- Ons is vrygespreek
In Galasiërs 5 word twee werklikhede teenoor mekaar gestel. Aan die een kant die van slawerny. Daarom word iemand besny en moet hy en sy familie altyd aan die wet van Moses gehoorsaam wees. Die ander werklikheid word beskryf met die woord “VRY”. Die wet van Moses bring onderwerping en slawerny, terwyl Christus werklike vryspraak bring. Christus kom maak ons VRY van die wet.
In die brief aan die Galasiërs kom ons agter dat die mense deurmekaar was oor wat hulle moet doen om hulle verlossing te kan verdien. Hulle het allerlei vreemde dinge onderhou en vreemder dinge gedoen sodat hulle verlos sal word van dit wat hul terug hou, en in die proses net weer hulself vasgeketting aan iets nuut.
Die gemeente van Galasiërs is onseker oor watter werklikheid, die van slawerny of die van vryheid, die waarheid oor God se verlossing is. Hulle hoop dat Paulus die keuse tussen hierdie twee werklikhede vir hulle maklik kan maak. Hoop jy dalk ook partymaal dat iemand anders ‘n belangrike keuse vir jou makliker maak?
Paulus tiep dan hulle bootjie heeltemal om deur vir hulle te sê dat hulle besny kan wees of nie besny wees nie, dit maak nie eintlik saak nie. Die wet, die besnydenis en ander rituele en gebruike, hou nie verlossingswaarde in nie. In Christus is hulle, en ons, vrygespreek.
Ware verlossing lê in Christus. Niks wat ons as mens doen kan die waarde of betekenis van wat Jesus aan die kruis reeds in gehoorsaamheid aan die Vader vir ons gedoen het nie.
- “Nie een enkele ding nie,” genade alleen.
Paulus probeer die gemeente daaraan herinner dat hulle werklik niks kan doen om verlos te word nie: “Nie ‘n enkele ding nie.” Hy herinner hulle daaraan dat net God se genade vir hulle vryheid kan bring. Die wet, rituele, gebruike of selfs die besnydenis kan dit nie doen nie.
Vandag probeer mense ons ook dikwels oortuig, partykeer selfs ons eie gedagtes, dat ons sekere dinge moet doen om verlos, om vrygemaak, te word. Gaan gereeld na die biduur toe, bak pannekoek vir die kermis, dien op die komitee, gee jou tiende, sny die gras, doen jou huiswerk. Ja, al hierdie dinge is goed, maar ons moet nie dink dat hierdie dinge ons vry gaan maak nie. Nee, ons kan nie onsself red nie, net die Heilige Gees kan ons vry maak. Sonder dat ons dit besef probeer ons ons vryheid te verdien. Ons kan dit amper nie help nie. Dit is die normale manier hoe ons oor dinge dink, ek doen iets vir jou en jy doen iets vir my.
Maar, dit is gladnie hoe God werk nie. Nee. Hy doen alles vir jou, Hy maak jou vry.
Hy maak jou vry van onreinheid, losbandigheid, vyandskap, haat, woede, stryery, verdeeldheid, dronkenskap, uitspattigheid en allerhande dinge wat teen die Gees staan.
- God roep ons nie tot vryheid sodat ons skurke kan wees nie.
Die balans tussen vryheid en gehoorsaamheid was iets waarmee die gemeente in Galasië gesukkel het. Ons sukkel vandag steeds daarmee. Juffrou deel werk uit om te doen, sy gaan gou personeelkamer toe, gaan jy jou werk doen of gaan jy met jou vriend sit en gesels?
Galasiërs 5:6 wys dat geloof alleen sal bepaal hoe werk die balans tussen vryheid en gehoorsaamheid. Hierdie geloof gaan deur liefde oor in dade. Galasiërs 5:13 herinner ons ook om mekaar in liefde te dien. Die balans lê daarin dat geloof in die genade van God nie anders kan as om in dade oor te gaan nie.
As jy lief is vir jou meisie gaan jy nie heeldag net vir haar kyk nie, aanvanklik dalk. Maar jy gaan ook lekker dinge saam met haar wil doen. En dit is hoe ons liefde vir God ook werk. As ons sê ons is werklik lief vir die Here dan gaan ons nie anders kan as om deur ons dade ons liefde te wys nie.
Vryheid, leer Paulus, maak ons eintlik slawe van mekaar. As ons sê ons is vir God lief, en vir ons naaste soos onsself, dan kan ons nie anders as om in liefde aan mekaar verbind te wees nie. Dit is onvoorwaardelike liefde waarvan hier gepraat word. Liefde wat nie vra wat kan ek uit die verhouding kry nie, maar liefde wat vra wat kan ek tot die verhouding bydrae, wat kan ek gee, sonder om iets terug te verwag, Goddelike liefde.
Nelson Mandela, wat dikwels oor vryheid gedroom, gedink, gepraat en geskryf het, het ‘n groot rol gespeel om vryheid vir baie in Suid-Afrika ‘n werklikheid te maak, ten koste van homself. Hy het gesê: “Om vry te wees is nie net om die boeie af te gooi nie, maar om op so ‘n manier te leef wat die vryheid in ander respekteer en verbeter.”
Ons kan ongelukkig nie deel raak van die bevrydingsbeweging as ons self nie die bevrydingsliefde van Jesus in ons harte dra en ander in liefde dien nie.
- God los ons ook nie alleen nie.
Ons word opgeroep om in die vryheid wat Christus vir ons aanbied, Geesvervuld te leef en mekaar in liefde te dien. In Galasiërs 5:22 word ons juis herinner aan wat die vrug van die Gees is waartoe die vryheid wat God in Christus bewerk ons oproep.
Wanneer ons die vrug van die Gees uitleef, word dit moontlik dat ander ook die vryheid wat Christus bring in ons kan raaksien.
- Gebedstemas
Steek gerus ‘n kersie aan as jy God wil dank vir die Heilige Gees in jou lewe.
Steek ook graag ‘n kersie aan as jy voel jy benodig die krag van die Heilige Gees in jou lewe.
Steek ook graag namens iemand anders ‘n kersie aan wat kan doen met die krag van die Heilige Gees in hulle lewe.
En as jy voel jy kort meer liefde, meer lag, meer tevredenheid, meer geduld, meer vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid of selfbeheersing in jou lewe, steek ook graag saam met my ‘n kersie aan.
Ek gee nou geleentheid vir gebed terwyl ons rustig na die musiek van die Taizé gemeenskap luister.