Voorganger: More maatjies! Kom sit hier naby aan my, ek wil vir julle ‘n baie ou storie vertel.
Skopper: More dominee!
Voorganger: Maatjies! Kan julle onthou wie is die? Kan julle sy naam onthou?
Skopper: My naam begin met ‘n S en eindig met KOPPER.
Voorganger: Ja, jou naam is Skopper! Wie het jou naam vir jou gegee Skopper?
Skopper: My pa het my naam vir my gegee, dit is ‘n mooi naam ne?
Voorganger: Ja, Skopper, dit is definitief ‘n unieke naam. Hoekom het jou pa jou Skopper genoem?
Skopper: Waaant, toe ek nog in my eier gelê het, het ek met een harde SKOP uit my eier uitgebreek in die lewe in geskop!
Voorganger: Sjoe, dit is ‘n mooi storie! Skopper, weet jy wat beteken Jakob se naam?
Skopper: Wie was Jakob nou weer dominee? Was sy pa se naam Isak?
Voorganger: Ja, Skopper, jy is reg. Jakob se pa was Isak gewees. Onthou jy dat Jakob se naam JOK beteken? En toe verander sy naam, na wat het sy naam verander?
Skopper: Dominee, ons volstruise onthou goed, veral Bybel stories, ons is baie lief vir Bybel stories. Jakob se naam het verander na Israel toe, en ek kan vir dominee sê wat Israel se naam beteken.
Voorganger: Julle volstruise beïndruk my altyd so! Wat het Israel se naam beteken?
Skopper: Israel beteken “met God”. Dit beteken God was altyd by Israel gewees!
Voorganger: Nou Skopper, Israel het baie seuns gehad. Hy het 12 seuns gehad, en een van daardie seuns se name was Josef.
Skopper: Ja dominee. Josef was ‘n baie belangrike man in Egipte, en hy het ook twee seuns gehad.
Voorganger: Skopper jy ken darem die Bybelstories se families goed!
Skopper: Manasse en Efraim was sy seuns se name, Israel was hulle oupa gewees.
Voorganger: Maatjies, wie van julle het oupas en oumas?
Skopper: Dominee, my oupa het nie meer tande nie, hy het al teveel klippe gekou in sy volstruis lewe.
Voorganger: Skopper, maar dink jy jou oupa bid nog vir jou?
Skopper: Ja, dominee. Hy bid nog baie. Hy bid elke keer voordat hy eet, in die oggend, in die middag, in die aand. EN as ons by hom kuier dan probeer ons dan ons volstruis vlerke aan mekaar raak, ons het mos nie hande nie, en dan bid hy vir ons. Hy bid vir pappa, vir mamma, en ook vir my.
Voorganger: Nou Skopper, Israel het ook vir jy kleinkinders gebid. Hy het vir Manasse en Efraim gesê om naby aan hom te kom staan, want hy was al baie oud.
Skopper: Ja, hy was 147jaar oud. Dit is baaie oud in volstruis jare.
Voorganger: Ja, en soos oupa Israel naby aan Manasse en Efraim staan bid hy vir hulle. Hy bid vir hulle dat hulle onthou dat dit die Here God is wat vir hulle sorg. Hy bid dat hulle onthou dat die Here God nog sy hele lewe vir hom sorg. Hy bid vir hulle en vra vir God dat Manasse en Efraim sterk sal wees, dat hulle ‘n groot familie sal word. Hy bid vir hulle dat hulle sal gelukkig wees in die land wat God vir hulle gegee het.
Skopper: Sjoe, dominee, hy het seker baie lank gebid?
Voorganger: Ja, Skopper, hy het lank gebid want dit was ‘n baie belangrike gebed. Hy wou seker maak dat Manasse en Efraim weet dat God deel is van hulle familie, dat hulle nie van Hom moet vergeet nie. God was nog altyd daar vir Israel en selfs ook vir sy oupa Abraham, hulle oupa grootjie. Daarom bid hy lank, want dit is belangrik dat Manasse en Efraim weet dat God deel is van hulle familie.
Skopper: Hulle was seker bly dat hulle oupa vir hulle gebid het?
Voorganger: Ja, Skopper, ek is seker hulle was bly dat hulle oupa saam met hulle gebid het.
Skopper: Dominee, dit is belangrik dat ons onthou dat die Here God deel is van ons familie!
Voorganger: Ja, Skopper, jy is reg.
Maatjies, sê saam met ons: “As ons bid onthou ons, dat die Here God, deel is van ons familie.”.
Skopper: Dominee, ek verlang nou na my oupa, ek dink ek gaan nou by hom gaan kuier. Sien julle weer volgende keer maatjies.
Voorganger: Babaai Skopper!
Staan op, en sê hardop saam Geloofsbelydenis op.