veilig is, jy ingesluit. Jou motor het sy Tracker. Jou versekering sal sorg vir enige skade, of dit nou aan jou motor is en of dit by die huis is, jy sal niks kort kom nie. Wat belangrik is dra jy saam met jou in jou hart en gedagtes. Jou herder sorg selfs dat daar na jou mediese toestand gekyk word sou jy iets oorkom op pad na jou waters van rus.

 

Die Here is jou getroue beskermer. Hy volg jou, Hy verseker jou van genoeg.

 

Wanneer jy op pad is wil jou herder jou ook nie laat verdwaal nie, daarom het Hy voorsien dat iemand slim Google Maps uitgedink het. Hy lei jou op die regte paaie, tot die eer van sy Naam.

 

Die Here is jou betroubare leidsman. Jy kan op sy leiding vertrou om by jou waters van rus uit te kom.

 

En wanneer jy uit die Kaap is, oor Bainskloof, en op pad na die Karoo waar jy om jou braaivleisvuur gaan staan is die Here ook daar. Hy ontvang jou in liefde, in die stille oopte, waar daar genoeg tyd en plek is om asem te kan haal. Nou stop die stad se gejaag eers. Nou raak jy rustig.

 

Luister.

Asem.

Ruik jy die stof, voel jy die klippe, sien jy al die vlamme uit die rook uit opstaan?

 

Ook daar is die Here. Hy is besig om vir jou ‘n tafeldoek in die wind oop te gooi. Die koeldrank en wyn word oopgemaak en op die tafel gepak. Genoeg glase wat blink in die namiddag son. Simba tjippies in hout bakkies. Tarentale wat raas in die verte en die vlamme staan al hoër. Die toeknyprooster word vol skaaptjoppies gepak, darem ‘n worsie ook. Dit raak skemer. Kerse dans in die wind terwyl messe en vurke in borde gesels. Die sterre knipoog. Jy is tuis. Jy het jou herder se kraal gevind. Rus, sy kussing is sag, sy duvet is warm, en more oggend vroeg sal Sy blikbeker met koffie vir jou wag.

 

Jy sal tuis wees, in Sy huis.

Die Here is jou herder,

Hy gee vir jou genoeg.

Hy laat jou rus.

Hy gee jou nuwe krag.

Hy wag vir jou!

So wanneer gaan jy vakansie hou?

Psalm 119

Wanneer laas het jy Psalm 119 gelees?

Ek het dit vir ‘n hele tyd vermy omdat ek onder die indruk was dat dit te lank is om in een sit deur te lees. Ek was verkeerd. Dit lees soos ‘n brander wat oor en oor spoel, dieselfde water wat dieselfde boodskap wil bring. Rig jou lewe in volgens die voorskrifte wat die Here vir jou gee, wandel in Sy woord, en jy sal ‘n gelukkige lewe geniet.

Hierdie boodskap is egter nie so maklik soos wat dit voorkom nie. Oor en oor herhaal die digter dat dit soms moeilik is om by die Woord te hou terwyl sy vyande besig is om hom te verlei en te mislei om ander paaie te volg. Weer en weer bely die digter dan dat hy nie anders kan as om in die Woord van die Here skuiling te vind nie. Deur die Woord te bestudeer vind hy vrede, vreugde, en rus van sy vyande, deur sy lewe in lyn met die wet te plaas is hy veilig, want hy weet dat die Woord van die Here altyd sal vas staan.

Hierdie standvastigheid waarvan Psalm 119 getuig is pragtig omdat ons weer en weer sien dat die Skrif nie net sommer nog ‘n storie is nie, maar ‘n boek, ‘n heilige boek, wat deur jare en jare bly staan het. Dit het nie verdwyn tussen die magdom bestsellers en die digitale stroom nie, nee, dit is steeds die prominente Skrif wat dit nog al die jare was.

Hierdie gedeelte het my vanoggend geraak omdat ek altyd opgesien het na die groot en ontsaglike lang Psalm 119, maar toe is dit nie so lang storie nie. Eintlik ‘n baie mooi herhaling van dieselfde boodskap oor en oor. Leef in verhouding met God, dit kry jy reg deur aan Sy bepalinge getrou te wees, en jy ken Sy bepalinge deur die Woord te bestudeer. Doen dit en jy sal in harmonie met God se skeppingsdoel vir jou lewe leef.